ENKELE TENDENSE IN DIE MODERNE TEOLOGIE
(Drie lesings – ongedateer)
- Die wending na die aarde
- Die toekeer tot die politiek
- Die rol van die kerk
DIE WENDING NA DIE AARDE
Wie iets moet vertel oor die karaktertrekke van die hedendaagse teologie, sal moet begin met die vermelding van wat seker die kenmerkende trek van die teologie van ons tyd is, nl. die wending na die aarde, of as u wil: die nuwe belangstelling in die wêreld en die aardse lewe.
(a) Ons het hierin die eerste plek te doen met ’n reaksieverskynsel. Immers, eeue-lank het die Christendom homself intens: besig gehou met die hemelse dinge, met die verlossing van die siel en met die ewigheid. Dit het ’n groot mate saamgehang met ’n stuk Griekse erfenis, waarin aan die aarde en die liggaam alleen negatiewe betekenis toegeskryf is. Wat van die Liggaam word, is nie as besonder belangrik beskou nie, solank die siel van die mens gered is. Van Augustinus is die bekende woord: God en die siel – ek begeer nie om van enigiets anders as hierdie twee te weet nie. Die kerk het homself deur die eeue intensief besig gehou met persoonlike verlossing van die mens uit die sonde. Dit was ook kern van die saak waarom dit in die Reformasie gegaan het. Ná Reformasie is hierdie één aspek in ’n groot mate verabsoluteer in die geestelike beweging wat bekend geword het as die piëtisme. Kenmerkend van die piëtisme is dat hy alleen aandring op die persoonlike bekering van die individuele mens, maar dat hy die wêreld waarin die mens lewe, eintlik nie raaksien nie, of in ’n groot mate as die domein van die duiwel beskou waaraan geen salf meer te smeer is nie. Teen hierdie eensydigheid moes daar noodwendig ʼn reël kom. En, soos dit meestal die geval met reaksies is, dreig dit om hand uit te ruk en te ver te gaan. Teenoor die vertikalisme vroeër, kom dan die sogenaamde horisontalisme te staan: alle aandag word op die aarde en die aardse lewe van die mens gerig. Dit is een van die grootste kenmerke van die teologie sedert die Tweede Wêreldoorlog, dat dit soveel aandag vir die aardse bestaan van die mens het.
(b) Intussen is dit nou egter ook duidelik dat daar in hierdie reaksie ook waarheidselemente uit die Bybel opgeneem is (soos wat ook die eensydige beklemtoning van die sieleheil nie sonder heilsmomente is nie), so kan ’n mens jou bv. daaroor verwonder dat die kerk so lank verbygelees het aan die aktualiteit van die wondere van Jesus, waarin die aardse heil van die mense so ’n groot rol speel. Dit is deur die kerk in sy prediking vergeestelik, en alleen sektariese strominge het iets daarvan behou. In ons tyd kom weer meer oog vir die feit dat Jesus belang gestel het in die aardse lewe van die mense. Maar daar kom ook meer oog daarvoor dat die Nuwe Testament ons daarvan vertel dat Jesus die Heer is, nie alleen van die siel nie, maar van alle dinge in die hemel en aarde, en dat die aarde dus aan Sy heerskappy onderwerp moet word. Dit is gefundeer in die opstanding van Christus, waaruit één ding baie duidelik blyk, en dit is die verheerliking van die stoflike, die aardse bestaan van die mens. God laat nie die liggaam aan homself oor nie. ’n Mens moet egter nóg verder gaan en sê dat daar in ons tyd ook ’n groter waardering vir die Ou Testament ontstaan het. Daar was ’n tyd toe die Ou Testament in die teologie in Europa nie ’n baie groot rol gespeel het nie. Vandag het dit alles anders geword en staan die Ou Testament eintlik voorop. Waarom? Omdat in die Ou Testament nie soveel oor die siel en die sieleheil gepraat word nie, maar oor die liggaamlike en aardse heil van die mense. Oor die hemel spreek die Ou Testament maar baie min. Soveel te meer oor die aarde. Die kreet wat vandag in die teologie tot vervelens toe gehoor kan word, is dan ook: Ons moet wegkom van die Griekse denke en terugkeer na die Israelitiese of Hebreeuse denke van die Ou Testament. Dit beteken dan konkreet: Ons moet aandag gee aan die aarde en die aardse lewe, want dit is vir die Ou Testament baie belangrik. Die ewige lewe verskyn daar, maar om dit so uit te druk – aan die rand. Dit is duidelik dat daar waarheidselemente aanwesig is in hierdie beroep wat op die Skrif gedoen word, en veral ons as Gereformeerdes sal dit moet erken, want vir die Gereformeerde was die aardse lewe nooit onbelangrik nie. Tog is dit ook duidelik dat hier ’n eensydige beroep op die Skrif gedoen word wat daartoe kan lei dat die hele boodskap van die Skrif verduister word.
(c) Intussen is dit duidelik dat hierdie eensydige beroep op Skrif in ’n groot mate histories verklaarbaar is. Dit hang nl. onder andere saam met twee dinge wat ons hier kortliks wil noem
- Aan die een kant was daar in die afgelope eeue ’n steeds sterker wordende afkeer in die Europese denke van wat ons gewoonlik metafisika noem, d.w.s. van die leer aangaande die dinge wat agter die sigbare en tasbare wêreld lê. In die wysgerige denke is daar sedert die agtiende eeu steeds meer bedenkinge uitgespreek oor selfs die moontlikheid om iets objektiefs en onbetwyfelbaar oor die onsigbare dinge te weet. In ons tyd is die gerypte vrug van hierdie ontwikkeling dat daar eintlik nie meer oor God en die wêreld as twee werklikhede gepraat word nie, maar dat oor God hoogstens nog gedink en gepraat kan word in sy eenheid met die wêreld. As dit so is, is dit begryplik dat die wêreld self baie belangrik word, omdat ons God eintlik nie anders ken en kan ontmoet as in die wêreld nie. Dus: die toekeer tot die aarde het ’n wysgerige wortel.
- Aan die ander kant is daar egter ook die druk wat uitgaan van die Marxistiese denke. In die Marxistiese denke en propaganda word voortdurend daarop gewys dat die kerk dan met sy eensydige klem op die hemel, die mens aan sy ellendige aardse lot oorgelaat het. Godsdiens sou opium vir die volk wees. Hierdie propaganda was nie sonder effek in die teologiese denke nie, want die teoloë probeer aantoon dat die kerk miskien bepaalde aksente van die Bybel in die verlede verwaarloos het, maar dat die Bybel self tog nie verstaan kan word as enkel geïnteresseerd in die ewige sieleheil die mens nie. Die grootste geestelike botsing van ons tyd is dié tussen die Marxistiese ideologie en die Christelike geloof, en dit is net verstaanbaar dat dié botsing ’n effek op die teologiese denke sou hê. Dit beteken egter dat die huidige toekeer tot die aarde ook ’n wortel het in die konfrontasies met die Marxisme.
As kritiek kan ons afsluitend sê dat (i) ons die dilemma tussen vertikalisme en horisontalisme nie kan aanvaar nie; (ii) die anti-metafisiese tendens in die huidige teologie alleen kan verwerp en (iii) die Marxisme nie op sodanige wyse moet bestry dat ons in feite daaraan gelyk word nie.
DIE TOEKEER TOT DIE POLITIEK
In aansluiting by wat ons in die vorige lesing vertel het oor die toekeer tot die aarde, moet ons nou daarop let dat hierdie toekeer tot die aarde homself veral openbaar in die groot belangstelling wat daar in die hedendaagse teologie in die politiek bestaan.
- Dit mag vir ons baie vreemd wees. Trouens, daar was in die verlede dikwels die gedagte dat ’n Christen hom maar liewer uit die politiek moet uithou en so min as moontlik daarmee te make moet hê, omdat die politiek nou eenmaal ’n baie wêreldse ding is en in meer as een opsig ook ’n onheilige ding waarmee ’n Christen hom nie moet inlaat nie. In ons tyd word agter hierdie houding steeds meer ’n vraagteken geplaas. Die eerste rede daarvoor is dat die Christen hom op hierdie wyse aan sy roeping vir die aardse lewe onttrek en só die gestaltegewing van die lewe aan die nie–Christene en selfs aan die bose magte oorlaat. Politiek is immers die mees omvattende manier waarop ons uitdrukking gee aan ons basiese oortuigings aangaande wat reg en wat verkeerd, wat regverdig onregverdig is. Die Christelike belydenis dat Jesus die Here is, veronderstel dat ons die heerskappy van Christus oor alle terreine van ons lewe moet erken, dus ook op die gebied van die politiek. Die feit dat so baie Christene dit in die verlede nie raakgesien het nie, het waarskynlik saamgehang met ’n bate sterk versmalling die Christelike geloof tot die verhouding van die individu tot God en tot piëtistiese opvatting dat die Christendom eintlik iets te make het met die ewige lewe. Maar deur dit só te doen, is afbreuk gedoen aan die eer van God wat op alle terreine gedien wil en moet word – ’n insig wat eintlik oer-gereformeerd moet heet. Die tweede rede waarom daar in ons tyd ’n vraagteken geplaas word agter die Christen se verwaarlosing van die politiek, is die feit dat, deur jouself só van die politiek af te keer, jy dikwels in werklikheid die bestaande politiek goedkeur en ondersteun, sonder om aktief die vraag te stel of dié politiek in ooreenstemming met reg en geregtigheid is. In werklikheid is dit dan ook nie waar dat die kerk en die Christene hulle werklik so buite die politiek gehou het as wat hulle sê nie. Wat hulle gedoen het, is om die politiek buite die Christendom te hou in dié sin, dat hulleself daaraan meegedoen het, maar sonder om die kritiese vraag te stel of wat hul werklik die toets van Gods Woord kan deurstaan. In dié sin het die kerk dan meestal aan die kant gestaan van die heersend groep wat die politiek beoefen, omdat die kerk (en die teologie) dié gedeeltes in die Bybel beklemtoon het wat sê dat ’n mens aan die owerheid gehoorsaamheid moet betoon ens, maar nie so sterk gelet het op die ander gedeeltes in die Bybel wat daarop aandring dat geregtigheid teenoor almal moet geskied nie. Op dié manier word vandag dikwels gesê, staan die kerk altyd aan die kant van die status quo en neem die kerk altyd ’n basies anti–revolusionêre houding in.
Nou is dit ook hier weer só, dat die Bybel in ons tyd anders gelees word as vroeër, en dat ook hier weer daarop gelet word dat Jesus bv. altyd uitgegaan het na die uitgeworpenes, na die sogenaamde underdog – dat Hy nie sy tuiste gesoek het in die paleise van die goewerneurs nie, maar by die armes. Daar word verder op gewys dat Jesus ’n waardige vryheid gehad het teenoor die kerklike en politieke establishment van sy tyd en dat in Sy prediking die klem gelê was op die totale omkeer van die maatskaplike verhoudinge wat verkeerd was. Maar ook hier word daar teruggegryp op die Ou Testament soos ons in die vorige lesing reeds aangetoon het. Die Ou Testament is in baie opsigte ’n politieke boek. Die profete se boodskappe het dikwels met louter politieke kwessies te make. Een van die belangrikste temas van die prediking van die profete, is die sosiale geregtigheid. Moderne teoloë voel hulleself dus ten volle in ooreenstemming met die Bybel wanneer hulle beklemtoon dat die mens nou eenmaal nie anders as ’n politieke wese kan bestaan nie en dat sy Christendom homself sal moet bewys in die mees konkrete vorm sy politieke bestaan.
- Ook in verband met die politieke teologie is dit moontlik om op historiese ontwikkelinge te wys wat daarvoor verantwoordelik was dat daar vandag so ’n sterk klem op die politiek val. Vir eers sal ons weer moet dink aan die wysgerige en geestesgeskiedkundige ontwikkeling sedert die agtiende eeu. Sedert die tyd van die sogenaamde Verligting het die mens steeds meer bewus geword van sy mag oor die natuur en vandag is dit so ver dat die mens in ’n groot mate sy eie wêreld maak en wetenskaplik-tegnologies in staat is om sy eie wêreld kan maak en wetenskaplik-tegnologies in staat is om sy eie wêreld te verander. So is dit bv. duidelik dat die mens vóór die Aufklärung in ’n groot mate die magtelose mens was wat teenoor die magte van die natuur gestaan het en alleen maar God kon aanroep om hom teen die magte van die kosmos te help, omdat hyself eintlik nie daaroor beskik het nie. Dit spreek vanself dat sy teologie in dié omstandighede in eerste instansie belang gehad het by die verlossing van die mens van die bedreiginge van die natuurmagte. Sedert die Aufklärung ken die mens egter steeds meer beskikking oor die natuur. Siekte en gesondheid, reën en droogte en baie ander dinge – kom steeds meer sy mag. Dit lyk dus of die mens God vir sy baie dinge nie meer nodig het nie. Dit is ook een van die grootste redes van die ateïsme dat dit lyk of God steeds meer uit die wêreld teruggedring kon word, omdat die periode van die kosmologiese denke verbygegaan het. Intussen is dit nou egter duidelik dat die moderne mens met sy groot beskikkingsmag oor sy eie lewe, nie minder probleme en node het as die mens van voor die verligting nie. Net al, sy probleme het van karakter verander – waar die kosmologiese mens se nood gelê het in sy verhouding tot die natuur, lê die moderne mens se nood in sy verhouding tot die menslike magte en strukture wat van politieke aard is en dus ook weer deur mense verander moet kan word.
Hier kom egter ’n tweede faktor by. Die moderne mens se de anders geword. Vir hom lê waar en vals in ’n groot mate in die vraag of iets homself in die praktyk van die lewe kan waarmaak en bewys – of iets funksioneel is. Soos ons vantevore gesien het dat daar afkeer gekom het van die metafisika, so moet ons ook hier beklemtoon dat daar by die moderne mens ’n afkeer is van die syns-vraag – van die vraag wat die dinge (en ook God) is, ten gunste die vraag wat die dinge beteken (en dus ook: wat die belydenis in God vir ons beteken). Dit beteken dat die moderne mens die waarde van die Christelike geloof nie daarin vind, dat dit die wêreld hom verklaar nie, maar daarin, dat dit werk, dat dit die wêreld verander, dat dit ’n antwoord bied op die politieke en maatskaplike nood waarin die mens verkeer. Vandaar dat daar in ons tyd so ʼn groot aksent op die etiek val (veel meer as op die dogmatiek). Alle teologiese terme word herinterpreteer, en wel in terme van hulle etiese of horisontale dimensie, soos bv. die begrip versoening. Die oortuiging vat dus steeds meer pos dat die Christendom daaraan meewerk dat ons ’n wêreld kry waarin geregtigheid woon. As die Christendom dit nie kan doen nie, so word daar beweer, is dit uitgedien en het dit geen boodskap meer vir die mens van vandag nie.
Dit is nie moeilik om ook in hierdie beklemtoning – die derde faktor waarop ons wil wys – die invloed van die konfrontasie met die Marxisme te sien nie. In die Marxisme word die aardse en politieke heil en daar word ’n utopie aan die mense voorgehou van ’n heilstaat wat moet kom en waarin alles wonderlik sal wees. In sy konfrontasie met die Marxisme word die Christendom dikwels gedwing tot die vraag of hy in die verlede genoegsaam beklemtoon het dat die begrip Koninkryk van God ook iets beteken vir die samelewing en vir die toekoms van die aardse lewe. So ontstaan daar in ons tyd ’n sterk aksent op die Christelike hoop, maar dan nie as ’n hoop op die ewigheid nie, maar as ’n hoop op ’n beter wêreld waar geregtigheid sal woon. En omdat dié hoop (gebaseer in die opstanding van Christus) die mens uitdryf tot aksie, word daar dikwels gepraat oor die revolusie as die weg waarlangs die wêreld omgekeer moet word. So is daar in ons tyd selfs ’n sterk stroming in die teologie wat bekend staan as die teologie van die revolusie.
As kritiek kan ons hier afsluitend sê dat ons (i) nie tot die eensydigheid moet verval om die politieke betekenis van die Christelike belydenis te verabsoluteer nie, al kan niemand ontken dat die Christelike geloof betekenis moet hê vir die politiek nie; (ii) dat ons nie tot die eenwysigheid moet verval om die individuele sieleheil en die ewige lewe te verkleineer ten gunste van die aardse aspekte van die heil nie en (iii) dat die begrip revolusie seker nie die regte begrip is om die Christen se verhouding tot die politieke magte tot uitdrukking te bring nie.
DIE ROL VAN DIE KERK
Ons doen ’n taamlik willekeurige greep as ons in hierdie laaste lesing die rol van die kerk aan die orde stel. Tog dink ek dat dit vir u duidelik sal wees waarom dit eintlik uit die voorafgaande vloei. Wanneer die teologie in ons tyd so die wêreld en die verandering daarvan beklemtoon, spreek dit vanself dat die kerk se rol ’n ander rol sal wees as wat dit in die verlede dikwels was.
- Ook hier sien ons, om mee te begin, weer die reaksie teen die verlede. In die verlede is die kerk gesien as ’n geslote groep van mense wat verlos is en op weg is na die ewige lewe. Op aarde is hulle maar pelgrims; hulle het hier geen blywende stad nie en (soos Paulus sê) hulle burgerskap is in die hemele. Ongelukkig is uit hierdie suiwer Bybelse uitgangspunt die konklusie getrek dat die kerk dus in eerste instansie ’n groep van mense is wat na binne en na bo gekeer is. Selfs in ons reformatoriese belydenisskrifte word die kerk nog heeltemal geformuleer na hierdie één aspek van sy bestaan en word dit nie duidelik dat die kerk ’n taak in die wêreld het nie. Die kerk was by Rome feitlik altyd Heilsanstalt: dié plek waar ’n mens die heil kan gaan ontvang. By die Reformasie was die kerk gelukkig volk van God en is veel gemaak van die priester van alle gelowiges. Dit het egter hoofsaaklik in die teorie bly steek, sodat die kerk nie werklik ’n werkende mag in die wêreld geword het nie. Die kerk het in werklikheid meer ’n hospitaal as ’n leërmag geword.
In ons tyd het daar nou verskillende verskuiwinge in hierdie opsig plaasgevind. In reaksie teen bogenoemde standpunt is steeds meer klem gelê op die roeping en sending van die kerk. Die kerk is sending, is dan gesê, en in die sogenaamde apostolaatsteologie wat in Nederland ontwikkel is, is alle klem gelê daarop dat die wese van kerk daarin bestaan dat hy ’n taak het tov sending en evangelisasie. Die kerk is daar ter wille van die wêreld en ter wille van die Koninkryk van God en nie ter wille van homself nie.
In die na–oorlogse wêreld het hierdie klem op die sending van die kerk, ’n nuwe vulling gekry in die lig van wat ons reeds in voorafgaande twee lesings gesê het. Steeds meer is daar oor die aard van die sending van die kerk in die wêreld nie soseer gedink in terme van die persoonlike bekering van mense nie, maar in terme van die hulp en diens wat die kerk op elke moontlike manier aan mense moet lewer. So kom daar veral ’n sterk aksent op die diakonale aspek van die kerk se arbeid en word die begrip wêrelddiakonaat gesmee om uitdrukking te gee aan die feit dat die kerk nie net na homself en die onmiddellike behoeftes kyk nie, maar ook na die groot maatskaplike nood in die wêreld – na die teenstelling tussen arm en ryk lande en na die ellendes wat deur die politieke teenstellings in die wêreld veroorsaak is. In dié sin word dit verklaarbaar waarom die groot kerklike byeenkomste hulle so intensief met politieke kwessies besig hou en waarom daar steun gegee word aan terroristiese groepe – iets wat vroeër eenvoudig totaal ondenkbaar sou gewees het. So bring die reaksie teen die eensydige klem op die sieleheil ook op die gebied van die kerk, geweldige veranderinge mee.
- Maar ook hier het ons te make met ’n aantal ander faktore wat meegewerk het tot hierdie rigting waarin vandag met die denke oor die kerk opgegaan word. Ons noem slegs enkele:
(a) ons moet nie vergeet nie, dat die kerk as gevolg van die proses van sekularisasie steeds meer sy sentrale plek in die lewe verloor het en tot die agtergrond teruggedring is. Dit lyk net asof die groot wêreld heeltemal aan die kerk verbygaan en met dinge te make het wat glad nie die kerk se siening oor sake nodig het nie. Geen wonder dan ook dat die lidmatetal van die kerk steeds kleiner word en dat die kerk tot ’n minderheidsgroep teruggedring word nie. Die vraag is nou: Hoe moet die kerk sy verlore terrein weer inhaal?
(b) Één van die antwoorde wat op vraag gegee word, is dié van die evangeliese revivalisme: ons moet meer die evangelie van persoonlike verlossing preek. Maar hier oplossing stuit skynbaar af op die barre feit van die religieloosheid van ons tyd: Mense vra nie meer na God nie en het geen enkele behoefte daaraan nie. Hulle voel ook nie ongelukkig nie en dit is net nie meer moontlik om hulle oor ’n sondebesef aan te praat nie.
(c) Dit val ook nie te betwyfel nie, dat die gesagskrisis waarin ons vandag lewe, die kerk radikaal aangetas het en die kerk in ’n groot mate as ongeloofwaardig laat voorkom. In elk geval wil dit vir die moderne mens voorkom asof die kerk met dinge te make het en oor dinge praat wat volledig irrelevant is en langs hom verbygaan. Hy sal alleen weer respek vir die kerk kan hê as die kerk kan praat oor dit wat sy persoonlike lewe raak en as die kerk sy eie geloofwaardigheid bewys met die daad.
In die lig van al hierdie ontwikkelinge is dit eintlik nie vreemd dat die kerk vandag gekonfronteer word met die posisie dat sy prediking vir die mense nie meer aantreklik is nie, dat sy eredienste vir hulle saai en betekenisloos is en dat die kerk ervaar word as die grootste enkele konserwatiewe faktor in die samelewing wat altyd op die agterpunt is as dit moet gaan om die verbetering van mense se lewensomstandighede. Ja, meer en meer mense is daarvan oortuig dat jy buite die kerk eintlik meer van die egte Christelike boodskap kan uitleef as binne die kerk en dat die kerk eintlik meer ’n remming as ’n hulp vir die mens is om eg mens te wees. Buitendien is die kerk met sy ampte en organisasie vir baie mense vandag onaanvaarbaar, omdat hulle alles demokraties wil sien en die pretensie van gesag waarmee die kerk kom, eenvoudig nie kan verdra nie.
- Wat ons dan ook vandag in die denke oor die kerk sien gebeur, is
(a) dat gesê word dat die kerk van sy magtige amptelike strukture moet afstand doen en tot klein groepies moet terugkeer wat in die werklike lewe kan indring en daar betekenis kan hê waar mense werklik leef. Die kerk moet nie net ’n plattelandse en voorstedelike kerk wees wat die familie versorg nie, maar moet indring in die geïndustrialiseerde lewe self. Dit beteken ook dat die kerk van sy ampte ontslae moet raak en dat die kerk weer ’n kerk van leke moet word – soos daar in Amerika reeds die sogenaamde ondergrondse kerke bestaan.
(b) Verder word daarop aangedring dat kerk sy eksklusiewe aanspraak daarop om die bemiddelaar van die heil te wees, moet laat vaar. Daar word steeds meer gepraat oor die kerk buite die kerk of die latente kerk, wat dan opgebou sou wees uit alle mense wat van goeie wil is en in wie die egte humaniteit sigbaar word. Van sulke mense, word dan gesê, kan tog nie gedink word dat hulle verlore is nie. Die heil is veel breër as die kerk – en dit word gemotiveer deur te sê dat Christus se heilswerk veel verder strek as die grense van die kerk of die Christendom. Daar sou dan so-iets wees as die anonieme Christendom.
(c) Wil die kerk nog betekenis hê vir die samelewing, dan moet hy ook sy eredienste verander in geleenthede vir informasie en diskussie en moet hy alles daartoe meewerk dat die wêreld verander en verbeter kan word. So is die politisches Nachtgebet van Dorothee Sölle en andere in Köln ’n geleentheid waarby diegene wat werklik in politieke sake geïnteresseerd is, saamkom en saampraat, al is nie almal van hulle Christene nie. So word geprobeer om die stroom te keer van diegene wat die kerk verlaat. Teenoor hulle staan diegene wat sê: Ek bly in die kerk, ook al is ek ’n Christen.
As kritiek kan ons hier ten slotte sê:
(a) Die kerk moet bereid wees om weer ’n minderheidsgroep te word en moet nie uit vrees daarvoor die ware evangelie verruil nie.
(b) Die kerk moet vir wat sy wese is, na die Heilige Skrif kyk en nie na die grille van die gees nie.
(c) Die kerk sal moet luister na die hedendaagse klagtes teen sy prediking en sy onwaaragtigheid, maar die kerk kan uit dit alles alleen maar geleer word om nog meer na Christus gedryf en nie om homself in te rig na die smaak van die tyd nie.