Die Reformatoriese Sola Scriptura

DIE REFORMATORIESE SOLA SCRIPTURA
EN DIE SKRIFBEROEP IN ETIESE VRAE

Inleiding

Namens die Kommissie van Leer- en Aktuele Sake (Wes-Kaapland)1

Hierdie publikasie het in 1979 as bylae tot die verslag van die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake voor die Sinode van Wes-Kaapland gedien. Die Sinode het met dank daarvan kennis geneem en besluit om dit vir bestudering na kerkrade en ringe te verwys.

Ten einde aan hierdie besluit uitvoering te gee word die rapport in boekvorm beskikbaar gestel.

Outeursreg (c) 1980 NG Kerk-Uitgewers
Eerste uitgawe 1980
ISBN 0 86991 341 7

1. Opdrag

Die Sinode van 1975 het twee afsonderlike opdragte aan die kommissie gegee wat ten nouste aan mekaar verbind is en hier gesamentlik behandel word omdat hulle oor verwante sake handel. Die eerste (Handelinge A 24, punt 8.2) raak die vraag oor hoe daar vanuit die belydenis van “die Skrif alleen” geoordeel moet word oor die bestaan van diepgaande godsdienstige probleme waaroor die Skrif nie direk handel nie. Watter rol moet naas die algemeen Bybels-teologiese beginsels aan die leiding van die Heilige Gees in die kerk van Christus deur die eeue by beslissinge van hierdie aard toegeken word? Omdat hierdie opdrag voortgevloei het uit die rapport van die eertydse Kommissie vir Protestantse Aksie, is dit duidelik dat hierby veral gedink is aan die verskille met Rome oor die “sola Scriptura”-beginsel van die Reformasie. Vandaar ook die versoek dat die kommissie aandag moet gee aan die kwessie van die leergesag in die kerk en die rol van die tradisie.

Die tweede opdrag kom uit dieselfde rapport voort en raak dieselfde saak, maar net nader toegespits op die vraag hoe die lig van die Skrif gesoek moet word in etiese vrae waaroor die skrif nie direk handel nie. Daar word aangevoer dat dit noodsaaklik is dat daar binne die kerk eenstemmigheid sal wees oor die gebruik van die Skrif by etiese beslissings. Daarby het die kommissie opgemerk: “Die vrae wat hier aan die orde kom, is nie soseer eksegeties nie as hermeneuties van aard.” Dit is aan die SKLAS opgedra om die Sinode in hierdie verband met aanbevelings te dien. Dit is duidelik dat albei hierdie vrae in ons tyd uiters aktueel geword het en ’n veel wyer relevansie het as net die gesprek met Rome.

2. Die Reformatoriese Sola Scriptura

2.1 Dit is bekend dat die reformatoriese “sola Scriptura” één van die reeks van polemiese afgrensinge is wat deur die Reformasie teenoor Rome gehanteer is: sola Christus, sola gratia, sola fide, sola Scriptura. Die bedoeling van hierdie afgrensinge was telkens om die plus af te wys wat oral in die Rooms-Katolieke opvattings sigbaar geword het: Christus én die heiliges, die genade én die menslike verdienste, die geloof én die werke, die Skrif én die tradisie. Daarom was die hart van die evangelie in hierdie afgrensinge in die gedrang. Rome het nooit ontken dat die heil in Christus gegee is, dat die genade noodsaaklik is vir die redding van die mens, dat die geloof onontbeerlik is as eerste stap op die heilsweg of dat die Heilige Skrif die onfeilbare Woord van God is nie. Maar Rome het telkens ’n plus ingevoer waardeur die eksklusiwiteit van Christus, die genade, die onverdiende karakter van die heil en die absolute gesag van die Skrif op ’n beslissende wyse verduister is.

Juis daarteen het die protes van die Reformasie gegaan. Dit het in die Reformasie nie gegaan om ’n sektariese ontkenning van die betekenis van die heiliges of hulle dienswerk, die negering van die menslike verantwoordelikheid of die goeie werke en die miskenning van die tradisie in die lewe van die kerk nie. Dit het gegaan om die juiste perspektief op al hierdie dinge, waardeur hulle verhinder word om ’n betekenis te kry wat hulle nooit kan hê nie. En net soos dit vir die Reformasie vasgestaan het dat watter betekenis die heiliges met hulle voorbeeld, diens en getuienis ook al vir ons kan hê, die heil tog uiteindelik net in Christus en in Hom alleen gegrond is. So het dit ook vasgestaan dat ons die waarheid van Gods openbaring enkel en alleen uit die Skrif kan leer ken, selfs al ontken ons nie dat die kerk met sy leeramp en die tradisie ’n betekenisvolle rol in die verstaan en vertolking van die Skrif speel nie. Maar daardeur is aan die Skrif ’n posisie van gesag in die lewe van die kerk toegeken, wat daarop neerkom dat die kerk self met sy leer, tradisie, belydenis en praktyk in alles aan die Skrif onderworpe moet wees. Vir die Reformasie is die Skrif alleen die hoogste en finale gesag wat die leer en lewe van die kerk betref, die norm waaraan alles gemeet moet word, die laaste skeidsregter in alle geskille, die bron en norm van die belydenis en verkondiging van die kerk.

2.2. Hierdie posisie van die Reformasie blyk duidelik uit die opvatting van die Reformasie oor die sogenaamde eienskappe van die Heilige Skrif, waaronder (in polemiese afwysing van Rome aan die een kant en die Anabaptisme aan die ander kant) die gesag, die noodsaaklikheid, die genoegsaamheid en die duidelikheid van die Skrif beklemtoon is. Dit is nie nodig dat ons hier ingaan op alles wat onder hierdie verskillende gesigspunte ter sprake gekom het nie. Met die oog op die vraag wat aan die kommissie voorgelê is, wil ons egter die aandag daarop vestig dat hierdie leer van die eienskappe van die Skrif bedoel is as ’n verdere uitwerking van wat in die “sola Scriptura”-belydenis opgesluit lê, naamlik dat die kerk aan die Skrif alleen gebonde is, aan die Skrif alleen genoeg het en uit die Skrif alleen voldoende lig kan ontvang vir alles wat sy leer en lewe betref, sodat hy God reg kan leer ken tot saligheid en tot sy eer kan lewe (vergelyk NGB, art. 2).

Hierdie belydenis van die Reformasie staan lynreg teenoor die Rooms-Katolieke visie t.o.v. die verhouding tussen Skrif, kerk en tradisie. Volgens Rome ontleen die Skrif sy gesag quoad nos, dit wil sê vir sover dit deur ons erken word, aan die getuienis van die kerk. Dit beteken dat die Skrif geen gesag is wat teenoor of bo die kerk gestel kan word nie, omdat die gesag van die Skrif nie anders as deur die gesag van die kerk heen tot effektiewe funksionering kan kom nie. Die Skrif is immers op sigself nie duidelik nie, maar is afhanklik van die vertolking deur die kerk. Dit is ook nie absoluut noodsaaklik vir die kerk nie, omdat die kerk nie alleen aan die Skrif voorafgegaan het en lang tye sonder die Skrif (of altans groot gedeeltes daarvan) geleef het nie, maar ook vandag nog desnoods daarsonder kan klaarkom. Die kerk leef immers volgens die tradisie, wat in sy wydste sin die Skrif insluit, maar dikwels ook geïnterpreteer word as ’n addisionele bron van waarheid wat naas die Skrif aan die kerk gegee is en dus die Skrif kan aanvul. Daar is veral in die jongste tyd ’n sterk neiging om in die tradisie meer te verstaan as ’n gesaghebbende uitleg en vertolking van die Skrif, maar die ouere opvatting van die tradisie as aanvulling van die Skrif is selfs op die Tweede Vatikaanse Konsilie nie definitief deur Rome afgewys nie, terwyl die “sola Scriptura”- beginsel nog eens in ronde woorde verwerp is. In elk geval word die knooppunt in die verhouding tussen Skrif, kerk en tradisie gevorm deur die “lewende leergesag” van die kerk, wat as onfeilbare vertolker van Skrif en tradisie die kerk onder bystand van die Heilige Gees voorgaan en lei op sy weg deur die geskiedenis. Só gesien, is die tradisie geen statiese grootheid nie. In die deurgee-proses groei die tradisie self. Die voortgaande interpretasie van tradisie en Skrif word self weer tradisie. En Rome verwag van sy lidmate om aan die Skrif en die tradisie dieselfde eerbied te bewys. Selfs al verklaar Rome dat die diens van die lewende leergesag nie bo die Woord van God staan nie, maar dit dien, is dit tog duidelik dat daar by Rome geen twyfel moontlik is dat alles wat die leergesag van die kerk uitspreek, ook werklik in ooreenstemming met die Woord van God sal wees nie. Op dié manier is daar nie van enige kritiese toetsing van die uitsprake van die kerk aan die Skrif sprake nie. Rome ken slegs kontinuïteit tussen Skrif en kerk, geen kritiese afstand tussen die Skrif en die kerk nie.

Dit is teenoor hierdie toedrag van sake dat die Reformasie die gesag van die Skrif so duidelik beklemtoon het as ’n eie inherente gesag (outopistie). Selfs die erkenning van die gesag van die Skrif deur die gelowiges berus nie op die gesag van die kerk nie, maar op die inwendige getuienis van die Heilige Gees (NGB, art. 5). Die Skrif ontleen nie sy gesag aan die kerk nie, maar die kerk se gesag berus heeltemal in die gesag van die Woord. Wanneer die kerk aan die Woord gehoorsaam is, het sy woorde gesag en is die gelowiges daaraan gebonde soos aan die Skrif. Maar as die kerk van die Woord afwyk, het sy woord geen gesag nie en hoef niemand daaraan gehoorsaam te wees nie.

Dit word in ronde woorde bely in art. 7 van die NGB. Die gelowiges het die plig om die uitsprake van die kerk aan die Skrif te toets, soos die Reformasie vrymoediglik die besluite van die kerklike konsilies uit die reformatoriese tyd aan die norm van die Skrif getoets het. Van ’n onfeilbare leergesag en kerk weet die Reformasie niks. Die belofte dat die Gees in alle waarheid sal lei, is geen versekering dat die kerk vanself in die waarheid sal bly nie, maar ’n belofte wat van die kerk biddende omgang met en gelowige gehoorsaamheid aan die gesaghebbende inhoud van die Skrif vra.

Juis omdat die Reformasie die gesag van die Skrif op hierdie wyse bo die kerk gestel het, kon dit ook sê dat die kerk altyd en in alle omstandighede aan die Skrif gebonde bly. Christus regeer sy kerk deur sy Woord én Gees. Die kerk hoef dus nie uit ander bronne as die Skrif te put nie, want dan sou hy van die waarheid afdwaal. Vir die kerk in hierdie bedeling is die Skrif nie alleen noodsaaklik nie, maar ook genoegsaam. Van die tradisie as aanvullende bron by die Skrif wou die Reformasie niks weet nie. Uiteraard het die Reformasie nie die tradisie in die sin van die uitleg en toepassing van die Skrif deur die kerk van alle eeue as sodanig verwerp nie. Sonder tradisie in hierdie sin van die woord kan die kerk nie klaarkom nie. Maar die tradisie in hierdie sin is geen aanvullende bron by die Skrif nie. Dit is die neerslag wat die Skrif in die verlede in die lewe van die kerk gevind het. Ook in hierdie sin is die tradisie egter nie onfeilbaar nie, maar moet dit voortdurend aan die Skrif getoets word. Die tradisie kan dwaal en selfs die Skrif weerspreek. Daarom is die tradisie nooit vir die kerk ’n selfstandige norm nie, altans die norma normans nie, hoogstens (soos dit die belydenisskrifte geld) norma normata. In laaste instansie bly die Skrif vir die Protestantisme die enigste norm waaraan alles in die lewe van die kerk gemeet moet word. Dit hang saam met die belydenis van die duidelikheid van die Skrif dat die Reformasie met soveel vertroue die hele lewe van die kerk onder die tug van die Woord kon plaas. Die Skrif is nie afhanklik van die amptelike leergesag nie, maar is sy eie uitlegger en handhaaf homself deur die werking van die Heilige Gees ook ondanks die ongehoorsaamheid van die amptelike kerk en die leergesag. Waar Rome praat van die onfeilbaarheid van die kerk, dink die Reformasie eerder aan die onvernietigbaarheid van die ware kerk (Matt. 16:18), omdat die Woord van God nooit vrugteloos in die wêreld sal wees nie, sodat daar altyd nog die “klein kuddetjie” sal wees wat, in weerwil van alle moontlike afvalligheid van die empiriese kerk, aan die Woord van God getrou sal bly. Die ware kerk en die sigbare histories-geworde kerklike instituut val nie noodwendig saam nie. Waar Rome dus enkel kontinuïteit ken in die kennis van die waarheid, weet die Reformasie van afvalligheid en vernuwing en stel dit as ideaal dat die kerk homself telkens weer moet reformeer (ecclesia reformata semper reformanda). Dit beteken dat die tradisie telkens weer tot op die bodem deurlig moet word deur die Woord van God, sodat skewe groeisels en verkeerde ontwikkelinge afgestroop kan word in ’n nuwe terugkeer na die boodskap van die Skrif alleen.

3. Die Reikwydte van die Sola Scriptura

3.1       Hierdie reformatoriese posisie-keuse teenoor Rome bly eenvoudig onopgeefbaar, al word die nuwe ontwikkelinge binne die Rooms-Katolieke kerk ook ten volle in berekening gebring. Dit is egter noodsaaklik om daarop te let dat die belydenis van die “sola Scriptura” ’n veelheid van implikasies het wat op allerlei terreine in die kerklike lewe sigbaar word. Daarom is die vraag na die reikwydte van hierdie belydenis van soveel belang. Die vrae wat aan die kommissie voorgelê is, getuig van die aktualiteit daarvan op meer as een gebied.

Histories gesproke is die “sola Scriptura” in eerste instansie polemies teenoor Rome gehanteer as ’n afweer teenoor dwalinge insake die verhouding tussen Skrif, kerk en tradisie. Daarom het dit ook ’n sterk toespitsing gehad op die heilsvraag. Dit blyk baie duidelik uit die uitwerking van die eienskappe van die Heilige Skrif. So byvoorbeeld het die Reformasie onder die duidelikheid van die Skrif nooit verstaan dat die Skrif geen duistere plekke bevat of dat die noukeurige uitleg daarvan onnodig is nie, maar dat die Skrif duidelik is in sy verkondiging van die weg van die saligheid. Net so is die genoegsaamheid van die Skrif vertolk as ’n genoegsaamheid met betrekking tot alles wat nodig is vir die kennis van God en sy wil vir ons lewe (NGB, art. 2).

Op presies dieselfde wyse is ook die noodsaaklikheid van die Skrif in eerste instansie verstaan as ’n noodsaaklikheid vir die ware kennis van God en sy wil. Die reformatore het nie ontken dat die mens in die algemeen deur die algemene openbaring van God en deur die werking van die algemene genade ’n bepaalde kennis van God en die goeie het nie, maar hulle belydenis van die noodsaaklikheid en genoegsaamheid van die Skrif was tog ’n duidelike afwysing van die manier waarop Rome met die “natuurlike teologie” omgegaan het asof die mens ooit sonder die bril van die Skrif die openbaring van God in die werke van sy hande reg kan verstaan (vergelyk Calvyn se Institusie, Boek 1). Maar ook wat die gesag van die Skrif betref, het veral die Lutherse Reformasie hoofsaaklik gedink aan die gesag van die Skrif as heilsopenbaring, sodat die gesag van die Skrif ten nouste betrek is op sy doel of bestemming om ons “wys te maak tot saligheid” (2 Timoteus 3:15-17).

Wanneer ons alleen by hierdie historiese hantering van die “sola Scriptura”-belydenis sou bly staan, is alles betreklik eenvoudig. Wat die heilsboodskap, die dogma van die kerk betref, is dit sonder meer duidelik dat ’n reformatoriese kerk hom alleen op die Skrif mag beroep en dat hy dit vanweë die duidelikheid, genoegsaamheid en gesag van die Skrif ook kán doen op ’n regstreekse wyse. In hierdie opsig bly die kloof tussen Rome en die Reformasie nog steeds onoorbrugbaar. Uiteraard is daar talle eksegetiese probleme en dit is ook waar dat die Skrifstudie sedert die Reformasie gelei het tot ’n groter genuanseerdheid in die wyse waarop die Skrif in dogmatiese vraagstukke gehanteer word. Maar dat die Skrif die enigste bron en norm is van ons kennis van God en dus ook vir ons dogmatiese kennis bly ’n basiese reformatoriese oortuiging. ’n Mens kan selfs sê dat teologiese ontwikkelinge in die twintigste eeu gelei het tot ’n beter besef van die noodsaaklikheid om enkel vanuit die Skrif te dink en alle natuurlike teologie af te wys, selfs die beste daarvan wat dikwels half verskuil nog in verskillende dogmatiese leerstukke ’n rol gespeel het.

Die probleem rondom die “sola Scriptura” kom egter duideliker na vore as ons verder gaan as die direkte heilsvraag en die vraag stel of die Skrif ook duidelik en genoegsaam en noodsaaklik is wanneer ons op allerlei terreine van ons lewe lig soek, soos met name op die gebied van die wetenskap, die politiek, die ekonomie, die kultuur en die etiek. Is dit werklik waar dat ons onsself op al hierdie terreine deur die Skrif alleen kan en moet laat lei? Is dit die bedoeling van die Skrif? In die vrae wat deur die sinode aan die kommissie voorgelê is, word veral die ingrypende religieuse vrae van ons tyd genoem, asook die kwessie van die aktuele etiese vraagstukke. Die kommissie is van oortuiging dat die Skrif die finale en afdoende antwoord bied op alle religieuse vrae (in die engere sin van die woord) wanneer dit Christus verkondig as die enigste Weg en Waarheid en Lewe, selfs al word nie in soveel woorde gehandel oor die spesifieke gestalte wat sulke religieuse vrae in ons tyd aanneem nie. Ewe-eens glo ons dat die Skrif ’n lig op ons pad is en ’n lamp vir ons voet wanneer dit om die verskillende etiese vrae gaan waarmee ons gekonfronteer word, selfs in ons moderne tyd. Tog wil die kommissie daarop wys dat dit met betrekking tot die etiese vrae aanmerklik ingewikkelder is as in die geval van die spesifiek religieuse vrae. Op die terrein van die personele etiek, waarin dit veral gaan om die heiliging van die individu in sy persoonlike lewe, is dit nie so moeilik om die lig van die Skrif op te vang en direkte afleidinge daaruit te maak vir die lewenswandel wat van ons as Christene gevra word nie. Sodra dit egter om die sosiale etiek gaan, waarin die heiliging van die samelewing in sy verskillende verbande ter sprake kom, word dit moeiliker, omdat sulke dinge soos die wetenskap, die kultuur, die politiek en die ekonomie ter sprake kom. Die moeilike vraag is of die Skrif ons nie alleen informasie op hierdie terreine bied nie, maar afdoende informasie, sodat volgehou kan word dat die “sola Scriptura”-belydenis ook hier geld. Selfs van die etiek geld dat daarin klaarblyklik allerlei kennis gehanteer word wat nie direk aan die Skrif ontleen is nie, en dit geld nog in ’n veel omvattender sin al die kennis wat ons besit van die genoemde en ander terreine van die werklikheid waarin ons lewe. Wat is dan presies die reikwydte van die “sola Scriptura”-belydenis?

Hoewel die kommissie nie daaraan twyfel dat die Skrif wél ’n boodskap het vir al die verskillende terreine van die lewe nie, is ons tog ook daarvan oortuig dat die “sola Scriptura”-belydenis hier in ’n ietwat ander sin geld as in die spesifieke heilsvrae. Dit hang saam met die eie-aard van die besondere openbaring wat in eerste instansie heilsopenbaring is, en met die bestemming van die Skrif om ons wys te maak tot saligheid. Die sola Scriptura en die solus Christus hang onafskeidelik met mekaar saam. Die bedoeling van hierdie rapport is om nader te probeer omlyn hoe ons die lig van die Skrif vir al die verskillende terreine van ons lewe moet verstaan en hoe ons ons daarvoor op die Skrif moet beroep.

3.2 Die probleem waarom dit hier gaan, was nie onbekend aan die Reformasie nie, en tog het dit gelei tot die mening dat die “sola Scriptura”-belydenis dus maar prysgegee moet word of altans net tot die spesifieke heilsvrae beperk moes word. Binne die Lutherse tradisie was daar van die begin af ’n sterker neiging as by die gereformeerders (sic – GJD) om die betekenis van die Skrif tot die heilsboodskap en die persoonlike lewensheiliging te beperk. Dit hang daarmee saam dat Luther wel die Rooms-Katolieke natuurlike teologie verwerp het, maar tog nie heeltemal vrygekom het van die skolastieke tweedeling van natuur en genade nie, soos dit veral ook in sy leer van die Twee Ryke blyk. Dit het meegebring dat daar in Luther se etiek ’n positiewe waarde geheg kon word aan die natuurreg en die rede as kernbronne van wat waar en goed is ook buite die Skrif om. Op grond van Luther se beïnvloeding deur die nominalisme van Occam het hy ’n teenstelling gesien tussen natuur en genade, en dus ook tussen rede en openbaring, wet en evangelie, reg en liefde, wetenskap en geloof. Vir die kennis van alles wat tot die natuur, die wet, die reg en die wetenskap behoort, het die mens die Bybel nie nodig nie, maar vir die kennis van die genade, die evangelie, die liefde en geloof is die Bybel onontbeerlik. Binne die Lutherse denksfeer is daar nie ruimte vir die idee van die kerstening van die hele lewe in staat en samelewing nie, want die lewe na sy uiterlike en georganiseerde kant word gereguleer deur die ordeninge wat God daarvoor ingestel het en wat ook buite die Skrif om geken kan word. Hoogstens kan ’n mens sê dat die evangelie ons leer om as individue anders om te gaan met die ordeninge – meer liefdevol en diensvaardig as nie-Christene – maar vir ’n direkte beroep op die Skrif om die samelewing in sy verskillende verbande te kersten, is daar binne die Lutherse opvattings geen ruimte nie. Die “sola Scriptura”-beginsel geld hier dus hoofsaaklik die heilsboodskap van die Skrif en hoogstens indirek ook die persoonlike instelling van die individu in die samelewing.

Dit is bekend dat Calvyn en die gereformeerde tradisie juis probeer het om ’n ander weg te gaan en vol te hou dat die Skrif noodsaaklik en genoegsaam is vir ons hele lewe, nie net vir die godsdienstige en personeel-etiese aspekte soos in die Lutherse opvattings nie. Vandaar ook die kenmerkend gereformeerde begeerte om in alle dinge die lig van die Skrif te soek. Ook Calvyn ontken nie dat daar so iets is as ’n natuurlike sedelike besef en natuurreg nie en onder die noemer van die algemene genade kan hy ruim toegee dat die heidene in wetenskap en selfs in die moraal ’n diepe insig gehad het. Klaarblyklik is dit dus nie so dat Calvyn van mening was dat ’n mens nie buite die Skrif om veel ware kennis kan hê of opdoen nie. Die “sola Scriptura”-leer beteken kennelik ook nie by Calvyn dat die Bybel die enigste en uitputtende bron van alle kennis, en dus ook van ons kennis van wetenskap, moraal en die wêreldwerklikheid in die algemeen is nie. Wanneer dit gaan om die heil, is dit so dat die “sola Scriptura” beteken dat die Skrif die enigste bron en norm van ons kennis is, want van die heil in Christus – en dus van die ware Godskennis – weet ons niks buite die Skrif om nie, hoe waar dit ook is dat ons volgens Calvyn ’n verwarde natuurlike Godskennis besit. Maar wanneer dit gaan om die kennis van die moraal, blyk dit dat die mens volgens Calvyn in die natuurreg en in sy algemene sedelike besef tog goed genoeg weet wat goed en kwaad is om hom alle onskuld te ontneem. Ook hier geld dit egter dat die mens se sedelike kennis buite die Skrif om verward en verdraaid is en dat die korreksie van die natuurlike sedelike besef alleen in die Skrif gevind kan word, onder meer ook omdat die Skrif die sedelikheid juis in verband bring met die diens van God. Ons kan dus by wyse van interpretasie sê dat die “sola Scriptura” op die gebied van die sedelike nie beteken dat die Skrif die enigste bron van kennis van die sedelike is nie, maar die enigste ware korrektief van die mens se verwarde sedelike kennis: alleen deur die Skrif weet die mens wat ware sedelikheid is, ook al het hy buite die Skrif om, flardes van sedelike kennis. En in hierdie korrektiewe funksie is die Skrif weer eens noodsaaklik, duidelik, gesaghebbend en genoegsaam. Dit geld nou egter ook die ander kennis wat die mens besit: die kennis van die wêreldwerklikheid. Die Skrif is nie die enigste bron van dié kennis nie, maar vir Calvyn geld dit tog dat ’n mens alleen deur die Skrif tot die ware wysheid gebring kan word, ook op die terrein van die wetenskap (filosofie), omdat die Skrif jou leer om nie op jou eie wysheid te vertrou nie, maar jou te laat lei deur die Heilige Gees (dit wil sê: deur die openbaring van God).

Interpreterend sou ons kon sê: Die Skrif alleen leer ons om ons kennis van aardse sake op die juiste wyse in verband met ons kennis van God te bring. Hoewel dit moeilik is om Calvyn presies te interpreteer en hy homself nie sistematies en wetenskaplik oor hierdie dinge uitgespreek het nie, kan ons dit tog waag om te sê dat dit in lyn met sy denke is as ons sê dat hy sowel ’n ware natuurlike teologie as ’n ware natuurlike etiek én ’n ware natuurlik filosofie (wetenskap) afgewys het omdat hy deurgaans aan die leer van “die Skrif alleen” wou vashou. Maar dan is dit tog so dat die funksie van die Skrif in eerste instansie die verkondiging van die ware Godskennis is, sodat die “sola Scriptura” primer en fundamenteel daarop slaan, maar tog ook in ver band daarmee grondwaarhede bevat wat vir die terreine van moraal e wetenskap betekenis het. Daarom het ons tevore gesê dat die “sola Scriptura” op die terreine van moraal en wetenskap “in ’n ietwat ander sin” gel as in die spesifieke heilsvrae.

3.3       Sedert die Reformasie is daar in gereformeerde kringe ernstig geworstel met die vraag waarin die lig van die Skrif vir die terreine van moraal en wetenskap bestaan en hoe dit opgevang moet word. In hierdie verband het die aanbreek van die sogenaamde “nuwe tyd” in die sewentiende en agtiende eeu (die verligting) tot ’n ernstige krisis vir die Skrifgeloof in die algemeen en die belydenis van die “sola Scriptura” in die besonder gelei. Dit het voortgevloei uit die opkoms van die Kopernikaanse wêreldbeeld, die ontstaan van die moderne historiese bewussyn en ondersoek, en die nuwe wysbegeerte waarin die outonomie van die rede as uitgangspunt geneem is.

Die resultaat van die stryd waarin die kerk met die moderne denke op al hierdie fronte betrokke geraak het, was nie net negatief nie. Aan die kant van die kerk self het daar groter helderheid gekom oor die aard van die Skrifgesag en veral oor die doel en betekenis van die Skrif. Dit het veral duidelik geword dat die Bybel nie gesien moet word as ’n “handboek vir wetenskap” wat aan ons allerlei inligting op die terrein van die wetenskap bied nie. Die Bybel is die Woord van God wat ons wys maak tot saligheid en ons die volkome toerusting gee tot goeie werke in diens van God. Die bedoeling daarvan is nie om aan ons ’n bepaalde wêreldbeeld voor te hou, of om aan ons ’n volledige wêreldgeskiedenis te bied nie. Dit is ’n historiese boek wat aan ons die verhaal van Gods bemoeienis met en openbaring aan die mens meedeel soos dit in die geskiedenis plaasgevind het. Daarom spreek dit ook in die taal en begrippe van die mense vir wie dit bedoel is en sluit aan by die kennis- en ervaringshorison van die tyd waarin die verskillende Bybelboeke geskrywe is, sonder dat die waarheidsgehalte van die Skrif enigsins in die gedrang kom. Gevolglik is dit verkeerd om te meen dat die Bybel dwaal as dit nie eksak-wetenskaplike taal spreek, of oënskynlik ’n ander voorstelling van sake bied as die resultate van die wetenskap nie. Legitieme resultate van wetenskap en die boodskap van die Skrif kan nooit met mekaar in konflik wees nie. Konflik kan alleen ontstaan wanneer die wetenskap sy eie grense oorskry of wanneer die Skrif verkeerd geïnterpreteer word.

Dit is hierdie visie op die verhouding tussen Skrif en wetenskap wat deur gereformeerde dogmatici soos Kuyper en Bavinck met hulle organiese opvatting van die inspirasie van die Skrif ontwikkel is. Hulle was daarvan oortuig dat aan twee dinge tegelyk vasgehou moet word: aan die een kant dat die Skrif geen handboek vir wetenskap is nie, en aan die ander kant dat die Skrif tog betekenis het vir die ganse lewe met al sy terreine. Wanneer egter gesê moet word hoe die twee dinge met mekaar in verband staan, blyk dit nogal moeilik te wees. Bavinck was van mening dat die principia vir die hele lewe in die Skrif gegee is (Geref. Dogm. 1, 416), maar wanneer hy moet sê hoe dit presies ontdek moet word en hoe dit funksioneer, gaan dit nie so maklik nie. In die algemeen tendeer hy in die rigting om te sê dat die Skrif ons wys maak tot saligheid en aan ons ’n nuwe lewensrigting gee, waardeur ons in staat gestel word om op die regte manier met ons kennis van die wêreld om te gaan.

Veral Kuyper het homself indringend met hierdie vrae besig gehou. Dit was vir hom ’n passie om die hele lewe onder die heerskappy van Christus te bring, en juis daarom wou hy die betekenis van die Skrif vir alle terreine van die lewe opspoor. In sy driedelige werk Die Gemeene Gratie worstel hy voortdurend met hierdie problematiek. Een ding is vir hom duidelik, en dit is dat ’n mens jou nie op ’n naïewe manier op die Skrif kan beroep vir wetenskaplike en ander kennis wat langs die weg van waarneming, ervaring en studie verkry kan word nie. Kragtens die werking van die “gemeene gratie” kan die mens ook sonder die lig van die Skrif tot op sekere hoogte kennis hê van die wêreld en selfs van die sedelike beginsels wat ons gedrag geld. Klaarblyklik is daar talle dinge waaroor die Bybel nie uitspraak gee nie en ook nie uitspraak hoef te gee nie, omdat die mens op die terreine van die wetenskap, kuns, politiek en ekonomie ook sonder die besondere openbaring tot kennis kan kom van die dinge waarom dit gaan. En tog is die lig van die Skrif ook vir al hierdie terreine onontbeerlik, omdat die mens sonder die lig van die Skrif ook in wetenskap, politiek en moraal op ’n dwaalweg geraak het. Waarin bestaan dié lig van die Skrif? Kuyper gee ’n tweërlei antwoord: dit bestaan in die heil waardeur die mens ’n wedergebore hart kan bekom, waardeur hy op ’n nuwe manier omgaan met sy kennis; en dit bestaan in geopenbaarde leidende en normatiewe beginsels wat in die Skrif neergelê is en van betekenis is vir al die terreine van ons kennis. Vanuit hierdie lig van die Skrif is dit vir die Christen moontlik om tot ’n Christelike wetenskap te kom, tot ’n Christelike politiek en ekonomie en kuns, waarin hy antiteties te staan kom teenoor diegene wat, hoewel deur die “gemeene gratie” gelei, die lig van die Skrif ontbeer en daarom in humanisme bly steek.

Dit val nie binne die taak van die kommissie om verder uitvoerig op die spesifieke probleme rondom die fundering van ’n Christelike visie op wetenskap, kuns en kultuur, ens., in te gaan nie. Die wetenskaplike gesprek oor hierdie dinge is nog steeds aan die gang en dit lê nie op die terrein van die kerk om daaroor wetenskaplik uitsluitsel te probeer gee nie. Vir die kerk is dit egter belangrik om te sê dat die betekenis van die Skrif vir alle terreine van die lewe nie geminimaliseer moet word nie, selfs nie deur die legitieme oortuiging dat die Skrif geen handboek vir wetenskap is nie. En vir die lewe van die gemeente is dit besonder belangrik om daaroor helderheid te hê of en hoe ons ons in morele kwessies op die Skrif mag beroep. In die praktyk raak dit die omgang van die gemeente met die Skrif veel direkter as byvoorbeeld die vraag na die Skrifberoep in die wetenskap.

4. Skrifberoep in die Etiek

4.1     Die oortuiging dat die Skrif betekenis het vir alle terreine van ons lewe word in die reformatoriese denke gepaar met die oortuiging dat die Skrif op die regte wyse benader en hanteer moet word. Die hermeneutiese vraag was van die begin af vir die Reformasie van die grootste belang. Die beroep op die Skrif het alleen gesag as dit ’n verantwoorde beroep is, dit wil sê ’n beroep wat ten volle rekening hou met wat die Skrif wil sê. En dit kan alleen vasgestel word wanneer van die juiste uitlegkundige reëls gebruik gemaak word. Dit behoort tot die mees fundamentele reëls vir die uitleg van elke woord van die Skrif dat dit verstaan moet word binne die konteks, wat beteken dat die spesifieke betekenis bepaal moet word in die lig van die verband waarin dit staan in die perikoop, hoofstuk, Bybelboek, die Ou of Nuwe Testament, en die Skrif as geheel met sy sentrale boodskap van die verlossing in Christus en die koms van Gods koninkryk. (Vergelyk in hierdie verband die hermaneutiese (sic – GJD) beginsels in Ras, Volk en Nasie, Volkereverhoudinge in die lig van die Skrif, p. 9-10.)

Hierdie oortuiging van die Reformasie het meegebring dat dit van die begin af gekant was teen ’n wettiese omgang met die Skrif wat nie na behore rekening hou met die uitlegkundige reëls nie en die Skrif benader asof dit ’n wetboek met artikels is wat buite verband te pas en te onpas aangehaal kan word. Teenoor die anabaptistiese en sektariese hantering van die Skrif het die reformatore deurgaans afwysend gestaan. Dit blyk duidelik uit hulle beroep op die Skrif, selfs in dogmatiese kwessies, soos byvoorbeeld hulle behandeling van die kinderdoop. Maar dit blyk ook uit hulle hantering van die Skrif in liturgiese en kerkregtelike vrae, soos byvoorbeeld hulle afwysing van die Rooms-Katolieke beroep op die Ou-Testamentiese erediens met sy seremonies, priesterskap en offers. Selfs wat die Nuwe Testament betref, het die Reformasie nie alle konkrete toepassings van beginsels van die Christelike gemeenskap soos ten opsigte van die eerste gemeente meegedeel word, as normatief vir die kerk, van alle eeue aanvaar nie (byvoorbeeld vrywillige gemeenskap van goedere, voetwassing, broederlike kus, ens.).

Reeds in die sewentiende eeu kom die onderskeiding tussen die normatiewe en die historiese gesag van die Skrif na vore. Dié onderskeiding hang saam met die insig in die aard van die Skrif as ’n historiese boek wat nie gehanteer mag word asof alles wat daarin staan, op dieselfde vlak lê, sonder dat daar noukeurig rekening gehou moet word met die vraag waarom dit meegedeel word, in watter omstandighede dit uitgespreek is, aan watter adres dit gerig is en wat die betekenis daarvan binne die raamwerk van die sentrale boodskap van die Skrif is nie. Een uitvloeisel van dié onderskeiding was dat die vaders geweier het om normatiewe betekenis toe te ken aan historiese gebeurtenisse of die stand van sake wat in die Skrif meegedeel word, tensy dit duidelik is dat die Skrif dit self binne die konteks van sy boodskap as normatief vir alle tye bedoel. Daarom het hulle ’n beroep op die optrede van Bybelheiliges, die optrede van die eerste gemeente en die omstandighede tydens die instelling van die Nagmaal, asof dit alles normatief sou wees vir die kerk van alle tye, afgewys (vergelyk byvoorbeeld die Rooms-Katolieke beroep op die veertig vasdae van Moses, Elia en Jesus as Skrifgrond vir die kerklike vastyd in die voorjaar, maar ook die sektariese beroep dat Jesus as volwassene gedoop is, die vrywillige gemeenskap van goedere, die liefdesmaaltye, ens.). Van sulke dinge het hulle geoordeel dat dit daarin gaan om “aksidentele en okkasionele” dinge wat as sodanig nie bindend is vir die kerk nie. Die blote vermelding van gebeurtenisse of die stand van sake in die Skrif maak dit nog nie normatief vir ons nie.

Soos Bavinck dit later sou formuleer, het die Reformasie van die begin af besef dat die Skrif nie kan en mag opgevat word asof alles wat daarin staan, vir ons normatiewe betekenis het nie, al erken ons ook dat dit histories waar is. Die openbaring van God, sê Bavinck, is aan ons gegee in die vorm van ’n geskiedenis. Dit het verskillende tye deurloop. Daarom dra die Skrif self ook ’n historiese karakter, waarmee deurgaans by die uitleg van die Skrif rekening gehou moet word. (Vgl Bavinck, Geref. Dogm. I, 429.) Volgens die organiese Skrifinspirasieleer is die Bybel die onfeilbare Woord van God, maar die Woord is aan ons gegee in die taal van mense, waarby die Heilige Gees nie die eie-aard, persoonlikheid, gawes, historiese gesitueerdheid, kulturele niveau en kennishorison van die Bybelskrywers uitgeskakel het nie, maar dit juis gebruik het om daarin en daardeur die ewige Woord van God aan ons te bring. Waar die Skrif ’n ervaringstaal spreek, beteken dit nog nie dat die wêreldbeeld wat destyds gegeld het, deur die Skrif as openbaringswaarheid gesanksioneer word nie. In die omgang met die Skrif moet dus rekening gehou word met die tydsbetrokkenheid van die Skrifwoorde. Dit beteken dat elke willekeurige beroep op ’n Skrifwoord uitgeslote is.

Hieruit is dit reeds duidelik dat dit volkome benede die maat is as daar op die klank af ’n beroep op bepaalde Skriftekste gedoen word sonder inagneming van die hermeneutiese reëls. Dit gebeur nie alleen wanneer gemeentelede hulle soms op die voorbeeld van die Bybelheiliges beroep sonder om duidelik te kan maak waarom hulle dit doen nie, maar ook wanneer allerlei Bybelse insettinge op ’n betreklik willekeurige wyse in die Ou Testament uitgesonder en geldig verklaar word vir die kerk van vandag, terwyl ander eenvoudig oor die hoof gesien word. In so ’n Skrifberoep gaan dit daar dikwels uiters vreemd toe, omdat die persoon wat hom op die Skrif beroep, noodwendig ’n keuse maak uit die Skrif en dikwels uit ’n bepaalde hoofstuk vir wat hy as normatief wil beskou, terwyl hy die res eenvoudig laat links lê. En dit alles geskied met die pretensie dat hy na die Skrif alleen wil luister. Hy merk nie self dat hy van bepaalde vooropgesette opvattings uitgaan in sy keuse van waarop hy hom op die Skrif beroep nie, en hy laat die hele kwessie van die historiese konteks van die Skrifwoord buite rekening. Voorbeelde hiervan kan maklik gevind word in die resente besprekings oor die kleredrag van vroue, die dra van hoede in die kerk, die gebedshouding, die ampskleed van predikante, die gee van tiendes en die Sabbatskwessie. Dit is noodsaaklik dat die lidmate van die kerk daarvan bewus gemaak moet word dat so ’n omgang met die Skrif ’n ernstige aantasting van die ware luister na die Skrif is.

4.2     Ons reformatoriese vaders was baie goed bewus van die historiese karakter van die Skrif, al is dit waar dat die volle konsekwensies daarvan eers sedert die agtiende eeu in die kerk deurgedring het. Dit blyk uit die wyse waarop hulle rekening gehou het met die heilshistoriese voortgang in die Skrifopenbaring. Tussen die Ou en die Nuwe Verbond is daar ’n definitiewe insnyding met die koms van Christus, en daarom moet die Ou Testament nie alleen in die lig van die Nuwe gelees en geïnterpreteer word nie, maar moet daar veral by die Skrifberoep in etiese kwessies rekening gehou word met die heilshistoriese gesitueerdheid van die gebooie in die Bybel, dit wil sê met hulle historiese plek binne die heilsgeskiedenis.

Vanuit die oortuiging dat die Ou Testament in Christus vervul is, is dit dus duidelik dat die insettinge van die Ou Testament nie meer op dieselfde wyse op Christene van toepassing is ná die koms van Christus nie. Dit word duidelik in art. 25 van die NGB uitgespel. Om duidelik te maak watter gebooie van die Ou Testament nie meer vir Christene geld nie, is gebruik gemaak van die onderskeiding tussen morele, seremoniële en burgerlike wette in die Ou Testament, waarby dit dan duidelik is dat die seremoniële en burgerlike wette in Christus hulle vervulling gevind het en daarom nie meer deur Christene onderhou hoef te word nie, terwyl die morele wette, hoewel ook in Christus vervul, nogtans vir die Christene bindend gebly het. Dit wil nie sê dat die burgerlike en seremoniële wette glad geen betekenis meer vir die Christene het nie. Deur die prediking van dié wette word Christene nie alleen bewus van wat in Christus vervul is nie, maar leer hulle ook om te sien wat die waarheid en wese – in morele sin – van dié wette was, en daaraan is hulle nog steeds gebonde. Hoewel daar aan die onderskeiding tussen burgerlike, seremoniële en morele wette ernstige besware kleef (soos byvoorbeeld dat dit onmoontlik is om dié elemente altyd duidelik te onderskei), het dié onderskeiding tog gehelp om aan die heilshistoriese voortgang in die openbaring van God reg te laat geskied, en so duidelik te maak dat daar nie maar na willekeur ’n beroep gedoen kan word op sommige Ou-Testamentiese insettinge, terwyl ander buite rekening gelaat word nie, maar dat hermeneuties onderskei moet word tussen wat wel en wat nie meer op ons van toepassing is nie. So alleen kan reg geskied aan die element van diskontinuïteit én die element van kontinuïteit tussen die insettinge van die Ou Testament en wat van ons in ons situasie gevra word. (Voorbeeld: Ons is nie meer verplig om te offer of om ons “tiendes en offergawes” na die “skathuis” te bring nie – Maleagi 3:10 – maar ons is natuurlik wel verplig om onsself tot ’n lewende dankoffer aan God te wy met alles wat ons het en is, en dus onder meer ook na ons vermoë as rentmeesters van God by te dra vir die verkondiging van die evangelie en die instandhouding van die erediens.)

Die heilshistoriese gesitueerdheid van die gebooie van die Ou Testament maak dit dus moontlik om te onderskei tussen die blywende wil van God en die histories-konkrete uitdrukking wat in ’n bepaalde situasie en in bepaalde omstandighede aan die wil van God gegee is. So kon Kuyper met name sê dat slegs die “morele” wette van die Ou Testament, soos dit veral in die Tien Gebooie saamgevat is, nog vir die Christene geldig is, omdat die blywende wil van God daarin tot uitdrukking kom, terwyl die konkrete vorme waarin dit in die burgerlike lewe van Israel neerslag gevind het, van ’n verbygaande aard was en nie bedoel is om op dieselfde wyse in stand gehou te word noudat die partikularistiese bedeling van die Ou Testament verbygegaan het nie. Kuyper het hom met die hele saak diepgaande besig gehou en steeds duideliker onderskei tussen bepaalde “algemene beginsels” wat in die Skrif vir ons lewe op elke terrein gegee is, en die konkrete gebooie van die Bybel waarin die beginsels ’n “histories-tydgebonde” toepassing gevind het. Wie dus in die lig van die Skrif wil bepaal wat die wil van God vir ons lewe is, moet volgens hom leer om te onderskei tussen die algemene beginsels en die historiese konkretiseringe daarvan. Slegs eersgenoemde is vir die Christene bindend, maar moet in hulle nuwe situasie opnuut toegepas word. In sy werk De Gemeene Gratie hou Kuyper hom besig met die vraag hoe daar ’n verband gelê moet word tussen die Skrif en die moderne lewe. Sy antwoord is dat die verband alleen gelê kan word as die algemene Skrifbeginsels deur ons ontdek kan word in hulle betekenis vir die moderne lewe.

Die weg wat deur Kuyper aangedui is, het in die gereformeerde teologie wye ingang gevind, ondanks die feit dat daarteen ook ernstige kritiek na vore gebring is, veral omdat dit maklik kan lei tot die hantering van die Skrif asof dit ’n opslagplek van algemene beginsels is waaruit dan op ’n skolastieke manier afleidinge gemaak kan word wat nie meer in direkte verband staan met die ware bedoeling van die Skrif nie. Tog is daar in die gereformeerde teologie probeer om aan hierdie gevare te ontkom, terwyl daar nogtans in algemene sin gebruik gemaak is van die weg wat Kuyper aangetoon het. Die gereformeerde etikus wat dit die versigtigste probeer doen het, is seker G. Brillenburg Wurth wat deurgaans die standpunt ingeneem het dat die Skrif “fundamentele beginselen” vir al die verhoudinge binne die lewe van die maatskappy – ook die moderne maatskappy – bevat. Die gebod van God, sê Wurth, word aan ons in die Skrif bekend gemaak in die vorm van fundamentele sedelike riglyne en motiewe. Die Bybel gee hierdie fundamentele riglyne egter nie in ’n abstrakte vorm aan ons nie, maar steeds in die vorm van die konkrete toepassing soos dit deur Moses, die profete, deur Jesus self en deur sy apostels verstaan, in praktyk gebring en aan ander onderwys is (Het Christelijk Leven in de Maatschappij, 152/153). Om te erken wat die wil van God vir ons lewe is, moet die Woord van God noukeurig ondersoek word, maar daarby moet ernstig rekening gehou word met die besondere situasie waarin Gods gebod aan ons verkondig word, “zo serieus mogelijk ons afvragend, in hoever wij hier te doen hebben met geboden van een algemener strekking of met voorschriften, die een uitgesproken ‘zeitbedingt’ tydgebonde (sic – GJD) dragen” (a.w., 154). By die bepaling van wat die algemene sedelike beginsels van die Skrif is, bring Wurth die totale boodskap van die Skrif ter sprake. Nie alleen wat oor ’n spesifieke saak in die Skrif gesê word nie, maar ook die lig wat vanuit die boodskap van die Skrif in al sy aspekte vir ’n spesifieke saak van belang is, word in berekening gebring (bv.: Wat beteken die boodskap van die Skrif oor die skepping, die sondeval, die verlossing, die mens, ens., vir ’n bepaalde vraagstuk?). Wurth voeg daaraan toe dat ons die situasie waarin ons self moet handel, deeglik moet ontleed, en dat ons dan in die lig van wat die hele Skrif ons leer, daartoe moet oorgaan om die fundamentele riglyne van Gods gebod wat ons in die Woord van God gevind het, opnuut in ons eie situasie toe te pas.

Hierdie wyse van omgang met die Skrif word ondersteun deur ’n eksegeet soos HN Ridderbos, wat daarop wys dat daar by Paulus ’n groot aantal konkrete gebooie en voorskrifte voorkom, wat telkens saamhang met die historiese en wisselende situasie waarin die gebod van God gehoorsaam moet word. Wanneer hierdie voorskrifte egter van nader bekyk word, blyk dit dat die konkrete voorskrifte, ondanks hulle toespitsing op konkrete situasies, tog deur Paulus self in verband gebring word met algemene sedelike gesigspunte en leefreëls soos dit in die geopenbaarde wet van God neergelê is (Paulus, 304-307). Paulus voed ook sy gemeente op om vanuit sulke algemene gesigspunte hul konkrete vrae te benader. Naas Ridderbos is daar ook eksegete buite die gereformeerde kring wat dieselfde standpunte huldig, soos byvoorbeeld W. Schrage in sy bekende werk: Die konkreten Einzelgebote in der paulinischen Paränese.

Die konklusie wat uit hierdie oorweging getrek kan word, is dat dit nie slegs die Ou Testament geld nie, maar die hele Bybel, dat daar nie op ’n willekeurige wyse en op die klank af ’n beroep op konkrete gebooie en insettinge van die Skrif of ’n bepaalde stand van sake gedoen kan word, asof hulle sonder meer in dieselfde vorm vanselfsprekend vir die kerk van alle eeue normatief is nie. Daar moet uitlegkundig onderskei word wat presies die bedoeling van sulke gebooie is in die spesifieke historiese situasie waarin hulle gegee is, ten einde te kan vasstel hoe dit konkrete uitdrukking verleen aan die blywende wil van God soos dit in die wet van God neergelê is, voordat beslis kan word oor die vraag hoe daardie konkrete gebooie in die nuwe situasie van vandag gehoorsaam moet word.

4.3     Die rede waarom gereformeerde teoloë soveel klem gelê het op die onderskeiding tussen Gods algemene gebod en die konkrete, tydsbetrokke toepassings daarvan, is dat so nie slegs aan ’n ongeoorloofde Bybeluitleg ontkom kan word nie, maar terselfdertyd ook die blywende betekenis van die gebooie van die Skrif vir die kerk van alle tye gehandhaaf kan word, ondanks die historiese karakter van die Skrif. Veral die laaste gesigspunt is uiters belangrik in die lig van die groot kulturele en historiese afstand tussen die Skrif en die moderne tyd.

In die Ou Testament het ons te make met die kultuur van rondtrekkende stamme en later met dié van ’n landelike gemeenskap wat ongekompliseerd uit die landbou en veeteelt leef. In die Nuwe Testament het ons ewe-eens te make met ’n landboukundige en voor-industriële dorpskultuur. Die toestand en verhoudinge tussen die mense was daarin uiteraard totaal verskillend van die toestande en verhoudinge in die moderne, uiters gesofistikeerde tegniese en gesekulariseerde stadskultuur waarin die kerk vandag bestaan. Solank die kulturele situasie van die Christene ’n nog groot mate van ooreenkoms vertoon het met die kulturele situasie wat in die Bybel veronderstel word, was dit waarskynlik makliker om die direkte weg van die insettinge van die Skrif na die samelewing met sy etiese problematiek te vind. Namate die kultuur egter ’n steeds meer gekompliseerde karakter aangeneem het vanweë die ontwikkeling in ’n industriële en tegniese rigting, het dit steeds moeiliker geword om enige direkte beroep op die Skrif te doen in verband met sedelike probleme en situasies wat nie in die Skrif in soveel woorde ter sprake kom nie. Daar is baie dinge in die moderne wêreld waaroor die Skrif geen uitspraak lewer nie, terwyl sommige dinge waaroor die Skrif wel ’n mening uitspreek (byvoorbeeld die kwessie van oorlog) in ons tyd vorme en afmetinge aangeneem het wat nie binne die visier van die Bybelskrywers geval het nie. Die hele ekonomiese problematiek en die wetenskap, die politiek en die staat, die huwelik en die gesin het in die moderne tyd ’n gedaanteverandering ondergaan en ons voor probleme gestel wat nie direk in die Skrif ter sprake kom nie, omdat die Skrif histories gerig was aan mense in ’n ander kulturele situasie. Gehoorsaamheid aan die Skrif kan nie beteken dat ons vanuit die moderne kultuursituasie moet terugkeer na die kulturele fase van die mense in die tyd van die Bybel nie. Gehoorsaamheid aan die Skrif kan alleen daarin bestaan dat ons ons deur die Skrif laat leer wat die wil van God vir die lewe in alle kulturele fases is, soos dit in die totale boodskap van die Skrif neergelê en in die konkrete gebooie van die Skrif konkreet in die geskiedenis toegepas is. Vanuit die algemene gesigspunte soos dit in die konkrete toespitsings nader omlyn word, moet dan in ons eie tyd en kulturele situasie opnuut gevra word na wat die wil van God konkreet vir ons is.

By benadering van ’n etiese probleem kan ons nie maar daarmee volstaan om in die Skrif na ’n konkrete voorskrif oor die spesifieke saak te soek nie. Dan sal ons dikwels moet konstateer dat die Skrif hom nie daaroor uitspreek nie. Ons sal moet onderskei wat die wesenlike sedelike gesigspunte is wat in die spesifieke vraagstuk na vore kom, en dan in die lig van die sedelike boodskap van die Skrif as geheel na ’n antwoord op ons etiese vraagstuk soek.

Die Bybel bied nie ’n voorskrif oor elke moontlike saak wat in ons moderne wêreld mag opduik nie, maar die Bybel bied wel leidende motiewe, algemene gesigspunte, teologiese koördinate, vaste bakens in die see waarin ons onsself moet oriënteer. Daar kan nie altyd so maklik in enkele woorde gesê word wat hierdie algemene riglyne is nie.

Daar is natuurlik die dubbelgebod van die liefde. Daar is die Tien Gebooie en die verdieping daarvan in die Bergrede. Daar is die normatiewe gesigspunte wat gegee is met die skepping, soos die Skrif getuig. Daar is die lig wat val vanuit die herskepping in Christus, wat vanweë die sonde baie diep insny in die wêreld soos ons dit ken en die eis stel van selfverloëning, kruisdra, die stryd teen die begeertes van die vlees. Daar is die apostoliese vermaninge en die beskrywing van die vrug van die Gees. Daar is die gesigspunte van die kultuurtaak wat die mens opgelê is, die waarde van die mens as skepsel van God, en die hoop op die uiteindelike totale vernuwing van alle dinge. So kan ons voortgaan. Die totale boodskap van die Skrif het ’n sedelike kant wat nie net vir die personeel-etiese nie, maar ook vir die sosiaal-etiese werklikheid normatiewe betekenis het.

Dit is daarom nie raadsaam om die sedelike boodskap van die Skrif net onder één noemer te wil saamvat, soos byvoorbeeld onder die noemer van die skepping met sy vaste ordeninge, of onder die noemer van die Christelike hoop op die vernuwing van alle dinge waaraan die Christen nou reeds moet meewerk, of selfs net onder die noemer van die liefde nie, tensy duidelik gemaak word hoe omvattend die liefde volgens die Skrif is. ’n Beroep op die totale Skrif met sy totale boodskap is hier deurslaggewend.

Om hierdie rede kan ons ook nie akkoord gaan met diegene wat skerp krities staan teenoor die idee dat daar in die Skrif sekere algemene beginsels gebied word, en daarom liewer daarvan afsien om hulle in konkreet-etiese kwessies op die Skrif te beroep nie.

Ons beswaar teen ’n dergeliks standpunt is dat dit die Christen in etiese kwessies weglei van die Skrif af met die veronderstelling dat ons tans in staat sou wees om sonder die Skrif die wil van God vir ons lewe op te spoor, deurdat ons ons laat lei deur ons natuurlike sedelike besef, of deur die skeppingsbeginsels wat ons in die geskape werklikheid kan ontdek. Ons is van oortuiging dat die erns van die sondeval daarmee gerelativeer word. Ons lewe in ’n sondige, gebrekkige werklikheid. Selfs die insig van die wedergebore mens is relatief, feilbaar. Ons het die lig van die Skrif as die besondere openbaring van God nodig om ons stap vir stap op die weg te lei. Bowendien swaai die skaal by hierdie beskouinge in die rigting van die voorrang van die algemene openbaring bó die besondere, waarmee na ons mening meermale aan die unieke betekenis van Gods openbaring in Christus onreg gedoen word. Die verlossing in Christus is nie slegs aan ons gegee om ons oog te herstel vir die waarheid wat al van die begin af in die skepping opgesluit lê nie, maar dit het sy stempel afgedruk op die wil van God vir ons lewe, en die kontoere van hierdie stempel wat die geskiedenis van God met die mense deurleef het, is nie in die skepping nie, maar in die Skrif aangeteken. ’n Etiek wat alleen op ons natuurlike sedelike besef of op ons insig in die skeppingsbeginsels opgebou sou word, en die versoening en verlossing in Christus, die kruis en die opstanding (sic – GJD), die wederkoms en die vernuwing van alle dinge alleen as wegspringplek gebruik, sonder om die gebod wat daaruit tot ons kom, ten volle te hoor, kan geen volledige Christelike etiek wees nie. Hoe waar dit ook is dat dit ’n delikate taak is om op die regte wyse met die Skrif om te gaan by die bepaling van wat die boodskap daarvan vir ons in allerlei konkrete sedelike kwessies is, mag ons tog die beroep op die Skrif nie dáárom prysgee nie. Die Skrif is natuurlik geen wetboek nie, en die poging om allerlei klaar geformuleerde, abstrakte “beginsels” uit die Skrif af te lei, kan – veral as die sentrale bedoeling van die Skrif nie voldoende in gedagte gehou word nie – tot ’n rasionalistiese, wettiese en selfs willekeurige hantering van die Skrif lei. Tog kan ons nie daaraan verbykom dat die Skrif wél die bron van die suiwere waarheid is en derhalwe ook van die suiwere kennis van wat sedelik reg en verkeerd is nie. Die Skrif bevat grondwaarhede, motiewe en gesigspunte wat fundamenteel is vir ons kennis van die wil van God en nie buite die Skrif om geken kan word nie. Die Bybel gee nie aan ons voorskrifte en inligting oor elke spesifieke saak nie, maar lig ons tog op ’n gevarieerde wyse in oor die wil van God vir ons totale lewe. Hoe ingewikkeld ons moderne problematiek ook al is, ten diepste is dit tog ’n menslike problematiek wat by die bodem van alle vrae by dieselfde dinge uitkom waarmee die mens van alle tye – ook in vroeëre, minder gekompliseerde kulturele fases – gekonfronteer was. Wanneer ons ons probleme onder leiding van die Heilige Gees tot op die bodem kan deurskou in die lig van die Skrif, sal ons ook in die lig van die Skrif die rigting kan peil waarin ons die oplossing moet soek.

Juis op hierdie punt is dit nodig om daaraan toe te voeg dat die verband tussen die Skrif en die praktyk nie maar net iets is vir die studeerkamer van die teoloog nie. Vanweë die ingewikkeldheid van die moderne problematieksal die ontleding van ons probleme noodwendig moet geskied met die hulp van kundige en wetenskaplik-geskoolde lidmate van die kerk uit verskillende dissiplines, sodat dit presies duidelik kan wees waaroor die vraagstelling gaan. Etiek het ’n wetenskap geword waarin mense uit verskillende rigtings van die wetenskap met mekaar behoort saam te werk.

Maar meer nog: die Christelike oordeel oor sedelike kwessies is nie net iets vir die wetenskap nie, maar vir die gemeente self. Die gemeente van Christus leef met die Woord in die wêreld en ontvang onder leiding van die Gees die wysheid om die brug te slaan tussen die (historiese) Skrif en die moderne wêreld met sy problematiek. Die lig van die Skrif is nie maar net die resultaat van ’n goeie wetenskaplike hermeneutiek nie. Die waarheid is nog altyd magtiger as onsself. Die waarheid heers oor ons, en nie ons oor die waarheid nie. Daarom is dit ook ’n saak van gebed en gelowige verwagting dat God die gemeente fyngevoelig sal maak vir die dinge waarop dit werklik aankom in die doen van die wil van God in elke konkrete situasie (vgl. Filippense 1:9–11; Kolossense 1:9–10).

5. Samevattende Gevolgtrekkings

5.1     Die reformatoriese “sola Scriptura” moet verstaan word as ten nouste verbonde met die solus Christus, sola gratia en sola fide, wat teenoor Rome bely is. Aan die een kant het dit polemiese betekenis teenoor “plus” van Rome (Skrif plus tradisie, Christus plus die heiliges, genade plus verdienste, geloof plus werke). Aan die ander kant het dit ook betekenis vir die wyse waarop die reformasie die Skrif vanuit die sentrale bedoeling as die verkondiging van die ware kennis van God, onsself in Christus Jesus verstaan het (Calvyn, Institusie 1, 1).

5.2     Die “sola Scriptura” hou in dat die Skrif betroubaar, genoegsaam, duidelik en noodsaaklik is vir ons kennis van God, sodat ons die saligheid deelagtig kan word en tot sy eer kan lewe (NGB, art. 2). Dit beteken dat die Skrif alleen aan ons die heilsweg in Christus toon, maar ook dat, in verband daarmee, aan ons die blywende wil van God vir ons hele lewe bekend gemaak word. Die Skrif alleen is die bril waardeur ons die openbaring van God in die werke van sy hande reg kan verstaan, en ten opsigte van ons kennis van die wêreldwerklikheid stel die Skrif ons alleen in staat om dit op die juiste wyse in verband te bring met ons kennis van God.

5.3     Die regte omgang met die Skrif vereis dat die Skrif verstaan moet word vanuit sy ware bedoeling, nl. om ons wys te maak tot saligheid in Christus Jesus en ons die volkome toerusting te gee tot goeie werke in diens van God.

Daarom is die Bybel geen handboek vir die wetenskap nie. Nogtans bevat die Skrif in verband met sy verkondiging van die heil in Christus grondwaarhede wat van fundamentele betekenis is vir al die terreine van ons kennis. Die vraag wat hierdie grondwaarhede is en hoe hulle in verband met ons kennis op alle terreine behoort te funksioneer, kan alleen uitgemaak word langs die weg van ’n verantwoorde omgang met die Skrif en ’n noukeurige aftasting van die implikasies van die boodskap van die Skrif vir spesifieke terreine van ons kennis, bv. op die gebied van die wetenskap en die kuns.

5.4     Wat die Skrifberoep in die etiek betref, is dit noodsaaklik om alle vorms van opportunistiese, wettiese en willekeurige beroep op die Skrif af te wys. Die beroep op die Skrif het alleen betekenis as die juiste reëls vir die uitleg van die Skrif in ag geneem word. Tot die juiste reëls vir die uitleg van die Skrif behoort dat elke woord van die Skrif verstaan moet word binne die verband waarin dit staan, dat die juiste historiese betekenis daarvan vasgestel moet word en dat dit geïnterpreteer moet word in verband met die sentrale bedoeling van die Skrif as verkondiging van die verlossing in Christus en die koms van Gods koninkryk (vgl. Ras, Volk en Nasie, Volkereverhoudings in die Lig van die Skrif, p 9–10). Dit beteken met name dat die heilshistoriese gesitueerdheid en betekenis van elke woord van die Skrif ten volle in berekening gebring moet word.

5.5     In ons omgang met die Skrif is dit duidelik dat daar in die Bybel bepaalde algemene gebooie en sedelike beginsels voorkom wat vir die mense van alle tye normatiewe betekenis het, maar dat hierdie algemene gebooie en beginsels nie in ’n abstrakte vorm aan ons gegee word nie, maar deurgaans in die vorm van konkrete voorskrifte aan bepaalde mense in hulle spesifieke historiese situasies. Dit hoort tot die taak van ’n verantwoorde vertolking van die Skrif om te onderskei tussen die algemene gebooie van God en algemene sedelike gesigspunte wat vir die mens van alle tye geld, en die konkrete toepassing of toespitsings daarvan in bepaalde gevalle, wat nie noodwendig net so vir ons geld nie, ten einde die gemeente van ons dag in staat te stel om in die eie tyd en situasie die algemene gebod van God opnuut te kan gehoorsaam.

5.6     Ook in gevalle waar ons in die moderne wêreld met probleme te make het wat nie direk in die Skrif ter sprake kom nie, het die Skrif nogtans vir ons deurslaggewende betekenis by ons sedelike beslissings, omdat die Skrif aan ons in verband met sy totale boodskap algemene motiewe en gesigspunte bied waarvolgens ons ons eie probleme moet beoordeel ten einde te kan ontdek wat ons behoort te doen. Terselfdertyd moet ons ons probleme tot op die been ontleed om te ontdek wat die ware sedelike vrae is wat daarin aan die orde is, sodat ons in die lig van die totale boodskap van die Skrif daarop kan antwoord.

5.7     By die bepaling van wat as die algemene gebooie of sedelike beginsels vir ons lewe in die Skrif gegee is, moet daarteen gewaak word om nie die bedoeling en sentrale boodskap van die Skrif uit die oog te verloor en so gevaar te loop om dinge tot algemene Skrifbeginsels te verhef wat binne die konteks van die Skrif nie as sodanig geld nie. Historiese mededelings van die Skrif of mededelings van die stand van sake kan alleen algemene normatiewe betekenis besit as die Skrif self binne die konteks van sy boodskap sodanige betekenis daaraan heg.

5.8     Hoewel dit moeilik is om op die regte wyse te bepaal wat die algemene sedelike beginsels is wat die Skrif aan ons voorhou op die gebied van die maatskaplike lewe, die ekonomie en die politiek, mag ons tog nie daarvan afsien om die lig van die Skrif oor hierdie sake te soek nie. Dit is vir die kerk onaanvaarbaar dat ons op die gebied van die etiek aangewese sou wees op ons natuurlike sedelike besef of op ons kennis van algemene skeppingsbeginsels, as of ons nie die openbaring van God in Christus nodig het vir ons kennis van die sedelike norme waarvolgens ons behoort te lewe nie.

5.9     Die leiding van die Heilige Gees is onontbeerlik vir die persoonlike omgang met die Skrif en die gemeenskaplike wandel van die hele gemeente in die lig daarvan. Die ontdekking van die wil van God vir ons lewe kom nie tot stand deur ’n blote rasionele hantering van beginsels nie, hoewel dit waar is dat ons God ook met ons verstand moet liefhê en dat ook ons redelike insig in die bedoeling en betekenis van die Skrif ’n rol speel in ons verstaan van die wil van God in elke konkrete situasie. Tog sal ons moet sê dat ons nie oor die waarheid van Gods Woord beskik nie, maar dat dit oor ons beskik. Daarom moet die gemeente voortdurend bid om die opening van ons oë om te kan onderskei waarop dit aankom en wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is (Filippense 1:10; Romeine 12:2).

 

[1] Hier die teks is nie onder Jonker se naam gepubliseer nie. Dit is egter algemene kennis is dat hy die outeur daarvan was. Sien Van Niekerk, AA, Jonker se Teologiese Etiek, NGTT, vol. 52(3 & 4), Sep/Des 2011, 589.

Voetnotas

Show 1 Footnote

  1. Hier die teks is nie onder Jonker se naam gepubliseer nie. Dit is egter algemene kennis dat hy die outeur daarvan was. Sien Van Niekerk, AA – Jonker se Teologiese Etiek, NGTT, vol. 52(3 & 4), Sep/Des 2011, 589.