Die verborge omgang met God

DIE VERBORGE OMGANG MET GOD
Gesprekke oor stiltetyd, gebed en Bybelstudie
(Ongedateer)

Inleiding

  1. Die bedoeling van hierdie kort kursus is om aandag te gee aan drie aspekte van ons persoonlike omgang met God: (1) Ons stiltetyd, (2) ons gebedslewe en (3) ons Bybelstudie.
  2. Voordat ons met die inhoudelike deel van die kursus begin, moet ons eers helderheid oor enkele dinge kry. Dit gaan hier nie om ’n kursus waarin ons in die eerste plek intellektueel informasie wil ontvang om ons kennis te verryk nie. Die doel van die kursus is stigtelik en beoog om ons geestelike opbou te dien. Dit gaan eerder om wedersydse hulp aan mekaar om ons omgang met God ryker en meer betekenisvol te maak. Daarom is die gesindheid waarmee ons daaraan deelneem, van groot belang. Met die oog daarop moet ons dus vooraf aandag gee aan die volgende vrae:

(1) Waarom het u besluit om die geleenthede by te woon?
(2) Wil u werklik self verander en uself oopstel vir nuwe insigte, perspektiewe en gewoontes?
(3) Is u bereid om tuis self in praktyk te gaan bring wat ons hier saam: bespreek?

1.    ONS STILTETYD

  1. Ons wil by hierdie eerste geleentheid stilstaan by die noodsaaklikheid daarvan dat ons op ’n gedissiplineerde wyse elke dag ’n tyd van stilte in ons program moet probeer inpas. Die meeste van ons probeer dit waarskynlik doen, met meer of minder sukses. Ons probeer om ’n tydjie te vind om ’n stukkie uit die Bybel te lees en ’n gebed te doen. Dit is immers waarvoor ons stiltetyd daar is. As ons hier meer in die besonder aan die stiltetyd aandag wil gee, dan is dit om te probeer om dit meer vrugbaar te maak, sodat ons lees van die Bybel en ons gebed kan daardeur ʼn nuwe dimensie kan kry.

In ons gejaagde lewe kan dit maklik gebeur dat ons die hele dag lewe, sonder dat ons êrens tot stilstand kom om tot onsself in te keer en rustig met God en met sy Woord om te gaan. Ons is altyd haastig, en as ons nie haastig is nie, is ons moeg. Ons hele lewensritme is van so ’n aard dat ons eintlik meer geleef word as dat ons self lewe. Ons weet dat dit nie reg is nie en ons begeer ook dat dit anders moet wees, maar dit is asof ons magteloos is, om iets daaraan te doen.

Baie Christene lewe dan ook met ’n kroniese slegte gewete. Hulle weet hulle moet meer tyd neem vir die omgang met God, maar dit kom net nie sover nie, met die gevolg dat hulle ’n steeds slegter gevoel daaroor ontwikkel. Ons moet egter probeer om ons stiltetyd nie as ’n plig te beskou nie, maar as ’n voorreg – as iets om na uit te sien, omdat ons dit geniet. Dit is ’n oomblik van verademing en herstel in die gejaagdheid van ons lewe. Ons mag maar ’n deel van ons besige tyd gebruik om alleen te wees en stil te word, sodat ons kontak met God verdiep kan word, ons lewenswaardes weer verhelder en ons perspektief op die lewe weer vernuwe kan word. Anders bly ons geestelik arm en verkwis ’n groot deel van ons lewe.

Dit is nie net ’n psigiese noodsaak vir ons om so ’n tyd van stilte te hê nie; maar dit is veral ook geestelik noodsaaklik om ’n tyd van inkeer tot God te hê, wat die Bron van ons lewe is. Ons het ’n diepe behoefte daaraan om gelaaf en vertroos te word in die teenwoordigheid van God. Wie werklik eenmaal die vreugde daarvan gesmaak het om so ’n tydjie vir gemeenskap met God opsy te sit, sal vind dat dit onontbeerlik word.

Natuurlik word ons hele lewe voor die aangesig van God (coram Deo) geleef. Daar is geen moment van ons lewe dat ons ver van God af is of waarin ons nie met Hom sou kon verkeer nie. Dit is egter noodsaaklik vir ons om ’n spesifieke tyd te hê wanneer ons onsself tot rus bring voor God, om ons hart vir Hom te open en te luister na wat die Gees van God aan ons wil sê. Ons geestelike groei is afhanklik van bewuste persoonlike gemeenskap met God. Die behoefte aan en verlange na die gemeenskap met God sal steeds sterker word namate ons dit op die regte wyse beleef.

Kom ons lees Psalm 42:1, 1 Petrus 2:2 en Matteus 5:6. Bespreek kortliks die probleem van hoe ons die nodige dissipline kan leer om vaste tye vir stilte opsy te sit en te gebruik.
Dit is nie raadsaam om te hoë ideale te stel in verband met die tyd wat ons daarvoor afsonder nie. Begin eers maar met ’n kort tydjie – tien minute miskien – en brei dit later uit soos dit ontwikkel.

  1. Die hoofdoel van ons stiltetye is om tot inkeer te kom by God en by onsself – waarin ons dieper insig verkry in die Woord en beloftes van God, waarin ons bewustelik op ons verhouding tot God konsentreer. Die verborge omgang met God is die hart van ons wandel met God. Daarom het ons dit so nodig. Selfs van Jesus lees ons dat Hy Homself teruggetrek het om in die eensaamheid met sy Vader om te gaan, veral voor die groot beslissende wendinge in sy lewe. Hy gebied ook ons om in ons binnekamer in te gaan, die deur te sluit en daar tot die Vader wat in die verborge sien, te bid (Matteus 6:6).

Dit is belangrik dat ons ons stiltetyd moet begin deur werklik stil te word. Selfs al kan ons net ’n paar minute daarvoor opsy sit, is dit nodig om eers rustig te word en doelbewus ons gedagtes daarop te rig dat God nou en hier by ons is. Ten einde tot stilte te kan kom, word ons dikwels aangeraai om gebruik te maak van metodes van meditasie wat ons kan help om te ontspan, rustig te word, bewus te word van die dinge wat op ons hart lê, en tot ’n innerlike konsentrasie op God en sy Woord te kom. Daar word ook allerlei wenke aan die hand gedoen wat daarby behulpsaam kan wees. Vgl in hierdie verband die boekie van dr Willem Nicol: Stem in die Stilte, wat ook as ’n Bybelkor-kursus verwerk is onder die titel: Naby Jesus. Daar is egter ’n ryke literatuur oor die onderwerp – veral in Engels.

Daar het intussen ook heelwat diskussie daaroor ontstaan. In Die Kerkbode was daar bv briewe wat hulle ontsteltenis oor die boekie van dr Nicol uitgespreek het, omdat die vrees bestaan het dat hy dalk gebruik maak van die heidense en Oosterse metodes van meditasie, soos die transendentale meditasie, Zen Boeddisme ens. Omdat ek hom goed ken, weet ek dat dit nie waar is nie. Hy tree daarmee binne ’n tradisie van meditasie wat in baie Christelike kringe, soos in die Oosterse Ortodoksie, die Anglikanisme en die Rooms-katolisisme voorkom.

Ons hoef seker nie so negatief en vreesbevange daaroor te oordeel as wat soms gebeur nie. Daar is vandag ’n taamlik verbreide oortuiging dat meditasie genesend op mense werk. So word dit ook gebruik deur mense wat heeltemal nie religieus ingestel is nie. Dit is deesdae selfs moontlik dat vorms van meditasie – dikwels in ’n bloot sekulêre sin – vir mediese doeleindes gebruik word. Tog stel ek self nie veel belang daarin nie. Dit voel vir my asof die omgang met God wat ons nastreef, van ’n meer nugtere aard kan en moet wees as wat soms in die meditasie-boeke bepleit word.

Persoonlik meen ek dat ons oor meditasie liewer in die nie-tegniese sin van die woord moet dink, soos dit deur iemand soos Calvyn en in die Christelike tradisie meermale gebruik is, nl as die stille, biddende oordenking van Gods Woord, waarby ons onsself in die lig daarvan ondersoek en met God as sy kinders verkeer. Kyk in hierdie verband na Psalm 77:12–13 of Psalm 63:7 en Psalm 119:97. Saam met William Hulme sou ek dus liewer wou praat van Christelike meditasie of devotional meditation (aanbiddingsmeditasie), of sommer net: inkeer tot God. Dit is die tradisionele Christelike betekenis van meditasie.

Wat ons uit al die wenke oor ontspanning kan leer, is dat dit natuurlik noodsaaklik is dat ons in ons stiltetyd rustig moet word, tot stilte en ontspanning moet kom, en die gejaagdheid en onrus van ons lewe ’n oomblik agter ons moet laat. Daarom kan dit ook nuttig wees om aan sommige van die wenke oor hoe ’n mens behoort te ontspan, kennis te neem. Vir ons doel hier is dit nie nodig om daarop in te gaan nie. Die hoofsaak is dat ons daartoe moet kom om ons hart en gedagte daarop te rig dat God werklik by ons teenwoordig is en ons liefhet; dat Hy op ons wag om na Hom te kom; dat Hy gemeenskap met ons begeer; dat Hy met ons wil praat en na ons gebed wil luister – en dat ons daarom alles aan Hom kan oorgee en rustig tot Hom kan inkeer, soos ’n kind by sy of haar moeder inkeer (Psalm 131:2).

  1. Die heel eerste ding wat in ons stiltetye moet gebeur, is dat ons gelowig van God en sy teenwoordigheid by ons bewus moet word. God omvat ons lewe veel meer as waarvan ons bewus is. Hy het ons selfs van ewigheid af lief, het ons geskep en onderhou van sy kant af met ons ’n verhouding waarin Hy aan ons sy liefde skenk en na ons liefde verlang. Maar juis daarom moet ons verhouding tot God ook ’n bewuste verhouding van ons kant af wees, waarin ons in vertroue op die beloftes van God aanvaar dat Hy by ons is en die vreugde van wederliefde vir God smaak.

’n Belangrike vraag daarby is: Hoe dink u aan God? Watter idee of beeld het u van God? Baie mense dink te infantiel oor God. Maar die Bybel gaan ons daarin voor om oor God groot te dink. Hy is alomteenwoordig, alwetend, ewig, ver bo ons voorstellings verhewe. En tog is Hy baie naby aan ons, omvat Hy ons. Neem tyd om goed oor Psalm 139 na te dink. Wat sê dit vir ons verhouding tot Hom? As ons dan nog Handelinge 17:27–29 daarby lees, of sulke lofprysinge as Romeine 16:27 en 1 Timoteus 1:17, dan besef ons hoe klein, gering en nietig ons voor Hom is. En tog wil die Bybel hê dat ons moet verstaan dat dieselfde magtige en ewige God in teerheid en liefde by ons teenwoordig is. Dit is noodsaaklik dat ons onsself daarin moet oefen om so van God bewus te word.

Dit is daarby van die grootste belang om te onthou dat ook God ’n Persoon is. Baie Christene is geneig om aan God as onpersoonlik te dink en te meen dat hulle God teenkom as hulle deur meditasie diep in hulleself inkeer. Dit is egter nie korrek nie. God is nie ’n onpersoonlike gees of krag waarmee ons in aanraking kom as ons diep in onsself indaal nie. Hy is die lewende en persoonlike God wat wel in ons woon, maar tog ook altyd buite en bo-oor ons is. Ons kan en moet met Hom op ’n persoonlike wyse kommunikeer en nie probeer om maar net stilswygend in Hom te versink nie. Dit gebeur in die valse mistiek. ’n Egte geloofsverhouding tot God is slegs moontlik as ons Hom as die persoonlike God eer en benader.

In ’n klein, maar baie leesbare boekie van A W Tozer, The Knowledge of the Holy, skryf hy oor die eienskappe van God en hoe dit ons verhouding tot God beïnvloed. Dit kan ’n groot verskil aan ons stiltetye maak as ons meer moeite doen om na te dink oor die eienskappe van God soos die Bybel oor Hom praat. Elkeen van die eienskappe van God gee ons rede tot aanbidding en lofprysing. Dit is baie goed om – as ons stil word voor en by God – eers oor een of meer van sy “heerlikhede” na te dink en in ons verbeelding iets daarvan te probeer oproep. Dit help ons om beter bewus te word van die majesteit en heerlikheid, die liefde en die teerheid van God.

  1. Dit is daarby ook belangrik om aan God as die drie-enige te dink. Die Drie-eenheid van God is vir ons onvoorstelbaar, maar ons kan tog daaraan vashou dat die Vader, Christus en die Gees persoonlik by ons is. Dink daaroor dat Christus deur die Gees in u woon, dat die lewende God self hier by en in u is, dat die Gees in en deur ons wil bid. Sê vir uself: Jesus, die lewende Here Jesus, is nou hier. Soos eenmaal by Petrus en die ander apostels in die oppersaal, soos by die Emmaüsgangers, is Jesus as die verheerlikte Here deur sy Gees ook nou by my.

Of sê vir uself: die Heilige Gees wat op Pinksterdag uitgestort is, is ook tans hier. Hy vervul hierdie ruimte waar ek verkeer. Hy is ook by my en in my. Hy is nader aan my as my hemp of my rok. God is nie net ver daarbo in die hemel nie; God is hier en nou by my. Ek hoef nie eers te fluister nie, want Hy weet wat ek dink en voel. Dit is tog wat Psalm 139 ook wil sê. Dit laat ons aan die een kant in skaamte besef hoe God ons hele sondige wese deurskou en ken, maar dit laat ons aan die ander kant ook met vreugde besef hoe Hy ons nogtans liefhet en ken, ondanks ons sonde.

Een van die grootste gevare wat ons omgang met God bedreig, is dat ons dikwels nie werklik bewustelik met God omgaan nie. Ons godsdienstige handelinge versaaklik, en dan kan ’n mens – soos Israel – so vertroud raak met die tempel, dat ons deur allerlei handelinge gaan sonder om werklik te bedoel om daarin met God te make te hê.

Vgl die geskiedenis van die reiniging van die tempel (Matteus 21:12–17). Ken u die ervaring dat u bid sonder om werklik aan God te dink en bewus te wees daarvan dat u met Hom praat? Is dit nie die groot gevaar van ons openbare gebede nie, en hoe dikwels dwaal ons gedagtes nie hopeloos af tydens ons gebed nie?

Ken u die probleem van die “dwalende gedagtes” wat dit baie moeilik maak om werklik tot stille inkeer voor God te kom?

  1. Wanneer ons tot stilte kom, moet ons vashou aan die besef dat die primêre handelende Persoon in die verhouding tussen God en ons nie ons is nie, maar die liefdevolle en genadige God self. Dit is nie wat ons doen nie, maar wat God doen, wat ons red, reinig en heilig. Dit is nie ons inspanning en getrouheid wat ons stiltetye tye van seën en vreugde maak nie, maar die neerbuigende en liefdevolle handeling van God om Homself aan ons te gee.

Daarom is ons stiltetye eerder passiewe as aktiewe tye. Dit is tye waarin ons op God moet wag en na Hom moet luister. Maak u hart stil voor God en rig u aandag op die teenwoordigheid van God. Neem tyd totdat u met u hart voor God kan staan in die bewussyn dat Hy daar by u is en dat Hy tans met u wil praat. As die besef van die teenwoordigheid van God werklik tot u deurdring, sal u met stille huiwering vervul word. Dikwels sal dit in sigself reeds vir u soveel vrede en vreugde bring, dat u skaars woorde nodig het om iets te sê.

Tog is die woordelose besef van die teenwoordigheid van God nie die einddoel van ons omgang met Hom nie. Die Bybel leer ons geen mistieke versinking in God waarin die omgang deur die gesproke woord uitgeskakel is nie. Daarom hoort die lees van die Bybel en die gebed wesenlik by die stiltetye. Die stilte waartoe ons moet kom kan nie bedoel wees om na ons eie innerlike te luister nie, maar om beter te kan luister na die Woord van God en om biddend met Hom om te gaan. Kenmerkend hiervoor is die wedersydse deurdringing van Skriflesing en gebed en die moed om te oorpeins wat die praktiese implikasies van die Woord van God vir alle terreine van ons lewe is.

  1. Opdrag vir die week:

Lees Psalm 139 rustig en meditatief, en probeer daarin raaksien hoe werklik God vir die digter daarvan is. Probeer die werklikheid daarvan ook vir uself toe-eien en oefen uself daarin om in die teenwoordigheid van God tot rus te kom.

Verdere Skrifgedeeltes is bv Psalm 130, Psalm 131, Psalm 141.

2.     ONS GEBEDSLEWE

  1. Ons het die vorige keer gepraat oor ons stiltetyd en klem gelê op die noodsaaklikheid daarvan om in ons dagprogram ’n tydjie van stilstand en rus in die teenwoordigheid van God te onderhou. As ons ons stiltetyd ’n tyd van meditasie wil noem, moet ons onthou dat dit om Christelike meditasie moet gaan. Ons kan dit saam met Peter Toon omskryf as “the thinking about, considering, reflecting, learning by heart, working out the practical implications of, and musing upon the revelation given by God” (Meditating as a Christian, Collins, London, 1991, 34). Die hoofdoel van Christelike meditasie is om beter na die Woord van God te luister en tot gebed te kom. By hierdie geleentheid staan ons dan stil by die gebed en volgende keer DV by die luister na die Skrif.
  2. Dit is ’n swakheid en oppervlakkigheid as ons gebed dikwels net daaruit bestaan dat ons God dank vir sy bewaring, hulp en voorsiening in ons tydelike behoeftes, en verder uit ’n aantal versoeke wat ons tot God rig, meestal vir onsself en diegene wat aan ons verbind is of die sake waarby ons belang het. Hoewel dit op sigself nie verkeerd is nie, is dit tog ’n baie gebrekkige vorm van gebedsomgang met God. Miskien is dit die oorsaak van die armoede van ons stiltetye, dat dit vir ons daarin hoofsaaklik gaan om gebede rondom ons eie tydelike behoeftes. Die gebedsomgang met God omvat veel meer as dit, en as ons ons gebed beoefen in verband met ons stilword voor God soos ons die vorige keer daaroor gepraat het, sal ons vind dat ook ons gebedslewe verdiep en verbreed.
  3. As ons besef dat die hoofsaak van ons stiltetye is om met Homself te verkeer, sal baie van ons eie behoeftes noodwendig op die agtergrond tree en hulle regmatige plek inneem. Dit kan ons al leer uit die volmaakte gebed wat Jesus sy dissipels geleer het, die Ons Vader (Matteus 6:9–13). Die egosentriese instelling waarmee ons dikwels bid, ontbreek in die Ons Vader. Christus leer ons om in die eerste piek vir Gods saak te bid, en dan vir ons eie behoeftes, wat in elk geval by God bekend is nog voordat ons daarvoor bid (vs 8).

Ons kan die volgende elemente in die Ons Vader onderskei:
Die aanhef en aanroeping: Bewuswording van die Vader.
Eerste bede: Aanbidding en lofsegging.
Tweede bede: Voorbidding vir Gods saak in die wêreld.
Derde bede: Onderwerping aan Gods wil en wat dit insluit.
Vierde bede: Voorbidding vir eie behoeftes.
Vyfde bede: Skuldbelydenis en gebed om vergiffenis.
Sesde bede: Gebed om bewaring teen die bose magte.

Dit is goed om ’n tydjie te neem om oor elkeen van hierdie elemente te mediteer. Begin maar by die aanhef en aanroeping: Ons Vader wat in die hemel is. Is dit nie wonderlik dat ons God Vader mag noem nie? Besit u die Heidelbergse Kategismus? Indien wel, gebruik dit as ’n hulp by die oorpeinsing van die Ons Vader (vrae 120–129).

Ds Overduin skryf in verband met die Ons Vader: “Het vraagt een zekere rijpheid om met God zo om te gaan, dat men zich thuis voelt bij de Vader, alsook de eerbiedige afstand bewaart vanwege zijn hemelse Majesteit… Al direct leert Jezus ons elke egocentrische instelling af, als zou God onze jongste bediende zijn om ons op onze wenken te bedienen. Hij leert ons dat onze belangen pas eerst recht gewaarborgd zijn als die opgenomen zijn in de belangen van de Vader … Het is een “waagstuk” van het geloof en een teken van liefde tot God om onze belangen, onze naam, onze wil, onze koninkrijkjes geen zelfstandig bestaan te gunnen naast of boven de belangen van zijn Naam, zijn wil en zijn Koninkrijk. Wie zichzelf zo durft te verliezen aan de hemelse Vader, vindt zichzelf bij verrassing terug, maar nu geborgen in zijn trouwe liefde (Ds J Overduin: Worden als een man, Wageningen, 1967, 167–8).

  1. Dit word bevestig as ons na die ander gebede in die Bybel kyk. Dan kom ons verskillende vorms van gebed teë. R.E. Clements wys in sy boek, The Prayers of the Bible (SCM, 1986), op die elementêre vorm van die bid-gebed (vgl Lukas 11:9 – “Bid en julle sal ontvang”). Ons mag maar met ons persoonlike behoeftes voor God kom. Daar is niks te klein of te groot om daarmee in die gebed na God te gaan nie. Maar as ons persoonlike begeertes die gebed domineer, word dit selfgesentreerd en openbaar min van die besef van Wie God is. Daarom ken die Bybel ook die voorbiddingsgebed, waarin by God ingetree word vir die behoeftes van andere. Daarnaas staan ook die verootmoedigingsgebed waarin skuldbelydenis gedoen word. Maar die vernaamste vorm van gebed is volgens Clements tog die lofprysing van God. In die lofprysing is ons besig om God te ontdek. Dit is die hoogste doel van gebed. “If we had done nothing more than lift our hearts to God in praise, we should have achieved the greatest goal possible for any prayer” (aw,13). Die rede waarom ons gebede so weinig reg hieraan laat geskied, is dat dit soveel meer van ons vra om oor God na te dink en ons daarop voor te berei om ons in lofsegging tot Hom te wend.

As ons tot die regte lof van God moet kom, is dit nodig dat ons onsself moet oopstel vir die majesteit en heerlikheid en goedheid van God, sodat ons hart verhef kan word bokant ons eie onmiddellike behoeftes en begeertes tot die verering en bewondering van God. Daarom is dit nodig om meer aandag te bestee aan die wyse waarop die Bybel oor die eienskappe of deugde van God praat. Die leer oor die eienskappe van God is dikwels vir studente iets droogs, maar dit is omdat hulle dit intellektueel benader as iets wat “geleer” moet word, en nie doksologies, as deel van ons aanbidding van Gods Naam nie.

’n Baie nuttige stigtelike behandeling van die eienskappe van God is te vinde in die boekie van A.W. Tozer: The Knowledge of the Holy, Kingsway Publications (Operation Mobilisation), 1987. Hy skryf eers inleidend oor: Why we must think rightly about God. Dan behandel hy die eienskappe van God. Aan die einde van die boek gee hy as raad vir die verdieping van die geestelike lewe: “Acquaint thyself with God”. Die regte kennis van God leer ’n mens nie uit ’n boek nie; selfs nie uit die letter van die Bybel alleen nie. Dit vereis ’n gereinigde hart (vgl Matteus 5:8). Tozer sê: Daarvoor is nodig “a throwing open of the entire personality to the inflow of the Holy Spirit” (152).

As ons meditatief omgaan met alles wat die Bybel ons oor God leer en onsself daarvoor oopstel, besef ons meer en meer dat God die inbegrip is van alles wat waar is, alles wat heilig is, alles wat liefdevol is, alles wat regverdig is, alles wat rein is. Daar is niks wat die moeite werd is wat nie uit God en deur God is nie. God is werklik die hoogste goed, die summum Bonum. Hy alleen is ons aanbidding werd.

Neem tyd om jouself bewus te maak van die heiligheid, liefde, barmhartigheid, wysheid en goedheid van God, voordat jy daartoe oorgaan om jou hart in gebed en lofprysing tot Hom te verhef. Dit mag nie maar net ’n mooi aanhef van ons gebed wees, waarna ons tot ons eintlike gebed nie. Dit is die hart van ons gebed.

  1. Uit die Bybel leer ons God ken as die Drie-enige. In die volwasse gebed en omgang met God moet dit daarom ook trinitaries toegaan. Baie mense bly staan by ’n gebed tot “liewe Jesus”. Ons moet wel kinderlik in die gebed met God omgaan, en ons kan onmoontlik werklik met God wandel as ons nie soos kindertjies word nie (Matteus 18:1–5), maar dit is iets anders as onderontwikkeldheid in die insig in wat die Skrif ons oor God leer. Die Bybel laat ons God ken as die drie-enige God, en in ons omgang met Hom moet ons daarom ook daarmee rekening hou dat ons tegelyk met die Vader, die Seun en die Heilige Gees te make het. Die normale orde is dat ons tot die Vader bid in die Naam van die Seun en deur die Heilige Gees. Dit beteken nie dat ons nie ook die Seun en die Gees in die gebed kan aanspreek en Hulle kan vra om vir ons en in ons te doen wat hulle volgens die Bybel wil doen nie. Ons omgang met God word veel voller en ryker as ons ruimte maak vir die bewussyn dat ons met die drie-enige God te make het.

Veral die Heilige Gees is baie nou betrokke by ons gebed. Lees gerus Romeine 8:14–17, 26–27 en Galasiërs 4:6–7. Dit is die Gees wat in en deur ons bid. Hy vertolk die ware behoeftes van ons lewe teenoor die Vader. Dit beteken dat ons met vertroue kan bid, omdat nie die gebrekkigheid van ons gebed nie, maar die bedoeling van die Gees by God die deurslag gee. Daar is egter ook ’n wonderlike versekering aan hierdie beloftes verbonde: ons ontvang van die Gees die kindergesindheid, sodat ons werklik tot God as ons Vader mag bid (Romeine 8:15; Galasiërs 4:6–7). Niks behaag God meer nie, as die kindergesindheid van ons hart. Vrees word uitgedryf (vgl 1 Johannes 4:16–19). Onsekerheid oor ons eie kindskap word uitgeban. Met kinderlike dankbaarheid en in diepe vertroue op die goedheid en genade van God mag ons met Hom omgaan in die gebed en met Hom wandel. Ons weet immers dat ons skuld toegedek is onder die bloed van Christus en dat die kwaad wat nog steeds in ons oorbly en op talle maniere ons verhouding tot God vertroebel, deur belydenis en vergiffenis van ons weggeneem word, sodat ons gemeenskap het met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus (1 Johannes 1:3).

Neem tyd om bewus te word van u kindskap van God en uself te verlustig in die vertroue dat God u in liefde aansien en deur Christus ’n behae in u het.

  1. Dit is noodsaaklik om in ons geestelike lewe realisties te wees. In ons omgang met God het ons baie tye van vreugde, maar daar is ook tye van frustrasie en irritasie, droefheid en pyn. Ons wandel met God te midde van die aardse stryd. Ons hoef dit nie te ontken of te probeer om op ’n onnatuurlike wyse voor te gee dat alles net altyd voor die wind gaan, omdat ons Christene is nie. Die Bybel is baie bewus van hierdie kant van ons verhouding tot God. In die Psalmbundel kry ons baie klaagpsalms, boetepsalms ens. Die hele lewe met sy moeite en leed kom daarin voor. Alle gebede word nie verhoor op die wyse wat ons sou begeer nie. Dink hier ook aan Job, aan Jeremia, aan Habakuk, en aan die helde van die geloof in Hebreërs 11. Die gelowige se wandel toon nie net ooreenkoms met die opstanding van Jesus nie, maar ook met sy kruis!

Daaroor praat Paulus in Romeine 8:17 en verder. Juis nadat hy so triomfantelik gepraat het oor die volkome verlossing in Christus en die seën van die besef dat ons kinders van God is, gaan hy direk daartoe oor om oor die sugte en lyding van die kinders van God te praat. Dan blyk dit dat ons tog nog nie heeltemal deel het aan die heerlikheid van God nie, maar dat ons nog maar gered is in hoop en dat ons daarom saam met die nog onverloste skepping (waaraan ons deel het) sug in afwagting van die heerlikheid wat sal kom. Dit is juis in hierdie situasie dat die Gees ons bystaan. Waar Romeine 8:15 daaroor praat dat die Gees ons die rykdom van die kindskap laat ervaar, lê vers 26 juis klem op ons armoede. Ons weet nie reg wat en hoe om te bid nie, maar met onuitspreeklike versugtinge bring die Gees ons behoeftes voor God (vgl JP Versteeg: De Heilige Geest en het gebed, Kampen, 1973).

Hierdie sugte het nie net te make met die algemene toestand van die wêreld waarin ons lewe nie, maar ook met ons eie sondige geaardheid, ons skeefgroei en traagheid wat met ons ou natuur saamhang. Ons ou natuur is wel met Christus gekruisig en met Paulus mag ons sê dat Christus in ons lewe (Galasiërs 2:20). Maar wat in Christus waar is, moet nog deur die Gees in ons lewe oorgebring word. Daarom dra ons lewe ’n gemengde karakter. Daarom kry ook die skadukant van ons lewe ’n plek in ons omgang met God. Naas die lofprysing van God sal daar in ons gebed ook altyd nog die volgende dinge voorkom:

(a) Skuldbelydenis. Lees Psalm 6,51,38. Daar is soveel verkeerds in elkeen van ons se lewe: selfsug, afguns, liefdeloosheid, oneerlikheid, onbillikheid ens. Dat ons nie altyd daarvan bewus is nie, beteken nie dat dit nie daar is nie.

(b) Klag. Die Psalms en die profesieë is vol van die klagte oor die dinge wat in die wêreld verkeerd is. Ook daarmee mag ons na God gaan. Vgl W Brueggemann: The Message of the Psalms, 1984 en Martin E Marty: A Cry of Absence (Harper & Rowe, San Francisco), waarin uitvoerig ingegaan word op die klag oor die afwesigheid van God in die Psalms.

(c) Sorge. Jesus waarsku teen sorge (Matteus 6). ’n Mens mag jou sorge maak oor die lot van andere en oor verkeerde dinge wat jy in die wêreld sien. Die vraag is wat ons daarmee maak. Ons moet leer om dit aan God af te gee.

(d) Roep uit die duister. In die mistieke literatuur verneem ons dikwels van die verlating, dws die ervaring van die bidder dat hy/sy deur God verlaat is. Ons vind dit ook in die gereformeerde bevindelike literatuur. MJA de Vrijer skryf dat die kind van God soms homself “van God verlaten waant, de vreugde in God niet ervaart, noch in de goddelijke dingen. Dat is de verlating”. Dit is eintlik ’n siektetoestand in die geestelike lewe. In die Psalms kry ons dikwels hierdie soort sentimente (Psalm 10:1; 31:23; 32:4, 38:7,9,11,19, ens.). Soms word die bidder geteister deur die vrees dat hy/sy nie meer ’n kind van God is nie. Die enigste raad is om maar net aan God vas te hou. Wanneer dit Hom behaag, sal die lig weer deurbreek.

Die kind van God moet in hierdie wêreld in meer as een opsig deelhê aan die lyding van Christus. Dit geld nie net wanneer ons spesifiek om Christus ontwil ly nie, maar ook wanneer ons ly deur verdrukking, miskenning, diskriminasie en ander dinge, maar ook gewoon weg vanweë fisieke oorsake. Die kind van God moet ook leer om lyding te verdra.

Oefening: Neem tyd voor die aangesig van God om bewus te word van die grootheid en heerlikheid  van God en prys Hom daarvoor. Prys Christus om sy liefde. Prys die Heilige Gees oor sy sorg, sy inwoning in jou hart, sy teerheid en leiding. Oefen jouself daarin om in die geloof jou posisie in Christus in te neem en God daarvoor te dank dat jou ou mens reeds saam met Christus gekruisig is, al is hy nog so virulent in jou werksaam. Vra Christus om jou hart te vervul met die vreugde oor die werklikheid dat jy in Hom ingesluit is, in sy dood en sy opstanding. Luister dan na jou hart en stel vas wat jou hinder en swaar op jou hart lê. Bring dit eerlik voor Hom en laat dit daar. Oefen jouself daarin om voorbidding te doen vir die nood van mense rondom jou, vir die toestand in ons land en spesifiek vir diegene wat op ’n bepaalde wyse op jou pad gebring word en in jou bewussyn opkom terwyl jy bid.

Moontlike gedeeltes uit die Skrif: Psalm 51, 2 Korintiërs 12:1–10, Habakuk 3, Matteus 26:36–46 ens.

3.   ONS OMGANG MET DIE SKRIF

1.         Ons het by die vorige twee geleenthede gepraat oor die noodsaaklikheid van ’n tyd van stilte vir meditasie en gebed in ons daaglikse program. Ons sluit vanaand af deur dieper in te gaan op die beslissende betekenis van die omgang met die Woord van God in ons stiltetyd en gebed. Ons kan selfs sê dat alles in ons stiltetyd om die Woord van God moet draai. Dit is die kenmerkende van die Christelike meditasie in teenstelling met ander vorme van meditasie, dat die Bybelwoord self ’n oorheersende rol daarin moet speel. Dit is ook die ervaring van Christene deur die eeue dat die gebedsomgang met God in betekenis en diepte toeneem as dit ten nouste gekoppel word aan die woorde van die Bybel self.

Daarom is dit goed om daarvan uit te gaan dat daar twee soorte omgang met die Bybel gedurende ons stiltetyd kan wees. Die eerste is die luister na die Woord van God deur die lees van die Bybel en die doen van Bybelstudie; en die tweede is die meditatiewe en kontemplatiewe omgang met die Skrif wat vanself uitloop op ’n geestelike kommunikasie met God deur die omgang met die Skrifwoorde.

  1. Van die lees van die Bybel en die doen van Bybelstudie het die meeste van ons waarskynlik reeds heelwat ervaring. Dit is belangrik om gereeld die Bybel te lees. Baie mense het die gewoonte om minstens eenkeer per dag ’n paar minute opsy te sit om ’n stukkie uit die Bybel te lees en ’n gebed te doen. Dit is uitstekend, maar die betekenis daarvan is dikwels beperk, omdat die lees van die Bybel miskien te ongeordend geskied, of te formalisties, of sonder om werklik behoorlik na te dink oor wat gelees is, of omdat altyd min of meer net dieselfde dele gelees word, of omdat die tyd wat daaraan bestee word, te min is om werklik vrugbaar te kan wees.

Baie Christene hanteer die Bybel verkeerd, deurdat hulle die Bybel as ’n soort “wonderboek” verstaan, wat ’n mens maar net kan oopslaan om ’n stukkie daaruit te lees wat dan as ’n direkte boodskap aan jou geïnterpreteer word – sonder dat hulle die verband waarin die woorde staan of die ware betekenis daarvan regtig in aanmerking neem. So mag ’n mens werklik nie met die Bybel omgaan nie, omdat die Bybel nie as ’n orakel-boek aan ons gegee is nie, maar as die getuienis aangaande en verkondiging van Gods omgang met sy volk in die geskiedenis. Die boodskap van die Bybel kom nie na ons in ’n geheimtaal nie, maar as ’n verstaanbare boodskap wat volgens die gewone reëls van skriftelike kommunikasie ondersoek en uitgelê moet word. Dikwels merk mense nie dat hulle juis op ’n eiesinnige wyse met die Bybel omgaan as hulle allerlei betekenisse in die Bybel inlees op grond van hulle ad hoc situasie nie. so ’n soort interpretasie van die Bybel dra geen gesag nie en kan ons nie werklik help nie.

Die Bybel vra om gelees, oordink en verstaan te word op ’n nugter manier, maar natuurlik onder biddende opsien tot God om ons te help om werklik te verstaan wat die Gees daarin aan die gemeente wil sê (Openbaring 2:11). Dit is daarby van die grootste belang met watter gesindheid en verwagting ons die Bybel benader en lees. Ons moet die Bybel lees met die geloof dat dit werklik die betroubare en geïnspireerde Woord van God is wat ook vir ons ’n boodskap het as ons op die regte manier daarna luister (2 Timoteus 3:14–16).

Ons lees die Bybel op die regte manier as gelowige en probeer verstaan wat werklik die bedoeling van die gelese gedeelte is. Die Bybelwetenskap kan ons daarby baie help deurdat dit die betekenis van die Bybelteks op ’n wetenskaplike manier probeer vasstel. Baie resultate van die Bybelwetenskap word ook gepopulariseer en ’n mens kan literatuur kry wat jou kan help om die Bybelse boodskap beter te verstaan. Ongelukkig word die Bybel dikwels in die Bybelwetenskap op ’n bloot literêre wyse krities gelees asof dit net om ’n gewone historiese teks gaan. Die geloof dat dit die Woord van God self is wat deur die Gees gebruik word om met ons te praat, funksioneer dan nie. Die geestelike boodskap daarvan word dan nie gehoor nie.

Gelukkig hoef dit nie so te wees nie. ’n Wetenskaplike omgang met die Bybel kan ook vanuit die geloof geskied dat dit Gods Woord is waardeur Hy nog steeds met ons praat. Dan verryk dit ons Bybelstudie. ’n Groot gevaar wat ons omgang met die Bybel bedreig, is die oorbekendheid met dié dele van die Bybel wat ons oor en oor lees, sodat ons naderhand nie meer die verrassend-nuwe boodskap daarvan hoor nie. Dan het ons hulp nodig om weer nuwe lig op die gedeeltes te laat val. Die gebruik van die Bybel met Verklarende Aantekeninge en die lees van werke oor Bybelstudie kan dan nuttig wees, deurdat dit aan ons nuwe informasie gee en ons help om die betrokke gedeelte weer van ’n ander kant te Sien. Werke oor Bybelstudie kan ons ook help met die probleem dat ons groot dele van die Bybel eenvoudig links laat Iê, omdat hulle nie direk tot ons spreek nie. In so ’n geval kan iets soos die Bybel-blokboek van Dr Johan Symington, bepaalde kursusse van Bybelkor of ander publikasies ons weer ’n nuwe toegang tot die Bybel laat kry.

  1. As ’n algemene wenk vir hoe om die boodskap van die Bybel reg te ontdek, noem ek graag die drie basiese beginsels vir Bybellees wat deur dr Coenie Burger geformuleer is. Hulle kom na vore in die drie vrae: (a) Wat sê die gelese gedeelte oor God? (b) Watter stuk lewe word daardeur aangespreek? en (c) Watter antwoord vra die teks van my? ’n Mens kan dit ook anders uitdruk deur te sê dat dit in (a) gaan oor die evangelie of goeie nuus of die belofte wat in die teks opgesluit lê; in (b) oor die wet wat onthul wat in ons lewe verkeerd is, wat ons situasie blootlê, en in (c) oor die opdrag of gebod wat uit die teks in ons situasie tot ons kom. As ons probeer om die Bybel biddend met hierdie drie vrae in gedagte te lees en tyd neem om dit rustig op ons te laat inwerk, behoort ons tot die aktuele boodskap van die gedeelte deur te dring.

Oefening: Lees een of meer van die volgende gedeeltes en probeer hierdie metode toepas:
Miga 6:1–8
Matteus 6:19–24
Matteus 6:24–34
Romeine 12:1–8
Genesis 22
2 Korintiërs 5:11–21 ens.

  1. Hierdie soort omgang met die Bybel is van onskatbare waarde, omdat dit ons help om die werklike boodskap van ’n bepaalde Bybelgedeelte beter te begryp. Wanneer dit gebeur, is ons eintlik klaar by die poort van wat ons die tweede manier genoem het waarop ons in ons stiltetye met die Bybel omgaan, en dit is dat ons op ’n meditatiewe en biddende wyse die gelese deel as’t ware in ons hart en lewe opneem. Die tweede manier van omgaan met die Bybel laat eintlik die aksent net anders val, omdat dit nog meer ruimte wil maak vir ’n groter oopstelling van ons lewe vir die boodskap van die teks, deur nie net rasioneel nie, maar ook geestelik reseptief op die teks te konsentreer.

Volgens ons verstaan van meditasie gaan dit oor die nadink oor, die biddende oorweging van en die persoonlike toeëiening van die betrokke gedeelte in die Skrif. Om dit te kan doen, moet ons eers leer om rustig en aandagtig te lees presies wat daar staan. Ons geslag het in groot mate verleer om rustig te lees. Dit het ook daarmee te make dat ons te veel moet lees. Ons word daagliks toegegooi met dinge wat ons eintlik behoort te lees, maar waarvoor ons nie genoeg tyd het nie. Die meeste van ons lees waarskynlik die koerant deur hoofsaaklik na die opskrifte te kyk en hier en daar van enkele sinne van ’n berig vlugtig en oorsigtelik kennis te neem. Baie ander lees rapporte, verslae, briewe en notules met die oog op ons werk. Ons lees dit so vinnig as moontlik ten einde onsself op hoogte van sake te stel. Ons kultuur dryf ons daartoe om vinnig ’n indruk te kry van die kennis wat ons nodig het. Ons kan dit met Toon informatiewe lees noem: dit verskaf aan ons die nodige informasie om te kan bybly en ons werk te kan doen.

Sonder dat ons dit besef, lees ons naderhand die Bybel ook so vlugtig, werktuiglik en sonder die innerlike oorgawe en konsentrasie wat daarvoor nodig is. Die hele doel van hierdie kort kursus is om ons aan te spoor om die Bybel weer ernstig en rustig te leer lees. Peter Toon noem dit formatiewe lees: dit moet ons vorm, of liewer: Christus wil ons deur die lees van die Bybel vorm om aan sy beeld gelykvormig te word (Meditating as a Christian, 57 ev). Dit beteken dat ons tyd moet neem om te luister wat God aan ons wil sê en om daarop te antwoord. Die informatiewe lees van die Bybel om vas te stel wat in die teks staan – waaroor ons hierbo gepraat het – moet oorgaan in ’n tyd van stilte en gebed in gesprek met en in aansluiting by die Bybel. Alles wat ons vroeër oor ons stiltetye gesê het, kom hier eers werklik tot sy reg:

Peter Toon skryf: “Turning to the chosen passage… l think of it as if it were a short section, intended particularly for me, of a larger Letter sent from heaven to earth… Thus I am not to approach it objectively and scientifically but carefully and tenderly. I am to savour its every word and appreciate its inner and hidden meaning, which love can see, feel and know. I am now ready to begin to read formatively and meditate biblically in order to meet my Beloved. so 1 read aloud slowly the verse(s) chosen. One method is to notice the punctuation and to slow down and breathe more slowly for the commas and even more slowly for the full stops…so I read aloud softly but clearly so that I may ‘taste” the flavour of the Word and may also hear the gracious sound of the Word. At the same time, my eyes see the content of the Word. And I read again – gently dwelling on each word, each phrase and each sentence.

“My attitude is that of patiently abiding in God’s presence and care and listening and looking in humble expectancy. I may read my short piece of Scripture five or ten times or more – or less! Further, my reading will be interspersed by prayer – of praise or of petition or of confession. In advance I cannot plan what will be my involvement and response for I do not know what God is going to cause me to taste, feel, hear and see in his Word. One day I may only read a few words for they become immediately a path into communion with God; but on another I may read several sentences before what I taste, see and hear becomes a channel of God’s grace to me” (Meditating as a Christian, 61–62).

Toon wys ook nog daarop dat ’n mens nie elke dag dieselfde vreugde by die meditatiewe omgang met die Bybel ervaar nie. Dit moet ons egter nie ontmoedig nie. Ook die skynbaar droë dae is vir ons geestelike lewe meer werd as wat ons besef. Die Woord en Gees van God is nie afhanklik van ons gevoel of ervaring nie, en dring in elk geval in ons binneste deur, selfs al ervaar ons dit nie.

  1. Dit is moontlik om nie net na die Bybelwoorde te luister nie, maar om ook te leer om aan die hand van die Bybelwoorde en selfs met die Bybelwoorde te bid. Dit is bekend dat Luther aanbeveel het dat ’n mens die Tien Gebooie en die Onse Vader moet gebruik vir jou meditatiewe gebed. Van die gebooie sê hy byvoorbeeld dat hy op ’n viervoudige manier met hulle omgaan: Hy neem eers elke gebod op as iets wat God ons wil leer oor wat Hy van ons verwag. Ten tweede dank hy God daarvoor dat Hy dit van ons vra. Derdens bely hy sy skuld aan die hand daarvan, en vierdens maak hy elke gebod tot ’n gebed.

Dit is natuurlik moontlik om dit met baie gedeeltes uit die Bybel te doen. ’n Mens sou bv baie van die Psalms rustig kon bedink, totdat dit vir jou tot ’n gebed word. Die Psalms wat ons die beste ken, kan telkens weer vir ons nuut word as die draers van ons versugtinge en gebede voor God. Ons het tevore al Psalm 139 en Psalm 42 genoem, maar wat van Psalm 8, Psalm 23 en talle meer. Al die Psalms kan hierdie rol in ons lewe vervul, selfs dié wat aanvanklik vir ons vreemd voorkom en ver van ons belewingswêreld skyn te staan. Maar dit is juis in hierdie tyd van die jaar so wonderlik om oor die opstandingsverhale in die evangelies te mediteer. Dink in hierdie verband bv aan die berig oor die ontmoeting tussen Jesus en Thomas (Johannes 20:19–29), of die ontmoeting tussen Jesus en die Emmaüsgangers (Lukas 24:13–35), of aan die gesprek tussen Jesus en Petrus (Johannes 21:15–19).

Die hoofsaak is dat ons daarvoor moet bid en daarna moet strewe om ’n nuwe gesindheid deelagtig te word, ’n gesindheid van honger en dors na die lewende Woord van God, en dat ons in diepe vertroue moet leer omgaan met die Bybel in die verwagting dat God deur sy Gees die woorde van die Skrif vir ons nuut sal maak en ons daardeur sal verander, sodat ons hoe langer hoe meer self gevorm kan word na die beeld van Christus.

Deel 2: DIE VERBORGE VERKEER MET GOD

  1. Een van ons groot probleme is dat ons so gepreokkupeerd met onsself is, dat ons nie net in ander dinge nie, maar ook in ons godsdiens altyd met onsself en ons eie belange besig is. Die Westerse mens het baie pragmatisties geword en vra eintlik net altyd: watter nut, watter betekenis het dit vir my? So kan ’n mens soms die uitspraak hoor: “Christianity works” as ’n duidelike manier om reklame te maak vir die Christelike geloof as iets wat betaal. En daar is ’n hele rigting in ons tyd wat selfs die “prosperity cult” genoem word, omdat dit veral klem daarop lê dat dit betaal om ’n Christen te wees, omdat God goed vir sy kinders sorg.

Maar in werklikheid gaan dit in die godsdiens eintlik nie om ons nie, maar om God. Karl Marx het dit goed verstaan toe hy in sy afwysing van alle godsdiens gesê het dat dit vernederend vir die mens is om God te sien as die son waarom alles draai. Volgens hom moes die mens die son wees waarom alles draai, maar vir die gelowige is dit werklik so dat God die son is waarom alles draai, en dit is die hoogste vreugde en vervulling van die skepsel om net maar om hierdie Son te draai.

Die werklike sin van ons lewe is om God te loof en te prys. Die eerste en groot gebod is dat ons die Here onse God moet liefhê met ons hele hart, met ons hele siel en met ons hele verstand. Wat kan dit anders beteken as volkome gerigtheid op God met ons hele wese en ons hele bestaan? Is dit nie die egte bekering nie, en beteken dit nie dat ons hele lewe ’n proses van bekering is, waarin ons steeds meer wegdraai van ons ingeboënheid in onsself, en op God gerig is nie? Dit sal in elk geval eenmaal in die hemel so wees, en die aardse lewe is bedoel as ’n inoefening daarvoor. Die grootste en mees fundamentele keuse waarvoor ons gestel is, is die keuse tussen God en onsself. Die Bybel bring die boodskap baie duidelik: Om naby God te lewe, om met God te wandel beteken om op God gerig te wees en aan Hom die lof en die eer te gee.

In aansluiting by wat ons tevore gesê het, moet ons dus hier beklemtoon dat die doel van ons omgang met God in ons stiltetye nie in die eerste plek kan wees om net ons eie wense en begeertes, veral met die oog op ons tydelike behoeftes, aan God voor te lê nie. Dit kan die oorsaak van die armoede van ons stiltetye wees, dat dit vir ons daarin hoofsaaklik gaan om gebede rondom ons eie behoeftes. Die hoofsaak van ons stiltetye moet wees om met God te verkeer, en daarby sal baie van ons eie behoeftes noodwendig op die agtergrond tree en hulle regmatige plek inneem (vgl die opbou van die Ons Vader). Die egosentriese instelling waarmee ons bid, word in die Ons Vader afgewys. Christus leer ons dat ons belange eers regtig gewaarborg is as dit opgeneem is in die belange van die Vader (Lees: Ds J Overduin: Worden als een man, Wageningen, 1967, 168).

  1. In die Bybel kom ons verskillende vorms van gebed tereg. RE Clements wys in sy boek, The Prayers of the Bible, SCM, 1986, op die elementêre vorm van die bid-gebed (vgl Lukas 11:9 “Bid en julle sal ontvang”). As ons persoonlike begeertes egter die gebed domineer, kan dit maklik selfgesentreerd word en min openbaar van die besef van Wie God is. Daarom ken die Bybel ook die voorbiddingsgebed, waarin by God ingetree word vir die behoeftes van andere. Daarnaas staan ook die verootmoedigingsgebed waarin skuldbelydenis gedoen word. Maar die vernaamste vorm van gebed is – volgens Clements – tog die lofprysing van God. In die lofprysing is ons besig om God te ontdek. Dit is die hoogste doel van gebed. “If we had done nothing more than lift our hearts to God in praise, we should have achieved the greatest goal possible for any prayer” (aw, 13). Die rede waarom ons gebede so weinig reg hieraan laat geskied, is dat dit soveel meer van ons vra om oor God na te dink en ons daarop voor te berei om ons in lofsegging tot Hom te wend.
  2. Een van die groot gebreke in ons gebede en dus ook in ons wandel met God is dat ons te klein oor God dink. Soms dra ons uit ons jeug ’n bepaalde beperkte begrip van God met ons saam, en dit beïnvloed ons omgang met Hom oor ’n lang periode van ons lewe. Al is dit noodsaaklik om oor God as Persoon te dink, moet dit nie beteken dat ons oor Hom in ’n beperkende sin dink nie. In die begrip “persoon” sit baie maklik vir ons die betekenis van beperktheid wat met individualiteit gegee is, opgesluit. Maar God gaan ons verstand te bowe, deurdat Hy aan die een kant as hoogs persoonlik gedink moet word, en aan die ander kant tog in geen enkele opsig beperk is nie, maar alomteenwoordig is en sy ganse skepping omsluit. Ons moet ons voorstelling van Hom eerder ontgrens as begrens.

Kom ons lees Psalm 139 en dink vir ’n oomblik na oor die alwetendheid, alomteenwoordigheid en lewende betrokkenheid van God by alles wat met ons – en met die hele wêreld – gebeur.

Lees ook Jesaja 40:12–26.

Ten slotte ook Jesaja 6:1–6.
Wat sê hierdie gedeeltes aan ons oor die majesteit van God? Moet ons nie, as ons dit reg verstaan, besef dat ons voor God alleen in die diepste eerbetoon moet staan nie?

  1. As ons tot die regte lof van God moet kom, is dit nodig dat ons onsself moet oopstel vir die majesteit en heerlikheid van God, sodat ons hart verhef kan word bokant ons eie onmiddellike behoeftes en begeertes tot die verering en bewondering van God. Daarom is dit nodig om meer aandag te bestee aan die wyse waarop die Bybel oor die hoedanighede of eienskappe of deugde van God praat. Die leer oor die eienskappe van God is dikwels vir studente iets droogs, maar dit is omdat hulle dit intellektueel benader as iets wat “geleer” moet word, en nie doksologies, as deel van ons aanbidding van Gods Naam nie.

Dit kan ons baie help om ’n stigtelike behandeling van die eienskappe van God te lees soos dit bv in die boekie van AR Tozer voorkom: The Knowledge of the Holy, Kingsway Publications (Operation Mobilisation), 1987. Op ’n ietwat ouwêreldse manier bespreek hy die verskillende eienskappe van God nadat hy as inleiding geskryf het oor: Why we must think rightly about God. Aan die einde van die boek gee hy as raad vir die verdieping van die geestelike lewe: “Acquaint thyself with God”. Die regte kennis van God leer ’n mens nie uit ’n boek nie; selfs nie uit die letter van die Bybel alleen nie. Dit vereis ’n gereinigde hart (vgl Matteus 5:8). Tozer sê: Daarvoor is nodig “a throwing open of the entire personality to the inflow of the Holy Spirit” (p 152).

Dit is nodig dat ons meditatief omgaan met alles wat die Bybel ons oor God leer en dat ons onsself daarvoor oopstel, sodat ons kan besef dat God die inbegrip is van alles wat waar is, alles wat heilig is, alles wat liefdevol is, alles wat regverdig is, alles wat rein is. Daar is niks wat die moeite werd is wat nie uit God en deur God is nie. God is werklik die hoogste goed, die summum Bonum. Hy alleen is ons aanbidding werd.

Neem tyd om jouself bewus te maak van die heiligheid, liefde, barmhartigheid, wysheid en goedheid van God, voordat jy daartoe oorgaan om jou hart in gebed en lofprysing tot Hom te verhef. Die lofprysing van God mag nie maar net ’n mooi aanhef van ons gebed wees, waarna ons oorgaan tot ons eintlike gebed nie. Dit is die hart van ons omgang met Hom.

  1. Uit die Bybel leer ons God ken as die Drie-enige. In die volwasse gebed en omgang met God moet dit daarom ook trinitaries toegaan. Baie mense bly staan by ’n soort infantiele gebed tot “liewe Jesus”. Ons moet wel kinderlik in die gebed met God omgaan, en ons kan onmoontlik werklik met God wandel as ons nie soos kindertjies word nie (Matteus 18:1–5), maar dit is nog iets anders as onderontwikkeldheid in die insig in wat die Skrif ons oor God leer. Daaroor kan daar teen twyfel wees nie: die Bybel laat ons God ken as die drie-enige God, en in ons omgang met Hom moet ons daarom ook daarmee rekening hou dat ons tegelyk met die Vader, die Seun en die Heilige Gees te make het. Die normale orde is dat ons tot die Vader bid in die Naam van die Seun en deur die Heilige Gees. Dit beteken nie dat ons nie ook die Seun en die Gees in die gebed kan aanspreek en Hulle kan vra om vir ons en in ons te doen dit wat hulle volgens die Bybel wil doen nie. Ons omgang met God word veel voller en ryker as ons ruimte maak vir die bewussyn dat ons met die drie-enige God te make het.

Hierdie omgang met God kom baie mooi tot uitdrukking in wat die Bybel ons oor die verband tussen die Heilige Gees en die gebed leer. Lees gerus Romeine 8:14–17, 26–27 en Galasiërs 4:6-7. Hieruit is dit duidelik hoe intiem die Gees by ons gebed betrokke is. Dit is Hy wat in en deur ons bid. Hy vertolk die ware behoeftes van ons lewe teenoor die Vader. Dit beteken dat ons met ’n groot mate van vertroue kan bid, omdat nie die gebrekkigheid van ons gebed nie, maar die bedoeling van die Gees by God die deurslag gee. Dit beteken egter ook dat ons bewus ons hart en lewe moet oopstel vir die Gees tydens ons gebed, om ons bewus te maak van wat ons van die Vader moet vra.

Daar is egter ook ’n wonderlike element van versekering aan hierdie beloftes verbonde: ons ontvang van die Gees die kindergesindheid, sodat ons werklik tot God as ons Vader mag bid (Romeine 8:15; Galasiërs 4:6–7). Niks behaag God meer nie, as die kindergesindheid van ons hart. Vrees word uitgedryf (vgl 1 Johannes 4:16–19). Onsekerheid oor ons eie kindskap word uitgeban. Met kinderlike dankbaarheid en in diepe vertroue op die goedheid en genade van God mag ons met Hom omgaan in die gebed en met Hom wandel. Ons weet immers dat ons skuld toegedek is onder die bloed van Christus en dat die kwaad wat nog steeds in ons oorbly en op talle maniere ons verhouding tot God vertroebel, deur belydenis en vergiffenis van ons weggeneem word, sodat ons gemeenskap het met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus (1 Johannes 1:3).

Opdrag vir die week:

Lees Genesis 27–28, 31–32 en let veral op die aard van Jakob se gebede in Genesis 28 en 32. Hoe verstaan u die groot worsteling wat volgens Genesis 32 tussen hom en God plaasvind?

Kyk of u in die gees en stemming van Psalm 136, 138, 145–150 kan inkom en die Here ook met opregtheid so kan loof.

Dink na oor die moontlikheid dat ’n mens die hele dag lank naby God kan lewe, omdat jy bewus is van sy teenwoordigheid, sy liefde en sy trou.

3.   OM PERSOONLIK NABY GOD TE LEWE

  1.  Wandel met God het alles te make met ’n verdieping van ons persoonlike verhouding tot God, Dit. is terselfdertyd doel en resultaat van die wandel met God. Dit is egter ook noodsaaklik met die oog op ons diens aan God en ons medemense. Daarom is dit noodsaaklik dat ons daaraan afsonderlik aandag gee.

Dit is vir ons daarby belangrik om realisties te wees oor die aard van ons wandel met God in die konkrete lewe. Ons word dikwels in literatuur oor die onderwerp net gewys op wat die ideaal is. Soms word ook deur mense oor die stand van hierdie omgang met God getuig op ’n wyse wat ons laat dink dat hulle net altyd vreugde en sonskyn belewe. In die werklikheid van ons wandel met God is ons ervaring egter dikwels baie anders.

Daar is wel oomblikke van groot vreugde en blydskap, maar daar is ook baie tye van teleurstelling en frustrasie, van remminge en droefheid. Ons is immers nog nie aan die konkrete, gebroke aardse bestaan onttrek nie. Daarom moet ons verwag om in ons konkrete lewe met baie irritasies, stryd, swakheid, neerlae en pynlike situasies te doen te kry. Ons wandel met God is in feite ’n wandel met Hom te midde van die aardse stryd. Ons behoort nog nie tot die ecclesia triumphans, die triomferende kerk nie, maar tot die ecclesia militans, die strydende kerk. Daarom moet ons daarmee reken dat ons wandel met God aan allerlei stremminge onderworpe sal wees. Om dit te ontken en dit as kenmerk van die ware geloof te beskou dat ons altyd net vreugdevol en jubelend behoort te wees, soos dit soms deur entoesiastiese Christene voorgestel word, is gevaarlik.

  1. Die Bybel praat daar ook nie anders oor nie. As ons maar net let op die Psalms, word ons dadelik daardeur getref dat daar naas die lofpsalms ook baie ander soorte voorkom, soos klaagpsalms, boetepsalms, smeekpsalms ens. Die hele lewe met sy moeite en verdriet kom daarin voor. Dink hier ook aan die boek Job. Die kinders van God van wie ons in die Bybel lees, het dikwels nie op die toppe van die berge gelewe nie, maar in allerlei angs en nood verkeer, teleurstelling en pyn verduur en teen misverstande, verontregting en allerlei ander onaangenaamhede gestry. Vgl in hierdie verband bv die worstelinge wat Jeremia met God gehad het (Jeremia 12:18 ev; Jeremia 19:14–20 tot op die punt dat hy selfs sy eie geboortedag vervloek), Dink ook aan wat Hebreërs 11 te vertel het oor die helde van die geloof, of aan die stryd wat die apostel Paulus selfs in sy eie gemeentes te stry gehad het (2 Kor!). Dit blyk dat die gelowige se wandel met God nie net ooreenkoms vertoon met die triomf van die opgestane Jesus nie, maar ook met die lyding van die gekruisigde Jesus.

Daaroor praat Paulus in Romeine 8:17 ev. Die merkwaardige is dat dit juis kom nadat hy met soveel helderheid daarop gewys het dat ons deur Christus verlos is van die vloek van die wet, van die skuld van die sonde, en dat die Heilige Gees ons innerlik bevry, sodat ons egte kinders van God kan wees wat met vrymoedigheid met die Vader kan verkeer (Romeine 8:14–16). As kinders is ons ook erfgename van die hemelse heerlikheid saam met Christus. Maar juis dan voeg hy daaraan toe: “Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid” (vs 17).

In die verse wat hierop volg, laat hy dan sien dat ons tans nog nie ten volle deel het aan die heerlikheid nie. Ons is tans wel gered in hoop, maar nog nie so dat ons die volle heerlikheid smaak nie. Ons is saam met die skepping onderworpe aan die verydeling en die verslawing aan die verganklikheid, en daarom sug ons saam met die skepping, ook al het ons die Gees as eerste gawe van die verlossing ontvang (vs 23). In die Nuwe Testament word onderskei tussen “hierdie wêreld” (eeu) en die “toekomstige wêreld” (eeu). Ons leef tans nog in hierdie een, die bedeling van die onvolkomenheid, en God het nog nie openbaar gemaak wie sy kinders is nie (vs 19, 23; vgl 1 Johannes 3:2).

In hierdie situasie staan die Gees ons in ons swakheid by. Ons leef tans nog in die situasie van stryd, onvolkomenheid en aanvegting, maar daarin is ons nie sonder die troostende en bewarende bystand van die Gees nie. Dit het  ingrypende betekenis, veral vir ons omgang met God en met name vir ons gebed. Waar vers 15 daaroor praat dat die Gees ons die rykdom van ons kindskap laat ervaar, lê vers 26 juis weer daarop klem dat die Gees ons in ons armoede bystaan deur namens ons versugtinge voor God te bring wat nie met woorde gesê kan word nie. Ons weet immers in hierdie aardse bedeling nie wat ons moet bid, sodat dit in ooreenstemming sal wees met Gods raadsplan oor hoe alles in belang van sy koninkryk moet verloop nie (vgl JP Versteeg: De Heilige Geest en het gebed, Kampen, 1973).

  1. Dit is hierdie voorlopigheid van ons verlossing wat meebring dat ons in ons wandel met God gestrem word deur lyding, nood en alle vorme van teenspoed en ellende wat nog saamhang met ons aardse bestaan, maar ook met ons eie sondige geaardheid wat aan hierdie kant van die graf nog steeds blootgestel bly aan versoekinge, skeefgroei, afdwaling, traagheid en alles wat nog meer met ons ou natuur saamhang. Ons ou natuur is wel met Christus gekruisig, en met Paulus mag ons sê dat Christus in ons leef (Galasiërs 2:20). Maar wat in Christus waar is, moet nog deur die Gees in ons subjektiewe bestaan oorgebring word, en dit gaan vanweë ons ou natuur met veel stryd en verset gepaard. Daardeur dra ons lewe ʼn gemengde karakter. Aan die een kant is daar soveel rede tot vreugde oor die heil in Christus en die wyse waarop ons reeds in hierdie lewe die eerste vrugte daarvan mag smaak, maar aan die ander kant is daar soveel rede tot sugte by ons, omdat ons nog nie is wat ons eenmaal sal wees nie.

In ons wandel met God kom hierdie dinge voortdurend ter sprake. Ons begin ons stiltetyd met inkeer en lofprysing aan God, waarby ook dankbaarheid ingesluit is vir alles wat Hy aan ons gedoen het en wat ons ook kan ervaar. Dit is goed dat ons ons sorge en probleme, ons frustrasie en droefheid eers op die agtergrond skuif om ons uitsig op God se almag en genade, liefde en goedheid vry te kry. Maar dan mag en moet ons in ons omgang met God ook hierdie dinge aan die orde stel. Daaronder val dan:

(a)   Skuldbelydenis. Vergelyk 5de bede van die Ons Vader. Lees Psalm 6, 51 en 38. Niemand moet dink dat hy nie elke dag genoeg het om te bely nie. As ons ons lewe deur die dag in oënskou neem, sal ons merk hoeveel verkeerds daarin voorkom: liefdeloosheid, oneerlikheid, selfsug, afguns, onbillikheid, hebsug, onreinheid ens. Dat ons nie altyd daarvan bewus is nie, hang daarmee saam dat ons dit dikwels uit ons bewussyn verdring. Ons besef nie altyd hoeveel ons die Gees bedroef nie (Efesiërs 4:30).

(b)   Klag. Ook daarvan is die Psalms vol. Byna in elke Psalm word daar geklae oor die vyande, oor siekte en teenspoed, oor lyding en pyn. Hierdie klagtes het nie altyd net met die individuele teenspoed te make nie, maar ook met die toestand van die volk van God, of in die algemeen die ongelukkigheid en pyn wat in die wêreld heers. Veral word daar gek lae oor die onreg, deurdat dit lyk asof die goddelose voorspoedig is, maar die regverdige teëspoedig. Vgl Job, Habakuk, Psalm 37, 73 ens. Vgl W Brueggemann: The Message of the Psalms, 1984. Ons mag hieruit leer dat ons vryelik voor God mag kom met alles wat vir ons swaar is, en dat ons werklik alles wat op ons hart lê, voor Hom mag uitspreek.

(c)   Sorge. Sorg is een van die groot vernietigers van ons vreugde. Die Bybel praat dikwels oor sorge. Die Psalms is vol uitsprake wat van sorg getuig. Jesus waarsku teen sorge (Matteus 6). Dit is seker nie so dat ons ons geen sorge mag maak nie, want tereg sal ons bekommerd mag wees oor verkeerde ontwikkelinge wat ons sien, die nood van ons dierbares, skades wat ons vrees ens. Maar die vraag is wat ons met daardie sorge maak. Ons moet daardie sorge aan die Here afgee. Dit is ’n wesenlike deel van ons verlossing dat ons dit mag doen. Miskien is ons bekommerdheid een van die maniere waarop ons die Gees nog die meeste bedroef.

(d)   Roep uit die duister. In die mistieke literatuur kon ons meermale die verwysing teë na die verlating. Daarmee word bedoel dat die bidder sy situasie ervaar as dié van geestelike dorheid en doodsheid, omdat God hom verlaat het en sy gesig van hom afgewend het. Dit kom ook voor in die gereformeerde bevindelike lektuur. Vgl hier MJA de Vrijer: Het ingekeerde leven, 199, wat sê dat ’n kind van God soms homself “van God gescheiden waant, de vreugde in God niet ervaart, noch in de goddelijke dingen. Dat is de verlating.” Dit is eintlik ’n siektetoestand in dié geestelike lewe, waardeur ’n mens die gevoel het van geestelike dorheid, van geestelike ongevoeligheid en koudheid, tot selfs op die punt waar hy dink dat hy heeltemal deur God verlaat is. In die Psalms kry ons ook dergelike sentimente: vgl Psalm 10:1; 31:23; 32:4; 38:7,9,11,19; 77:10; 83:2; 88:7,15 ens. Dikwels word die verlatene aangeveg met die gedagte dat hy/sy nie ’n kind van God is nie. Die enigste raad is in sulke tye is om maar net in die geloof aan God vas te hou. Op die tyd dat dit Hom behaag, sal Hy Hom weer tot ons wend en vreugde in ons hart gee.

  1. Dit sou verkeerd wees om te verwag dat God, omdat ons sy kinders is, ons eenvoudig uit elke situasie wat vir ons ongemaklik en pynlik is, moet verlos. Ons moet eenvoudig leer dat die lewe vol frustrasie en irritasie en teleurstelling is. Om deel te hê aan die lyding van Christus beteken nie net om ter wille van Christus te ly nie, maar om gebukkend te gaan onder die lyding en donkerte wat as gevolg van die sonde in die wêreld is en die lyding van Christus nodig gemaak het. In ’n sin ly God self daaronder, maar as Hy dit alles meteens sou verwyder, sou dit die einde van die wêreld en van alle sondaars beteken het. Omdat God genadig is, is Hy ook lankmoedig en duld Hy ook nog die goddeloosheid, sodat die goeie saad op sy akker nie saam met die onkruid uitgetrek word nie.

Dit is nie Bybels korrek om te meen dat God aan ons net voorspoed moet gee nie (vgl die prosperity cult). Dikwels kan ons baie selfsugtig in ons gebede wees. Ons moet leer om baie versigtig te wees om nie te meen dat God al ons wense moet vervul nie. Tereg sê Paulus dat ons nie weet wat ons moet bid nie (Romeine 8:26), onder andere ook omdat ons nie weet wat vir onsself goed is nie. Die Here Jesus leer ons nie om te bid vir rykdom, weelde, oorvloed ens nie, maar slegs vir ons daaglikse brood. Ons mag met vrymoedigheid bid vir die koninkryk van God en die koms daarvan, vir ʼn helderder insig in ons roeping met betrekking daartoe, vir die gawes wat ons daarvoor nodig het, vir die heiliging van ons lewens ens maar dit alles staan dan eintlik in die teken van die onderwerping aan Gods wil vir ons lewe, nie ons eie wense nie.

  1. Die meeste van alles moet ons natuurlik bid vir geestelike volwassenheid (Overduin: Worden als een man, Wageningen, 1967), sodat ons nie alleen die frustrerende werklikhede van die lewe in geloof kan trotseer nie, maar dat ons lewe as geheel ook gevul kan word met geloof, hoop en liefde. Daar sit baie meer aggressie, haat en afkeer van andere in ons as waarvan ons bewus is. Dat ons dit ontken en verdring beteken nog nie dat ons dit oorwin het nie. Ons kan ons vandag miskien verwonder oor die vloekpsalms, omdat ons dink dit kan tog nie pas by ’n kind van God nie maar as ons eerlik is, sal ons besef dat dieselfde sentimente ook nog by ons aanwesig is. Wat ons by Jesus kan leer, is om te onderskei tussen die kwaad wat mense doen (wat wel deur ons gehaat kan word en vir die uitroeiing waarvan ons wel moet bid), en die mense self, vir wie ons moet bid, selfs al sou hulle ons vyandig gesind wees. Maar daarvoor is ’n radikale verandering van ons hele lewensinstelling nodig.

Interessant is in hierdie verband die boekie van Bernard Mobbs: Our rebel emotions, Hodder en Stoughton, 1970. Hy wys daarop dat daar ook in ons as Christene so baie emosies is wat ons graag ontken en onderdruk, maar wat tog in ons aanwesig is en ons geestelike lewe bedreig – tensy ons leer om hulle te hanteer. Die meeste van ons psigiese probleme hang daarmee saam dat ons nie kan aanvaar dat God ons liefhet net soos ons is nie, ongeag die baie verkeerde dinge wat in ons is. As ons leer dat ons werklik deur God aanvaar is en voorwerpe van sy liefde is, kan ons van baie van ons neurotiese trekke ontslae raak.

Die enigste raad teen ons geestelike kwale is om getrou na die Woord van God te bly luister, gereeld die genademiddels te gebruik, gereeld ons self onder die soeklig van die Woord te plaas en die Gees te vra om ons te toon wat die oorsaak van ons ongelukkigheid en van ons ervaring van geestelike verlatenheid is. Dikwels sal ons tot die konklusie moet kom dat ons tog maar wegskram van die verbryseling en vernedering van ons ou self, en dat ons daarom so min vreugde in die Heilige Gees het.

Oefening: Neem tyd voor die aangesig van God om bewus te word van die dinge wat jou hinder en wat op jou hart lê, en bring dit eerlik voor Hom, sonder om te verswyg presies hoe jy daaroor voel, selfs al moet jy jouself daaroor skaam. Gee dit dan aan God af. Neem tyd om jou met Galasiërs 2:15–21 besig te hou. Oefen jou daarin om in die geloof jou posisie in Christus in te neem en te glo dat jou ou self, reeds gekruisig is – selfs al is hy nog so virulent in ons werksaam. Vra Christus om jou hart met vreugde oor die werklikheid van jou gestorwe-wees in Hom te vervul, en vertrou die Gees om dit in jou lewe waar te maak.