Agterdog

Agterdog
Die Burger 21 Maart 1981

As ’n mens nie daarteen waak nie, kan dit maklik gebeur dat jy jouself daaraan gewoond maak om altyd met agterdog na almal en alles rondom jou te kyk. Dan word ’n mens ’n suur, onvriendelike, negatiewe soort mens wat nie slegs altyd allerlei gevare rondom jou ontdek nie, maar ook aan niemand (behalwe natuurlik aan jouself) krediet daarvoor gee dat hy ook ’n keer miskien goeie bedoelings kan hê nie.

Dit is natuurlik waar dat ons ervaring met mense ons dikwels aanleiding daartoe gee om nie veel vertroue in ons medemense en hulle motiewe te hê nie. Te veel keer is ons al in ons vertroue geskok, is ons teleurgestel en ontnugter deur mense van wie ons die goeie verwag het. Daarom lyk dit so onafwendbaar om ’n mentaliteit van agterdogtigheid te ontwikkel en te begin deur van mense eerder die slegte as die goeie te verwag. In plaas daarvan dat ons die goeie van hulle aanneem, totdat die teendeel blyk, veronderstel ons by hulle die kwade totdat hulle hulself eers as betroubaar bewys.

Dit kan natuurlik ‘n groot stremming op ons verhouding tot ander mense plaas. Niemand hou daarvan dat ’n mens hom wantrou nie. Hy voel homself misken en beledig as hy teen ’n muur van vooroordeel in eers sy goeie bedoelinge moet bewys voordat hy aanvaar word. Maar wat meer is: wanneer ’n mens iemand voortdurend wantrou, skep jy naderhand by hom presies dit wat jy by hom veronderstel. Wie van ons ken nie die ervaring dat as iemand ons opregtheid en goeie trou bevraagteken, ons naderhand self begin twyfel daaraan of ons opreg en betroubaar is nie?

Mense is so vatbaar vir wedersydse beïnvloeding. Daar is ’n sin waarin mense is wat andere van hulle maak. As ons ons kinders voortdurend wantrou en met agterdog bejeën, moet dit ons nie verbaas as hulle naderhand nie meer openlik en eerlik teenoor ons is nie. Wanneer ’n man en ’n vrou mekaar met suspisie en agterdog bejeën, is die kans baie groot dat hulle naderhand werklik ontrou aan mekaar kan word.

’n Houding van voortdurende agterdog en negatiwiteit teenoor andere is in stryd met die liefde. Paulus sê dat die ware liefde alle dinge glo en alle dinge hoop (1 Kor. 13:7). Minstens in die huisgesin en in die kerk moet ons tog darem iets van die liefde kan bybring wat van ons medemense eerder die goeie as die slegte verwag. Anders kan dit beteken dat ons die genade van God in die lewe van ander mense misken.

Ons behoort onsself daarin te oefen om nie altyd te begin met negatiewe gedagtes oor andere nie, maar met positiewe gedagtes. Wie dit andersom doen, raak daaraan gewoond om selfs in die mooiste dinge wat mense doen, te soek na iets waaroor daar negatiewe en afbrekende opmerkings gemaak kan word. Dit is egter in stryd met die liefde, vriendelikheid en tegemoetkomendheid wat die Bybel van ons vra en wat ’n vrug van die Gees is.

God verwag van ons om positiewe invloede in die wêreld te wees, en nie die samelewing met ons negatiewe gesindheid te vergiftig nie. – W.D.J.