Respons op referaat oor kettery

RESPONSIE OP REFERAAT VAN PROF B GAYBBA
oor
Kenmerke van kettery
Ongedateer

WD Jonker

  1. Die hoofdoel van die referaat van prof Gaybba is om die kenmerke van kettery te identifiseer. Ek sal hoofsaaklik daaroor enkele opmerkinge maak. Die reg van sy referaat kan die beste ter sprake kom wanneer die volgende referaat oor die aangeleentheid van teologie en apartheid handel.
  2. “Die begrip “kettery” is moeilik omlynbaar omdat dit kompleks is en ’n bepaalde betekenis-verandering ondergaan het. Persoonlik is ek jammer dat die referent afgesien het van sy oorspronklike idee om ’n oorsig oor die geskiedenis van hierdie begrip te gee waaruit die betekenisverandering sou geblyk het. Nogtans meen ek dat hy goed genoeg daarin geslaag het om aan ons die vernaamste aspekte van die betekenisinhoud van die begrip kettery te bied, en dat hy veral ook die absolute erns waarmee hierdie begrip in die Christelike kerk gebruik is, duidelik na vore laat kom het. Dit is in ons huidige omstandighede veral belangrik om te vra wat hier die erns presies beteken – veral omdat die begrip kettery met ‘n bepaalde gevoelswaarde gelaai is en dit vir ons omgang met mekaar in die verhouding tussen die kerke van die grootste belang is dat ons presies die gewig sal kan aanvoel van wat ons bedoel as ons die term kettery gebruik.
  3. Die referent het nie op die gebruik van die begrip kettery in die Nuwe Testament ingegaan nie. Dit is jammer, omdat daar juis die absolute erns van hier die begrip blyk. Dink maar aan tekste soos Galasiërs 1:8, Galasiërs 5:20, 2 Petrus 2:1, ens. Soos Berkouwer tereg opmerk, gaan dit daar by om die finale erns van die totale afval van Christus en die aanhang van valse evangelie wat beteken dat die heil in Christus verbeur word. Iets van hierdie finale erns het die kerk deur die eeue met hom meegedra in die hantering van die begrip, selfs al het daar in die loop van die tyd allerlei betekenisverskuiwings ingetree wat meegebring het dat ons vandag eintlik baie moeilik meer die woord kettery in sy oorspronklike Bybelse betekenis kan gebruik. Die Katolieke Kerk het egter deur die eeue met sy bekende anathema sit getoon dat hy aan hierdie erns wil vashou. Die ketter-prosesse en inkwisisie sou daarsonder ondenkbaar gewees het, soos ook die feit dat die Reformasie nog steeds onder die anathema sit van Rome lewe, alle praktiese toenadering ten spyt.
  4. Sedert die Reformasie het daar egter ’n groter nuansering in die beoordeling van Leergeskille ingetree, veral natuurlik binne die reformatoriese kringe waar die onderlinge verskille wel as dodelike erns ervaar is, maar tog nie as van sodanige aard dat diegene wat van die eie standpunt verskil, as behorende tot ’n valse kerk of as van die ewige heil verstoke aangesien kon word nie. Schleiermacher het dit verklaar deur te sê dat dit in die tyd van Paulus gegaan het om afwykende eer wat ’n terugval in die heidendom of die Judaïsme beteken het, terwyl dit in later tye om leerverskille binne die Christenheid gegaan het. Daardeur het dit steeds moeiliker geword om elke afwyking van die leer van die kerk sonder meer gelyk te stel aan kettery as finale verloëning van Christus. Ook Bavinck wys daarop dat dit sedert die Reformasie moeilik geword het om die begrip kettery by Ieerverskille te hanteer. Kettery word dan verstaan as ’n hardnekkige dwaling in die fundamentele artikels van die geloof. Onderskeid word, anders as by Rome, ook gemaak tussen twyfel, dwaling en kettery. Die begrip kettery word daardeur ietwat swewend – aldus Bavinck – en dit word ook afgeswak waar dit nog gebruik word, omdat nie meer aanvaar word dat iemand wat in die leer dwaal, selfs al is dit ’n fundamentele dwaling, nie meer deur Gods genade gered kan wees nie. Ons sou ook nog daaraan kan toevoeg dat die neiging steeds meer geword het om veral die ampsdraers van leer-dwaling en kettery te betig en nie so dikwels meer gemeentelede nie.
  5. Sedert die Verligting raak die gebruik van die term kettery feitlik heeltemal in onbruik in die kerk. Dit hang ongetwyfeld saam met die gees van toleransie en modernisme wat die kerk beheers, sodat baie van die ergste ketterye in die leer nie meer as tugwaardig behandel word nie – ’n toestand wat ons vandag nog in die meeste kan opmerk. Dit hang ook saam met die opkoms van die verskynsel van pluralisme wat dit steeds moeiliker maak om mekaar leerstellig te verketter. En dit hang seker ook saam met ’n dieper insig in die uiters relatiewe wyse waarop die skeiding tussen ortodoksie en kettery in die verlede tot stand gekom het. Wanneer ons ekumeniese eeu dan aanbreek, word dit eintlik uitgeslote geag dat kerke mekaar nog van kettery kan beskuldig, terwyl hulle juis eenheid met mekaar soek. Selfs Rome doen dit nie meer nie. Afgesien daarvan dat teoloë soos Rahner en Congar opvattings oor kettery ontwikkel wat die begrip heelwat genuanseerder maak as in die ver lede, kom die begrip kettery in die dokumente van die Tweede Vatikaanse Konsilie nie meer voor nie. Die rede waarom daar soveel skroom heers om hierdie begrip te hanteer, is dat daar ’n aanvoeling is dat hierdie begrip, ondanks die afswakking in die betekenis daarvan, nog steeds die hardste oordeel is wat die kerk oor leer-sake kan vel en dus, soos Schleiermacher gesê het, ’n uiterste begrip is. Selfs al sal ’n mens vandag nie meer maklik soos Paulus daarmee bedoel dat iemand wat ’n ketter genoem word, daarmee buite Christus en buite die ewige heil geplaas word nie, bevat die begrip nog steeds botone van die verbeuring of moontlike of dreigende verbeuring van die heil soos dit ook uit die referaat van prof Gaybba blyk.
  6. Dit geld ook wanneer hierdie begrip gebruik word in die moderne sin van ’n “etiese” kettery”. Dit is merkwaardig dat hierdie aanduiding juis opkom uit die kringe van die ekumene, wat in ’n groot mate verantwoordelik was vir die feitlike verdwyning van die begrip kettery in leerstellige sin uit die interkerklike spraakgebruik. Dit hang egter saam met die etiese wending wat die teoogie geneem het, en met die politieke en sosiale toespitsing wat dit in die afgelope twee dekades beleef het. Die leerstellige toleransie kan blykbaar goedskiks verenig word met etiese en politieke intoleransie. En al die erns wat die leerstellige begrip kettery in homself opgesluit het, word tans in die begrip etiese kettery opgeneem.
  7. Die vraag is of ons hiermee ’n sinvolle ontwikkeling meegemaak het. Die referent verdedig die hantering van die begrip “etiese kettery”, maar dit oortuig my nie. Veral sy argument dat ’n etiese kettery so genoem kan word omdat dit rus op “idees” wat verkeerd is, laat dit die vraag ontstaan of die kettery dan nie tog maar in die “idees” geleë is nie, wat ons weer by leerstellige kettery uitbring. Ek meen dat ons duidelik moet onderskei tussen sonde en kettery. Alle kettery is sonde, maar nie alle sonde is kettery nie. Daar is ook altyd ’n verband tussen kettery en sondige gedrag, want alle kettery het etiese implikasies. Dan is dit egter nie die etiese implikasies wat die kettery is nie, maar die verkeerde oortuigings waaruit dit voortkom. Wat dikwels etiese kettery genoem word, is eenvoudig die sondige vrug van selfsug, vooroordeel en dergelike sondige ingesteldhede. Hoogstens is dit moontlik om te sê dat verkeerde optredes en gesindhede aanleiding kan gee tot rasionaliserende teorieë om dit te verdedig, maar selfs dan lê die kettery nog in die rasionalisasies, nie in die sondige dade of gesindhede self nie. Die gevaar by die hantering van die begrip etiese kettery is dat dit baie maklik ideologies misbruik kan word om die politieke teenstander so hard as moontlik om die ore te slaan. Die gesprek word dan verlê vanaf die vlak van die etiese of politieke beredenering na die vlak van godsdienstige veroordeling in die skerpste moontlike sin. Wanneer diegene wat op hierdie wyse van kettery beskuldig word, die idee kry dat dit maar al is wat agter die harde oordeel steek, kan ’n mens verwag dat hulle dit hoogstens as krenkend en onbillik sal ervaar, nie as ’n werklike bewoë kerklike poging om hulle van ’n verkeerde geloofsweg terug te bring nie.
  8. Dit is in hierdie verband uiters belangrik om daarop te let dat Slenczka daarop wys dat skeuringe, schismata en dus ook heresieë in die oorspronklike sin van die woord altyd weer tussen Christene sal voorkom vanweë die sonde. Dan is dit noodsaaklik om gemeenskaplike dogmatiese formuleringe te probeer vind waardeur hierdie heresie oorwin kan word. Daarvoor is nodig dat ’n gemeenskaplike basis tussen die strydende partye gevind moet word, en dit kan alleen die geregtigheid wees wat nie aan hulleself behoort nie, maar wat Christus aan gemeenskaplik hulle skenk. Wanneer die strydende partye nog bereid is om van mekaar aan te neem dat hulle gemeenskaplik deur Christus aangeneem is (Romeine 15:7), is daar nog ’n grond om op te staan om die heresie te oorbrug. Van ’n egte heresie in die finale sin van die woord is daar eers sprake waar die aanneming van mekaar oor en weer nie meer moontlik is nie en geen gemeenskaplike belydenis of gemeenskaplike deelname aan die sakrament van die vergiffenis meer moontlik geag word nie. Ek meen dat ons in ons situasie hieraan baie ernstig aandag moet gee.
  9. Ten slotte net ’n paar kleiner opmerkinge. (1) Ek meen dat dit in die lig van bostaande nie korrek is om te sê dat apartheid ’n kettery is nie. Die bedoeling sal wel wees om te sê dat die teologiese begronding daarvan kettery is. Ek meen dat die NGSK homself hierin suiwerder uitgedruk het as sommige ander skrywers en sprekers. (2) Ek meen dat dit belangrik in ons situasie is om te onthou dat die NGSK met die hantering van die begrip kettery na alle waarskynlikheid nie bedoel het om die uiterste betekenis daaraan toe te ken, soos dit in ons opmerking oor die onderskeiding wat Slenczka maak, hierbo omskryf is nie. (3) Ek meen dat ons oor die algemeen uiters versigtig te werk moet gaan met die hantering van die begrip kettery, juis vanweë die konnotasie van laaste finaliteit wat daaraan kleef. Vir my besef is dwaling in die leer ’n begrip wat eerder gebruik moet word solank daar nog die hoop is dat daar ’n wedersydse aanvaarding deur Christus is en dus ook ’n moontlikheid van omkeer, vergiffenis en versoening.

BEKNOPTE LITERATUURLYS

  1. Bavinck, H. De katholiciteit van Christendom en kerk. Kampen, 1968, 24 ev.
  2. Berkouwer, GC. De Kerk 1. Kampen, 1970, 140 ev.
  3. Berkouwer, GC. Verontrusting en verantwoordelijkheid. Kampen, 1969, 31 ev.
  4. Congar, Y. Die Wesenseigenschaften der Kirche (Mysterium Salut is IV/1, 411–457.
  5. Steek, KG. Die Christliche Wahrheitzwischen Häresie und Konfessian. Th EH, 181, 1974.
  6. Küng, Hans. De Kerk. Hilversum, 1967, 278 ev.
  7. Slenczka , R. Die Lehre trennt – aber verbindet das Dienen? – KuD, 1973, 125 ev.
  8. Rahner, BK. Was ist Häresie? Schr.z. Theologie, V, 1964, 327 ev.
  9. Wolff, E. Häresia I. RGG III, kol 13 ev.
  10. Philipp, W. Irrlehre. RGG III, kol. 898 ev.