Is verandering moontlik?

IS VERANDERING MOONTLIK?
Die Burger, 9 Mei 1998

Die teoloog, Dorothee Solle, het op ’n perskonferensie met groot entoesiasme gepraat oor die opstandingsevangelie en oor die hoop dat God by magte is om mense en doodsituasies te vernuwe.

Toe onderbreek ’n joernalis haar met die vraag: Glo u regtig dat mense kan verander?

Glo ons regtig dat verandering moontlik is? Natuurlik het die joernalis nie gedink aan oppervlakkige nie, maar aan werklike, diepe, fundamentele veranderinge.

Glo ons werklik dat mense wat mekaar haat, versoen kan word? Glo ons regtig dat vasgeloopte lewens herstel en vernuwe kan word? Dat verslaafdes bevry kan word? Dat onredelike, verharde mense sag kan word? Dat wilde, losbandige kinders tot inkeer kan kom? Dat hopelose, moedelose lewens kan verander in vreugde? Dat ongelukkige, verongelukte huwelike herstel kan word tot verhoudings van respek, begrip en liefde? Glo ons regtig dat radikale verandering moontlik is?

Baie sal waarskynlik saamstem dat dit ’n legitieme vraag was.

Die evangelie glo natuurlik wel in verandering. Daaroor is daar geen twyfel nie. Dit lê in die hart van die evangelie. Dis die boodskap van Jesus se eie prediking en lewe, sy opstanding, die uitstorting van die Heilige Gees. Alles getuig daarvan. Die Drie-Enige God is by magte om te vernuwe. Om niks te verander in iets. Om dood te verander in lewe.

En tog sal baie van ons voel dat die joernalis se vraag legitiem was, eerlik en realisties.

Hoekom? Omdat ons almal ervarings het van moedeloosheid voor situasies wat na ons insig en oordeel onveranderlik is.

Ons ervaar dit dikwels rondom gebroke huwelike. Dat daar ’n punt kom dat daar al soveel vervreemding ingetree het dat dit eenvoudig te laat lyk, onomkeerbaar.

Ons ervaar dit as ons sien hoe swaar mense van oortuiging verander oor fundamentele sake. Die diepste beslissings in ’n mens se lewe maak jy nie met jou verstand nie, maar op ’n dieper vlak, met jou hart. En daarom verander mense so swaar van oortuiging. As mense eers ’n sekere weg ingeslaan het, sekere goed begin verkondig het, sekere goed begin doen het, verander hulle moeilik. Argumente, hoe logies ook al, bewyse, hoe duidelik ook al, maak mense dikwels net meer koppig, net meer halsstarrig, selfversekerd, en onveranderlik.

Ons ervaar dit by mense in grenssituasies. Verslaaf aan alkohol of dwelms. Betrokke by verhoudings wat hulself skaad, en hulle gesins- en familielede. Onversoend met iemand. Ander kan maar praat, pleit, probeer oortuig – probeer wys op die gevolge – dit is asof daar ’n onversetlikheid oor mense kom.

Ons ervaar dit wanneer openbare figure misstappe begaan en tot op die einde hulself probeer regverdig en verdedig, eerder as om berou te toon en te verander. Berou en verandering kom klaarblyklik swaar.

Ons ervaar dit in ons eie hart. Uit ondervinding weet ons dat dit ’n legitieme en realistiese vraag is.

Solle het glo geantwoord: Dit is die mees ateïstiese vraag wat ek nog ooit gehoor het. – WDJ