Aan die vrugte geken

Aan die vrugte geken.
Die Burger 28 September 1991

Daar word in die wêreld baie godsdienstig gepraat. Mense hou daarvan om hul standpunte en dade met ’n beroep op hul eie vroomheid of op die Bybel te regverdig. Daarby kan hulle dikwels ook uiters skerp oordeel oor diegene wat met hulle verskil en dit voorstel asof sulke mense on-Christelik of ten minste valse Christene moet wees.

Dit kan verwarrend wees vir die publiek wat ontsag vir godsdiens het en nie altyd in staat is om te oordeel oor die juistheid van ’n beroep wat op die Bybel gedoen word nie. Eintlik was dit in die tyd van Jesus nie anders nie. Ook toe is die gewone volk voor die feit gestel dat die Fariseërs en wetgeleerdes hulleself baie vroom voorgedoen het en hulle op die Skrifte beroep het om Jesus te bestry. As ’n mens hulle moes glo, was hulle die ware godvrugtige mense en Jesus ’n groot verleier, ’n vraat en ’n wynsuiper, ’n vyand van die waarheid en die wet van God, veral ook ’n bedreiging vir die volk se voortbestaan (Joh. 11:47-50).

Dit sou maklik gewees het om te dink dat hulle gelyk het. Hulle staan immers pal by hoe dit nog altyd was. Hulle is streng en prinsipieel. Hulle het ’n voorskrif vir elke geleentheid. Hulle dra die belange van die volk op die hart.

Maar Jesus is anders. Hy leef uit ’n vryheid. Hy maak vriende met tollenaars en sondaars. Hy skaam Hom nie om met ’n Samaritaanse vrou te praat nie. Hy laat ’n ontugtige vrou toe om sy voete te salf. Hy genees op die Sabbat. Hy gaan teen gevestigde gewoontes en gebruike in. Kan dit reg wees?

Jesus weet maar te goed hoe moeilik dit vir die mense is om te bepaal waar die waarheid lê. Dit was trouens ook al in die Ou Testament so. Daar was ook valse profete wat naas die wares opgetree het. En hulle is meestal daardeur gekenmerk dat hulle die volk en die vorste na die mond gepraat het, sodat dit soveel makliker was om hul woord aan te neem.

Die maatstaf wat toe gegeld het, was die vraag wie se profesie uitkom. Die waarheid van die profesie moet uit die geskiedenis blyk. Maar Jesus voeg daaraan nog ’n verdere maatstaf toe. Dit is die maatstaf van die vrugte: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken” (Mt. 7:16).

Dit is nie godsdienstige praat wat ’n standpunt regverdig nie, dit is die praktiese vrugte daarvan. Wanneer mense standpunte inneem wat liefdeloos is, wat op haat gebaseer is, wat op onreg moet uitloop, kan hulle nie volgens die Bybel wees nie.

Daarom het Jesus die grond onder die Fariseërs se aansprake weggeneem toe hy gesê het dat hulle wel die wet in allerlei detail wil onderhou, maar nalaat wat volgens die wet van God die swaarste weeg: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid (Mt. 23:23).

Dááraan moet ook alle stemme wat tot ons kom, getoets word, al klink hulle ook hoe vroom. – WDJ