’N GEHEILIGDE LEWE IN DIENS VAN DIE WOORD
Ongedateer
Enkele stellings deur prof WD Jonker
- Daar is ’n verband tussen ons persoonlike verhouding tot God en die seën op ons arbeid in sy diens. Hoewel geen mens deur sy eie inspanning of vroomheid in staat is om ’n enkele ding van betekenis in die koninkryk van God te doen nie, en alles net van sy eie genade afhanklik is, is daar volgens die Bybel ’n korrelasie tussen die gehoorsaamheid van die draer die boodskap en die mate van vrug wat God op sy arbeid skenk. (vgl 1 Korintiërs 9:24–27. Veral vers 27 is van belang. Die prediker kan self eenkant geplaas word, as hy “adokimos” blyk te wees. Vergelyk verder die vermaninge aan Timotheüs, bv in Timoteus 6–16; 6:11– 21; 2 Timoteus 2 ens).
- Die aard van die Christelike boodskap is dat dit nie verkondig kan word as ’n objektiewe waarheid wat buite die lewe en ervaring van die verkondiger omgaan nie, omdat dit deurgaans die karakter dra van ’n marturia, ’n getuienis waarvoor die prediker ook met sy eie lewe instaan. Die bedienaar van die Woord moet daarom self ook glo in die dinge wat hy verkondig. Die reformatoriese teologie in sy geheel dra ’n eksistensiële karakter: dit is geloofskennis wat deurdink word, geloofskennis waarby die teoloog self persoonlik betrokke is. Netso is die prediking ook die verkondiging van ’n boodskap waarvan die prediker eksistensiële kennis dra.
- Vir die bedienaar van die Woord is dit daarom ’n vereiste dat hy met sy geheiligde lewenswandel die boodskap wat hy verkondig, moet bevestig. Uiteraard is daarmee nie uitgespreek dat die bedienaar van die Woord volmaak moet wees, of dat hy – soos Paulus sê – alles al het of die doel van die Christelike lewe al bereik het nie (Filippense 3:12), maar daarmee word bedoel dat hy opgeneem sal wees in die stryd van die geloof en die lewe uit die genade waarvan Filippense 3 getuig, met die een groot begeerte om Christus te ken, om die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding, in die verwagting dat hy self deel sal hê aan die opstanding uit die dood (Filippense 3:10– 11).
- Dit is uiters belangrik dat ons die juiste insig sal hê in wat egte heiliging is. Veral in ons tyd is ons blootgestel aan die gevaar van verkeerde persepsies van wat ’n geheiligde lewe is, en kan ons binne die suigkrag kom van die entoesiastiese en perfeksionistiese visies van die alom voortwoekerende Anabaptisme. Dit het altyd twee kante: die geweldige hoë aansprake insake die eie geestelike lewe en wat reeds bereik is aan die een kant, en die wettiese krampagtigheid aan die ander kant. Die waarskuwing wat Paulus in hierdie verband in Kolossense 2:16–23 rig, is in ons tyd uiters aktueel. Godsdienstige emosionaliteit, soetsappigheid en dergelike meer dien dikwels eerder tot versadiging van die vlees as tot ’n egte lewe in heiligheid. Daarom is dit so belangrik dat ons sal probeer weer die reformatoriese verstaan van die egte Bybelse vroomheid te verstaan, omdat ons daardeur teen veel ontsporing bewaar kan word.
- Die gereformeerde verstaan van die Bybelse boodskap oor die heiliging beteken nie dat ’n mens minder vroom moet wees nie, maar juis meer toegewyd. Dit begin egter by die enigste regte plek: by die verstaan daarvan dat ons lewe voor die aangesig van die lewende God (coram Deo). Heiliging na die subjektiewe kant is nie ’n eenmalige gebeurtenis nie, hoewel ons in Christus eens en vir altyd klaar geheilig is, maar ’n lewe van stryd en oorwinning in die voortdurende omgang met God deur die Gees. Die vroomheid en ervaring met God leef steeds meer uit die objektiewe werklikheid van die heil wat in Christus klaar aan ons geskenk is (vgl Kolossense 3). Dit is dus ’n vroomheid wat voortdurend op die Woord van God en sy beloftes betrokke is, en nie in die eerste instansie op ons eie ervarings gebaseer is nie. As ’n geloofsvroomheid, is dit die teendeel van die subjektiwisme wat voortdurend met onsself besig is, en ’n steeds konsekwenter toe-eiening van wat ons in Christus reeds besit.
- Calvyn het op grond van die Nuwe Testament daarop gewys dat die bekering of heiliging of wedergeboorte van die gelowige, in twee dinge bestaan: in die afsterwing van die ou mens en in die opstanding van die nuwe. Daar is krities opgemerk (bv deur Barth) dat die eerste element by Calvyn baie sterker is as die tweede. Dit hang saam met die diepe besef van die sonde en die vreeslike karakter van die kwaad wat in ons woon. Romeine 7 is vir die Reformasie, soos trouens ook vir Augustinus, ’n beeld van die gelowige in die militia Christiana, die stryd van die geloof. Heiligmaking is daarom ook die ontdekking van die afgrondelikheid van ons eie bederf, en wee diegene wat dit afmaak as ’n te somber beeld van die mens!
- Maar heiliging het ook ’n positiewe kant wat eerstens uitkom in die groei van ons liefde vir God self en vir Jesus, ons Here. Vervulling met die Heilige Gees maak ons volgens die Nuwe Testament nie in die eerste plek vol entoesiasme nie, maar vol liefde vir God self. Vandaar die heerlikheid van die verborge omgang met God, die “ingekeerde lewe”, die “bevinding”, soos dit in die “praktyk van die godsaligheid” in die gereformeerde tradisie bekend geword het. Daar moet ’n verlustiging kom in God. Meditasie en gebed, met name die gebed van die liefde, moet ’n plek kry in die lewe van die dominee, al moet hy ander belangrike dinge eenvoudig weglaat.
- Die positiewe kant van die heiliging omvat egter ook die gehoorsaamheid aan God. Gereformeerde vroomheid is ’n totale vroomheid wat die hele lewe omvat. Ons lewe het veels te wêreldgelykvormig geword. Ons ken te min die liefde vir die wet van God, die verlustiging daarin, nie net om dit te oordink nie, maar ook om dit te doen, Dit beteken dat ons liefde vir die naaste nie net iets emosioneels moet wees nie, maar ook ’n konkrete daad – tot in die praktyk van die maatskaplike en politieke lewe. Ons het so wêreldgelykvormig geword, dat wat Jesus sê oor die soberheid en die armoede, vir ons uit ’n vreemde wêreld kom. Ons is veels te veel gekompromitteer as deel van ’n bestaande orde om te verstaan watter revolusionêre betekenis die evangelie eintlik in die wêreld van mag en rykdom het. Maar heiligmaking bestaan daarin dat ons die wet van die Here op die totaliteit van die lewe toegepas wil sien. Die gereformeerde verlang eintlik na ’n vorm van teokrasie in die politieke en maatskaplike lewe. Heiligheid beteken ook dat ons maatskaplike en politieke onreg raaksien en bestry – ten minste daarteen getuig.
Heiliging – kort saamgevat – is om soos Jesus in die wêreld te staan. En soos ons weet, het dit ’n kruis beteken, maar ook die heerlike triomf van Gods koninkryk aan die ander kant van die opstanding.