Gereformeerde Spiritualiteit en stellings vir bespreking

GEREFORMEERDE SPIRITUALITEIT EN STELLINGS VIR BESPREKING
Ongedateer – waarskynlik ’n lesing wat Jonker in 1989 gegee het aangesien hy ’n referaat gelewer by die Teologiese Dag van die Kweekskool van Stellenbosch op 13 Februarie 1989 en gepubliseer is in die NGTT van Julie 1989 onder die titel “Die eie-aard van die gereformeerde spiritualiteit”.

  1. Die verband tussen prediking, belydenis en spiritualiteit.

1.1  Prediking is die vernaamste taak van die predikant. Die gemeente is creatura Verbi en die predikant heet Verbi Divini Minister. Niks anders in die bediening mag die funksie van die prediking in die gedrang bring nie.

1.2  Prediking het onder andere ten doel om die spiritualiteit van die gemeente te vorm en te stimuleer. Spiritualiteit is altyd konfessioneel gebonde. Prediking geskied nooit in ’n lugleegte nie, maar altyd binne ’n geloofstradisie wat in ’n spesifieke spiritualiteit neerslag gevind het. Daarom is die vraag na die verhouding tussen prediking en spiritualiteit van groot belang.

1.3  Die belydenis is die leesreël vir die Skrif wat binne ’n geloofsgemeenskap geld en vorm ook die raamwerk waarbinne met die Skrif omgegaan word. Dit bemiddel tussen die Skrif en die spiritualiteit van die gemeente.

1.4  Wat regte spiritualiteit is, word in ’n geloofsgemeenskap uitgemaak deur die verstaan van die Skrif soos dit in die belydenis neerslag gevind het. Verandering van spiritualiteit lei noodwendig tot of bevestig reeds ’n verandering van belydenis en die verstaan van die Skrif.

  1. Kenmerke van die gereformeerde spiritualiteit
    2.1 Gereformeerde spiritualiteit verteenwoordig ’n eie tipe van geloofsbelewing binne die Christenheid, waardeur Gereformeerdes mekaar ondanks allerlei vorme van diversiteit kan herken.

2.2  Daar is hoofsaaklik vier tipes spiritualiteit:
(a) ’n mistiek-sakramentele,
(b) ’n Woordmatig-geloofsmatige,
(c) ’n entoesiasties-ervaringsmatige en
(d) ’n moralisties-aktivistiese.
Tipe (a) is tiperend van die Oosters-Ortodokse en Rooms-KatoIieke, (b) van die Reformatoriese kerke, (c) van die Anabaptisme, en (d) van bewegings of groepe met ’n sterk moralistiese inslag.

2.3  Die eerste tipe word gedra deur die idee van verlossing as ’n mistieke omsetting van die menslike natuur deur die gebruik van die sakramente; die derde deur die idee dat religieuse ervaring lewensverandering en die heil bewerk; die vierde deur die idee dat die Christen geroep is tot ’n daad-werklike inset om die wêreld te verander, terwyl die tweede of reformatoriese tipe klem lê op die Woord van God waardeur die mens vrygespreek word en die Heilige Gees wat die totale eksistensie wil heilig.

2.4  Die gereformeerde spiritualiteit word gestempel deur die spesifieke wyse waarop die Woord van God as heilswoord beklemtoon word. Die Skrif word deur die bril van Paulus en in die tradisie van Augustinus en Calvyn gelees.

2.5  Die wesenlike van die gereformeerde spiritualiteit is die lewe uit die genade alleen. Die Reformasie het op voetspoor van Paulus die boodskap van die Skrif saamgetrek gesien in die sola gratia, sola fide, solo Christo, soli Deo gloria. Dit is nie net ’n samevatting van die boodskap van die Skrif nie, maar ook die sleutel vir die verstaan van die gesag van die Skrif.

2.6  Vanweë hulle omhelsing van die hele Skrif as Ou en Nuwe Testament sien die Gereformeerdes die verbond as die vorm van Gods omgang met die mense. In geen ander sektor van die Christenheid is die waarheid van die verbond so diep as by die Gereformeerdes deurdink nie. Dit staan lynreg teenoor ’n Doperse heilsindividualisme.

2.7  Die besondere van die gereformeerde spiritualiteit, selfs in onderskeiding van die Lutherse, is dat dit alle fasette van die aardse lewe onder die tug van die wet van God wil bring. Dit is ’n world-formative Christianity (Wolterstorff). Calvyn ken ook wel die oordenking van die toekomstige lewe (Inst 111,9), maar dit word in balans gehou deur die roeping om in hierdie wêreld in alle opsigte aan die wet van God gehoorsaam te wees.

2.8  Die NGK sal die versoeking moet weerstaan om veral na die voorbeeld van sommige Amerikaanse kerke ’n individualistiese, ervaringsmatige en na-binne gekeerde vroomheid te stimuleer wat in ’n gees van kompetisie met ander kerke die smaak van lidmate (en veral die jeug) wil bevredig ten einde hulle vir die kerk te probeer behou.

  1. Die prediking wat met hierdie spiritualiteit saamhang
    3.1 Die prediking binne ’n kerkgemeenskap weerspieël die soort spiritualiteit waarby daardie kerk lewe. As daar ’n gaping tussen die prediking en die offisiële konfessionele posisie van die kerk ontstaan, dui dit op ’n verandering in spiritualiteit wat op die duur die konfessionele posisie in gedrang bring. Ondanks die NGK se uitgesproke wens om ’n gereformeerde kerk te wees, het haar beïnvloeding deur die Metodisme en onkritiese verbondenheid met die Afrikanervolk haar gereformeerde karakter gekompromitteer.

3.2  Daar is tans verskeie faktore wat dit vir die NGK moeilik maak om tot haar ware gereformeerde identiteit te kom. Sy word aan die een kant bedreig deur die gevare wat skuil in die groter blootstelling aan die Westerse moderniteit, en aan die ander kant deur invloede wat haar spiritualiteit in die rigting van ’n naïewe, ervaringsmatige en individualistiese vroomheid wil stuur.

3.3  Laasgenoemde word versterk deurdat die NGK tans minder deur Europees-gereformeerde en meer deur Amerikaanse geestelike tendense beïnvloed word. Dit benadeel die gereformeerde karakter van die kerk en stimuleer ’n entoesiastiese tipe spiritualiteit wat openheid na die kant van die Charismatiese Beweging bevorder.

3.4  Hierdie tipe spiritualiteit het geen betekenisvolle invloed op die openbare lewe nie en konsentreer op die uitbouing van die plaaslike gemeente. Omdat gemeentes in Amerika geen geografiese grense het nie, ontstaan daar ’n kompetisiegees wat meebring dat die beginsel van vraag en aanbod in groot mate die kerklike lewe beheers. Dit het tot gevolg dat die roeping om ’n world formative-effek te hê, deur ’n na-binnegekeerde vroomheid verdring word.

3.5  Namate hierdie tendense in die NGK deurwerk, verskuif die aksent weg van die prediking na ’n meer informele en gesellige tipe byeenkoms waarin die behoeftes en smaak van die gemeente as maatstaf funksioneer. Die prediking word meer op die emosionele as die kognitiewe gerig. Die primaat van die Woord kom in die gedrang.

3.6  Gereformeerde prediking moet die gemeente help om op Gods beloftes te vertrou, nie op hulle eie ervarings en emosies nie. Dit moet die heil in sy volheid betrek op die lewe in sy breedheid, hoogtes en dieptes. Die gemeente moet leer om uit die volheid van die heil te lewe en daarvan bewus te wees dat daar geen duimbreedte van hierdie werklikheid is waarvan God nie sê: Dit is myne! nie.

3.7  Die prediking hoef nie veel oor gereformeerde spiritualiteit te praat nie, maar moet dit reflekteer, kweek en stimuleer. Nie ervaring moet gesoek en gestimuleer word nie (dit kom vanself as die Gees deur die Woord werksaam is), maar die vaste spyse van die heilswoord van God moet aan die gemeente uitgedeel word. Op die lang duur is Skrifprediking ’n sterker faktor om mense na die erediens te trek as allerlei modepogings of geselligheid.

DIE BELYDENISSKRIFTE EN DIE PREDIKING

  1. Die belydenisskrifte as spreekreëls vir die prediking.

1.1  Die belydenisdokumente van die kerk bied belangrike hermeneutiese riglyne vir die verstaan en vertolking van die Skrif. Hulle verskaf helderheid oor die grondbeslissings wat in die kerk se worsteling om die regte verkondiging geval het.

1.2  Die grondvorm van die belydenis van die kerk is die geloof in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Daarmee staan en val die kerk. In die aanvaarding van die Credo in die 2de eeu het daar ’n beslissing van historiese betekenis geval. Alle verdere belydenisse is die nadere invulling daarvan in die stryd teen dwalings en ketterye. Dit geld nie net die Niceanum en die Athanasianum nie, maar ook van die Reformatoriese belydenisse.

1.3  In die belydenisskrifte van die Reformasie word veral oor die geloof in die Heilige Gees duideliker uitsprake gedoen om dwalings in verband met die aard en die weg van verlossing af te weer. Daarom raak die belydenisskrifte van die Reformasie veral die sg derde artikel van die Credo.

1.4  Die Reformatoriese belydenisskrifte het in ’n situasie van binne-kerklike verskille na vore gekom om die regte verstaan van die evangelie te beskerm. Daardeur het hulle die funksie verkry van spreekreëls vir die verkondiging (Noordmans). Hulle verskaf die raamwerk waarbinne die prediking beweeg en die maatstaf waarmee tussen waarheid en dwaling onderskei word.

1.5  Dit is van die grootste belang dat die gemeente met die belydenisskrifte vertroud moet wees, anders is hulle uitgelewer aan modebewegings en vorme van spiritualiteit wat op die duur die sentrale boodskap van die evangelie in gedrang kan bring. ’n Kerk wat sy belydenisskrifte verwaarloos, kweek gemeentelede wat nie in staat is om tussen waarheid en dwaling te onderskei nie.

  1. Die verhouding tussen belydenis en spiritualiteit

2.1  Spiritualiteit is die praktiese uitlewing van die belydenis wat deur die gemeente geïnternaliseer is. Dit is die dinge wat mense glo (al is dit ook ongeartikuleerd) wat bepaal hoe hulle in die algemeen aan hulle geloof uitdrukking in hulle godsdienstige handelinge en lewenswandel gee. Konfessionele verskille bring daarom ook verskille in spiritualiteit mee. Veranderinge in die spiritualiteit van ’n geloofsgemeenskap dui omgekeerd op verandering van hulle konfessionele posisie.

2.2  Die werklikheid waarmee ons vandag te make het, is dat die meeste lidmate nie meer bekend is met ons belydenisskrifte en die redes waarom hulle ontstaan het, of die beslissings wat in hulle geval het nie. Swak katkisasie, onbekendheid met die belydenis en die verval van leerstellige- en kategismusprediking laat lidmate sonder ’n enkele maatstaf waarmee tussen waarheid en dwaling in die leer of die spiritualiteit onderskei kan word.

2.3  As die kerk nie sienderoë haar gereformeerde karakter wil kwytraak nie, is dit noodsaaklik dat daar dringend aandag aan die onderrig van die gemeente in die waarheid van die belydenis gegee moet word. Die ampte mag nie hulle verantwoordelikheid in hierdie verband van hulle afskuif met die gedagte dat aan die gemeente (en veral aan die jeug) gebied moet word wat hulle vra, ook al kom die gereformeerde identiteit van die kerk daarmee in die gedrang nie.

  1. Die leerstellige inhoud van die prediking

3.1  Alhoewel dit waar is dat die belydenisskrifte nie self die inhoud van die prediking nie, maar die spreekreëls vir die verkondiging vorm, beteken dit nie dat die prediking geen leerstellige inhoud het nie. Elke Bybelteks funksioneer binne ’n bepaalde leergeheel. Jesus en Paulus se prediking was uitgesproke leerverkondiging.

3.2  Vir Gereformeerdes is juis die leerstellige element in die prediking van die allergrootste belang. In die Rooms-Katolieke erediens speel die prediking ’n mindere rol teenoor die liturgie, en by spiritualistiese groepe dien die prediking dikwels veral die stimulering van ’n bepaalde vorm van godsdienstige belewing. Vir die Reformasie neem die Woord van die Skrif die sentrale posisie in die erediens in. As dit verwaarloos word, sal die gereformeerde karakter van die kerk ernstig in die gedrang kom.

3.3  Dit is noodsaaklik om weer ernstige oorweging te gee aan prediking aan die hand van die Heidelbergse Kategismus. Die vraag watter soort prediking die gereformeerde spiritualiteit bevorder, kan die beste beantwoord word deur na die Kategismus te verwys. Die kinderlike vroomheid wat uit die Kategismus straal, asook die bereidheid om die hele lewe voor die aangesig van God te lewe en uit dankbaarheid aan Hom in alles gehoorsaam te wees, word uitmuntend in die Kategismus verwoord. In aansluiting by die Kategismus moet ook die groot beslissings wat in die stryd om die ware leer geval het en in die ander belydenisskrifte verwoord word, onder die aandag van die gemeente gebring word. Dié beslissings is nog steeds relevant.

3.4  ’n Predikant wat op die regte wyse te werk gaan, sal uitvind dat die gemeente baie daaraan het om bewus gemaak te word van die skatte van die Bybelse en gereformeerde leer en die eenvoudige, sober, maar lewensomvattende soort spiritualiteit wat daarin tot uitdrukking kom. Dit gaan om ’n wandel met God op elke terrein van die lewe. Slegs ’n prediker wat self gedrenk is in die gereformeerde spiritualiteit is in staat om die gemeente te begelei in hulle ontdekking van wat die volle rykdom daarvan is.

DIE UITVERKIESINGSLEER BINNE DIE RAAM VAN DIE PREDIKING

  1. In die Bybel word die uitverkiesing nie as iets duisters of as ’n bedreiging gesien nie, maar as ’n oorsaak van lofprysing en diepe dankbaarheid. Dit hang daarmee saam dat die uitverkiesing in die Bybel vanuit die gesigshoek van die verloste sondaar bekyk word en dus funksioneer as die onderstreping van die onverdiende karakter van die genade van God. Dit beklemtoon dat die redding nie die gevolg van ons keuse vir God is nie, maar van God se keuse vir ons.
  2. Die leer van die uitverkiesing sluit in geen enkele opsig die menslike keuse vir God uit nie. Gods keuse vir die mens omvat ook die keuse van die mens vir Hom. Dit relativeer in geen enkele opsig die erns van die prediking of die ywer waarmee by mense gepleit moet word om in die evangelie te glo nie. Maar dit beklemtoon dat die menslike keuse vir God ten diepste die gevolg is van Gods genadige aanraking en opwekking uit die geestelike dood, sodat daardeur alle roem uitgesluit word en die eer vir die verlossing ten volle aan God gegee moet word.
  3. Daarom is die leer van die uitverkiesing daarop bereken om die verloste mens tot nederige dankbaarheid te lei in die wete dat geen mens iets het om voor God op te roem nie (1 Korintiërs 1:29). Wie trots daarop sou wees om ’n uitverkorene te wees, begryp nie dat genade werklik genade is nie. Dit is genade om genade te kan ontvang. Die leer van die verkiesing beklemtoon dat die heil ’n geskenk is waarop geen aanspraak gemaak kan word nie.
  4. As daar van enige patroon in die uitverkiesing sprake kan wees, dan is dit dat God in sy verkiesende liefde ’n sekere voorkeur toon vir die ellendiges en diegene wat na ons oordeel die minste daarvoor kwalifiseer (vgl 1 Korintiërs 1:26–29). Dit beteken nie dat die mens se ellende as sodanig hom/haar vir die heil laat kwalifiseer nie. Dit gaan in die uitverkiesing om grondelose liefde wat vir ons nie na-rekenbaar is nie.
  5. Die uitverkiesing is nie iets om jou oor te bekommer nie. Nie alleen val dit heeltemal buite ons beïnvloeding nie, maar daar kan slegs vanuit die geloof sinvol daaroor gepraat en gedink word. Die enigste waaroor ’n mens jou moet bekommer, is of jy die evangelie van Gods genade in Christus glo. Geloof in die beloftes van die evangelie is geloof In die uitverkiesing.
  6. Die uitverkiesing is nie ’n onbekende, enigmatiese faktor wat los van die aanbod van die evangelie funksioneer en die sekerheid van die heil bedreig nie, maar die dieptedimensie van die aanbod van die heil wat in die evangelie tot ons kom. Sekerheid oor ons verkiesing moet nie gesoek word in die egtheid van ons eie geloof of ons reaksie op Gods beloftes nie, maar in die beloftes self.
  7. As die Bybel sê dat ons nog voor die wêreld geskep is, in Christus uitverkies is, wil dit daarmee die absolute vastheid en onwrikbaarheid van Gods liefdesbesluit beklemtoon, maar dit moet nie so verstaan word dat die lot van individue daarmee reeds van altyd af beslis is nie. Die voor-tekste wil sê dat Gods ewige heilsplan in Christus geopenbaar is, dit is: God het Homself van ewigheid af voorgeneem om Homself in Christus te openbaar as die vrye en soewereine God wat uit genade alleen die heil skenk aan wie
  8. Gods ewige besluit om ons in Christus te verkies (Efesiërs 1:4) moet dus nie geïnterpreteer word as ’n besluit wat temporeel aan alles voorafgaan en alles in die geskiedenis deterministies vaslê “nog voordat die wêreld geskep is” nie, maar as die besluit van die ewige God wat in sy ewige nou verwerklik word. God neemt zijn eeuwige besluiten altijd op het allerlaatste moment (Noordmans).
  9. Die uitverkiesing moet dus ten nouste met die prediking van die evangelie verbind word as die weg waarlangs dit in die loop van die geskiedenis verwerklik word. Dit is die soewereine en vrye handeling van die Drie-enige God wat langs die weg van die prediking en verbond as Vader in Christus en deur die Heilige Gees mense uit die duisternis na die wonderbare lig roep. Dit gee aan die prediking ’n beslissende betekenis. Juis op grond van die geloof in Gods verkiesende liefde moet die prediker in alle erns by sy hoorders daarop aandring om Christus in die geloof vas te gryp.
  10. Die leer van die uitverkiesing moet nie gesien word as ’n bedreiging van die universele heilswil van God nie (1 Timoteus 2:4). Dit is vir ons nie moontlik om die wil van God vir die redding van alle mense logies daarmee te rym dat talle verlore gaan en net die uitverkorenes gered word nie. Die sonde is klaarblyklik ’n breuk tussen God en die mense waaroor ons slegs verbyster kan staan. Die enigma van die sonde kan nie logies benader word nie en ons moet liewer nie, soos sommige Amerikaanse Gereformeerdes, van ’n limited atonement praat nie.
  11. Al druk die Dordtse Leerreëls (DL) hulleself soms op ’n manier uit wat ons vandag graag anders sou wil formuleer, veral wat hulle gebruikmaking van kousaliteitskategorieë betref, is die intensie daarvan tog vir ons onopgeefbaar. Die DL het in die hitte van die stryd op ’n beslissende moment die waarheid van Gods soewereine verkiesende liefde gered. Waar ons vandag deur ’n vloedgolf van Arminiaanse spiritualiteit oorspoel word, is die DL opnuut aktueel en noodsaaklik.
  12. Hoewel die uitverkiesing by geleentheid in die prediking aan die orde gestel moet word om misverstande te verwyder, moet dit veral in die lofprysing en gebede van die gemeente funksioneer en só die spiritualiteit van die gemeente stempel. Dit is ’n teken van misverstand en teologiese vervlakking as die uitverkiesing geïgnoreer of verswyg word. Die hele Bybelse heilsgeskiedenis bloei aan die stengel van die uitverkiesing. ’n Kerk kan dit alleen tot sy geestelike skade verwaarloos of ignoreer.