ENKELE OPMERKINGS OOR BEVRYDINGSTEOLOGIE
Outeur onbekend
Hoe meer ek Willie se stellings gelees het, hoe meer het ek begin wonder oor die uitvoerbaarheid van die Kuratorium se versoek. Dit lyk my daar is onduidelikheid oor veral drie aspekte: die voorveronderstelling van die opdrag, die doel daarvan en die inhoud van die stuk wat Willie voorberei het.
Voorveronderstelling van opdrag
Die stellings wat hier gemaak word, illustreer die problematiese aard van die opdrag. Die opdrag gaan uit van die veronderstelling dat ’n relatief homogene teologiese stroming bestaan wat onder die een noemer van Bevrydings-teologie (BT) tuisgebring kan word en wat op eenvormige wyse gehanteer kan word. Dit is nie alleen feitlik ’n foutiewe aanname nie, maar gee ook aanleiding tot die praktyk om alles van Belhar tot Kairos, van Latyns-Amerikaanse ontwikkelinge tot resepsie-benaderinge as gekontamineer deur dieselfde dwaling te beskou. Dit is nie alleen tiperend van die benadering wat ten grondslag van uitgawes van byvoorbeeld Scoreboard lê nie, maar wat ook deur persone in ons eie kerklike kring daartoe bring om Tutu as anglikaans/marxisties, Boesak as marxisties/oppervlakkig (agv die aard van sy opleiding) ens af te naak (bv in ’n lesing vroeër vandaar deur ’n kuratoriumlid).
Dit is dus ’n ernstige vraag of die opdrag soos hy nou geformuleer is, wel uitvoerbaar is en of daar nie eers herbesin moet word nie.
Doel
Die voorafgaande hang natuurlik nou saam met die doel van so ’n verklaring. Is die doel om die Kuratorium se afkeur van bv dokumente soos Damaskus te begrond, of is die doel om ’n basiese standpunt in te neem wat as uitgangspunt kan dien vir ’n gesprek oor hierdie sake met ander belanghebbendes in ons eie geledere, soos ons kollegas van Wes-Kaapland of met die NGSK, of selfs in ’n wyer kring binne en buite die land?
Duidelikheid oor die doel (en die be-oogde gehoor) is dus van deurslaggewende belang meer – hieroor aan die einde. Die huidige onsekerheid maak die stellings soos hier geformuleer, problematies. Aan die een kant gee dit verdere geloofwaardigheid aan die aanname dat ons hier met ’n homogene verskynsel te doen het wat op ’n eenvormige wyse gehanteer (en afgemaak) kan word. Aan die ander kant sou dit sonder verdere nuansering moeilik as basis vir ’n gesprek binne en buite die NG-familie kan dien. ’n Mens moet tog aanvaar dat so ’n verklaring gepubliseer sal word en dat dit as amptelike standpunt van die Teologiese Fakulteit sal geld.
Ek sal probeer om ’n paar problematiese aspekte aan die hand van enkele voorbeelde uit die stellings te verduidelik. (Dit is seker nie nodig om te benadruk dat ek dit nie as ’n eksponent of as ’n apologeet vir BT doen nie. My voorbehoude hieroor het ek elders uitgespreek. Vir my gaan dit om ’n basis vir ’n sinvolle gesprek oor hierdie sake te vind).
Inhoud
Stelling 1
Die gebruik van die benaming “Teologie van Bevryding”, is problematies. Hoewel die literatuur inderdaad nie eenstemmig hieroor is nie, het dit gebruiklik geword om tussen Bevrydingsteologie (BT) en Teologie van Bevryding (TVB) te onderskei. BT is ’n enger benaming wat dui op die Latyns-Amerikaanse versie van TVB. BVT is die generiese term wat dui op ’n breër beweging in Derde Wêreld wat primêr gerig is op ’n teologiese bevryding van wat beleef word as ’n kultuurreligieuse imperialisme, maar ook variasies soos feministiese teologie sou insluit.
Daar is ’n neiging (soos in hierdie stellings) om spesifieke aspekte van BT as kenmerkend van TVB in die algemeen te beskou en sodoende TVB in terme van BT te beoordeel. Dit lei in die eerste plek tot veralgemenings, terwyl tweedens ’n kontamineringsproses aan die gang gesit word. Om konkreet te wees: Is die Belhar-belydenis met sy opsie vir die armes ’n voorbeeld van TVB wat om daardie rede afgewys moet word? Of verklank dit outentieke evangeliese motiewe?
Anders gestel: Vir al die punte wat in hierdie stellings gemaak word, sou waarskynlik konkrete voorbeelde uit die werk van eksponente van TVB aangevoer kon word. Die kollektiewe prent die wat hier geteken word, sal egter deur min eksponente van TVB as ’n werklike weergawe van hulle posisie herken word. Om dit met ’n teenvoorbeeld te illustreer: As iemand die stelling sou maak dat dit ’n kenmerk van gereformeerde teologie in Suid-Afrika is, dat dit apartheid ondersteun en sy stelling met vers en kapittel uit uitsprake van sekere gereformeerdes staaf, sal ons almal nogtans protesteer dat dit totaal onbillik is en sekerlik nie as tipies gereformeerd kan geld nie.
Stelling 3
Dit is ’n vraag of kontekstualiteit vir alle beoefenaars van TVB bestaan in die aanvaarding van ’n marxistiese maatskappy– en ideologie-kritiek en berus op ’n marxistiese denkmodel (stelling 6). Om emansipatoriese vryheid [word hiermee bedoel dat die mens homself kan verlos en dus nie meer uit genade gered word nie?] en self verwerking van die mens … en dit wel volgens die rewolusionêre marxistiese model as die spesifieke fokus van TVB te beskou, sal deur baie eksponente eenvoudig as onwaar afgewys word. So ’n beoordeling (vgl ook die term “selfbevryding” in stelling 4) gee nie erkenning aan die motief waaruit die verlange tot optrede opkom nie (nie uit arrogante waan van eie mag of die uitskakeling van God nie, maar vanweë die dadeloosheid van ’n “Christelike” owerheid of samelewing) en toon ook nie begrip vir die ervaring van talle gelowiges dat die ‘deur genade alleen’ verkeerdelik die basis word vir ’n quiëtisme wat “alles aan God oorlaat” en sodoende die status quo van veronregting rustig laat voortduur. Hierdie gelowiges vertrou vir hulle redding juis nie op mense nie, maar op God. [Die afwysing van die tema van selfverwerkliking, berus op ’n defekte bybelse antropologie waaroor daar ook ’n slag gesels sal moet word].
Stelling 4
Is die diepe begeerte dat daar ’n korrelasie tussen teorie en praktyk moet wees ’n marixistiese ingewing of ’n diepe evangeliese motief (Matteus 7:21; 23:3)?
Stelling 5
Die opvatting dat die sogenaamde “volksteologie” voorgehou sou word as sou dit die “produk van die spontane omgang van die volk met die Bybel” sou wees, berus op ’n misvatting. Verteenwoordigers van die TVB het nog altyd hierdie teologie gesien as ’n wisselwerking tussen teoloë, pastore en gelowiges, wat ’n “continuum of reflection” verteenwoordig en wat tenminste drie vlakke insluit (professional, pastoral, popular) – vgl bv Boff & Boff 1987, 11–16. Kenmerkend van hierdie teologie is eerder sy deelnemende karakter en is dit nie wat ons in gereformeerde kringe ook juis as besonder wenslik ag nie – die deelname en betrokkenheid van die gewone lidmaat? (Dit is nogal iets om te belewe in hierdie kringe en ’n aspek waaroor ons met vrug van hulle kan leer.)
Oor die Skrifbeskouing kan inderdaad ernstige vrae gevra word. Maar dit is weereens nie korrek om ongekwalifiseerd te beweer dat die uitleg in die vorm van materialistiese eksegese geskied nie. Dit is beslis nie waar van die sg “Concerned Evangelicals” waar eerder met ’n fundamentalistiese Skrifbeskouing gewerk word nie en dit bring ook nie in berekening die intense debat wat tans tussen eksponente van TBV aan die gang is nie (vgl bv die kritiek van Mosala op Tutu en Boesak se hermeneutiek en teksopvatting).
Stelling 8
Die laaste stelling vertoon ’n tweeslagtigheid wat sowel in eie kring as by verteenwoordigers van TBV tot misverstand aanleiding kan gee. Hier word eers van die mees belangrike temas van die TVB as evangelies legitiem en as teologies goed verdedigbaar aangemerk. Die benadering self word eg ter uiteindelik afgewys omdat dit die “volheid van die evangelie” in gedrang bring. Die gewone lidmaat kan hieruit alleen die afleiding maak dat hierdie rigting nie alleen vermy moet word nie, maar dat hy hom nie juis oor die vraagstelling daaragter hoef te bekommer nie. Hy word trouens geen leiding gegee hoe om dit te hanteer en op geen wyse voorberei om ’n gesprek hieroor met verteenwoordigers van TVB te voer nie behaIwe om dit as marxisties af te wys. Van die ander kant sal verteenwoordigers van TBV die “begrip” vir sekere basiese oortuigings en selfs die aangebode hulp om dit teologies te verdedig, taamlik paternalisties ervaar. Die vraag is juis hoe die mooi oortuigings wat in die eerste deel van hierdie stelling uitgespel word, in die praktyk van die (Suid-Afrikaanse) werklikheid gerealiseer moet word.
Weereens: Wat is die doel van die opdrag?
Is die doel om ’n prinsipiële standpunt in te neem in terme waarvan dosente se uitsprake en optrede voortaan beoordeel sal word?
Is die doel om duidelik te maak dat dosente aan die Kweekskool nie TVB leer of bedryf nie en dat die Kuratorium wel bereid is om ’n duidelike standpunt teen TVB in te neem?
Is die doel om in NG-geledere tot groter duidelikheid te kom oor hierdie aspekte terwille van die gesprek wat in die NG-familie en wyer reeds aan die gang is en nog verder gevoer sal moet word?
Laat die Kuratorium hom forseer om in terme van ’n foutiewe aanname (die vermeende homogeniteit van TVB) te reageer?
Ek is te oningelig om hierop ’n duidelike antwoord te kan gee. Ek vermoed dit is om aan te een kant die Kuratorium se afwysing van TVB te boekstaaf, maar aan die ander kant ook ’n lang debat hieroor te vermy en die tema van sy tafel af te kry.
Dit sou om verskillende redes onverstandig wees om ondeurdag ’n standpunt vas te lê. Dit is in elk geval duidelik dat so ’n standpunt alleen geformuleer kan word ná ’n gesprek met eksponente van TVB self – ten minste in ons eie familie. Daar is inderdaad ernstige probleme met sekere aspekte van TVB wat myns insiens veral met twee sake saamhang: Die beperkte aard en reikwydte van enige kontekstuele teologie en daarom die kwessie van sy algemene toepasbaarheid en tweedens die hermeneutiese vertrekpunte en die Skrifbeskouing wat daarmee gepaard gaan. (Wat die eerste aspek betref, het dr Hattingh in een van die vorige gesprekke belangrike opmerkings oor die duursaamheid van hierdie soort teologie gemaak).
’n Mens het volle begrip vir die moeilike posisie van die voorsitter van die Kuratorium. Sou dit nie ’n uitweg wees as die Kuratorium eerstens die mening uitspreek dat daar ernstige vrae in sy gemoed oor sekere aspekte van TVB bestaan en dat hy daarom graag met belanghebbendes hieroor in gesprek wil tree? Tweedens dat hy die Fakulteit versoek om in oorleg met die Dagbestuur hierdie gesprek aan te voor en in die lig van die gesprek of gesprekke, enkele uitgangspunte te formuleer.
’n Ander moontlikheid sou wees om die verslag wat deur SKLAS oor die Damaskus-dokument voorberei is, as die amptelike standpunt van die Kuratorium te aanvaar. Hier word op ’n spesifieke dokument gekonsentreer, wat grootliks aan die gevaar van veralgemening ontkom.