Laat bly dit daar

LAAT BLY DIT DAAR
Die Burger, 24 Maart 1979, bladsy 8

Dit is een van die moeilikste geheime van die geestelike lewe wat ons moet leer: dat ons God geheel en al moet vertrou.

Ons natuurlike neiging is om met Hom te maak soos ons met mense maak: ons vra hulle om iets vir ons te doen en ons ontvang hul belofte dat hulle dit sal doen, maar ons vertrou hulle tog nie heeltemal nie. Te veel kere het ons al ervaar dat mense ons in die steek laat. Daarom hou ons ’n wakende oog in die seil. Ons kontroleer voortdurend of hulle dit nog onthou. En op dié manier bly ons self ook deurentyd besig met die saak.

As ons God nie heeltemal vertrou nie, doen ons met Hom dieselfde. Ons neem wel ons sorge na Hom toe, maar ons laat dit nie daar by Hom bly nie. Ons neem dit eintlik direk weer met ons saam as ons klaar gebid het.

Miskien vra ons dan ook dieselfde ding oor en oor. En dit nie omdat ons soos die Bybel van ons verwag in die gebed volhard nie, maar omdat ons eintlik ongelowig bid, sonder om God te vertrou. Ons gebede is dan eintlik ’n sorgvolle aandrang by God om ons nie te vergeet nie en ons saak in gedagte te hou. Intussen bly ons die saak self in al sy gewig in ons omdra as ’n las wat ons kragte verteer en ons lewensgeluk vernietig.

’n Mens sou verwag dat dit vir ons die maklikste ding ter wêreld behoort te wees om ons sorge by God te laat. Dit ontslaan ons immers van die pynlike worsteling daarmee, die eindelose omdraai daarvan in ons gedagtes, die vrees vir wat alles moontlik kan gebeur en die spanning wat daaruit voortvloei. Dat dit vir ons so moeilik is, hang saam met ons innerlike verkeerdheid.

Dit is vir ons so moeilik om God te vertrou. Ons kan nie aanvaar dat Hy vir ons verantwoordelikheid aanvaar het en sal sorg dat wat uiteindelik die beste is, sal gebeur nie. Ons is bang dat wat Hy toelaat om te gebeur, tog nog te smartlik sal wees.

Dit is juis die eienaardige: ons kwel onsself omdat ons wegskram van pyn, maar in die proses van ons kwelling doen ons onsself veel meer pyn aan as wat miskien die geval sou gewees het as die pyn wat ons so vrees, oor ons sou gekom het.

Selfhandhawing en selfvernietiging lê so naby aan mekaar en is so onlosmaaklik in mekaar vervleg. Volgens die spreekwoord sterf ’n dapper mens net een maal, maar ’n lafaard sterf duisend dode. Net so is die mens wat dit kan regkry om sy sorge by God te laat bly, natuurlik nie gevrywaar teen veel pyn wat moontlik deur God oor hom toegelaat kan word nie, maar hy ondergaan dit ten minste net één maal, en dan nog gelowig. Wie nie sy sorge by God wil laat bly nie, straf homself met ’n herhaalde en voortdurende deurlewing van die verwagte pyn.

Een ding is in elk geval seker: 0ns kwelling as sodanig kan nie daartoe bydra dat die kwade van ons afgeweer word nie. Ons moet onsself daarin oefen om God te leer vertrou en ons kwellings by Hom te laat bly. Wat Hy doen, is altyd die beste.– WDJ