Die gee van tiendes

Die Kerkbode, xcii(21), 20 November 1963, 709 – 712.
Dr. W. D. Jonker, Johannesburg.
[Hierdie is een van die kort referate gelewer voor die Diakonale Konferensie van Suid – Transvaal]

Mag ek raai waarom hierdie onderwerp by ’n diakonale konferensie behandel word? Hang dit nie daarmee saam dat die diaken in die kerk soveel te doen het met die insameling en besteding van die fondse dat hy so dikwels te doen het met die tekorte en die begrotings wat nie wil klop nie, en dat hy daarom soek na die oplossing van die probleem van die tekorte? En is dit nie só, dat ons dikwels hoor dat as alle lidmate maar net hulle tiende wou gee, daar dan geen tekorte meer sal wees nie, dat ons ruim sal hê om die werk van die Here te verrig en uit te brei?

Maar nou kom die vraag op: Mag ek na mense gaan met die boodskap dat die gee van die tiende ’n Bybelse eis is wat sy gewete bind, sodat weerhouding daarvan op sigself sonde is? Dit wil die diaken graag weet. Daar is baie wat beweer dat die Skrif ons verplig om ’n tiende van ons inkomste aan die diens van die Here te gee, en hulle beroep hulle dan eenvoudig op Mal. 3: 10. Ander weer ontken dit. Die vraag is dus vir die diaken baie dringend.

Die Lig van die Skrif

Vir ons is die lig van die Skrif beslissend. Watter lig laat die Skrif nou presies val op die tiende? Om dit te beantwoord, moet ons eerste daarop wys dat die tiende ’n begrip is wat afkomstig is uit die Ou Testament. In die Nuwe Testament is daar eintlik maar weinig sprake van die tiende. Daar is wel baie sprake van ons gawes en wat ons aan die diens van die Here moet afstaan, maar daarby word geen direkte voorskrif gegee oor die hoeveelheid nie. Die groot beginsel wat die Nuwe Testament vir ons stel, is dat ons duur gekoop is en daarom nie meer aan onsself behoort nie (1 Kor. 6: 19-20); dat die mens wat God gevind het, die pêrel van groot waarde gevind het waarvoor hy alles sal wil gee (Matt. 13: 45-46); dat ’n mens bó alles die koninkryk van God moet soek en nie die skatte en gawes van die aarde wat ook deur die heidene begeer word nie (Matt. 6); dat ’n mens verlos moet word van die hebsug en grypsug en daarom nie alleen jouself onvoorwaardelik aan die Here moet gee nie, maar saam met jouself ook jou gawes oorvloedig aan God moet gee (2 Kor. 8: 1 e.v.). Die Nuwe Testament leer ons dat Christus wat ryk was, om ons ontwil arm geword het, en dat ons daarom in oorvloedige dankbaarheid ryk moet word in alle milddadigheid (2 Kor. 9: 8-11). Dit moet volkome duidelik wees dat die mens wat deur God verlos is, geheel en al aan Hom behoort, en dat God reg het op alles wat aan hom behoort, sodat daar geen enkele plek vir selfsug en hebsug en suinigheid teenoor die Here en Sy saak meer oorbly nie.

En tog, met hierdie duidelike spreke van die Nuwe Testament oor ons gawes, en selfs met die spreke van die Nuwe Testament oor die feit dat die gelowige reëlmatig opsy moet sit en sistematies moet gee vir die saak van die Here (1 Kor. 16: 1-3), word daar nêrens in die Nuwe Testament ’n maatstaf gegee vir die gelowige hoe hy moet gee nie. Al maatstaf wat gegee word, is die maatstaf van 1 Kor. 16 : 2 – “na mate sy voorspoed is” – en 2 Kor. 9: 7 – “soos hy hom in sy hart voorneem”. Met name word die tiende nêrens in die Nuwe Testament voorgeskrywe as die gulde reël vir die gawes van die kinders van God nie. Blykbaar wou die Here dit nie vir ons so maklik maak dat ons weer met ’n wetlike verpligting by Hom kon verby kom nie. Hy wou ons stel voor die ontsaglike moeilikheid om van Hom af te bid wat sy wil vir elkeen van ons is, wat ons moet gee, wat die “mate van ons voorspoed” in ons spesifieke geval van ons eis. Dan mag dit uitval soos by die ryk jong man wat alles moes gee (Luk. 18: 22) of soos met die arm weduwee wat alles gegee het wat sy gehad het om van te lewe. Die feit dat so baie mense weer en weer na die tiende teruggryp en dit voorhou as ’n wetlike verpligting vir die kind van God in die nuwe bedeling, hang eintlik saam met ’n miskenning van hierdie kardinale punt in die hele Nieu-Testamentiese sedeleer, en wil dit vir ons “makliker maak” deur vir ons ’n definitiewe syfer te gee.

Die Ou Testament

Maar is die Ou Testament dan nie meer vir ons geldig nie? En kan die kind van God dan nie meer Mal. 3 : 10 en ander tekste oor die tiende verstaan as verpligtend vir hom nie? Ons wil as antwoord hierop die selling waag dat daar in die gee van tiendes hi die Ou Verbond twee dinge. opgesluit was: ’n verbygaande element en ’n blywende beginsel. Oor die blywende beginsel kan ons in die lig van die voorafgaande baie kort spreek. Die blywende beginsel is daarin geleë dat die kind van God verplig is om uit sy inkomste af te staan vir die diens van die Here, dat hy dit gereeld en sistematies moet doen en nie aan sy selfsug moet toegee nie. Maar die verbygaande element was daarin geleë dat die gee van spesifiek die tiende behoort het tot die skadudiens van die Ou Verband en dat dit, tesame met al die wetlike verpligtinge wat aan die seremoniële diens van die Ou Verbond eie was, vir die kind van God in die Nuwe Verbond verval het.

Diegene wat dit ontken, gebruik gewoonlik verskillende argumente wat ons hier net kortliks noem:

(1)     Hulle wys daarop dat reeds Abraham (Gen. 14: 20) en Jakob die tiende gegee het (Gen. 28: 22), dat dit dus voorafgegaan het aan die wetgewing aan Israel waarin die tiende verpligtend gemaak is. Daaruit word dan afgelei dat die tiende iets is wat nie net tot die skadudiens van Israel behoort nie, maar ’n soort ewige wet is wat ook vir ons geld. Hierop moet egter geantwoord word dat Abraham en Jakob seker nie gehandel het op bevele van God nie, maar op grond van ’n destyds gangbare gebruik onder verskillende volkere. Hoewel hierdie gangbare gebruik later in die wetgewing op Sinai opgeneem en vir Israel tot verpligting verhef en geheilig is, wil dit nie sê dat alle gangbare gebruike van die aartsvaders vir ons as ewige wette moet geld nie. Wat dan van die offer-gewoontes, bv. van Kaïn en Abel af, sowel as ander gebruike van die aartsvaders?

(2)     ’n Teks waarop dikwels gewys word, is Matt. 23: 23, in aansluiting by Luk. 11: 42 en 18: 22, en daaruit word dan afgelei dat Christus die gee van tiendes genoem het onder die dinge wat gedoen moet word. Dit sou vir die gelowige in die Nuwe Testament beteken dat hy dus ook verplig is om sy tiende te gee. Hierdie Skrifverklaring hou egter nie daarmee rekening dat Christus daar mense aanspreek wat nog lewe onder die Ou Verbond en met die omstandighede van die Ou Verbond nie.

(3)     ’n Verdere argument is dat die tiendes nêrens uitdruklik in die Nuwe Testament afgeskaf is nie. Dit geld egter ook van die Sabbat en die offerdiens as sodanig, en kan nie as argument gebruik word om bv. aan te toon dat elke ding in die Ou-Testamentiese diens wat nie spesifiek in die Nuwe genoem word as deur Christus afgeskaf, dus nog vir ons bindend is nie. ’n Mens sou die argument kan omdraai en daarop wys dat daar nêrens in die Nuwe Testament enige bevel tot die gee van tiendes is nie, hoewel Paulus bv. ruim geleentheid gehad het om dit te doen as hy van oordeel was dat dit vir die Christen nog geld. Moet ons dit nie ook so sien, dat die gee van tiendes saamgehang het met die hele struktuur van die tempeldiens met die Leviete en priesters nie, en dat toe dit alles opgehou het om te bestaan of nodig te wees, die skema van die gee van tiendes daarmee weggeval het?

Wanneer ons hierdie argumente aanhaal en probeer weerlê, doen ons dit onder die besef dat dit dikwels juis jou ernstige gelowige is wat met hier die argumente werk, jou beste bydraers, jou mense wat die saak van die Here op die hart dra. Maar al is dit so, dan mag ons nog nie die Skrif verkeerd of hom iets laat sê wat ons meen gesê moes gewees het in belang van die saak van die Here nie. Soos ek hierbo aangetoon het spreek die Skrif myns insiens veel dieper oor ons gawes as maar net om ons ’n bepaalde syfer aan die hand te doen. Die Skrif laat ons gawes in die Nuwe Verbond werklik deur ons hart gaan, soos dit ook verwag kan word van die geestelike karakter van die Nuwe Bedeling. Daarop moet ons die klem laat val. Indien ons die Skrif die tiende wil laat voorskryf, loop ons nie alleen gevaar om die Skrif geweld aan te doen nie, maar ook om die besondere karakter van die Nuwe Verbond te misken. Buitendien duik daar telkens ernstige moeilikhede op met die verstaan van wat die tiende presies is.

Die meeste van ons mense wat vir die tiende pleit, maak hulle skuldig aan ’n oorvereenvoudiging. Die tiende is in die Ou Testament ’n ingewikkelde saak. Dit is bv. duidelik dat dit daar nie maar sonder meer om één tiende van die inkomste gaan nie. Uit Lev. 27: 30-33 is dit duidelik dat die tiende van die vee en landbouprodukte afgestaan moes word, en wel vir die lewensonderhoud van die Leviete, omdat hulle geen grondbesit in Israel gehad het nie (vgl. Num. 18: 20-32). Van hierdie tiende moes die Leviete dan weer ’n tiende afstaan aan die priesters (Num. 18: 26). Maar dit is blykbaar nie al tiende wat gegee moes word nie, want in Deut. 12 en 14 is daar sprake van ’n tiende van die landbouprodukte en vee wat tesame met al die ander offergawes na die tempel geneem moes in word om daar deur Israel in ’n vreugdemaal geniet te word, terwyl Deut. 14: 22-29 ook laat sien dat daar ’n tiende is wat elke drie jaar op die plek waar die gewer woon, aan die Leviete, vreemdelinge, weduwees en wese bestee moes word, en wel in onderskeiding van die tiende wat jaarliks na die tempel geneem moes word.

Ons gaan hier nie in op al die ingewikkelde verklaringspogings oor die vraag of ons in al hierdie voorskrifte met een, twee of drie tiendes te make het nie. Dit wil voorkom of ons ten minste aan twee tiendes moet dink: één aan die Leviete en één vir die offermaaltye. Maar indien dit só is, is dit al klaar nie so maklik om eenvoudig te sê dat die Woord van God van ons ’n tiende van al ons inkomste as ’n duidelike bevel verwag nie. Maar daar kom iets by: Omdat die tiende in die Ou Testament bestem was vir die onderhoud van die priesters en Leviete in eerste instansie, en vir die vreugdemaaltye in tweede instansie, moes daar natuurlik ander gawes gegee word vir ander doeleindes, soos bv. die oprigting en onderhoud van geboue, die onderhoud van die altaar, die lewensonderhoud van bykomstige personeel by die tempel, ens. Vandaar dat die Israeliet behalwe die genoemde tiendes ook nog verskeie offers moes gee, sowel as sy eerstelinge en ook allerlei heffinge, terwyl daar meer dan eens ’n beroep op Israel gedoen is vir vrywillige gawes (vgl. Ex. 25: 1-7, 35: 21 en 29, ens.). Die Israeliet moes dus inderdaad veel meer gegee het as net die tiende van sy inkomste. Dit moet ons ook onthou as ons Mal. 3: 8-10 aanhaal, want in v. 8 is bv. sprake van die offergawe of heffinge (vgl. Num. 18: 19 en Ex. 29: 27-28).

Konklusie

Die konklusie waartoe ons dus moet kom, is dat die spesifieke skema van die tiendes soos die Ou Testament dit ken, nie meer vir die gelowige in die nuwe bedeling ’n wetlike verpligting is nie. Dit het behoort tot die skadu bedeling wat vir ons verby is. Die enigste blywende element in verband met die gee van die tiende is dat die kind van God verplig is om vir die saak van die Here – en dan spesifiek vir die onderhoud van die diens van die Here (vgl. 1 Kor.9: 13-14, 1 Tim. 5: 18) en vir die versorging van die armes (I Kor.16 : 1 e.v.) – gereeld en sistematies by te dra. Só het ons verskillende Sinodes dit ook in die afgelope tyd verstaan. Vgl. die besluit van die Raad van die Kerke in 1961, soos goedgekeur deur die Transvaalse Sinode.

Op die vraag of dit dan verkeerd is om die tiende te sien as ’n geïnspireerde voorbeeld wat vir ons ook ’n leidraad kan wees by ons gawes, moet die antwoord egter beslis ontkennend wees. Immers, al is dit nie vir ons ’n wetlike verpligting nie, kan dit vir ons ’n goeie leidraad wees in ons beoefening van ons offervaardigheid, mits ons net nie weer ’n wet daarvan maak waaragter ons kan skuil as die Here soms meer van ons verwag as net één tiende nie. Hoewel hy in die vryheid van die Nuwe Bedeling lewe, behoort die Christen te weet dat sy vryheid ook moet beteken die vryheid van aardse goed, sodat hy eintlik meer as sy tiende moet kan gee.

Die offervaardigheid van die kind van God moet in die Nuwe Bedeling in elk geval tog nie agterstaan by dié van die Ou Testament nie!