Politieke Teologie

POLITIEKE TEOLOGIE
Ongedateer

WD Jonker

Ons het in die jongste tyd te make gekry met ’n verskynsel waaraan ons vroeër nie gewoond was nie: die verskynsel van politieke teoloë en kerklike politieke uitsprake van ’n baie radikale aard. Liggame soos die WRK en die SARK het uitsprake gemaak en programme begin loods wat vir ons besef van ’n suiwer politieke (en dan deurgaans van ’n links-politieke aard) is teoloë soos Aartsbiskop Desmond Tutu of dr Allan Boesak tree in die openbaar op met politieke toesprake en eise; en in die betreklik resente verlede is ons gekonfronteer met die sg Kairos-dokument wat sulke skerp en revolusionêre uitsprake bevat, dat ’n mens se ore daarvan tuit.

Natuurlik het ons altyd ons kwota “politieke predikante” gehad, spesifiek ook in Afrikaner geledere, en ons weet van die Joost de Blanks en Trevor Huddlestones en selfs van die Ian Paisleys in ander lande. Maar sulke figure was individue wat om bepaalde nasionalistiese of morele redes dit noodsaaklik geag het om ’n bepaalde standpunt in die politiek in te neem. Hoogstens sou hulle sê dat hulle geloof hulle noop om sekere standpunte in te neem. Maar niemand van hulle was van mening dat die politiek die hoofsaak was waarom dit in die Christelike geloof of in die teologie gegaan het nie. As ’n mens hulle werklik gekonfronteer het, sou hulle erken het dat geloof en politiek, teologie en politiek, tog vir hulle op verskillende vlakke gelê het en nie sonder meer met mekaar saamval nie.

Presies dit het nou egter in die nuwe verskynsel wat ons Politieke Teologie noem, anders geword. As ons praat oor die nuwe politieke element in die teologie, dan gaan dit nie vir ons om die vraag of die Christelike geloof konsekwensies het vir ons politieke lewe soos vir ons hele bestaan nie. Daaroor het die Christelike kerk eintlik nog nooit getwyfel nie, selfs al was daar verskille oor wat daar die konsekwensies is en hoe dit in die praktyk uitgewerk moet word. Waaroor dit in die nuwe verskynsel van die politieke teologie gaan, is dat die Christelike geloof self op ’n politieke wyse geïnterpreteer word asof dit in die geloof primêr om die politiek gaan en asof die boodskap van die Christendom in die eerste plek ’n politieke boodskap is. Dit is ’n standpunt wat op die oomblik wêreldwyd deur ’n groot groep teoloë ingeneem word en veral groot ’n rol speel in die ekumeniese beweging. Die kenmerkende daarvan is dat dit deurgaans die boodskap van die evangelie as ’n links-revolusionêre politieke boodskap verstaan en uit volle oortuiging die Christendom en die kerk daartoe oproep om die ideaal van politieke emansipasie te dien van diegene wat onderdruk en uitgebuit word.

Die vraag is: Waar kom dit vandaan en wat sit presies daaragter? Die antwoord hierop is dat dit ’n ontwikkeling is met diep wortels in die geskiedenis van die Westerse denke; dat dit as reaksie verstaan moet word op vorm van teologiese denke wat individualisties en piëtisties is en dus aan die volle implikasies van die Christelike geloof vir die volheid van ons verbygekyk het; en dat dit gestimuleer is deur bepaalde ontwikkelinge na die Tweede Wêreldoorlog. Laat ons op elkeen van hier die drie aspekte net vlugtig ingaan.

Historiese wortels
Die historiese wortels van hier die opvattings moet gesoek word in die verskynsel wat bekend staan as die Verligting. Dit dateer uit die 18de eeu. Die tiperende kenmerk van die Verligting is dat dit beklemtoon het dat die mens mondig geword het en homself moet bevry van bevoogding en alle outoritêre gesag. Dit het gelei tot ’n kritiese instelling van die mens teenoor die tradisionele gesagsinstansies sowel op die terrein van sy kennis as die terrein van die persoonlike en maatskaplike lewe. Die mondigwording van die mens het verskillende kante, maar ons noem hier eerstens sy mondigheid mbt oorgelewerde oortuigings. Hy glo niks meer op gesag nie, maar kan iets alleen as die waarheid aanvaar, as hy dit self kan bewys of ervaar. Die moderne mens wil vir homself dink. Tweedens moet ons noem dat die moderne mens homself mondig voel mbt sy selfbepaling in sy persoonlike, maatskaplike en politieke lewe. Die moderne tyd is die tyd van individualisme en demokrasie. Die mens wil seggenskap oor homself en medeseggenskap oor sy maatskaplike en politieke belange hé. Ons weet dat die Franse Revolusie met sy kreet van vryheid, gelykheid en broederskap, iets van hierdie mentaliteit van die Verligting tot uitdrukking gebring het. Kort saamgevat kan ons sê dat die moderne mens die mens as die maatstaf van alle dinge beskou en dat iets alleen waar en goed kan wees as dit vir die mens se rede aanvaarbaar is en die mens se belange en veral sy vryheid dien.

Vir kerk en teologie het die moderne tyd groot uitdagings meegebring. Die moderne mens moet in sy kritiese houding teenoor die tradisionele gesag van Skrif en kerk aangespreek word. ’n Groot deel van die teologie gedurende die laaste paar eeue het te make met die vraag hoe die boodskap van die Christendom vir die moderne skeptiese mens nog relevant gemaak kan word. Hieruit is die verskynsel van die sg modernisme gebore, dit is die poging om die evangelie vanuit die vertrekpunte van die moderne mens te verstaan, waarvan die Bybelkritiek ’n wesenlike deel is.

Die moderne mens het egter nie by Bybelkritiek halt gehou nie, maar van Bybelkritiek voortgegaan tot godsdienskritiek. Veral in die 19de eeu sien ons die verskynsel opkom dat godsdiens geïnterpreteer word as ’n siekteverskynsel wat die mens vervreem van sy ware wese, hom onvry en ondergeskik aan outoriteit hou, sodat hy homself nie tot ware mondigheid kan ophef nie. By Marx kry ons dan die oortuiging dat die bevryding van die menslike lewe tot ware menslikheid alleen tot stand kan kom as die mens van alle onderdrukkende strukture bevry kan word. Marx glo dat die mens se hele lewe, ja ook sy waardes en denke, vanuit sy politieke of maatskaplike posisie bepaal word. Daarom word alles by hom oor die boeg van politieke bevryding gegooi. As die groot kwaad in die samelewing sien hy die kapitalisme wat meebring dat die rykes al hoe ryker en die armes al hoe armer word. In sy leer van die klassestryd betoog hy dat daar in die samelewing ’n voortdurende belangestryd is en moet wees, ’n stryd wat uiteindelik deur die arbeiders gewen sal word wanneer die kapitalisme met wortel en tak uitgeroei is. Dan sal die heilstaat aanbreek waarin die mens nie meer behoefte sal hê aan godsdiens nie, omdat hy dan tot sy eie identiteit gekom het in ’n klaslose samelewing waarin die sosialisme aan almal hulle regmatige plek sal gee.

Net soos die bedreiging wat die skeptisisme en kritiese houding teenoor die Bybel deur die teologie ontmoet is met die modernisme, so word die kritiese houding teenoor die godsdiens deur die teologie ontmoet – nie net met felle bestryding soos dit in ortodokse kringe nog steeds gebeur nie, maar ook met ’n apologetiese poging om aan te toon dat die Christendom in werklikheid nie die mens van homself vervreem of hom maar net na die hemel wys nie, maar aan hom inderdaad die motivering verskaf vir die revolusionêre stryd teen die status quo van oorheersing waarin hy lewe. Die Politieke Teologie as verskynsel kom daaruit voort dat die uitdaging van die Marxisme opgeneem word om die lewe in eerste instansie hoofsaaklik polities te verstaan, om in die tweede instansie te aanvaar dat daar ’n blywende stryd is tussen die maghebbers (besitters) en die onder druktes (die armes), om in die derde instansie te aanvaar dat dit onmoontlik is om ooit langs die weg van hervorming die bestaande wantoestande te verbeter, omdat dit alleen langs die revolusionêre weg moontlik is, en om aan te toon dat die Christelike boodskap die enigste ware motor is om mense in staat te stel om dit te doen.

Vanuit die perspektief van hierdie teologie word die boodskap van die Bybel dus geïnterpreteer as ’n politieke boodskap en die heil hoofsaaklik as ’n aardse en politieke boodskap van bevryding verstaan, terwyl Christene geleer word om hulleself kragtig en so-nodig revolusionêr op te stel teenoor die bestaande goddelike mag wat op grond van hulle selfsugtige eiebelang wat hulle ideologies verdoesel, die armes uitbuit en in armoede hou.

Reaksie teen Piëtisme
’n Rede waarom die Politieke Teologie in ons tyd ook soveel ingang kon vind, moet verder ook gesoek word in die feit dat dit met reg beswaar kon maak teen die individualisme en piëtisme van die tradisionele Christendom. Te dikwels is die Christelike geloof slegs verstaan as ’n boodskap oor die ewige heil van die enkeling, terwyl die betekenis van die verlossing vir hier die aarde en vir die bevryding van die hele lewe nie raakgesien is nie. Teoreties behoort hier die kritiek: nie van toepassing te wees op die gereformeerde kerke nie, want Calvyn het ingesien en beklemtoon dat die verlossing in Christus betekenis het vir alle terreine van ons lewe en dat die koningskap van Christus op alle terreine van die lewe erken moet word. In hierdie opsig was die Lutherse opvattings wat gestempel is deur die sg tweeryke-leer baie meer vatbaar vir die piëtistiese versmalling van die heil tot die vergiffenis van die sonde van die enkeling. Tog het die Calvinisme sy eie erfenis nie goed genoeg herken of uitgeleef nie, sodat ook dit die prooi van die piëtistiese versmalling van die Christelike geloof geword het. Die resultaat was egter dat kerk en Christendom wel oog gehad het vir die nood van mense op ’n geestelike vlak en selfs vir noodleniging op ’n individuele vlak, maar dat die geloof dikwels nie in verband gebring is met die politiek en die ekonomie, dit wil sê – met die strukture van die samelewing nie. Christene is absoluut gelykgeskakel met die gangbare opvattings op die terrein van die ekonomie en die politiek en was dikwels blind vir die sondes van die kapitalisme met sy ingeboude motief van eiebelang en selfsug, konkurrensie en winsbejag.

Dit spreek vanself dat hierdie soort Christendom maklik onder die kritiek kon deur loop van diegene aan die onderkant van die samelewing, en dat dit daarom soveel makliker is vir diegene wat hulle die lot van die armes aantrek, om van hier die soort Christendom weg te draai en uit reaksie die boodskap van die Christendom self as ’n politieke boodskap te gaan interpreteer. Die Christelike boodskap het betekenis vir die aardse lewe. Dit mag ons nie ontken nie. Ons gesprek met die Politieke sal moet gaan oor die vereensydiging waardeur alles verpolitiseer word, asof die lewe inderdaad sou opgaan in die politiek, en oor die wyse waarop hulle die Bybel geweld moet aandoen om dit so te kan interpreteer as wat hulle dit doen.

Die Derde Wêreld en die armoede
Die opkoms van die Politieke Teologie hang direk saam met die historiese gebeurtenisse na die Tweede wêreldoorlog. Een van die vernaamste hiervan was die dekolonisering van al die eertydse gebiede waaroor Westerse moondhede geregeer het. Dit was ’n wêreldhistoriese omwenteling van die hoogste betekenis. Vir die eerste keer kon hierdie lande na vore kom en is hulle behoeftes kenbaar gemaak in die wêreld. Hierdie lande, meestal van die Suidelike deel van die aardbol, het sedertdien bekend geword as die lande van die Derde Wêreld (vroeër genoem die onderontwikkelde lande).

Hulle het almal die juk van die kolonialisme afgewerp, maar dit het toe eers vir die eerste keer duidelik geword hoe agterlik hulle ekonomieë en vermoëns in werklikheid is. Die armoede in hierdie lande hang direk saam met die feit dat hulle deur die ryk Westerse lande van die sg Eerste Wêreld uitgebuit is. Hulle goedkoop grondstowwe en arbeid het gedien om die koloniale moondhede ryk te maak, terwyl hulle daarop aangewese was om die duur produkte van daardie moondhede teen hoe pryse te koop. Die vryheid wat hulle ontvang het, was wel ’n politieke vryheid, maar dit was nog lank nie ekonomiese vryheid nie. Die skrikwekkende afmetings wat armoede en hongersnood in die arm lande van die wêreld aanneem, het deur die massamedia vir die eerste keer werklik onder die aandag van die wêreld gekom.

Die groot slagkreet in die sestiger-jare was dan ook dat ontwikkelingshulp aan die arm lande gebied moes word om die ekonomiese groei in daardie lande te stimuleer. Dit het slegs op ’n beperkte skaal gebeur, maar waar dit gedoen is, het dit agterna geblyk dat diegene wat daarby gebaat het, eintlik net ’n baie klein deel van die bevolking was wat reeds iets besit het. Die armes het eintlik net nog armer geword. Dit het ’n groot afkeer van die kapitalisme as ekonomiese stelsel laat ontstaan. In feitlik al le lande van die Derde Wêreld is daar ‘ ’n beweging ten gunste, van die sosialisme, omdat gehoop word dat dit sal beteken dat die armoede en honger langsamerhand oorwin sal kan word in ’n sosialistiese stelsel. En die saak wat vir ons hier van belang is, is dat dit ook in teologiese kringe van die Derde Wêreld was dat die politieke teologie sy sterkste inslag gevind het.

’n Mens kan nie sê dat die politieke teologie sy oorsprong in hier die lande het nie, want na sy wese is politieke teologie die produk van die Westerse wysgerig-teologiese denke, soos ons hierbo aangetoon het. Die politieke teologie het egter sy diepste inslag in die Derde Wêreld gevind, omdat die teelaarde daarvoor in daardie lande meer as gereed daarvoor was. Priesters, geestelikes, predikante en teoloë wat direk met die skreiende armoede gekonfronteer is, het begin besef dat dit nooit deur barmhartigheidshulp opgelos kan word nie en is gedryf tot die oortuiging dat alleen ingrypende strukturele veranderinge en ’n nuwe ekonomiese stelsel die probleem van die armoede en die onvryheid wat daarmee gepaard kan oplos. Maar daardeur is hulle feitlik vanself gelei op die weg van die Marxisme wat homself reeds sedert die vorige eeu juis met hierdie probleme besig gehou het. In die sg Teologie van die Revolusie en die Teologie van Bevryding, maar ook in bepaalde vorms van Swart Teologie word gebruik gemaak van die Marxistiese maatskappy-analise, die idee van die klassestryd en die hoop op revolusionêre omwentelinge om die bestaande hopelose toestande om te keer.

Bybelse boodskap oor armoede

Watter kritiek ’n mens ook al teen hierdie verskillende vorms van politieke teologie sal moet inbring, één ding sal erken moet word, en dit is dat hulle kerk en teologie gedwing het om ’n keer noukeuriger te gaan kyk na wat die Bybel oor armoede leer. Dit kan nie ontken word nie, dat hulle ons aandag gevestig het op bepaalde aspekte van die Bybelse boodskap wat ons in ons Westerse vaart maklik verbygegaan het en in ons vergeesteliking van die Bybelse boodskap misgekyk het. Dit is nie alleen waar dat ons vanuit ons posisie van welvaart heeltemal geen begrip het van wat egte armoede is nie (’n saak waarin ons gehelp kan word as ons bv boekie lees soos prof Sampie Terreblanche se boek oor Gemeenskapsarmoede, of die boekie van Ron Sider oor Rich Christians in an age of hunger), maar dat ons in die Bybel ook heeltemal verbylees aan die pertinente wyse waarop die besondere sorg van God vir die armes beklemtoon word.

Lees maar die Psalms, soos bv Psalm 141 en 146 wat ons so goed ken, of ook die boodskap van die profete, of ook die sterk klem wat in die Evangelie van Lukas op die armes gelê word, of ook die duidelike woorde van Christus oor armes en ellendiges in Matteus 23, of ook die kras woorde oor die rykes en die armes in die Brief van Jakobus, of (om maar daarmee te vol staan) die snydende woord van 2 Johannes 3:17–18. God neem die saak van die armes op. In ons vergeesteliking van die heil het ons dikwels oor sulke woorde heen gelees, omdat ons hulle nie vanuit die situasie of “konteks” van die arm man gelees het nie. Ons het die gevaar van rykdom waaroor Jesus so duidelik praat, nie ernstig opgeneem nie. En nou word dit onder ons aandag gebring deur hier die situasie en hierdie teologie. Daaroor kan ons alleen maar dankbaar wees, want dit is ’n boodskap wat ons behoort te hoor as die Woord van die Here vir ons van belang is.

Die vraag na die interpretasie daarvan. Die probleem met die politieke teologie is nou egter dat dit hierdie pertinente Bybelse gegewens oor armoede op ’n wyse hanteer waarmee ons tog nie kan saamstem nie. Deur dit in te span in die Marxistiese skema van die klassestryd en ’n revolusionêre teorie, word dit skeefgetrek en eensydig hanteer. Watter hoë woorde daar ook gepraat word oor die liefde vir die armes, uiteindelik word die armes tog maar hanteer as ’n element in ’n politieke magstryd, as die brandhout vir die vuur van die revolusie. Bowendien word die Bybelse uitsprake oor die heil dikwels eensydig vertolk. Die pendulum swaai deur na die teenoorgestelde kant. Waar ons vroeër gesondig het deur die heil te veel te vergeestelik, word dit nou dikwels net in materiële en aardse terme gedink. Dit kan maklik tot ’n vorm van humanisme word wat met die Christelike boodskap sleg ’n los verbintenis onderhou, al is dit nie die bedoeling van die voorstanders van hierdie soort teologie nie. Groot gedeeltes uit die Skrif moet feitlik tot swye gebring word of op ’n bepaalde manier omgebuig word om hierdie eensydige visie op die heil te probeer bewys. Die kerk word feitlik in sy geheel verpolitiseer en tot ’n instrument van die revolusie gemaak.

Maar as ons al hierdie kritiek na vore gebring het, dan staan die uitdaging nog voor ons om dan beter as hierdie mense om te gaan met die Bybelse woorde oor God as die God van die noodlydendes, as die Hulp van die hulpeloses en as die Regverdige wat alle uitbuiting en onderdrukking straf om diegene wat verdruk word, te bevry. Daarby kan ons nie verbykom nie. Dit gaan ons niks help om in ’n vurige soort religieusiteit in te vlug wat wel in allerlei geestelike ervarings roem, maar nie die elementêre dinge doen wat God van ons vra in ons omgang met die armes nie. Dit is vreeslik om te val in die hande van die lewende God. En vir dié oordeel moet elkeen vrees wat hom die lot van die armes nie aantrek nie, en heerlik lewe asof daar niemand is wat van sy hulp en bystand afhanklik is nie.