DIE PREDIKANT AS TEOLOOG
Ongedateer
WD Jonker
Die kerklike vereiste dat die predikant ʼn deeglike teologiese vorming moet hê, is gebore uit die ervaring van eeue. Aanvanklik is die vereiste natuurlik nie so gestel nie. Die eerste geslag kerklike ampsdraers was leerlinge van die apostels of hulle leerlinge, gevorm in die persoonlike omgang met hulle leermeesters. Daarby was die aanwesigheid van besondere gawes deurslaggewend. Maar soos die geskiedenis voortgegaan het, het die noodsaaklikheid van ʼn teologiese opleiding vir die bedienaars van die Woord duidelik geword.
Die eerste groot teoloë van die kerk was geleerde mense, maar meestal in ’n algemene sin, soos Tertullianus wat ʼn regsgeleerde of Augustinus wat ʼn rhetor was. Hulle teologiese kennis was iets wat eers later by gekom en ontwikkel het. Eers by die konsilie van Nicea is besluit dat ordinasie tot die amp deur ’n kerklike ondersoek voorafgegaan moes word, maar die ondersoek was meer prakties van aard en teologies gesproke baie elementêr (Frick, 1961:294).
Die vereiste van teologiese vorming
Dit was Karel die Grote wat aan die einde van die agtste eeu die ideaal van ’n goedgeskool de klerus wou probeer verwesenlik. Die teologiese opleiding in eintlike sin begin dan eers regtig vorm aanneem. Die merkwaardige is dat die vereistes wat destyds vir hierdie teologiese vorming gestel is, vandag feitlik nog net so geld vir die opleiding van bedienaars van die Woord. Dit is dat kandidate vir die bediening kennis moet hê van die artes liberales (die literêre vakke en die wysbegeerte), maar veral ook van die kuns om die Skrif uit te lê, sowel as van die geloofs-sedeleer, homiletiek en kategetiek, liturgiek en kerk reg (Frick, 1961:295).
Die ratio agter hierdie vereiste is duidelik: die ampsdraer moet kennis van die Skrif hê, die boodskap daarvan verstaan, en met die neerslag daarvan in die kerklike leer en liturgie vertroud wees, sodat hy die kerk en die wêreld daarmee kan dien. Met die oog daarop moet hy ook ʼn geleerde mens wees, ’n kultuurmens wat sy wêreld ken, sodat hy in staat kan wees om die moeilike taak van die vertolking van die Skrif vir die mense van sy tyd met kundigheid te kan verrig.
Die besef van die noodsaaklikheid van deeglike teologiese vorming van die ampsdraer hang direk saam met die mate waarin ’n mens ’n bepaalde verband tussen die Christendom en die kultuur aanvaar en die Christelike geloof as iets sien wat ’n openbare betekenis het (Tracy 1981: hf 1). Solank as ’n mens die Christelike geloof verstaan as iets persoonliks wat geen pretensies het om ’n plek in die openbare lewe in te neem en hom van ’n gekultiveerde styl en vorm van kommunikasie te bedien nie, hoef die voorgangers geen besondere wetenskaplike vorming te hê nie. Daarom is daar by spiritualistiese groepe wat hoofsaaklik na binne gekeer en hulleself uitsluitlik as vreemdelinge op die aarde verstaan, dikwels ’n uitgesproke afkeer van alle teologie. Dit is die uitvloeisel van hulle kultuurvyandigheid (Heyns/Jonker 1974:267 ev). So ’n instelling is egter vreemd aan die Christelike kerk wat klaarblyklik vanaf die begin bereid was om aan almal rekenskap te gee van die hoop wat in hom is (1 Petrus 3:15) en daarby gebruik te maak van die algemeen-beskaafde taal en kultuur.
Die saak van die teologie
Teologie is immers na sy aard ’n vorm van verantwoording van die geloof wat die Christen bely (Van Huyssteen, 1986). Die saak waarom dit in die teologie gaan, is niks anders nie, as ʼn poging om die Bybelse boodskap beter te lees, te verstaan en te vertolk. Hierdie verstaan en vertolking van die Skrif geskied egter nie as die koestering van ’n geheim leer in die binnekamers van ʼn esoteriese sekte nie, maar in die openbaarheid van die kerk en die wêreld. Die kennis waarmee die teoloog homself besig hou, wil vir die hele lewe van die hele mens en die hele wêreld van betekenis wees, omdat dit daarin gaan om die boodskap van die heil wat ’n universele geldigheid het (vgl Kuyper, 1911–1912).
Teologie staan as wetenskap wel in die eerste plek in diens van die kerk, omdat dit die kerk wil dien met ’n suiwerder verstaan en vertolking van die Skrif vir sy eie opbou in die geloof (Schwarzwäller 1976:165; Barth 1962:45 ev). Maar die funksie van die teologie gaan nie op in die suiwer kerklike aspek daarvan nie. Teologie het ook ’n openbare en publieke taak, omdat dit te make het met ’n boodskap wat hele wêreld en alles wat menslik is, op die oog het. Dit moet dus daarvoor sorg dat die kerklike verstaan en verkondiging van die evangelie van sodanige aard is, dat relevansie daarvan vir alle mense en vir die volheid van die lewe sigbaar kan word (Huber, 1973: veral 612 ev).
Dit beteken in die eerste plek dat die predikant in sy opleiding helderheid moet kry oor wat die saak van die teologie is, sodat hy in staat kan wees om daaroor verantwoording af te lê. Die saak van die teologie is die kennis van God soos dit in Christus geopenbaar is en in die Heilige Skrif betuig word. Dit is die heil van mens en wêreld wat in die evangelie verkondig en bevestig word. Daarmee moet die teologie homself besig hou in ’n diepgaande en voortgaande bestudering van die teks van die Heilige Skrif as die enigste bron van ons kennis van wat die heil in Christus beteken. Met die Bybel sal die predikant elke Sondag op die kansel moet gaan; met die Bybel sal hy in pastoraat en kategese voortdurend besig moet wees om mense te troos en te leer. Met die Bybel sal hy ook profeties in die openbare lewe moet staan om te kan verkondig wat die wil van God vir die ganse lewe van die individu, maar ook van die samelewing as geheel is.
Die vernaamste deel van sy opleiding moet dus noodwendig wees dat hy die Bybel moet leer ken en met die Bybel op ’n verantwoordelike wyse moet leer omgaan. Daarvoor is kennis van die Bybeltale vir hom ’n groot hulp, sodat hy iets kan leer verstaan van die oorspronklike bedoeling van die teks en nie net op die vertalings van andere aangewese hoef te wees nie. Hy moet die hermeneutiese reëls leer ken en in die hantering daarvan geoefen word, sodat hy in staat kan wees om selfstandig met die Bybel om te gaan en die ware sin van die teks te ontdek. Juis daarom is dit ook vir hom belangrik om ’n studie te maak van die omgang van die kerk met die Skrif in die verlede, om kennis te dra van die dogmata as die groot hermeneutiese beslissings wat in die worsteling om die verstaan van die Skrif deur die eeue geval het, en om so die hart van die Skrif te leer ken: die boodskap van Gods genade vir sondaars in Christus Jesus. En ten slotte moet hy ook weet wat die kerk as besondere gemeenskap in die wêreld is, wat sy aard en roeping, sy bevoegdheid en sy grense, sy manier van optrede en sy gerigtheid op die koninkryk van God is.
Die doel van die teologiese opleiding is dus om van die predikant ʼn teoloog te maak, nie noodwendig ’n teoloog in die tegniese sin van ’n akademikus nie, maar ʼn teoloog in die sin van ’n mens wat geleer het om teologies te dink, teologies met die Bybel om te gaan, teologiese insig te hê, die teologies relevante sake in ’n bepaalde situasie of gebeurtenis te identifiseer en die betekenis van die evangelie vir die totaliteit van die lewe te onderskei.
Juis daarom is dit nou egter belangrik dat die opleiding vir die bediening meer sal omvat as net die bestudering van die Bybel alleen. Sy algemene vorming in die kennis van die wysbegeerte en die kultuur dien ook nie maar net daartoe om van hom ʼn beskaafde en kundige mens te maak nie. Die teoloog moet ook om prinsipiële redes kennis dra van die wêreld waarin die verkondiging moet plaasvind en waarin die sake wat teologies relevant is, geïdentifiseer moet kan word. Daarom kan teologie nie in isolasie van die ander wetenskappe beoefen word nie (Steck, 1964:130 ev). Die kennis waarom dit in die teologie gaan, moet voortdurend met die wêreldkennis wat in die ander dissiplines ter sprake kom, in verband gebring en daarop betrek word. Anders sou die relevansie daarvan vir die totale lewe verborge bly. Die teoloog moet die Skrif en die wêreld met mekaar in verband kan bring, sodat hy die evangelie op die lewe in die wêreld kan betrek (Ebeling, 1975:1 ev; 1978:10 ev).
Dit is nie net noodsaaklik met die oog daarop dat hy die boodskap van die evangelie op die lewe in sy geheel moet kan “toepas” nie. Dit is noodsaaklik vir die bestudering van die boodskap van die Heilige Skrif self. Die evangelie is op die mens en die wêreld afgestem. Daar is geen abstrakte kennis van God en sy beloftes moontlik nie. Die God van die Bybel is volgens die Bybel die God van die mense en die wêreld (Barth, 1962:16 ev). Maar daarom is daar ook ’n bepaalde korrelasie tussen die kennis van die evangelie en die kennis van die wêreld waarin dit verkondig moet word. Wanneer die teoloog homself as teoloog met die wêreld besig hou, het dit betekenis vir sy insig in die evangelie. Sy kennis van die Skrif verdiep en verbreed na die mate waarin hy die lewe in sy dieptes en sy hoogtes in die lig van die Skrif leer sien.
Omdat die Skrif betrokke is op die wêreld en sy nood, word die rykdom van die Skrifboodskap steeds helderder namate die relevansie daarvan in die veelheid van situasies waarin die verkondiging moet geskied, ervaar en geken word. Daarom moet die teoloog geleer word dat teologie werklik met die lewe te make het. Teologie kan nie op ’n abstrakte wyse beoefen word nie. Dit moet op sodanige wyse geskied, dat die lewe in sy volheid daarby betrek word, en dat die knellende vrae van die eie tyd en situasie daarin aan die orde kom.
Tydsbetrokkenheid
Die evangelie wat die sáák van die teologiese kennis is, is die “ewige evangelie” (Openbaring 14:6), en Jesus Christus wat daarin verkondig word, is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid (Hebreërs 13:8). Maar die wêreld waarin die evangelie verkondig moet word, is geen statiese en uniforme grootheid wat oral en altyd dieselfde is nie. En soos Christus mens geword het en die ewige Woord in die konkreetheid van ons vlees ingegaan het, gaan die ewige evangelie ook in die hoogtes en die dieptes van die konkrete wêreld met sy geskiedenis in en moet dit telkens weer uitgesê word in die taal en terme van die dag.
Dit is waar: die basiese geestelike nood en behoefte van die mens is in alle eeue en op alle plekke dieselfde, maar daardie geestelike nood van die mens word telkens konkreet beleef in spesifieke omstandighede. En die omstandighede wissel na gelang van die tyd en die plek waarin die mense lewe. Die wêreld waarin die evangelie verkondig moet word, het dus ook ’n telkens wisselende karakter, wat saamhang met die historiese faktore en gebeurtenisse waardeur dit gestempel word, en in ’n breë sin met die kultuur-historiese situasie waarin die hoorders van die evangelie hulle bevind. Die heil wat in die evangelie verkondig word, is altyd die verlossing van die skuld, die mag en die gevolge van die sonde deur Jesus Christus; dit het altyd die herstel van die mens se verhouding tot God, tot sy medemense en tot die lewe in sy totaliteit op die oog. Maar die verwording van die lewe is ʼn duisendkoppige monster en die kwaad waarvan ons bevry moet word, is oneindig geraffineerd en pluriform in sy gestalte as teenhanger en negasie van die rykdom van die goeie skepping van God.
As die teologie homself dus op ’n betekenisvolle manier met die mens van ’n bepaalde tyd besig wil hou, kan hy dit nie doen sonder om kennis te neem van die spesifieke kenmerke van daardie tyd, soos dit veral ook uitdrukking vind in die kuns, kultuur, wetenskaplike denke, ekonomiese en politieke situasie en algemene lewensbesef nie. Betekenisvolle teologie moet altyd tydsbetrokke en in die goeie sin van die woord “by die tyd” wees, omdat dit die betekenis van die Woord van God vir die mens in ’n bepaalde tyd moet blootlê.
Die geskiedenis van die teologie toon dat dit vanaf die begin aangevoel is. Wat vandag die kontekstualiteit van die teologie genoem word, is ’n verskynsel wat altyd ’n rol in die teologie gespeel het, selfs al was dit hoofsaaklik onbewus. Reeds die eerste Christelike teoloog, die Apologete, het probeer om die geloof in die evangelie te verantwoord binne die kon teks van die kultuur, denke en algemene situasie van hulle tyd. Sedertdien gaan dit nog steeds in die hele geskiedenis van die teologie om dieselfde saak. Die werk van geen enkele teoloog kan reg verstaan word, as dit nie gelees word teen die agtergrond van die situasie, vrae en kulturele agtergrond van sy dag nie. Dat ons in die teologie nie net moet onderskei tussen die werk van verskillende teoloë nie, maar ook tussen die denke van verskillende skole, lande en kontinente, periodes en eeue, is ’n bevestiging daarvan.
Daarom is die teologie ook nooit klaar nie, maar bly dit ’n voortdurende proses van denkende worsteling waarin daar ʼn onafgebroke stryd gevoer word om die regte verstaan en vertolking van die Skrif. Eintlik lyk dit so vreemd as ’n mens daaraan dink dat dit in die teologie tog maar om één boek gaan, die Bybel, en dat die evangelie self so eenvoudig is dat dit in ’n enkele vers soos Johannes 3:16 uitgesê kan word, ja op ʼn mens se duimnael neergeskryf kan word. Die onoorskoubare intellektuele worsteling en die duisternis van onderlinge verskille wat in die teologie aanwesig is, word eers verstaanbaar as ’n mens begryp dat dit daarin gaan om die verstaan en vertolking van hierdie eenvoudige evangelie binne die kon teks van telkens wisselende situasies en oor die vraag of dit op die reg te wyse geskied.
Verkorting van die evangelie
Juis hierdie laaste vraag of dit op die regte wyse geskied is vir die teologie van die grootste belang. Dit kan naamlik ook op ’n verkeerde of bedenklike wyse geskied. Ons moet hier tussen twee dinge onderskei. Aan die een kant is dit waar dat die teologie nie anders kan as om die evangelie telkens opnuut weer in ’n bepaalde historiese situasie te vertolk nie. Daarsonder sou die teologie abstrak en in ’n groot mate betekenisloos word vir die beantwoording van die groot lewensvrae waarmee die mensheid worstel. Aan die ander kant is daar die voortdurende gevaar dat die evangelie in hierdie proses misverstaan en verkeerd vertolk kan word, of in elk geval op ’n eensydige wyse hanteer en só verkort kan word.
Dit gebeur wanneer die teoloog se opvatting van wat die situasie is, konstitutief word vir die inhoud van die verkondiging in die sin dat dit bepalend word vir wat wel en wat nie aan die mens van ’n bepaalde tyd verkondig moet word nie. Die interpretasie van die tyd, die eksistensie-analise of die situasie-analise waarmee die teoloog werk, word dan tot ʼn hermeneutiese sleutel wat van buite af op die evangelie toegepas word om die evangelie pasklaar te maak vir die “moderne mens” van elke tyd, of in elk geval vir die spesifieke mens met die oog op wie die teologie beoefen word. Dan word nie meer in die situasie na die evangelie geluister nie, maar die evangelie word op ʼn beslissende wyse deur die situasie bepaal. Hierdie soort teologie probeer om by die tyd te wees deur die evangelie by die heersende idees en behoeftes, gedagtepatrone en gees van die tyd aan te pas, maar reduseer in die proses die evangelie tot wat aanvaarbaar is of relevant geag word binne die kultuur en denkklimaat van ’n bepaalde tyd (Thielicke, 1968:294 ev). Die resultaat is noodwendig dat die evangelie skeefgetrek en verkort word en só van sy krag beroof word.
Die geskiedenis van die teologie in die hele “moderne tyd”, dws die tyd sedert die 18de eeu, lewer talle bewyse hiervan. Die opkoms van die moderne werklikheidsopvatting het meegebring dat die geloofwaardigheid van die Bybelse boodskap in ’n groot mate in die gedrang gekom het en dat na wee gesoek is om die waarheid van die Bybel tog nog op een of ander wyse voor die forum van die moderne kritiese gees te verantwoord. Die rasionalisme van die Verligting, die ontstaan van die historiese bewussyn en die histories-kritiese benadering van die Bybel, die opkoms van wysgerige godsdienskritiek en dergelike faktore het in die teologie daartoe gelei dat gepoog is om langs die weg van reduksie en herinterpretasie die eintlike saak waarom dit in die Bybel sou gaan, vir die moderne mens te red. Die meeste vorme van modernisme in die teologie is daarop bereken om die relevansie van die Christelike geloof te probeer handhaaf in die lig van die voortskrydende sekularisasie of, in die jongste tyd, in die stryd tussen die groot ideologieë waardeur die mensheid verdeel word. Die resultaat is feitlik deurgaans dat die evangelie gereduseer en in sy hart aangetas word, omdat dit uiteindelik uitmond in ’n vorm van humanisme.
Die opvallende is daar by dat daar telkens ’n ander wysgerige stelsel is wat die grondpatroon verskaf waar volgens die Bybelse boodskap vir die moderne mens geknip word. In die 19de eeu het die idealistiese identiteitsfilosofie en die neo-Kantianisme ʼn groot rol in die liberale teologie gespeel. Hierdie rol is in die 20ste eeu in ’n groot mate oorgeneem deur die eksistensiefilosofie, wat tot aan die begin van die sestiger jare groot invloed uitgeoefen het. Die plek daarvan is in die afgelope twee dekades steeds meer oorgeneem deur die neo-Marxisme wat aan die politieke- en bevrydingsteologieë nie slegs ʼn metodologiese prinsipe verskaf nie, maar ook ’n maatskappy-analise wat daartoe moet dien om die evangelie vir die arm en verdrukte deel van die mensheid relevant te maak (Gutierrez, 1973; Miguez Bonino, 1976). Die kontekstualisering van die teologie wat op hierdie wyse voltrek word, het deurgaans ’n vereensydiging tot gevolg wat daarop neerkom dat ʼn onverantwoordbare reduksie van die Bybelse boodskap voltrek word.
Die stryd om die waarheid
Die teologie was van die begin af in ʼn stryd om die waarheid betrokke. Al die groot en basiese beslissings waarom dit in die leer van die kerk gaan, is betreklik vroeg in die geskiedenis van die kerk reeds deur veel stryd heen gevel. Maar elke nuwe geslag moet weer rondom dieselfde basiese sake die stryd vir die suiwerheid van die teologiese denke voer. In elke nuwe situasie moet daar opnuut weer na die Woord van God geluister word, nie om ’n nuwe Woord of ’n nuwe evangelie te ontvang nie, want daar is geen ander evangelie nie (Galasiërs 1:7), maar om te kan verstaan wat die evangelie in die nuwe situasie beteken. Dit geskied onder sware aanvegting en in ’n stryd om die waarheid.
Die teologie word voortdurend bedreig deur die gevaar dat hy sy kritiese objektiwiteit teenoor sy eie tyd en situasie kan verloor. Daarom gebeur dit so maklik dat die teoloog nie konsentreer op sy eie saak, die evangelie van Gods genade nie, maar dat hy na ander stemme begin luister en hulle begin naspreek (Clausert 1982:81 ev). Die teologie begin dan om maar net die wysgerige, kultureIe, politieke en maatskaplike slagkrete van die dag te herhaal en dit van religieuse sanksie te voorsien. Hy vereenselwig homself met die belange van diegene wat hy probeer aanspreek en vind woorde in die Skrif wat die noodsaak daarvan skyn te bevestig. Dit alles geskied met die bedoeling om die relevansie van die evangelie vir die vrae van die dag te laat sien, maar in werklikheid ondermyn dit juis die relevansie van die evangelie (McSweeney, 1980). Die verraad teenoor die saak van die teologie, ja teenoor Christus self (Barth, 1932:73), en loop onherroeplik daarop uit dat die teologie obsoleet word saam met die slagkrete wat dit nagespreek het.
Dikwels is dit nodig dat daar eers weer ʼn nuwe tyd en situasie moet aanbreek voordat daar korreksies op die eensydigheid van ʼn bepaalde vorm van teologie aangebring kan word. Dit is geen wonder dat die geskiedenis van die teologie in so ʼn groot mate ʼn geskiedenis van aksie en reaksie is nie. Die teologiese pendulum skyn voortdurend van die een kant na die ander deur te swaai. In dié proses verwyt elke volgende geslag die voorafgaande van afwyking (Gestrich, 1971:102 ev), en dikwels ook tereg, omdat elke geslag op sy eie manier bepaalde aspekte van die evangelie raaksien, maar ander verwaarloos, en so tog weer die boodskap van die evangelie verkort. Ongelukkig gebeur dit dikwels dat diegene wat vorige geslagte van dwaling beskuldig, op dieselfde wyse sondig, al is dit miskien in ’n teenoorgestelde rigting.
Gelukkig geld dit ook dat die eensydige beklemtonings van bepaalde aspekte van die evangelie daartoe dien om elemente van die waarheid wat verwaarloos was, onder die aandag te bring. As eensydighede wat met die pretensie voorgedra word dat dit die hele waarheid is, moet dit uiteraard afgewys word. Maar as dit in perspektief gesien word en gerelativeer is tot wat dit in werklikheid is aksente op verwaarloosde aspekte van die waarheid kan dit in ’n volgende stadium van die teologiese denke opgeneem word as ʼn geldige korreksie op vroeëre kortsigtighede. In die stryd om die waarheid is daar dikwels tog ’n mate van vooruitgang, en die verstandige teoloog sal probeer om daarvoor ruimte oop te hou in sy deelname aan die debat.
Die ideaal
Wanneer die kerk verwag dat sy toekomstige predikante ʼn teologiese opleiding moet hê, gaan dit nie maar daarom dat hulle vertroud gemaak moet word met die kerklike tradisie en met ’n vas-omlynde hoeveelheid leerstof nie. Hy stel hulle daarmee doelbewus bloot aan kontak met die teologiese stryd om die waarheid. Dit is vir die kerk belangrik dat hulle op ʼn verantwoordelike wyse bewus gemaak moet word van die aard van die stryd en van die roeping om in die wêreld te staan met die boodskap van die evangelie.
Dit is nie ’n eenvoudige saak nie. Niemand moet dink dat die blote intensie om die sola Scriptura in die teologie te handhaaf, as sodanig reeds die suiwerheid van sy teologie waarborg nie. Die omgang met die Skrif is baie meer gekompliseerd as wat dit oppervlakkig lyk (Vroom, 1979), en dit kan baie maklik gebeur dat ’n mens in die mening dat jy maar net staan by wat in die verlede altyd geleer is, tog ’n eie weg gaan wat baie skadeliker kan wees as wat jy self besef. Die geskiedenis van die kerk en ook van die Ned Geref Kerk, lewer genoegsame bewyse hiervan. Niemand kies ooit daarvoor om te dwaal nie. Dit gebeur vanself. Die beste manier om die toekomstige predikant daarteen te beskerm, is om hom te oriënteer tov die stryd om die waarheid wat in die teologie gestry word, sodat hy minstens nie op ’n nalewe wyse agter elke wind van dwaalleer (Efesiërs 4:14) aanloop nie. Hy moet leer wat die basiese beslissings is wat in die worsteling met die waarheid rondom die verstaan van die Skrif in die geskiedenis geval het met name in die reformatoriese herontdekking van die evangelie en waarom nie daarop teruggegaan kan word, sonder om die evangelie self in die gedrang te bring nie. Hy moet leer om vanuit Christus te dink en om op ’n teologiese wyse met die Skrif om te gaan. Hopelik sal dit dan vir hom moontlik wees, as God hom bewaar, om te kan onderskei tussen die noodsaak om in ’n spesifieke situasie na die Woord van God te luister, én die versoeking om op grond van die drang van sy eie hart of die mag van verleiding sy boodskap te laat gelykskakel met dié van ander stemme binne daardie situasie.
Geen teologiese opleiding, hoe goed beplan of beoefen, kan egter in laaste instansie waarborg dat die predikant in sy prediking en pastoraat, in sy denke en doen homself werklik as ’n teoloog sal laat ken wat aan die Skrif getrou bly nie. Dit is uiteindelik net Gods genade as dit gebeur. Dit is enkel Gods guns as die teoloog bewaar word van die vreemde verleiding van die valse profesie wat aan ons almal tienmaal nader is as die waarheid. Daarom behoort elke predikant nooit anders as biddend sy roeping as teoloog te beoefen nie, in die hoop dat God hom ook eenmaal sal prys as ʼn goeie en getroue dienskneg wat oor min getrou was, en daarom oor veel aangestel sal word (Matteus 25:2).
BIBLIOGRAFIE
Barth, K. 1932. Kirchlíche Dogmatik 1/1. Zürich, EVZ.
Barth, K. 1962. Einführung in die evangelische Theologie. Zurich, EVZ.
Clausert, D. 1982. Theologischer Zeitbegriff und politisches Zeitbewusstsein in Karl Barths Dogmatik. München, Kaiser.
Ebeling, G. 1975. Studium der Theologie. Tübingen, JCB Mohr.
Ebeling, G. 1978. Der Lebensbezug der Theologie, in: Was ist los mit der deutschen Theologie? Stuttgart, Kreuz.
Frick, R. 1961. Pfarrervorbildung und weiterbildung, in: RGG, 3de uitgawe, V, Tübingen, JCB Mohr.
Gestrich, C. 1971. Die unbewältigte natürliche Theologie, ZThK, 68.
Gutierrez, G. 1973. A Theology of Liberation. New York, Orbis.
Heyns, JA en Jonker WD. 1974. Op weg met die teologie, Pretoria, NGKB.
Huber, W. 1973. Kirche und Oeffentlichkeit. Stuttgart, Klett Verlag.
Kuyper, A. 1911—1912. Pro Rege, Kampen, Kok.
McSweeney, Bill. 1980. Roman Catholicism. The search for relevance. Oxford, Blackwell.
Miguez Bonino, J. 1976. Christians and Marxists. Eerdmans, Grand Rapids.
Schwarzwäller, K. 1976. Die Wissenschaft der Torheit. Stuttgart, Kreuz.
Stock, KG. 1975. Philosophie, in: Einführung in das Studium dere ev. Theologie. Tübingen, JCB Mohr.
Thielicke, H/ 1968. Der evangelische Glaube I. Tübingen, JCB Mohr.
Tracy, D. 1981. The analogical Imagination. London: SCM.
Van Huyssteen, JWV. 1986. Teologie as kritiese geloofsverantwoording. Pretoria, RGN.
Vroom, HM. 1979. De Schrift alleen? Kampen, Kok.
NOTA:
Die skrywer erken hiermee die finansiële ondersteuning van die RGN wat die skrywe van hierdie artikel moontlik gemaak het. Menings wat hierin uitgespreek word, is dié van die skrywer en moet nie beskou word as dié van die RGN nie.