NG Ring van Kaap die Goeie Hoop, W.D. Jonker Gedenklesing
NG Kerk in SA Argief, Stellenbosch
30 Oktober 2016.
“Kranksinnige waagstuk”. Willie Jonker, kerkregtelike en bedienaar van die Woord.
Oor moderators, moderature, gesag, bindende besluite en appèlle.
1. Inleiding
U sou seker wou vra of ék nie die kranksinnige is om hiérdie opskrif te kies vir ’n gedenklesing ter herdenking van ’n man vir wie vele groot waardering en bewondering het nie. Ek kan u gerusstel dat ek darem nog nie gesertifiseer is nie. En die opskrif verwys beslis ook nie na prof. Willie Jonker, hoogleraar in Kerk- en Dogmageskiedenis en Kerkreg aan Unisa nie – hoewel sommige dalk reken dat almal wat hulle in kerkreg verdiep, so ’n effense klap van die windmeul weg het!
Ek sal die aap solank deur ’n skrefie van die mou uitlaat – in die vertroue dat u aan die einde van hierdie gedenklesing die subtitel sal begryp: dié kerkreg professor was kerkregtelike én bedienaar van die Woord. En die opskrif “Kranksinnige waagstuk” is tussen aanhalingstekens want dit is inderdaad ’n aanhaling – waarna ek so flussies sal verwys.
Maar dalk dink u ook dat ’n paar van my varkies nie op hok nie is nie omdat ek juis op hiérdie stadium van die geskiedenis van die Ned. Geref. Kerk – presies ’n week voor die eerste buitengewone sitting van die Algemene Sinode in die geskiedenis – ’n onderskrif aan die subtitel toevoeg en dit wil waag om oor moderators, moderature, kerklike gesag, bindende besluite én appèlle te wil praat! En dan die kersie op die koek: om dr. Beyers Naudé by die appèlle te betrek.
Laat ek dan maar by die diep kant induik en met die moderators begin … Maar eers, hoe het Jonker by die kerkreg betrokke geraak dat hy hom oor hierdie dinge sou uitlaat?
2. Van sistematiese teologie na kerkreg
Jonker het in 1955 in sistematiese teologie (dogmatiek) oor ’n ekklesiologiese tema by prof. G. C. Berkouwer aan die Vrije Universiteit, Amsterdam gepromoveer. Sy proefskrif verskyn onder die titel Mistieke liggaam en kerk in die nuwe Rooms-Katolieke teologie. Terug in Suid-Afrika is die eerste wat uit sy pen gepubliseer word, twee artikels waarin hy die hoofsaak van sy proefskrif onder die titel “Genade en Kerk” in Die Kerkbode publiseer. 1. Slegs drie weke later pak dié 26-jarige jong dominee, skaars 5 maande in die bediening, “Die Rooi Bul” – soos ons as studente hom genoem het – dr. T. N. (Tobie) Hanekom, redakteur van Die Kerkbode, in ’n brief “Ons Kerk ’n Volkskerk?” wat in Die Kerkbode gepubliseer is. Daarin reageer hy op ’n hoofartikel van Hanekom wat op sy beurt dr. A. C. (Attie) Barnard voor stok kry oor ’n artikel waarin Barnard geskryf het “Ons dierbare Kerk het ’n Volkskerk geword.” Jonker het dit teen die “één Kerk – één volk-verhouding” wat tussen die Ned. Geref. Kerk en die Afrikanervolk bestaan het. Hy rig hom teen ’n Kerk wat ten koste van sy eie heiligheid na uitbreiding en grootheid soek, en gevolglik ’n kerk is waaraan die massas behoort, ’n “massakerk, die rijp en groen in zich opneemt, die de wereld doopt en die de zichtbare kerk met de wereld vereenzelvigt” – haal hy Abraham Kuyper aan. 2.
Dit was die begin van ’n lewenslange bediening aan die Ned. Geref. Kerk om te waarsku teen die gevare van die volkskerk. Dit was terselfdertyd die begin van sy bediening as kerkregtelike. Die Ned. Geref. Kerk het inderdaad wel die probleme van “ryp en groen” in die kerk raakgesien, maar die “oplossing” wat bedink was, was tipies piëtisties-metodisties. Evangelisasie was die antwoord! Hy skryf:
“Natuurlik moet die Kerk dan die tug verwaarloos, of altans sommige aspekte van die tug. Dan gaan die Kerk met allerlei spesiale middele binne sy eie grense evangeliseer!… waar die Kerk nie meer die vergadering van ware Christus-gelowiges is … nie, maar ’n evangelisasie-instituut …” 3.
Jonker het met egte Bybels-teologiese insig aan die kerk verkondig dat ongelowiges geëvangeliseer, maar mense wat belydenis van geloof afgelê het, met Bybelse tug teruggeroep moet word na die gemeenskap van die heiliges. Van vroeg tot laat het hy oor die tug gepreek, artikels geskryf, gemeentes en ringe toegespreek en later ook, ten tye van sy voormalige dogmatiek professor – prof. A. B. du Preez – se langverlof, lesings aan die teologiestudente oor die kerklike tug aangebied. Die resultaat van dié lesings was ’n verwerking in ’n veel geroemde boek En as jou broeder sondig ... 4. Jonker het hom al meer oor kerkreg uitgelaat en word hy allengs in die Ned. Geref. Kerk as kundige beskou. Dit het daartoe gelei dat hy in 1960 verkies is as aktuarius van die Sinode van Suid-Transvaal.
Wat Jonker se kerkreg besonders maak (nie noodwendig uitsonderlik nie) is dat hy die kerkreg nie vanuit die reg nie, maar vanuit die sistematiese teologie, met name vanuit sy ekklesiologie, benader. Anders gesê: die klem lê op die kerk in kerkreg. Daarbý moet in gedagte gehou word dat sy ekklesiologie ’n onmiskenbare Christologiese karakter dra. Laasgenoemde is belangrik genoeg om ’n afsonderlike studie aan te wy, maar word tans nie verder bespreek nie.
3. Moderators en moderature
Voor sy verkiesing as aktuarius, reeds in 1959, laat hy hom in drie artikels in Die Kerkbode uit oor die konsep kerkorde vir die Algemene Sinode wat in 1962 tot stand sou word. Die eerste artikel handel oor die positiewe tendense wat hy in die konsep kerkorde vind en die titel verraai waarom dit vir hom gaan: “Die nuwe kerkorde: ’n Voorwaartse Stap op Dordtse Grondslag.” 5. Hy skryf “… die Dordtse Kerkorde (is) nog onaangetas in sy prestige as ’n deur-en-deur Bybels-Gereformeerde kerkorde” 6 en weer dat dit “… sonder enige twyfel die beste en suiwerste historiese formulering en samevatting van die Skriftuurlike beginsels (is) waarop die Gereformeerde kerkregering rus…” 7. Alle kritiek wat hy teen die konsep kerkorde het, is gerig op dié artikels wat afwyk van die Dordtse Kerkorde (DKO).
Die eerste is artikel 3 van die nuwe kerkorde. Dit wyk af van DKO artikel 84. DKO artikel 84 spel die sg. anti-hiërargiese beginsel uit. In artikel 3 van die nuwe kerkorde word wel – na luid van DKO artikel 84 – bepaal dat ampsdraers in die kerk nie oor mekaar mag heers nie. Maar DKO artikel 84 is nie volledig in die konsep kerkorde opgeneem nie. Die bepaling dat “Gene Kerk zal over andere Kerken … enige heerschappij voeren” word uitgelaat. Daaroor skryf Jonker: “Hierdie grondbeginsel sou ons nou graag in die nuwe kerkorde beter uitgewerk wou sien as wat … wel die geval is – en dit wel in verband met die sg. moderamen of moderatuur.” 8. Dieselfde beginsel is op die spel in sy beswaar teen ’n moderator én ’n moderatuur wat na die vergadering as ’n permanente kommissie van die sinode bly voortbestaan. Die “verantwoordelikheid” word in die hande van ’n paar persone gelaat, wat die moontlikheid van ’n hiërargie skep. Dit kan daartoe lei dat ’n persoon ’n bepaalde statuur aanneem wat uiteindelik die hoofskap van Christus verdring.
“Sodra die moderator gekies word vir ’n termyn en nie net vir die duur van die vergadering nie, kom daar tog onteenseglik mag in die hande van so ’n persoon, en die feit dat die moderator ’n soort van offisiële posisie in die kerk na geheel verkry, versterk daardie mag. Die gevolg is dat die moderator naderhand, of hy wil of nie, gesien word as ’n soort hoof van die kerk, wat die bevoegdheid besit om namens die kerk in sy geheel te kan praat. Die moderator moet by elke geleentheid toesprake hou en die kerk verteenwoordig. Hy moet teenoor buitelandse besoekers en ander persone die standpunt van die Kerk in sy geheel stel. Onwillekeurig voel die gewone lidmaat aangaande hom dat hy die hoof van die Kerk is… Al is dit ook nie kerkregtelik so nie, moreel het hierdie broeders dan meer mag in hul hande as wat enige mens in die Kerk van die Here behoort te hê… Daarom is dit so noodsaaklik dat die moderator geen offisiële posisie in die Kerk as geheel moet beklee nie en dat sy funksie slegs die van voorsitter van ’n bepaalde vergadering sal wees.” 9.
Dieselfde besware – ’n hiërargie – druk die moderatuur wat nie net vir die vergadering verkies word nie, maar vir ’n termyn. Jonker stel voor dat daar eerder ’n sinodale kommissie met nuwe personeel verkies moet word waarvan die moderator en skriba van die afgelope vergadering nie lede sal wees nie en wat na konstituering sy eie voor- en ondervoorsitter kies. 10.
Dr. J. D. (Koot) Vorster, voorsitter van die kommissie van aktuarii wat die konsep kerkorde opgestel het, het op Jonker 11 se voorbehoude oor die nuwe kerkorde gereageer in ’n artikel in die NGTT van September 1960. 12. Vorster verdedig dié Kerkorde deur te sê dat Jonker se besware teen die possie van die moderator en die moderatuur “sonder grond” is. Volgens hom kan die kerkorde “… nie anders beskryf word nie as die Dordtse Kerkorde, aangepas aan die eise van ons dag.” 13. Dié sogenaamde “eise van die dag” genoodsaak volgens Vorster juis verkiesing van ’n moderator vir ’n termyn en die kontinuering van die moderatuur na die sinodesitting. Verder is dit opmerklik dat Vorster hoofsaaklik vanuit die praktyk redeneer en dat sy artikel inderwaarheid mank gaan aan prinsipiële besinning.
Dit sou ’n misverstand van ongekende proporsies wees as iemand sou reken dat Jonker bloot bepaalde mense uit gesagsposisies wou weer. Anti-hiërargie gaan vir hom volledig en uitsluitlik om die regering van Christus in sy kerk. Dat dit presies só gebeur soos Jonker gevrees het, het en vandag nog steeds so is, kan niemand ontken nie.
Vir Jonker daarenteen, kan die kerk eerder sogenaamde funksionaliteit en effektiwiteit inboet, solank alles in werking gestel word om die alleenheerskappy van Christus in sy kerk te verseker. Hy skryf: “… nie effektiewe funksionering nie, maar ’n effektiewe beskerming van die Christus-regering in die kerk (moet) vir ons die vernaamste beginsel van kerkorde bly.” 14. Alles moontlik moet gedoen word om enige mens te verhinder om Hom sy Hoofskap in die kerk te ontneem. Reeds in 1959 hoor mens by hom die tema duidelik wat in 1965 die titel van sy intreerede by Unisa was: die hele kerkorde (én die ganse kerkreg as wetenskap) moet puntenerig alleen gaan om die regering van Christus in sy kerk. In die hele gesprek oor Jonker en die Ned. Geref. Kerk, moet voortdurend ingedagte gehou word dat dit by hom gegaan het om, daartoe genoop deur die Skrif, liefde vir die kerk – óók wanneer hy die skeefgroei in die kerk ontbloot en die Skrif daaraan bedien het.
4. Gesag in die kerk
Bogenoemde kritiek was net die voorspel vir wat sou volg. In 1960/61 vertrek Jonker na Europa om die geskiedenis van die ontwikkeling van die gereformeerde kerkreg na te vors. Die resultaat was dat hy met verdiepte insig teruggekom het. Hy het nie met ’n ander siening nie, maar na deeglike ondersoek van die bronne, as kenner van die gereformeerde kerkreg teruggekom. Tydens dié studiereis het die oortuiging by hom geryp dat hy nie langer oor die skeefgroei van die kerk waarvoor hy so lief was mag swyg nie. Waar hy tevore (teenoor prof. S. du Toit van Potchefstroom) 15 apologeet van die Ned. Geref. Kerk se kerkordes was, het dit nou verander. Voortaan sal hy die stryd aanknoop teen die uitwasse van presies dít waarteen hy in 1959 gewaarsku het: aan die een kant, kerkregtelike misstande a.g.v. die optrede van diegene met “meer mag in hul hande as wat enige mens in die Kerk van die Here behoort te hê.” Maar aan die ander kant, die sistematies-teologiese dwalings – waaronder afsonderlike kerke vir onderskei bevolkingsgroepe – wat kerkregtelik gestalte in die kerkordes aangeneem het. In Die Sendingbepalinge van die Ned Gereformeerde Kerk van Transvaal 16 spreek hy dié dogmatiese dwaling vanuit die kerkreg aan. Dié publikasie was die spilgewrig van sy bediening vanaf 1955 totdat hy in 1968 die beroep na die Theologische Hoogeschool in Kampen aanvaar het. 17. Jonker het die Ned. Geref. Kerk deur die kerkreg na die Skrif teruggeroep.
Prof. T. N. Hanekom – nie langer redakteur van Die Kerkbode nie, maar hoogleraar in kerkreg en kerkgeskiedenis aan die Kweekskool in Stellenbosch – skryf ’n skerp en negatiewe resensie wat op 3 Oktober 1962, vier maande ná die publikasie van Jonker se pamflet, in Die Kerkbode gepubliseer word. 18. Geen ander afleiding kan gemaak word nie as dat die resensie in ’n berekende publikasiestrategie deur die redakteur, dr. A. P. Treurnicht en die resensent slegs ’n week voor die eerste stigting van die Algemene Sinode gepubliseer is.
Op 11 Oktober 1962 word eers ’n konvensie gehou om die konsep kerkorde te bespreek en goed te keur. Jonker het meegewerk aan ’n verslag van die aktuarii oor voorgestelde wysigings wat aan die konvensie voorgelê was. 19. Dr. J. D. (Koot) Vorster was die voorsitter van daardie kommissie van aktuarii en hy is ook later tot eerste aktuarius van die Algemene Sinode verkies. Die resensie het Jonker baie skade berokken. Hy skryf:
“Die etiket van liberalisme is spoedig om my nek gehang. Dit was in dié tyd ’n gewilde skeldwoord … Met dié etiket is ek gelyktydig teologies en polities onder verdenking gebring… Die wyse waarop baie afgevaardigdes my tydens die sinode aangekyk het, het my laat besef dat hy (Hanekom – GJD) doeltreffend daarin geslaag het om my as liberaal te brandmerk… om my persoonlike, teologiese, kerklike en “politieke” integriteit onder verdenking te bring.” 20.
Só is Jonker se pleit vir ’n kerkorde wat in alles uiting gee aan die beginsels van die Skrif sodat alleen Christus in die kerk regeer, effektief in die doofpot gestop en het die kerkorde van 1962 die deur geopen om die gesag uit Christus se hande te gryp.
Is dit nie te skerp ’n oordeel om te sê dat “die gesag uit Christus se hande gegryp” is nie? Die geskiedenis sal hieroor moet oordeel. Ondertussen kan dit aangeteken word dat Jonker hom in dié tyd heel dikwels teen mense en vergaderings uitgelaat het wat hulle meer mag aangematig het as wat in ’n gereformeerde kerk toegelaat mag word.
5. Bindende besluite en kerklike gesag
In sy artikelreeks uit 1959 in Die Kerkbode het Jonker die vraag na gesag in die kerk ook uit ’n ander hoek benader, nl. oor die vraag wat dit beteken dat besluite van kerkvergaderings bindend is en wat die moontlikheid van appèl daarteen is.
In ’n bepaalde sin was nie alleen die Kerkhervorming nie, maar ook die stryd in die protestantse kerke in Nederland en Duitsland gedurende die negentiende en twintigste eeue, ’n stryd om die vraag na die ware aard van kerklike gesag. Die Hervorming was ’n stryd teen die Roomse leer van die onfeilbare gesag van die pous. In Nederland was dit die genootskaplike (liberale) kerkreg (verkeerdelik kollegialisme genoem) wat tot die Afscheiding (1834) en die Doleantie (1883) gelei het. Hierdie dwaling het sy kerkordelike reëlings aan die hand van die liberale natuurreg-teorie geformeer. Hiervolgens het die stem van die meerderheid, binne ’n hiërargiese verstaan van kerkverband, die gesag. En in Duitsland het die Bekennende Kirche hulle verset teen die sogenaamd Führer-beginsel in die kerk waarvolgens die kerk ’n Ryksbiskop aan die hoof gehad het wat as die “oppergesagsdraer” beskou was.
Dit was dinge waarin Jonker hom in 1960/61 gedurende ’n studiereis in Europa verdiep het. Hy sê – veelseggend – dat hy dié studie onderneem het omdat hy, na sy verkiesing as aktuarius van die Sinode van Suid-Transvaal, “op ’n nuwe wyse met die binnekant van die kerklike lewe” in aanraking gekom het en dít hom genoop het “om ’n intensiewer studie van die kerkreg te maak.” 21. Wat presies hy daar “aan die binnekant” belewe het, spel hy nie verder uit nie.
Wat wel bekend is, is dat Jonker na die publisering van Sendingbepalinge en vervolgens ook in die Ring van Johannesburg (waar hy gereeld óf op die ringskommissie gedien het óf voorsitter van die ring was) rondom die Beyers Naudé en die Christelike Instituut (Ci), meermale met die standpunte van “die-mense-met-gesag-in-die-kerk” gebots het.
Nadat Naudé die direkteurskap van die Ci aanvaar het, het hy van Aasvoëlkop verhuis en lidmaat van die gemeente Parkhurst geword waar hy tot ouderling verkies is. Daar was bewaar gemaak teen sy verkiesing. Die hoofsaak van die klag teen hom was dat hy aan besluite van die Sinode van Suid-Transvaal en die Breë Moderatuur ongehoorsaam was. Die uitgangspunt van die klaers was dat besluite van meerdere vergaderings bindend is en wie die besluite nie gehoorsaam nie, moet inderwaarheid tugwaardig wees! Ds N. J. (Nico) van Loggerenberg het in die periode sedert Naudé se verkiesing tot aan die einde van 1966, nie minder nie as 36 klagtes, appèlle en beswaarskrifte teen die Ring van Johannesburg of sy lede gelê – dit is behalwe ’n hele rits ander waarby hy indirek betrokke was.
Om dié geskiedenis hier volledig te bespreek is buite die kwessie. Daar word slegs op die twee “besluite” waaraan Naudé na bewering “ongehoorsaam” sou wees en Jonker (cum sui) se reaksie daarop gewys. Die vraag na die aard van kerklike gesag én binding aan besluite van meerdere vergaderings, sny tot in die hart van die probleem.
Jonker en 25 ander leraars (waaronder Beyers Naudé) van die Sinode van Suid-Transvaal het in ’n brief aan Die Kerkbode beswaar gemaak omdat die sinode op 8 April 1963’n besluit geneem wat lui:
“Die Sinode besluit dat alle ampsdraers en lede van die Kerk gebonde is en gehoorsaamheid verskuldig is aan Sinodale besluite wat wettiglik geneem is, en sulke besluite steeds behoort te verdedig…” 22.
Op daardie stadium was die Ci nog nie gestig nie – dit sou eers op 15 Augustus 1963 gebeur. Die besluit waaraan die lidmate en ampsdraers gebonde gehou word, was hulle nie met die blad Pro Veritate 23 mag saamwerk nie. Twee maande na die stigting van die Ci het die Breë Moderatuur besluit om “die stigting en voortbestaan van die Christelike Instituut nie goedkeur nie.” 24. Maar die Breë Moderatuur is tog nie ’n meerdere vergadering nie – tog is aan sy “besluite” óók bindende gesag toegeken!
Die Ring van Johannesburg het besluit om die verkiesing van Naudé as ouderling nietig te verklaar. Jonker en vyf van sy ringskollegas appelleer teen die besluit en skryf:
“… ons (moet) dit hiermee uitspreek dat die Ring van Johannesburg daarmee die basis van die Skrif en die Kerkorde verlaat het. Iemand word hier uit die amp geweer, nie op grond van enige dwaling in leer of lewe, nie op grond van sonde nie, maar op grond daarvan dat hy die opinie van ’n kommissie van die Algemene Sinode, wat nog nie eers deur die Algemene Sinode bekragtig is nie, links laat lê het…” 25.
Daarteenoor beklemtoon Jonker in ’n artikelreeks in Die Kerkbode:
“Nét Christus, maar daarom ook: net die Woord van God, het gesag in die kerk… Alle gesag in die kerk is Woordgesag. Die kerk het geen bevoegdheid om sy lidmate te bind aan menslike vindinge of besluite wat nie sonder reserwe op die Woord van God gegrond is nie. Die kerk moet hom vir al sy beslissinge kan beroep op die gesag van die Skrif. Die kerk mag nie maar allerlei besluite neem, en lidmate daaraan bind, as dit nie duidelik is dat die lidmate daardeur aan die Woord van God gebind word nie (ek kursiveer).” 26.
Wanneer gehoorsaamheid in die kerk nie uitsluitlik aan die Woord nie, maar soos in die Roomse dwaling, aan ampsdraers, óf soos by die dwaling van die genootskaplike kerkreg, aan ’n meerderheidsbesluit van ’n kerkvergadering geëis word, het mens te doen met “diepe verwording.” 27. Jonker het reeds in 1959 gepleit dat DKO artikel 31 volledig in die kerkorde van 1962 opgeneem sal word – maar ongelukkig – tevergeefs met bogenoemde as die resultaat daarvan.
6. Appèlle en Dordtse Kerkorde, artikel 31
Jonker se antwoord op die vraag of gelowiges die reg tot appèl het teen besluite van kerkvergaderings, behoort in die lig van bostaande, voor die hand liggend te wees. Dit beteken egter geensins dat hy reken dat kerkvergaderings nie bindende besluite kan neem nie. Hy grond sy standpunt op DKO artikel 31 wat soos volg lui:
“Zo iemand zich beklaagt door de uitspraak der mindere vergadering verongelijkt te zijn, zal deze zich op een meerdere kerkelijke vergadering beroepen 28 mogen; en het geen door de meeste stemmen goedgevonden is, zal voor vast en bondig gehouden worden, tenzij dat het bewezen wordt te strijden tegen het Woord Gods of tegen de artikelen in deze generale synode besloten, zo lang als ze door geen andere generale synode veranderd zijn (ek kursiveer).” 29.
Vir Jonker draai alles om die enkel woordjie “tensy”. Dié woordjie skep ruimte vir toetsing van besluite aan die Woord van God. Hy skryf in 1959 oor artikel 23 van die konsep kerkorde:
“Dit is seker ook noodsaaklik dat daar in art. 23 bygevoeg sal word dat besluite van meerdere vergaderinge bindend is tensy dat hulle in stryd is met die Woord van God. Ons moet alles in ons vermoë doen om die indruk te verwyder dat die Sinode of die Ring kan heers oor die plaaslike gemeentes en besluite kan neem wat onvoorwaardelik gehoorsaam moet word.” 30.
Insig in hierdie aspek van Jonker se teologie, is van deurslaggewende belang. Hy, soos die Reformasie, wil niks van “onfeilbare” uitsprake of besluite weet nie. Volgens hom mag gelowiges nie alleen appelleer nie, maar is hulle verplig om besluite van vergaderings aan die Skrif te toets. Dít, sê hy, staan in ronde woorde in die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 7. In sy intreerede by Unisa laat hy hom só hieroor uit:
“Dit moet vasstaan dat die grens vir alle kerkregering enkel die Woord van God is, wat moontlik ook deur die indiwidu beter gehoor kan word as deur ’n hele kerklike vergadering. Getalle is geen waarborg van suiwerheid nie… Die kerkorde moet dit selfs aanmoedig en lidmate onder die verpligting stel om met skriftuurlike besware na vore te kom, want dit gaan in die kerk om die waarheid van die Skrif, wat teen elke prys gesoek moet word.” 31.
Die standpunt dat lidmate verplig moet word om te appelleer, vind hy in die hersiene kerkorde van die Gereformeerde Kerken in Nederland van 1957 32 – wat terloops, die kommissie van aktuarii opdrag gehad het om te verreken in die opstel van die kerkorde van 1962, maar wat klaarblyklik nie gebeur het nie. 33.
Jonker eindig nie met bogenoemde verpligting wat lidmate opgelê behoort te word nie, maar gaan nog ’n stap verder. Hy sê dat wanneer iemand voor God oortuig is dat ’n sekere besluit in stryd is met die Woord, dit nie van hom verwag kan word om daardie besluit te gehoorsaam nie, ook al sou hy by wyse van beroep in die ongelyk gestel word. Daarvoor beroep hy hom nie alleen op DKO art. 31 nie, maar weereens op die sterk bewoorde art. 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Dit is vir hom ononderhandelbaar: besluite van kerkvergaderings kan nie die gelowiges se gewetes bind nie. Dié reg kom alleen die Woord van die Here toe. Hy voeg hieraan toe: “As dit ’n ‘swakheid’ van die gereformeerde stelsel is, dan is dit een van dié soort swakhede wat mense, wat die Skrif alleen as die enige bron van gesag oor ons lewe erken, altyd sal vertoon. 34.
Daarmee eindig Jonker steeds die belangrikheid van appèl nie. In nog ’n verdere stap betrek hy die kerk self op ’n uniek wyse. Die kerk self moet by wyse van spreke ’n pastorale, deernisvolle houding jeens beswaardes inslaan. Daarvan lees mens in die advies wat Jonker in amptelike hoedanigheid as aktuarius van die Sinode van Suid-Transvaal aan Beyers Naudé geskryf het. 35. Hy het dit geskryf ter ondersteuning van Naudé in sy stryd om die behoud van sy “status” as predikant na sy aanstelling as direkteur van die Ci. Die eksamenkommissie wou dit nie toestaan nie. Naude het Jonker om advies genader oor die vraag of hy mag appelleer. In Jonker se advies kom sy ekklesiologie na vore. Die kerk as gemeenskap van die heiliges, mag nie toelaat dat sy lidmate ongelukkig voel oor sy optrede nie. Hy adviseer:
“Ek wil … u daarop wys dat dit na my beste wete nêrens die bedoeling van die Kerk in sy bepalinge is om aan enige persoon die reg te gee om te voel of te beweer dat hy onbillik behandel is nie. Daarom dat die Kerk die weg geopen het dat iemand wat beswaard voel, hom deur verdere beroep weer na die kerk kan wend om wat hy as onreg voel, te verwyder.” 36.
Hieroor het ’n hele debat ontstaan. Daar was diegene wat die standpunt gehuldig het dat géén appèl teen besluit van die kommissie moontlik is nie. Dit was ook uiteindelik die besluit van die Sinodale Kommissie. Naudé se appèl was van die hand gewys.
By wyse van kontras word op die advies wat Dr. J. D. (Koot) Vorster gegee het toe die Sinodale Kommissie van die Sinode van Suid-Transvaal hom genader het. Hy skryf op sy kenmerkende bondige manier:
- “In ’n Gereformeerde Kerk is die besluite van meerdere vergaderinge bindend op mindere vergaderinge en die lidmate van die Kerk… En die betekenis en bindende waarde daarvan is eenvoudig; Dit moet aanvaar en gehandhaaf word.
- Natuurlik het die besluite van die Sinode re Pro-Veritate en aanspreeklikheid van leraars bindende krag. En dit bind nie net die persoon offisieel maar laat hom persoonlik vry nie. Besluite van Sinodes moet uitgevoer word soos dit daar staan en bedoel is. 37.
Prof. Willie Jonker het nooit daarvoor moeg geword om te beklemtoon dat alle kerkregering Christusregering en dáárom Woordregering moet wees. Hy skryf ’n jaar na bogenoemde advies van Vorster in sy intreerede by Unisa:
“Kerkregering is diens aan en van die Woord… Daarin verskil dit prinsipieel van die regering in ander samelewingsverbande. Juis daarom egter is dit voortdurend onderworpe aan die kontrole deur Gods Woord. Indien dit waar is dat kerkregering diens aan Gods Woord is, is die vraag voortdurend of die ampsdraers nie in plaas van diens aan die Woord en in onderworpenheid aan die Woord, daartoe oorgaan om oor die Woord van God heerskappy te voer of selfs sonder die Woord van God heerskappy te voer nie.” 38.
Omdat die Woord van God die grens van alle kerkregering is moet daar in die kerk volledige ruimte wees vir die kontrolering deur die Woord van God van elke kerklike besluit of optrede. Hierdie kontrolering moet deur elke lidmaat van die kerk uitgeoefen word. Dit is sy uitgesproke standpunt dat dié kontrolering nie net iets vir die wetenskap is nie, maar vir die gemeente self. By hom is geen sprake van ’n onmondige gemeente of “’leke’ wat uitgelewer is aan die leiding en sorg van ’n geestelike stand wat alleen in staat sou wees om Gods Woord reg te interpreteer nie.” Dit is vir Jonker ondenkbaar dat die kerk nie met indringende aandag na die appèl van lidmate wat besorg is dat die kerk van die Skrif afgewyk of dit links laat lê, sal luister nie.
Niemand moet dink dat Jonker gewoon naïef was óf ’n valse idealisme oor die “gewone lidmaat” se vermoë om die Skrif te interpreteer, gekoester het nie. Dié standpunt neem hy in omdat hy die Woord van God vertrou. Hy vertrou dat die lewende, Drie-enige Here self deur die Woord handel, dat Christus só deur sy Woord regeer dat Hy self die waarheid na vore sal roep. 39.
“Die gemeente van Christus leef met die Woord in die wêreld en ontvang onder leiding van die Gees die wysheid om die brug te slaan tussen die (historiese) Skrif en die moderne wêreld met sy problematiek. Die lig van die Skrif is nie maar net die resultaat van ’n goeie wetenskaplike hermeneutiek nie. Die waarheid is nog altyd magtiger as onsself. Die waarheid heers oor ons, en nie ons oor die waarheid nie.” 40.
Immers, as Christus self die Handelende Subjek is, die Een wat Self Sy gemeente vergader, beskerm en regeer (Heidelbergse Kategismus, Sondag 21, vraag 54), het Jonker geen twyfel dat Christus in die gemeente teenwoordig is en daarin handel nie. Hy lê dikwels klem op tekste soos Matt. 18:20, 28:20 en Joh. 14:16-20, 23 waarin Christus belowe dat Hy teenwoordig sal wees waar twee of drie in Sy Naam vergader en dat Hy by die kerk sal bly tot aan die einde van die wêreld. Dié beloftes, sê Jonker, is “… te duidelik dat die kerk sou kon twyfel aan die praesentia realis Christi ipsius hier en nou, op elke punt van die weg.” 41. Wie só aan die werklike teenwoordigheid van Christus Self in Sy gemeente vashou, kan nie anders as om oop te wees vir die toetsing van kerklike besluite en handelinge deur die “gewone lidmate” nie.
Jonker verstaan kerkregering van die begin tot die einde as ’n regering deur die Woord en Gees van Christus – tot so ’n mate dat hy sê dat die bediening van die Woord en die sakramente die enigste vorm van regering in die kerk – met inbegrip van alle kerklike mag, tot die uitoefening van die volledige sleutelmag – is en mag wees. Enige besluit of handeling strydig met Gods Woord het geen gesag hoegenaamd nie. 42.
7. Die gemeenskap van die heiliges
As die direkte en persoonlike regering van Christus Self in die kerk, die eerste en belangrikste beginsel is waarvan Jonker uitgaan, dan is die klem op die belang en die selfstandigheid van die plaaslike gemeente die tweede. Hierop word nie volledig ingegaan nie, maar een aspek daarvan moet in hierdie konteks uitgelig word. Wanneer ’n mens soveel klem daarop lê dat Christus Self deur Sy Woord en Gees in die kerk werksaam is, sodat die kerk met alle erns na elke beswaarde lidmaat moet luister, en daarbý ook klem lê op die selfstandigheid van die plaaslike gemeente, kan die indruk moontlik gewek word dat Jonker – ten minste wat sy kerkreg betref – baie na aan independentisme kom.
Niks kan vêrder van die waarheid verwyder wees nie. Jonker lê groot klem op Ef. 3: 17-19 waar Paulus leer dat die liefde van Christus geken moet word “saam met al die heiliges”. Sy standpunt is dat in meerdere vergaderings ’n wyer kring van gawes en insigte van die heiliges byeenkom. In ’n onvoltooide manuskrip wat op die Jonker Digitale Argief gepubliseer sal word, skryf hy oor meerdere vergaderings:
“Daar kom in die onderlinge en gemeenskaplike diens aan mekaar en die wedersydse versterking van mekaar ’n telkens heerliker openbaring van die eenheid van die kerk na vore, en word dit moontlik om mekaar te kontroleer en op te skerp om ten volle te wandel in die lig van die Woord. Op die meerdere vergadering is daar dus nie soseer meer gesag teenwoordig as in die mindere nie, maar daar is meer ampsgawes teenwoordig, meer wysheid, meer wedersydse kontrole, meer van “al die heiliges”, ’n groter sektor uit die gemeente van Christus op aarde… Dit is geen heerskappy en dwingende seggenskap nie, maar ’n geestelike, amptelike diens wat deur die meerdere vergadering aan die mindere gelewer word, en moet daarom deur die mindere gehoorsaam word, tensy dat dit stry teen die Woord van God.” 43.
8. Slot
Prof. W. D. Jonker was Skrifteoloog. As kerkregtelike het hy die Woord aan die Ned. Geref. Kerk bedien. Vandaar die opskrif van hierdie gedenklesing: Willie Jonker, kerkregtelike én bedienaar van die Woord. Wanneer Jonker hom uitspreek oor die gewaande gesag van moderators en moderature, oor sogenaamde bindende besluite en oor die belangrikheid – selfs die noodsaaklikheid van appèlle – daarin gaan dit alles vir hom alleen maar om die regering van Christus deur sy Woord.
Jonker se kerkreg kan die beste opgesom word in die woorde van prof. C. Veenhof waarna Jonker self meer as een maal verwys:
“De Reformatoren ondernamen het naar den mensch gesproken ontzaglijke en, werelds geoordeeld, krankzinnige waagstuk om het in de regeering en heel het leven der kerk alleen met Gods Woord en de vrijwillige onderwerping daaraan te doen… Zij ondernamen het naar wereldsche maatstaven gemeten dwaze pogen om geen andere onderwerping te willen, dan die welke gehoorzaamheid aan Gods Woord was. Zij wilden niet zélf, zij wilden niet, dat de kerkelijke instanties als zoodanig, gehoorzaamd zouden worden. Zij weigerden eenige gehoorzaamheid, welk niet gehoorzaamheid aan een duidelijk uitgedrukt Godswoord was.” 44.