HOE VIND EK ‘N TEKS?
Ongedateer
WD Jonker
Opsommend kan die volgende gesê word in verband met die vraag hoe ons ’n teks kan vind vir die prediking:
(i) Ons kan ’n teks eintlik alleen vind deur gereelde en intensiewe omgang met die Heilige Skrif self. ’n Prediker moet gereeld en gedissiplineerd met die Bybel omgaan. Ons grootste gevaar is dat ons lewe so vol word ander dinge, dat ons nie self meer met die Bybel omgaan nie, maar die Bybel net gebruik as ’n bron waaruit vir andere ’n woord gehaal kan word. Wanneer dit gebeur en die Bybel nie meer tot onsself spreek nie, moet dit noodwendig lei tot bepaalde dorheid waarin die “vind van ’n teks” iets gekunstelds word. Die regte manier waarop ’n teks gevind moet word, is dat die Skrif onsself aanspreek en dat ons vanuit ons eie verwondering oor wat die Bybel sê en daartoe oorgaan om dit te verkondig. Dus: ’n gedissiplineerde omgaan met die Skrif is absoluut noodsaaklik, waar by dit noodsaaklik is om dié dinge waardeur ons getref word, aan te teken, uit te werk en bruikbaar te maak vir die prediking.
(ii) Met die bostaande is eintlik reeds geïmpliseer wat ons as tweede moet noem, nl dat dit nodig is om onsself te leer ken, sodat ons prediking eintlik vir onsself kan wees. Wanneer ’n teks my tref, omdat dit so goed toegepas kan word op die situasie van die gemeente of van groepe in die gemeente of van die landsituasie of wat ook al – bly dit nog betreklik uiterlik. Wat in werklikheid moet gebeur, is dat die teks my aanspreek, omdat dit my aan myself ontdek. Ware Godskennis en ware selfkennis hang altyd saam – soos ons by Calvyn kan leer. Dit is dus absoluut noodsaaklik dat ek met my hele bestaan by die prediking betrokke moet wees. Soos die profete in die Ou Testament deur die Woord wat hulle moes verkondig, self gewond, verbrysel, opgerig en gesterk is, so moet dit ook met ons wees. Die Woord kan nie buite ons omgaan nie. Dit moet ons seermaak, dit moet ons wond en genees, voordat ons dit andere kan deurgee. Daarom is die bediening van die Woord ook iets van ’n hele lewe. Alles wat in ons lewe met ons gebeur, is opgeneem in Gods gang met ons as bedienaars van die Woord en dien daartoe om ons te bring waar ons moet wees as ons die Woord waarlik moet kan bedien en tot heil van andere. Namate ons self deur die Woord aangespreek, gewond en genees word, wen ons prediking aan outentisiteit of waaragtigheid, sodat ons hoorders aan ons kan merk dat wat ons verkondig, nie maar boekgeleerdheid is nie, maar die produk van ons persoonlike omgang met God. Vir die vind van die teks beteken al hierdie opmerkings net één ding, nl dat die teks waaroor ek moet preek, baie dikwels aan my gegee word in my eie situasie voor Gods aangesig en in die worsteling met Hom. Ek preek dus in die eerste instansie vir myself. Ek word deur die Skrif beleer met betrekking tot my eie lewe, en ek gee dit deur aan die gemeente. Wanneer dit só gebeur, is die prediking werklik eksistensieel.
(iii) Daar kom egter iets baie belangriks by; ek moet baie teologiese boeke lees. As ek net bly staan by my eie ervaring en my eie omgang met die Skrif, sal dit noodwendig beperk wees en sal dit maklik tot eentonigheid word. Deur veel te lees van wat andere sê en deur te sien wat hulle uit die Skrif haal, word die proses wat onder (ii) beskryf is, verdiep en verlewendig. Dit is veral baie noodsaaklik om boeke te lees wat oor dogmatiese en bybels-teologiese werke handel. Sulke boeke kan ons weer nuwe perspektiewe in die Bybel laat sien en help ons ook om die gevaar van subjektivisme wat in die proses onder (ii) genoem word en miskien kan opduik, te voorkom. Dit is nodig dat ons oë geopen word vir wat daar werklik in die Bybel staan. Ons lees so maklik oor baie dinge heen. Ons ken die klanke van die Bybel so goed. Wat met ons moet gebeur, is dat ons boeke moet lees wat ons weer die vreemdheid van die Bybelse uitsprake sal laat opmerk. Dan val die teks vir die Sondag se preek – en miskien selfs vir baie preke – ons in die skoot. ’n Predikant wat ophou om veel te lees, kan nie anders as om uitgepreek te raak nie. Sy prediking word flou en oppervlakkig, dikwels bloot modalisties of metodisties, sonder enige diepte. Sy teks-keuse bly beperk tot bekende en sogenaamde mooi tekste. Om dit te voorkom, is dit absoluut noodsaaklik om veel teologie te lees.
(iv) Die vind van ’n teks word egter ook bevorder deurdat ek my oë en ore oophou vir wat in die gemeente en in die wêreld rondom my gebeur. Dit is nie só dat ons in die verkondiging van die Woord altyd by die Bybel ’n teks vir die prediking vind suiwer net uit ons omgang met die Skrif nie. In baie gevalle word ons aandag by wat die Bybel sê bepaal deur wat met ons gebeur of deur wat ons rondom ons opmerk. Dit kan maklik verduidelik word aan die hand van die sogenaamde geleentheidspreke. Ons word dikwels geroep om te preek by ’n besondere geleentheid. Uitgaande van die besondere geleentheid vra ons dan aan die Heilige Skrif ’n bepaalde teks – en ons vind dit ook. Die geleentheid was dus konstruktief vir die tekskeuse. As sit egter goed verloop, sal die teks self in sy eie reg gaan spreek en dikwels vir ons op ’n nuwe manier oopgaan, juis omdat ons dit van ’n bepaalde kan af benader. Na analogie hiervan kan ons ook sê dat elke preek in ’n sekere sin ’n geleentheidspreek is. Daar is immers feitlik altyd ’n besondere situasie, in ons eie lewe of in die lewe van die gemeente, wat ons aandag by die Skrif bepaal en ons oë open vir ’n bepaalde aspek van wat die Skrif sê. Die tekskeuse kom meestal tot stand in die samespel van die twee elemente van die omgaan met die Skrif én die omgaan met die konkrete lewe.
(v) En nou ’n laas te opmerking: Die tekskeuse kan dikwels vergemaklik word deur op ’n gedissiplineerde wyse te preek, met name aan die hand van ’n bepaalde skema. Daar is in die geskiedenis van die kerk altyd gebruik gemaak van een of ander vorm van beplande prediking, waardeur die teks as’t ware by voorbaat aan my gegee word. So is dit bv ’n baie ou gebruik in die kerk om ’n perikope-stelsel te hê (dit gaan selfs terug op die sinogogale erediens). In die Rooms-Katolieke, Anglikaanse, Ortodokse en Lutherse Kerke, is dit nog steeds die gebruik om bepaalde perikope vir bepaalde Sondae in die kerklike jaar aan te wys. In ons gereformeerde tradisie het twee ander vorms van beplande prediking opgekom: die van die lectio continua, dws die deur-preek van ’n bepaalde boek deur elke Sondag ’n volgende stukkie of hoofstuk uit dieselfde Bybelboek te behandel, en die kategismusprediking. Albei weë het hulle voor- en nadele. Tog kan dit vir ons ’n groot hulp wees as ons ten minste vir één diens op ’n Sondag nie na ’n vrye teks hoef te soek nie, maar ons kan bepaal by ’n teks wat as’t ware voorgeskryf is. Dit kan ook vir die gemeente baie beteken as ons vooraf aan die gemeente kan meedeel dat ons in die loop van die volgende maand bv, oor bepaalde onderwerpe of bepaalde Skrifgedeeltes gaan handel, en as ons die tekste opgee, sodat die gemeente homself voorlopig kan voorberei daarop en met ons saam daaroor kan dink.
(vi) As afsluiting ’n vraag: Waarom sou ons nie die gemeente kan vra om ons by die tekskeuse te help deur aan ons tekste voor te lê waaroor hulle graag ’n preek wil hoor, of gedeeltes te noem waaroor hulle meer lig wil hê, of selfs onderwerpe te noem waaroor hulle die lig van Gods Woord verlang nie? Ons sal eenvoudig meer en meer daartoe moet kom om die gemeente ’n lewende aandeel aan die prediking te gee as ons nie die risiko wil loop om die belangstelling in die prediking te laat verflou nie.