Enkele stellings oor die Teologie van Bevryding

ENKELE STELLINGS OOR DIE TEOLOGIE VAN BEVRYDING

Aangesien die Teologie van Bevryding (TVB) gedurende die afgelope aantal jare nie net internasionaal nie, maar ook in ons land ’n wye verbreiding en ingang gevind het; en aangesien hierdie teologie ongetwyfeld ’n rol sal speel in die soeke na begrip tussen die verskillende kerke en Christene in ons land, het die Fakulteit dit goed gevind om sy posisie ten opsigte van hierdie vorm van teologie in enkele tentatiewe stellings as ’n basis vir gesprek te formuleer.

  1. Die TVB is ’n variant van die groep genitief-teologieë wat sedert ongeveer die helfte van die sestiger jare na vore gekom het en as politieke teologie bekend geword het. Die doel van hierdie teologieë is om die evangelie in ’n baie spesifieke sin op die politiek as die mees dominerende en omvattende terrein van die menslike bestaan te betrek. Uitgaande van die verskynsels van lyding, armoede en onderdrukking, verstaan dit die doel van Gods heilswerk as die bevryding van alle mense uit hierdie situasies van vervreemding tot hulle volle menslike identiteit. Die taak van die teologie word gesien as diens aan die verwerkliking van die vryheidsgeskiedenis van die mensheid in ’n politieke en kollektiewe sin, soos dit sedert die Verligting as ideaal in die Westerse denke na vore gekom het.
  2. Die TVB pretendeer om ’n kontekstuele teologie uit die Derde Wêreld te wees wat die bevrydende boodskap van die evangelie op die spesifieke situasie van die arm en agtergeblewe volkere van die Derde Wêreld van toepassing maak. Dat die beoefenaars van hierdie vorm van teologie gedryf word deur ’n diepe deernis met die lot van die armes, verdruktes en verontregtes, kan nie betwyfel word nie. Met reg wys hulle daarop dat die heil wat God skenk, nie net betrekking het op die persoonlike verlossing van die individu uit die nood van sonde nie, naar ook betekenis het vir die aardse welsyn van die mense soos dit gestalte kry in politieke geregtigheid en maatskaplike bevryding. Dit moet as winspunt van hierdie teologie gesien word dat dit die aandag daarop vestig dat die God van die Bybel die Een is wat by uitnemendheid die beskermer van die armes en verdruktes, die wese en die weduwee is, en dat hierdie belydenis ’n regmatige plek in ons teologiese denke moet vind.
  3. Die probleem met die TVB is egter dat dit, ten einde hierdie aspekte van die evangelie na vore te bring, ’n nuwe vorm van teologie ontwikkel wat ’n volkome breuk met die tradisionele teologie beteken. Dit hang saam met die wyse waarop hierdie teologie kontekstueel wil wees. Teologie is in ’n sekere sin altyd kontekstueel, omdat dit noodwendig binne ’n bepaalde situasie en verstaanskader beoefen word.
    Dit is daarom ook altyd aan die gevaar van eensydigheid blootgestel, sodat dit belangrik is dat dit in kontinuïteit met die teologiese denke deur die eeue en in alle lande beoefen moet word. Die swakheid van die TVB is egter dat dit homself krities afgrens teen die tradisionele teologie en kontekstueel wil wees deur in aansluiting by die marxistiese maatskappy- en ideologie-kritiek, die boodskap van die Skrif eensydig op die aspek van die emansipatoriese vryheid en selfverwerkliking van die mens van toepassing wil maak, en wel volgens die revolusionêre marxistiese model.
  1. Die TVB grens homself nie alleen van die tradisionele teologie af omdat dit te piëtisties en individualisties sou wees nie, maar ook omdat dit as produk van die bevoorregte burgerlike klas die politieke status quo van die kapitalistiese maatskappy sou ondersteun. In reaksie daarteen wil die TVB doelbewus in diens van die politieke stryd van die armes en verontregtes staan. Uitgaande van die marxistiese oortuiging van die primaat van die bevrydende praxis bo die teorie wat die praxis moet verhelder, wil dit dienstig wees aan die revolusionêre daad van die volk tot sy selfbevryding. Dit staan gevolglik ook krities teenoor die Westerse Bybelwetenskap en kies vir ’n volksteologie (people’s theology) wat beoefen moet word deur die gewone volk wat die Bybel lees met die oog op hulle onmiddellike aardse nood. Die taak van die teologie word dan om hierdie situasie profeties te ontleed, die armes van die maatskaplike oorsake van hulle nood bewus te maak, die hoop by hulle op te wek dat die uur van bevryding (kairos) tans aangebreek het, en hulle op te roep tot die stryd wat daarvoor nodig is.
  2. Die volksteologie wat op hierdie wyse ontstaan, is nie ’n produk van die spontane omgang van die volk met die Bybel nie, maar van die wisselwerking tussen die volk en die teoloë wat die behoeftes van die volk in terme van die marxistiese maatskappy-analise as ’n situasie van klasse-stryd interpreteer. Die boodskap van hoop wat daaraan verbind word, is dat die koninkryk van God deur stryd heen sal kom as ’n nuwe wêreldorde wat op geregtigheid, broederskap en vryheid gegrond is. Met die oog daarop word die Skrif uiters selektief hanteer, volgens die materialistiese eksegese uitgelê, of self ook aan die sosiaal-kritiese metode van ondersoek onderwerp, wat ingrypende gevolge vir die verstaan van die Skrifinhoud het.
  3. Teologie het altyd ’n etiese kant en stuur noodwendig af op die daad. Dit is ook noodsaaklik dat daar vir die juiste begrip van wat die sedelike daad in ’n bepaalde geval is, ’n juiste analise van die situasie gemaak moet word. Boonop is dit onontbeerlik om ideologie-krities met die teologie om te gaan ten einde blinde kolle en verborge vooringenomenhede by die teoloë bloot te lê. Die probleem met die TVB is egter dat dit vanuit die keuse vir die marxistiese denkmodel nie alleen die hele teologie in etiek laat opgaan nie, maar dat dit hierdie etiese teologie op die lees van die marxistiese klassestryd en ideologie-kritiek skoei en daarmee ’n materialistiese en humanistiese denkmodel aan die teologie ten grondslag lê. So word ’n vreemde element in die omgang met die Skrif ingedra wat hier die teologie op ’n gespanne voet en selfs in botsing met die mees sentrale elemente van die Bybelse verkondiging bring.
  4. Dit blyk onder meer daaruit dat die konsep van heil wat hier hanteer word, hoofsaaklik op die aardse welsyn betrekking het. Die verlossing uit genade alleen verdwyn uit die gesigsveld. Sonde word in feite beperk tot politieke onreg en verraad teenoor die saak van bevryding. Die wêreld word verdeel in twee kampe – dié van sondaars (die politieke vyande) en dié teen wie gesondig word (die eie groep). Die eis van berou en bekering word nie meer op die armes van toepassing gemaak nie. Die plaasvervangende lyding van Christus vir ons word omgesmee tot sy lyding saam met die onderdruktes. God se liefde vir die wêreld word sy voorkeur vir en identifikasie met die armes. God self word nie soseer as die transendente persoonlike God gedink nie, maar as die bevrydende Mag van die geskiedenis. Die boodskap van vergiffenis en versoening word gekompromitteer, omdat die strydmotief op die voorgrond staan. Die Bybelse hoop word tot ’n messiaanse verwagting dat die politieke triomf van die armes tot ’n heilstaat sal lei wat die realisering van die koninkryk van God is. Teologie en kerk word instrumente in diens van die politieke stryd om die vryheid.
  5. As beoefenaars van die gereformeerde teologie bely ons dat die heerskappy van God oor alle terreine van die lewe gaan – dus ook oor die ekonomie en die politiek. Dit is vir ons ’n saak van godsdienstige oortuiging dat daar vryheid en die reg tot selfbeskikking vir alle mense in ons land moet wees en dat alle vorms van onreg uit die weg geruim moet word. Ons glo ook dat God by uitnemendheid die beskermer van die wese en die weduwees, die armes en verdruktes is. Ons het dus begrip vir sekere basiese oortuigings van die beoefenaars van die TVB en kan dit op goeie gronde ook teologies verdedig. Ons meen egter dat die wyse waarop die TVB dit teologies hanteer vanweë die eensydigheid daarvan, die ideologiese aansluiting by die marxisme en die wyse waarop teologie en kerk in diens van ’n politieke magstryd gestel word, totaal onaanvaarbaar is en verwerp moet word, omdat dit die volheid van die evangelie self in die gedrang bring.