Sterk- en swakpunte van die Gereformeerde spiritualiteit

STERK- EN SWAKPUNTE VAN DIE GEREFORMEERDE SPIRITUALITEIT
Ongedateer

WD Jonker

Wat bedoel ons as ons van die gereformeerde sektor binne die Christenheid praat? Ons bedoel ’n bepaalde groepering van Christene wat gestempel word deur sekere beslissings wat in die geskiedenis van die Christenheid geval het en daarom ’n eie geloofsverstaan en spiritualiteit daarop nahou. Ons roep enkele van daardie beslissings in herinnering waarmee die sterk punte van die gereformeerde rigting van self aangegee is.

Gods vrye genade

Om gereformeerd te wees, is om in die historiese lyn te staan wat oor Augustinus en Calvyn loop. ’n Mens sou natuurlik ook met Paulus kon begin, maar laat ons maar by Augustinus begin en sê dat die eerste groot beslissing in die kerk se verstaan van die evangelie in die stryd tussen Pelagius en Augustinus geval het. Dit was in die vierde eeu. Voor dié tyd was daar in die kerk baie goeie wil en opregte vroomheid, seker, maar daar was veels te veel ondeurdagte moralisme en te min begrip vir die ware boodskap van die evangelie. Paulus is prakties glad nie verstaan nie. Die kerk het die stryd teen die goddeloosheid en sedelike verval in die Romeinse Ryk tegemoet getree met ’n algemeen-religieuse en legalistiese benadering wat die toekoms van die katolieke Christenheid feitlik deur die eeue sou stempel.

God het aan die kerk Augustinus as gawe gegee – daardie brandhout wat uit die vuur van sonde geruk is, maar ’n kragtige instrument in die hand van God geword het om veral op die terrein van die soteriologie ’n onuitwisbare invloed op die Christelike kerk uit te oefen. Diep oortuig van die radikale verlorenheid en sondige aard van die mens, het Augustinus teenoor Pelagius geleer dat dit net die wonder van Gods volkome vrye genade is wat die mens uit sonde kan red.

Pelagius self was ’n ernstige mens – nie vol verontwaardiging oor die sonde en uitspattigheid van Rome, met ’n besielende en kragtige bekeringsboodskap. Op hierdie punt het hy en Augustinus nie met mekaar verskil nie. Maar die verskil het gekom by die vraag hoe dié bekering moontlik is. Toe het geblyk dat Pelagius baie meer optimisties oor die sondige mens se inherente vermoëns as Augustinus was. Hy was daarvan oortuig dat die mens in staat is om self vir die goeie te kies, as hy/sy maar net ernstig genoeg daartoe aangespoor word. Daarom was hy ’n kragtige prediker en het hy die leer van die erfsonde en die bedorwenheid van die mens se natuur verwerp, omdat dit tot fatalisme sou lei en die oproep tot bekering sou verydel. Augustinus het egter geleer dat die mens radikaal verlore is, onbekwaam om self tot bekering te kom, en dat dit die uitverkiesende genade van God is wat daaragter sit as ’n mens gered word.

Augustinus het homself daarby op die Skrif, en veral op Paulus beroep, wat nie alleen tov die radikale bedorwenheid van die mens nie, maar ook tov die absolute soewereiniteit van God geen onduidelike klank laat hoor nie. ’n Mens kan dus sê dat die besef van die Godheid van God soos dit in die Skrif betuig word, aan die wortel van die gereformeerde leer lê. Vandaar die aanvaarding van die leer van die uitverkiesing, die sola gratia, sola fide, solo Christo, soli Deo gloria. Dié standpunte sou telkens in die geskiedenis van die gereformeerde Christenheid herbevestig word by die groot kruispunte, soos in die Reformasie en in die stryd rondom die Remonstrante in die 17de eeu. Ondanks basiese ooreenstemming met die Lutherane, het die Gereformeerdes in hierdie opsig ’n konsekwente lyn getrek wat selfs vir die Lutherane te rasioneel en onpastoraal gelyk het. Maar dit is slegs as ’n mens die tipe religieusiteit van Calvyn en die Gereformeerdes miskyk, dat dit vir jou onaanvaarbaar lyk. Want dit gaan nie om fatalisme of pessimisme nie. Dit gaan om ’n verbysterende besef van die grootheid van God uit wie en deur wie en tot wie alle dinge is. Die diepste religieuse motief van die gereformeerde belydenis en spiritualiteit is die dankbare erkenning van die soewereine liefde en genade van God aan Wie alle eer in die hemel en op die aarde toekom.

Aksent op die Pneumatologie

Maar om gereformeerd te wees, beteken ook om ’n besondere gewig aan die Persoon en werk van die Heilige Gees te heg. Dit is God die Heilige Gees alleen wat die mens wederbaar en tot die geloof en alle goeie werke in staat stel. Veel meer as die Katolieke tradisie of selfs Luther, het Calvyn aan die pneumatologie aandag gegee. Die hele Reformasie draai in ’n sekere sin om die pneumatologie. Calvyn is tereg die teoloog van die Heilige Gees genoem (Van der Linde). Hy laat val daarby – meer as Luther – die klem veral op die heiligende werk van die Gees in die gelowiges en in die ganse lewe van die volk van God. Op hierdie punt is daar ’n aanrakingsvlak tussen Calvyn en die anabaptisme. Volgens Noordmands het dit daarin bestaan dat op die gereformeerde erf die droom van die Godsryk nooit opgehou het om te lok nie. Calvyn deel met die Anabaptisme die verlange na ’n samelewing waarin geregtigheid woon, na ’n skepping wat deur die Gees vrygemaak is van die sonde. Maar die verskil is dat daar by Calvyn, anders as by die Anabaptisme, ’n hegte verbinding tussen Gees en Woord is. Dit sny die entoesiastiese spiritualiteit van die Anabaptisme by die wortel af. Dit het ingrypende gevolge vir die visie op die gesag van die Skrif en die aard van die heil. Die Gees werk volgens die Gereformeerdes nie sonder die Woord nie, en die heil is vir Gereformeerdes nie ’n nuwe skepping nie, maar herskepping, herstel van wat verbroke is.

Die wet van God

Daarom het die heil nie net soteriologiese konsekwensies nie, maar noop dit die verloste om ter wille van die eer van God die hele lewe en die hele wêreld onder die tug van Gods wet te wil bring. Die gereformeerde spiritualiteit word dikwels as wetties gesien. Vir die Lutherane was dit moeilik om te verstaan waarom Gereformeerdes soveel waarde aan die sogenaamde derde gebruik van die wet heg (die wet as reël vir dankbaarheid – HK deel 3). Luther was bang vir ’n nuwe werkgeregtigheid. Maar vir Gereformeerdes was dit die vanselfsprekendste ding in die wêreld dat mense verlos word om die wil van God in alle dinge te doen. Daarom moes die wet van God sy geldigheid vir die verloste mens op alle terreine van die lewe behou. So word die heils-egoïsme van net maar in die hemel te wil kom, verruil vir die lofprysing van God in die ganse bestaan, ja tot in die arbeid, industrie en politiek. Van Abraham Kuyper is die beroemde woord dat geen duimbreedte van hierdie werklikheid aan die heerskappy van God onttrek mag word nie. Die lof van God moet nie net met die lied in die kerk nie, maar met die daad en die etos in die ganse lewe verkondig word. Waar dit onder punt 1 hierbo gegaan het om die diepte van die heil (Gods ewige uitverkiesende liefde), gaan dit hier om die breedte van die heil: “Laat heel de aard een loflied wezen!” (Psalm 98:3, Nederlandse beryming). Dáárom bring die gereformeerde vroomheid mense voort wat ’n sterk roepingsbesef het die aarde en alles daarop moet die Here loof.

Verbond
Maar, om gereformeerd te wees beteken ten slotte ook om God nie net as individu te ken en te vrees nie, maar ook as gesin, as verbondsvolk, in die opvolging van die geslagte. Meer as enige ander rigting binne die Christenheid, het die Gereformeerdes die Ou-Testamentiese verbondskonsep as grondstruktuur van die Bybelse heilsboodskap verstaan, met al die implikasies daarvan. Daarom is dit ook dat, terwyl die Rooms Katolieke Kerk, die Oosters-Ortodokse Kerk, die Lutherse en die Anglikaanse Kerk die kinderdoop beoefen het, maar eintlik nooit oortuigende grond daarvoor kon aanbied nie, die Geformeerdes dit op die mees natuurlike wyse op die Bybelse verbondskonsep gefundeer het. Geen ander vertakking van die Christenheid het die Ou Testament met soveel oorgawe gelees en toegeëien as die Gereformeerdes nie. Dit het ’n onuitwisbare stempel op hulle spiritualiteit afgedruk. Meer as enige ander rigting in die Christenheid het hulle die volle Bybel omhels. Dit blyk uit hulle liefde vir die Psalms. Daarin klop die hart van Gods vrome volk in die Ou Verbond. Dis ’n verbondsvroomheid, ’n wandel met God binne die konteks van sy beloftes. Calvyn het die kerk van die begin af in aansluiting by Zwingli verstaan as die volk van God. Dit hang ten nouste daarmee saam dat hulle die kinderdoop as gewortel in die besnydenis kon sien en dus as teken en seël van die verbond van Gods genade met sy volk. Van huis uit is die gereformeerde Reformasie ingestel op die volkskerk, maar ook op die Christelike gemenebes, die Christelike staat. Vandaar die klem op die teokrasie soos dit in artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis verwoord word. Die ideaal van die Gereformeerdes was altyd dat die hele lewe, kerklik, burgerlik en politiek, deur die Woord van God gestempel moes word na die voorbeeld van die Ou Testamentiese teokrasie.

Sterk punte van die gereformeerde spiritualiteit

Die dinge wat ons tot nou toe genoem het, moet as die sterk punte in die gereformeerde spiritualiteit gesien word. Dit laat aan die een kant die kontinuïteit tussen die gereformeerde geloofsverstaan en die hele Katolieke spektrum van rigtings binne die Christenheid sien, maar aan die ander kant wys dit ook daarop dat die Gereformeerdes telkens keuses gedoen en konsekwensies getrek het wat die katolieke volheid van hulle standpunt ten goede gekom het. AlIe Christene glo dat ’n mens deur genade gered word, maar die Gereformeerdes glo dit op die mees konsekwente wyse deur alle sinergisme by die wortel af te sny en sonder reserwe aan die soewereiniteit van Gods genade in sy verkiesende liefde vas te hou. Alle Christene weet dat die heil tot stand kom deur die werk van die Heilige Gees, maar in die Katolieke tradisie is die werk van die Gees geïnstitusionaliseer in die kerk met sy ampte en sakramente, terwyl die Gees by die Anabaptisme weer van die Woord losgemaak word. Saam met die Lutherane sien die Gereformeerdes ’n innige verbondenheid tussen Woord en Gees, maar meer as die Lutherane beklemtoon hulle dat die Gees deur die Woord die hele lewe van mens en samelewing wil heilig.

Op ’n oor-vereenvoudigende wyse kan gesê word dat daar in die Christenheid hoofsaaklik drie tipes van spiritualiteit is, wat saamhang met die manier waarop die heil verstaan word. Ons kan hulle opsom as (a) die mistiek-sakramentele verstaan van die heil; (b) die Woordmatig–geloofsmatige verstaan van die heil; en (c) die entoessiastiese-ervaringsmatige verstaan van die heil. Die drie tipes sou globaal getipeer kon word deur te sê dat hulle hulself onderskeidelik veral beroep op (a) Johannes, (b) Paulus en (c) bepaalde dele uit Handelinge en 1 Korintiërs. Onder (a) sou ons dan die Oosters-Ortodokse Kerk en die Westerse Katolieke Kerk moet groepeer; onder (b) die Reformatoriese kerke, en onder (c) die Anabaptistiese (pentakostalistiese en charismatiese) flank van die Christenheid. Uiteraard het al die groepe heelwat met mekaar gemeenskaplik. Iets van al drie tipes is by elkeen van die groepe aanwesig. So het almal die Woord, die geloof, die sakramente, ’n mistieke kant, ’n ervaringskant en ’n mate van entoesiasme. Maar dit word verskillend benut en verskillend geaksentueer. AlmaI is Christelik, almal beroep hulleself op die Skrif, en elkeen het ook bepaalde swak punte waarin dit maklik kan ontspoor.

Swak kante van die gereformeerde vroomheid

Die gereformeerde vroomheid kan maklik ontspoor. Dit kan gebeur wanneer afgewyk word van die regte toonhoogte daarvan. Dan kry ons ’n vals noot. Die spreekwoord lui: corruptio optimae pessima die bederf van die beste is die slegste.

Een van die dinge wat alle Christelike rigtings bedreig, maar in die besonder diè Gereformeerdes, is dat daar maklik ’n fariseïstiese mentaliteit by hulle kan ontstaan.

Gereformeerdes kan nogal geneig wees om trots te word daarop dat hulle die suiwerste gestalte van die Christelike leer daarop nahou. Dan verloor hulle die nederigheid wat by die heiliging hoort en kan hulle maklik die houding inneem van ons Gereformeerdes “wij Gereformeerden”. Die persepsie dat dit met hulle die geval is, stoot andere af en vernietig die werfkrag van die gereformeerde kerke. Dit lyk asof hulle trots is daarop dat slegs hulle suiwer in die leer is – Bybels, streng in leer en lewe, regsinnig en nougeset. Maar hulle doen dikwels ook weinig moeite om ander Christelike tradisies te leer ken en te waardeer, omdat hulle by voorbaat hulleself sien as in ’n stryd-situasie gewikkel met ander Christene wat die suiwerheid van die leer bedreig. Hulle kan hulleself so “prinsipieel” opstel, so styf en gereserveerd, ja dikwels so op die onvriendelike af dat hulle rondom hulleself ’n atmosfeer van ongenaakbaarheid skep wat andere noodwendig afstoot. Dit is die toon wat die musiek maak, en dikwels is dit so dat Gereformeerdes deur die iet-wat hooghartige manier waarop hulle oor hulle eie suiwerheid praat en skryf, hulle prinsipes verdedig en andere veroordeel, hulle saak in redenasies kan wen, maar as getuies van Christus kan verloor. Hulle blink nie dikwels uit deur hulle liefde, vriendelikheid en barmhartigheid nie. Die groot bewegings van die uit– en inwendige sending is nie bepaald uit hulle kringe gebore nie. Selde of ooit was hulle in staat om die tug op ’n wyse toe te pas wat nie op andere die indruk van hardheid en liefdeloosheid gemaak het nie. Die verbrokkeling van die gereformeerde gesindte in talle kerke en kerkies wat met mekaar meeding om die kroon vir die hoogste graad van suiwerheid, is nie iets om trots op te wees nie.

Wetties en aktivisties?

Gereformeerdes kan maklik wetties, benepe en selfs aktivisties word. Dit hang saam met hulle klem op die wet van God en hulle roepingsbewustheid. Dit kan hulle soms onverdraagsaam maak. Die pretensie van alleen regskape en streng Bybels te wees, kan hulle in die oë van ander Christene (en miskien ook voor die Here) laat faal in hulle pretensie om die Woord van God en die evangelie goed te verstaan. Hulle kan uit die Bybel prinsipes distilleer wat dan op wettiese wyse hanteer word. Hulle is geneig om die muggie uit die beker te skep, maar die kameel in te sluk (Matteus 23:24). Hulle sien so maklik gevare in alles wat nuut is en nie in die gereformeerde oond gebak is nie. Dit kan van hulle suur en humorlose mense maak, wat soveel inhibisies het dat sommige van hulle skaars hartlik kan lag. Altyd siftend, toetsend, afwegend of iets kan en mag, kan Gereformeerdes soms lyk asof hulle nie spontane blydskap in die Here kan ervaar nie. Waarom sou dit vir sommige van hulle so moeilik wees om vrolik te word – hulle wat die Psalms sing waarin daar van soveel vreugde sprake is? (vgl Psalm 32:7; 40:17; 70:5; 68:4; 119:14, 162). Sou dit minstens in sommige gevalle die vroeëre binding aan die staat en die hoër stand van die bevolking wees wat daartoe gelei het dat Gereformeerdes in die verlede so styf en deftig in die kerk geword het? Wat kan dit wees dat baie van hulle nasate dit vandag nog moeilik vind om in die erediens spontaan en hartlik te sing, sonder inhibisies en met kinderlike spontaniteit? Gee hulle iets om te organiseer, ja, en dit sal uit diepe oor tuiging prinsipieel en met oorgawe geskied. Vir Christelike aksie loop hulle warm. Hulle kan selfs aktivisties word. Maar om sommer net bly te wees in die Here – dit laat hulle nie graag in die openbaar sien nie.

Lydelikheid

Omgekeerd is daar ook in die gereformeerde vroomheid ’n streep van lydelikheid. Dit kom veral voor wanneer so sterk klem op die uitverkiesing gelê word, of liewer wanneer op ’n verkeerde wyse oor die uitverkiesing gedink word – dit lei tot lydelikheid, tot afwagting om van God ’n teken te kry, en tot diep indaal in die eie hart om te soek af daar nie ’n teken is van Gods guns nie ens. Dit sien ons veral by die sogenaamde “swaar Gereformeerdes” gebeur. Dan word nie vanuit die helder evangeliewoord en die beloftes van God geleef nie, maar word die klem na die ervaring verskuif. Dit kan ook in verband met die belydenis van die voorsienigheid van God gebeur, sodat bepaalde groepe Gereformeerdes in die verlede dikwels teen iets soos die inenting teen pokke of inspuitings teen polio gekant was, en Uiteraard ook teen enige vorm van geboortereëling. As ons vra wat daaragter sit, dan is dit nie net ’n diepe ontsag vir die almag en regering van God nie, maar ook ’n denke vanuit ’n polêre skema, wat daarop neerkom dat wat God doen, nie deur die mens gedoen kan word nie, en dat wat die mens doen, nie as die werk van God gesien kan word nie. Dat Gods almag en beskikking nooit die mens se verantwoordelikheid uitskakel nie, word dan nie meer verstaan nie. Dit is hierdie soort denke wat daartoe kan lei dat bepaalde Gereformeerdes soms ook probleme met die appèl in prediking en pastoraat ondervind. Daarin word dan veels te gou moralisme of Arminianisme vermoed.

Volkskerk

Tenslotte kan die gereformeerde visie op die verbond maklik lei tot die ontstaan van die volkskerk, met al die ellende daarvan. Die idee is wel dat die kerk ’n belydende volkskerk moet wees, maar dikwels ontspoor dit deur die onvermoë om die tug toe te pas wanneer dit nie om sekere opvallende sondes gaan nie. Daarby het die gereformeerde Reformasie van huis uit ’n bepaalde binding tussen kerk en staat geken. Calvyn was daarvan oortuig dat dit so moes wees. Die gevaar is egter dat dié soort verhouding tussen kerk en staat in die sogenaamde Corpus Christianum wel op grond van die droom van ’n teokrasie verdedig kon word, maar dikwels daarop uitgeloop het dat die volk die kerk oorneem en die geestelike peil van die kerk aantas. Dit het bepaalde gevolge vir die rol van die kerk in die openbare lewe. Die Gereformeerdes het ook maar soos die kerke in alle lande uit verbondenheid aan die staat hulle profetiese roeping verwaarloos en goedgepraat wat in die lig van die Skrif nooit verdedig kon word nie. Sanksionering van die civil religion wat staat en politiek religieus onderbou, het altyd ook maar by hulle voorgekom. Ook hulle het altyd weer van die staat verwag om Christelike norme in die samelewing te handhaaf, en dan magteloos gestaan as die staat uit eiebelang dit nie wil doen nie. Die ideaal van ’n Christus-belydende volkskerk wat die staat profeties begelei en teregwys is wel mooi, maar kon eintlik nog nooit werklik bereik word nie.

Visie in die huidige situasie

Dit is van groot belang dat gereformeerde Christene vandag in hierdie land ’n balans moet opmaak van hulle situasie en eerlik daarna moet kyk in die lig van die sterk- en swakpunte van hulle geloofstradisie. Hulle sou volkome ontrou wees aan die genade en leiding van God in hulle geskiedenis as hulle bereid is om hulle erfenis eenvoudig te misken en te verspeel. Aan die ander kant sou hulle onuitstaanbaar arrogant wees as hulle nie erken dat hulle deur die swak kante van hulle geloofstradisie in die verlede en tot in die hede meermale die saak van Christus in hierdie land skade aangedoen het nie.

Terselfdertyd moet hulle besef dat hulle ’n roeping in die huidige situasie het. Hulle sal in die aangesig van die sterk oprukkende sekularisasie en sedelike verwildering die groot uitdaging moet aanvaar om saam met alle ander Christene te stry vir die voortgang van die koninkryk van God in hierdie land. Dit sal hulle as Gereformeerdes moet doen in volle bewustheid van die basiese beslissings wat in die geskiedenis van die kerk geval het. Dit sou onverantwoord wees om in die aangesig van die nood van die tyd die sterk kante van die gereformeerde spiritualiteit prys te gee en te meen dat die situasie dit noodsaaklik maak.

Die groot uitdaging vir die reformatoriese teologie in ons land kom tans nie van die Rooms-Katolieke of Oosters- Ortodokse visie op die mistiek-sakramentele ontvangs van die heil nie, maar van die kant van die spiritualisme en charismatiese rigtings met hulle sterk klem op die entoesiastiese en ervaringsmatige keuse van die mens as vrywillige daad – dikwels met miskenning van die betekenis van die prioriteit van Gods genade. Dit skyn die beste aansluiting te hê by die Afro-Amerikaanse tendense in die popkultuur waarmee die land oorgiet word. Gereformeerdes moet egter daarop bedag wees dat die entoesiastiese Christelike bewegings oor die heilsweg semi-pelagiaans dink. Die menslike vrye wil – die mens se outonome beslissing – speel hier ewe goed as in die Rooms-Katolieke denke ’n groot rol. Dit word egter nog versterk deurdat, anders as by die Katolieke, daar nie sakramenteel met die heil omgegaan word nie, maar ervaringsmatig.

Die Anabaptisme het ’n sterk mistieke kant en soek veral na die ekstatiese belewing van Gods teenwoordigheid. Dit is nie verniet uit die Metodisme gebore nie. In Wesley, die vader van die Metodisme, vind ons ’n vreemde vereniging van die mistieke kante van die geloofservaring en ’n uitgesproke verwerping van die gereformeerde uitverkiesingsleer. Die metode waar volgens die mens psigies voorberei word om gevoelsmatig tot ’n bepaalde ervaring te kom, onderstreep binne hierdie vroomheidstipe die rol van die mens as die soekende, toegewyde, aktiewe subjek téénoor God. Dit druk selfs die vernaamste stempel op hierdie vroomheidstipe af. Daar word wel bely dat die mens deur genade en deur die geloof gered word, maar die genade word as ’n moontlikheid verstaan wat daar is vir die mens wat gered wil word, en die geloof is die mens se eie daad (met die hulp van die Gees) om vir Christus te kies, volkome op Hom te vertrou, en die perfeksionistiese tweede ervaring te belewe. Pentekostalisme en Charismatiese Beweging is en bly die entoesiastiese vleuel en vrug van die Metodisme.

Die reformatoriese verstaan van die heilsweg, waar volgens die geloof korreleer op die belofte-woord van God, het die beste kans van die genoemde drie grondtipes om regtig aan die Bybelse visie op die regverdiging van die goddelose reg te laat geskied. Dit kom met die dringende oproep tot bekering nie tot die outonome mens, of tot die mens wat deur sakramentele genade verander is, of deur ’n groot ervaring aangegryp is nie, maar tot ’n mens wat deur die Woord aangespreek word en daarop moet reageer. So kom die personele karakter van die verhouding tussen God en mens die beste tot sy reg en word die Woord van God wat in die geloof gehoor en beantwoord word, die sentrale saak waarom alles draai. Al lyk dit in die klimaat van die huidige kultuur na ’n onbegonne saak om dit selfs maar aan mense duidelik te maak, is dit tog maar die weg van die verlossing uit genade alleen en deur die geloof alleen, waarmee Paulus en later Luther en Calvyn in hulle herontdekking van die evangelie, die wêreld gekonfronteer het.