BROEDERLIKE ONDERHOUD – DIE GEESTELIKE TOESTAND VAN DIE NED GEREF KERK
Handelinge van die vergadering van die Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, 18-28 Oktober 1983.
Lees: Gen. 32: 24-31; Openb. 2: 5,16; 3: 3, 19-20
- Die aard van ons byeenkoms
Ons is byeen vir ’n broederlike onderhoud, d.i. openlike gesprek “na binne”. Die doel daarvan is selfondersoek, selfkritiek, selfverootmoediging en ’n nuwe toekeer tot God en die roeping wat ons van Hom ontvang het.
Dit vra van ons ’n bepaalde instelling: eerlikheid met onsself, met God en met mekaar; bereidheid om die skilde en pantsers van ons selfverdediging te laat val en onsself oop te stel vir die werking van die Gees van God in ons harte en in ons gesprekke met mekaar.
Ons sal dit met mekaar daaroor eens wees dat ons ’n diepgaande behoefte het aan ’n nuwe aanraking deur die Gees van God, aan ’n nuwe salwing vir ons roeping en aan ’n nuwe visie vir die toekoms. Dit lê nie in ons eie krag om te bewerk dat dit met ons sal gebeur nie. Dit is ook nie in die mag van enige spreker om so-iets aan ons te gee nie. Laat ons daarom in diepe afhanklikheid van God van Hom alleen verwag om ons ook vanaand te besoek en te ontmoet.
- Die kerk in die krisis
Dit is goed dat ons vanaand sal besef dat ons deel uitmaak van die kerk van Christus oor die hele wêreld. Van hierdie kerk oor die hele wêreld geld dit vandag dat dit in ’n krisissituasie verkeer. Ons lewe in ’n tyd van groot veranderinge in die geestesklimaat in die hele wêreld, maar veral ook in die tradisioneel “Christelike” Weste.
Die ou era van die sg Corpus Christianum, die sg Konstantynse tydperk waarin die kerk ’n aanvaarde, vanselfsprekende en belangrike plek in die samelewing ingeneem het, is vir alle praktiese doeleindes iets van die verlede, behalwe op enkele reste na. Die sekularisasie (proses van verwêreldliking) is onomkeerbaar besig om die samelewing te stempel as ’n samelewing waarin nie meer met God rekening gehou word nie.
In hierdie situasie kom die kerk in groot onsekerheid oor sy eie plek en funksie. In proses van voortskrydende funksieverlies word die Kerk vanuit die sentrum na die rand van die samelewing gedruk, na die sfeer van die persoonlike lewe en vrye tyd. Die groot volkskerke van Europa is besig om deur innerlike en uiterlike erosie uitgekalwe te word. Hulle verkeer in ’n ernstige krisis oor die vraag: Hoe moet ons in hierdie blykbaar post-kerklike en post-Christelike era ons getuienis as kerke lewer en ons rol in die wêreld vervul – en wat is daardie rol?
Opnames in Duitsland en Nederland toon die geweldige tempo waarteen kerklike betrokkenheid en Christelike geloofsoortuigings by die gewone mense verdwyn. Daar is nog baie religieusiteit, maar dit dra steeds minder ’n spesifiek kerklike of selfs Christelike karakter. Baie wat nog Christene wil wees, voel dat hulle juis uit die kerke moet weggaan, omdat die kerke meer van ’n belemmering as ’n hulp vir ware Christelike dissipelskap is.
In alle erns word die vraag na die toekoms van kerk en Christendom, ja selfs van enige vorm van godsdiens as sodanig, in Europa gestel. Op die antwoorde wat daarop gegee word, kan ons hier nie ingaan nie. Genoeg om te laat sien dat die kerk – en dit geld van die Protestantse kerke sowel as van die Rooms-Katolieke Katolieke Kerk – in ’n kritieke situasie beland het.
- Die situasie van die NGK
Hoewel ons in Suid-Afrika en in die Ned Geref Kerk nog veel het om dankbaar voor te wees, sou dit verkeerd wees om te meen dat ons nie deel het aan hierdie wêreldwye krisis van die kerk, of dat ons nie ons eie spesifieke probleme het wat ons in ’n geestelike krises kan bring nie. By ons is daar nog ’n relatief groter kerklike meelewing as by die volkskerke in Europa. Die Corpus Christianum-karakter van ons samelewing is nog sterker in takt as in Europa. Daar is waarskynlik by ons nog ’n groter stuk tradisionele godsdienstigheid aanwesig en die kerk speel in die samelewing nog ’n groter rol. Maar dit sou verkeerd wees om te meen dat ons daarom niks het om ons sorge oor te maak nie. Daarom is dit goed om enkele dinge te noem wat ons tot selfondersoek moet lei:
(i) Die syfers wat in 1982 voor die Algemene Sinode gedien het, toon hoe relatief laag ons persentasie kerklike meelewing is. Dit word ook bevestig deur ons almal se ervaring in ons gemeentes. Al wil ons nie volkskerk wees nie, moet ons tog erken dat die Ned Geref Kerk ’n volkskerk-karakter het in die sin dat ons ’n groot aantal ingeskrewe lidmate het wat sonder enige persoonlike betrokkenheid aan die kerk behoort. Ook by ons, soos in die Europese volkskerke, word daar gedoop, tot belydenis van geloof toegelaat, in die huwelik bevestig en begrawe, sonder dat dit altyd duidelik is dat diegene wat daarby betrokke is, deur hulle lewenswandel toon dat hulle lidmaatskap van die kerk meer as ’n formele kwessie is. Ons hou talle lidmate vas wat eintlik lankal innerlik uit die kerk geëmigreer het of nog nooit werklik innerlik tot die kerk behoort het nie. Die kerk van Christus sal op aarde altyd ’n gemengde karakter dra. Dit is sektaries om ’n kerk sonder vlek of rimpel in hierdie bedeling te probeer vorm. Maar dit beteken geensins dat die kerk nie alles in sy vermoë moet doen om so suiwer as moontlik kerk te wees nie.
’n Tuglose kerk, ’n kerk wat nie daarna streef om duidelike grense te trek nie, word ’n ongeestelike, wêreldse kerk wat magteloos word om sy roeping in die wêreld uit te voer.
(ii) Deurdat daar by ons nog nie betroubare ondersoeke gedoen is om vas te stel in hoe ’n mate die lidmate van die kerk kennis dra van en hulle vereenselwig met die geloofsoortuigings van die kerk soos dit in die belydenisskrifte geformuleer is nie, is dit onmoontlik om te sê hoe dit hiermee gesteld is. Gebrekkige ondersoeke en persoonlike ervaring laat ’n mens egter vermoed dat daar breë lae van kerklidmate is wat nie werklik verstaan wat hulle eintlik as lidmate van die kerk veronderstel is om te bely nie. Hulle binding aan die kerk hang dan saam met ander faktore as die persoonlike verhouding tot Christus. Ondersoeke in ander lande, met name ook in Amerika, het aangetoon dat die kerke ’n hele aantal ander funksies vervul as dié wat hulle bewustelik beoog of teologies formuleer. Dikwels dien kerke meer sosiale as geestelike doeleindes, soos bv. dat hulle die maatskaplike aanpassing van hulle lede bevorder, die sosiale norme heilig, die “American way of life” bestendig ens. Lidmaatskap van die kerk het dan eerder ’n aards-maatskaplike as ’n geestelike betekenis. Wanneer dit gebeur, raak die kerke heeltemal aangepas by die samelewing en sy norme, maar verloor daarmee ook hulle betekenis as tekens en instrumente van die Koninkryk van God wat nie van hierdie wêreld is nie. Dit beteken egter ook dat sulke kerke besonder kwesbaar is wanneer daar groot maatskaplike veranderinge intree, soos bv. deur die sekularisasie. Ander instellings neem die maatskaplike integrasie-funksie oor, en die kerke kan uiteindelik nog net by bepaalde sub-kulture binne die samelewing ’n mate van invloed behou. – In ’n studie wat in 1971 gedoen is oor die betrokkenheid van lidmate by die Ned Geref Kerk word beweer dat die drie Afrikaanse kerke tradisioneel ’n groot rol vir die politieke bewuswording en maatskaplike integrasie van die Afrikanervolk gespeel het, maar dat dit ’n vraag is wat van die kerke gaan word as ’n proses van innerlike differensiasie hom in die volk gaan voltrek. Dit is ’n vraag of die Ned Geref Kerk dan nie net vir ’n bepaalde snit uit die samelewing (bv. die hoër middelklas) nog ’n tuiste sal kan bied nie. Maar daarmee sou die Ned Geref Kerk sy katolisiteit prysgee en sou dit blyk dat ’n bepaalde maatskaplike groepering eerder as persoonlike geloof en belydenis die grense van die kerk bepaal.
(iii) Die gevaar vir enige kerk met ’n sterk maatskaplike betrokkenheid is dat daar binne so ’n kerk ’n groot stuk religieusiteit aanwesig kan wees, sonder dat daardie religieusiteit noodwendig uitdrukking van ’n egte Christelike geloof hoef te wees. Dit is noodsaaklik om te onderskei tussen natuurlike religieusiteit en Christelike geloof. Natuurlike religieusiteit dra altyd die karakter van verdienste, van ’n wettiese “my bes doen”. Dit het geen begrip van die evangelie met sy boodskap van genade nie. Natuurlike religieusiteit kan ’n mens nooit tot egte oorgawe aan God bring nie, want dit het nie soseer met God te doen nie, as met die wet en die mens se pogings om die wet te hou, sodat hy daardeur van God loon kan ontvang. In werklikheid is dit ’n weiering om van genade te lewe en dus ’n vlug voor God. ’n Mens wat uit natuurlike religieusiteit leef, kan dit nooit vêrder as “ordentlikheid” bring nie. As hy oppervlakkig genoeg is, sal hy meen dat hy sekerheid het van sy eie saligheid, maar hy baseer sy sekerheid op sy eie ordentlikheid. Tot egte geloofsekerheid kan hy egter nooit kom nie, veral as hy realisties genoeg is om iets van homself te ken. Baie van ons lidmate het geen geloofsekerheid nie, omdat hulle uit die natuurlike religieusiteit leef en nie uit die beloftes van die evangelie nie. Baie wat meen dat hulle dit het en miskien selfs groot aansprake maak oor hulle eie Christelikheid, verstaan miskien glad niks van die evangelie en van wat dit beteken om met Christus te sterwe en op te staan nie. Die groot gevaar vir die kerk is om kerklike meelewing met egte Christenskap te verwar of om maar tevrede te wees daarmee om nog ’n relatiewe aantal mense kerklik te betrek, sonder dat daar deurgestoot word tot die vraag of sulke mense werklik tot God bekeer is.
(iv) Ondanks die feit dat die Algemene Sinode van 1982 ’n bepaalde gerusstelling gebied het oor die vraag hoeveel lidmate van die Ned Geref Kerk weggaan en hulle by kerke en groepe voeg wat deur die Charismatiese beweging gestempel word, kan ons tog nie heeltemal gerus voel nie. Daar is net te veel van ons meelewende lidmate, selfs kerkraadslede en predikante, wat hunker na ’n ervaringsgerigte godsdiens en hulle dan gaan voeg by kerke en groepe waar hulle dit kan vind. Dit is nie die leerstellige verskille wat daarby op die voorgrond staan nie, al word dit dikwels so ervaar en voorgehou. Meestal kom dit eens agterna, as die hunkering na ’n “dieper geestelike lewe” en ’n daadwerklike ervaring vir sulke lidmate te sterk geword het. Die ernstige vraag is waarom ons nie daarin kan slaag om die behoefte aan ’n dieper geestelike lewe te bevredig nie. Waarom kan ons dit nie sigbaar maak dat ook die gereformeerde vroomheidstipe allermins sonder sy ervaringskant is en, as dit goed is, ’n veel dieper ervaringskant kan hê as bepaalde vorms van Metodisme en Arminianisme waartoe ons mense so dikwels aangetrokke voel nie. Die klag dat die Ned Geref Kerk “koud” en “dood” is, berus dikwels op ’n verkeerde voorstelling van wat egte aanbidding kan wees, maar dit kan ook daarop wys dat die Ned Geref Kerk te min “geestelik” is, d.w.s. te min oopstaan vir die werking van die Heilige Gees. Dit kan ook daarop wys dat ons te min katoliek is, d.w.s. te min in staat is om mense van ’n verskillende geloofsbelewing op te vang en geestelik te versorg. Dit is ’n kwade dag as die kerk net één maatskaplike subkultuur en boonop ook nog net mense van ’n bepaalde soort godsdienstige ervaring kan huisves.
(v) Ook die voortgang van die sekularisasie is by ons nie meer te stuit nie. Ons loop in baie opsigte kultureel ’n geslag of twee by Europa agter. Die feit dat ons nie die twee wêreldoorloë aan die lyf ondervind het nie, het ons die geestelike skok gespaar wat deur Europa gegaan het. Daarom is ons mentaliteit nog soveel anders. En tog: deur die groeiende vervlegting met die Westerse wêreld deur industrie en tegniek, massa-kommunikasie en kulturele integrasie is ons vinnig besig om die agterstand in te haal. Dit word aan alles sigbaar by ons jeug, in ons kuns, in die “gedistansieerde kerklikheid” van baie van ons groot sakemense en ons intelligentsia. Die erosie van ons openbare sedelikheid lê daarvan getuienis af, soos blyk uit veranderinge in die huweliksmoraal en die viering van die Sondag. Daar is ’n groeiende kritiese instelling by die ontwikkelde Afrikaner teenoor die kerk. Sinodale besluite word deur baie lidmate met ’n skouer-ophaal begroet (vgl. bv. die besluite oor die Bonus-obligasies). Namate daar meer verstedeliking plaasvind en meer subkulture ontwikkel, sal dit vir die Ned Geref Kerk steeds moeiliker wees om sy huidige posisie te handhaaf. Die vanselfsprekende ontsag vir die kerk wat ons verlede gekenmerk het, is vinnig besig om te verdwyn.
(vi) Miskien klink dit alarmisties as ek sê dat ons ook teologies waarskynlik voor moeiliker tye staan. Tot nou toe was dit moontlik om ’n redelike mate van teologiese uniformiteit binne ons geledere te handhaaf. Die verskillende “rigtinge” en “modaliteite binne die Ned Geref Kerk het meer ons geestelike ligging geraak, as dat dit teologies geartikuleer is. Ons was gewoond om by bepaalde Nederlandse teoloë aan te sluit wie se regsinnigheid vir ons bo verdenking was. Dié situasie verander egter dramaties. Die toename in die aantal aktiewe en professionele teoloë in ons midde bring baie sterker eie teologiese denke in die Ned Geref Kerk mee. Bowendien is dit nie meer moontlik om by een of ander buitelandse teoloog aan te sluit, asof hy die laaste woord gesê het nie. Die swakhede en gebreke van die buitelandse teologie word, naas alle waardering daarvoor, na verloop van tyd tog ook duidelik. Ons word tans verplig om vir onsself uit te maak wat teologies korrek is. Dit is daarby net ondenkbaar dat daar in hierdie proses nie verskille na vore sal kom nie, selfs van ’n ernstige aard. Ons merk reeds dat spanninge sigbaar word rondom sake soos die leer aangaande die kerk, die verbond en die aard en funksionering van die Skrifgesag. Alle kerke belewe vroeër of later die worsteling met teologiese verskille, en as die bewaring van God nie daarby is nie, kan dit soms baie pynlik word. Kerke wat baie naby aan ons was, is deur teologiese verskille ontwrig. Teologiese keuses het altyd ingrypende betekenis vir die geestelike lewe van die kerk, omdat dit te make het met die inhoud van die prediking, die interpretasie van die heil en die vraag hoe die kerk homself moet verstaan.
(vii) Ten slotte noem ek die geestelike isolasie waarin die Ned Geref Kerk homself t.o.v. die wêreldkerk, insluitende ons eie “dogter”-kerke, bevind. Die besonderhede is bekend en hoef nie herhaal te word nie. Die konflik met die wêreldkerk is vir ons besonder pynlik, omdat dit ons geloofwaardigheid, sowel as ons teologiese en geestelike integriteit raak. Dit kan ons missionêre geleenthede in die wêreld vernietig. Nou is dit waar dat die wêreldkerk self in ’n krisis verkeer en dat dit ongetwyfeld invloed het op die wyse waarop ons beoordeel én behandel word. Dit is ook waar dat baie van diegene wat oor ons harde oordele uitspreek, ver weg is van die konkrete situasie waarin ons onsself bevind en dus maklik kan praat, sonder dat hulle in die geleentheid is om self ook te doen wat hulle van ons vra om te doen. Tog kan ons onsself nie te maklik aan hierdie oordeel van mede-Christene onttrek nie. Christene oor die hele wêreld is vir mekaar verantwoordelik en is om Christus ontwil verplig om mekaar te vermaan en na mekaar se vermaning te luister. Ons staan nou eenmaal in ’n besondere posisie en verteenwoordig op hierdie punt die hele Christenheid in ons situasie. Wat ons doen, reflekteer op die hele Christenheid. Daarom het die hele Christenheid ook belang daarby. Ons het as kerk onderneem om weer na ons eie standpunte in die lig van die Skrif te gaan kyk en ons sal dit met alle eerlikheid en openheid moet doen. Ook ter wille van ons eie geestelike integriteit is ons verplig om dit te doen. Ons mag nie toelaat dat enigiets waarvan ons bewus word as strydig met die wil van God, tussen Hom en ons bly staan nie, want dit blokkeer ons vrymoedigheid voor God.
- Inkeer tot God
Wat staan ons te doen in hierdie situasie? Elke kritiese situasie bevat in homself ’n bedreiging vir diegene wat daarin verkeer. As dit verkeerd hanteer word, kan dit tot skade vir die betrokkenes word. Maar dit bevat ook nuwe moontlikhede wat, as dit reg gebruik word, die begin van ’n nuwe toekoms kan wees. Mag God ons help om hierdie situasie reg te hanteer!
Die groot gevaar is waarskynlik dat ons onsself direk op die verdediging laat dryf. Dit is die natuurlike reaksie van alle mense en instellings. Maar dit kan so maklik die moontlikheid tot vernuwing blokkeer. As ons te haastig is om te sê dat die N G Kerk heeltemal nie in ’n kritieke situasie verkeer nie; as ons te spoedig gaan wys op die baie positiewe dinge wat daar tog nog by ons is in vergelyking met andere; as ons ons aanklaers en kritici te gou die mond probeer stop, loop ons gevaar om alles te probeer goedpraat en verdedigers te word van die bestaande kerklike instituut met al sy foute en gebreke. Dan is die gevaar van fariseïsme en geestelike verstarring lewensgroot.
Wat ons nodig het, is ’n staanplek waarvandaan ons onsself en ons situasie kan beoordeel, sodat ons wat goed en kwaad daarin is, van mekaar kan onderskei. Daardie staanplek kan geen ander staanplek wees nie, as voor die aangesig van God.
Voor die aangesig van God, coram Deo. Wat ons nodig het, is inkeer tot God, verootmoediging voor God. Soos ons in ons persoonlike lewe tyd moet neem om ons self voor God te stel en te wag op die verligting van sy Gees sodat ons onsself in die lig van sy Woord kan leer ken en aan onsself ontdek kan word, so moet ons as kerk ook voor Gods aangesig wag om te hoor wat die Gees vir die gemeente wil sê. Ons moet die tyd neem om die geestelike dimensie van ons situasie en die kritieke elemente daarvan te ontdek, sodat ons met God daaroor kan onderhandel, voordat ons bepaalde maatreëls neem of planne beraam met die oog op ons praktyk.
Dit is nie genoeg om die skuld vir die swak bywoning van ons eredienste en bidure of Bybelstudie-geleenthede af te skuif op die gees van die tyd of die aard van die moderne samelewing nie. Dit is ook nie goed genoeg om die afskilfering na charismatiese kerke en groepe maar net aan die verkeerde instelling en ervaringshonger van sulke lidmate toe te skryf, of aan die geestelike oppervlakkigheid wat by baie van ons lidmate bestaan nie. Netso is dit nie voldoende om te klae oor die voortgang van die sekularisasie en die aftakeling van sedes en norme en die skuld daarvan op die massa-media, die rolprent en die kommersiële geelpers te plaas nie. Ook sal dit nie help om deur onderlinge etikettering die openbaarwordende teologiese verskille in eie boesem te probeer besweer nie. Ewemin sal dit help om onsself af te maak van die veroordeling van die N G Kerk deur die wêreldkerk deur beskuldiginge aan die adres van die wêreldkerk te slinger. Miskien is alles wat ons sê in al hierdie gevalle volkome waar, maar daarmee is die probleme self nie opgelos nie. Ons kan die probleme waarvoor ons staan, alleen grondig aanpak as ons eers agter al ons probleme ingekom het deur ons geestelike verhouding met God te vernuwe.
Die Bybel laat ons sien hoe die profete in die groot krisisse van Gods volk altyd sulke krisisse betrek het op die volk se verhouding tot God en hoedat hulle self in sulke tye plaasvervangend vir die hele volk voor God staan en met Hom geworstel het – dikwels om daar ’n skerp kritiese boodskap vir die volk te ontvang. Ek weet van geen ware profeet wat Israel in sulke gevalle maar net getroos het deur te sê dat God hulle vyande sal vernietig, sonder om die swaard van die Gees in die rigting van die volk te draai en tot bekering op te roep nie. En in die sewe briewe aan die gemeentes in Openb. 2-3 hoor ons telkens die oproep aan die adres van die gemeentes om hulleself te bekeer. Die oordeel begin by die huis van God. As Jakob vrees vir die ontmoeting met Esau, dan ontmoet God hom eers by die Jabbok om hom te laat verstaan dat Esau nie sy grootste vyand is nie: God is vir hom ’n vyand totdat hy met God reggemaak het wat verkeerd is. Dan blyk al die ander probleme van minder belang te wees.
Met ons sal dit nie anders wees nie. God roep ons daartoe om in die eerste instansie te gaan kyk na die basiese vraag of die verhouding van die kerk tot God reg is en wat ons eie skuld is aan die situasie soos dit is. Hang baie van ons probleme nie daarmee saam dat ons as kerk nie genoegsaam uit die evangelie van genade geleef het, en daarom ook nie in staat was om dit aan ons lidmate oor te dra nie? Het die kerk nie, met die beste bedoelinge uiteraard, maar net soos baie ander kerke in die wêreld homself ongemerk aangepas by die samelewing en homself tevrede gestel daarmee om religieuse sanksie te verleen aan die waardes en aspirasies van die gemeenskap wat hy dien, sodat die vreemdheid van die kerk as teken en instrument van die Koninkryk verlore geraak het nie? En is dit dan vreemd dat baie lidmate wat na iets meer soek, onrustig word en gaan probeer of hulle dit nie elders kan vind nie.
Die ergste ding wat met ’n reformatoriese kerk kan gebeur, is dat hy die evangelie van die verlossing uit genade, die evangelie van die redding van sondaars nie meer duidelik deurgee nie. Dan floreer die natuurlike religieusiteit met sy werkgeregtigheid en fariseïsme, en dan is die verwêreldliking nie meer buite die deur te hou nie. Ek het die vrees dat dit ons eie skuld is dat so baie van ons lidmate die evangelie van genade nie verstaan nie, en dat baie van hulle juis daarom hulle heil gaan soek by groepe en kringe waar die religieusiteit in die vorm van allerlei ervarings en spektakulêre byeenkomste en gebeurtenisse gevier word. As ons tot God inkeer, sal ons moet begin om ons geestelike onmag voor God te bely, want baie van die mense wat van die kerk weggaan, is deur ons nie op ’n beslissende manier en met krag gekonfronteer met die boodskap van sonde en genade nie. Hulle het, ten regte of ten onregte, by ons die idee gekry dat ’n mens homself nie hoef te bekeer nie, dat hy maar net ordentlik moet lewe en ’n mate van kerklike meelewing moet bybring.
Ons sal ook moet vra of baie van die probleme in verband met die sekularisasie en die aftakeling van sedes en norme nie daarmee saamhang dat ons in ons prediking, kategese en sielsorg nie daarin kon slaag om die regverdiging deur die geloof só duidelik te verkondig, dat dit duidelik is hoe innig die belofte en die eis van die Woord van God, die vryspraak en die oproep tot totale lewensoorgawe, regverdiging en heiliging met mekaar gegee is nie. Dit is vreeslik as ons ’n soort goedkoop genade verkondig, sodat nie meer verstaan word dat die Woord van God “Zuspruch und Anspruch”, belofte en gebod is nie; verlossing van sonde ja, maar verlossing tot navolging van Christus, tot dissipelskap. Nóg moralistiese prediking, nóg ’n prediking van goedkoop genade kan mense werklik red en hulle verander. Die vraag is nie of ons die formule ken van die verlossing uit genade nie, maar of ons die sáák ken, of ons weet wat dit is om met Christus te sterf en op te staan. Anders bly ons, met al ons groot organisasie en ondernemingsgees, ’n ongeestelike kerk.
Die doel van ons byeenkoms vanaand hier is dat ons eers as Sinode, as groep van ampsdraers, plaasvervangend vir die hele kerk, ons self só voor die aangesig van God moet stel en elkeen by hernuwing onsself deur Sy Woord en Gees moet laat konfronteer. Die kerk as ’n sosiale instituut kan homself nie bekeer nie, maar dit is moontlik vir ’n kerk om tot ’n diepingrypende reformasie te kom as daar maar mense is, individue, wat hulleself tot beskikking van God wil stel. Ons dink juis in hierdie tyd aan Martin Luther, dienskneg van God, mens gebroke voor die aangesig van God, geregverdigde sondaar, maar juis daarom ook: reformator van die kerk. Al die hooffigure uit die tyd van die Reformasie was mense met ’n persoonlike bekeringsgeskiedenis. By ons sal dit nie anders wees nie, al sal “bekering” in ons geval miskien ’n “hernude bekering” beteken, ’n nuwe ondervinding met God, ’n nuwe aanraking deur die Gees.
Eers as ons voor die aangesig van God verneder en opgerig is, sal ons voldoende perspektief hê om objektief te kan oordeel oor wat in die kerk verander moet word. Dan hoef ons nie meer alles te verdedig of te probeer behou soos dit is nie, maar kan ons daaraan werk om die kerk te maak wat hy is: teken en instrument van die koninkryk van God. Die koninkryk is méér as die kerk. Vanuit ’n nuwe perspektief op die koninkryk moet ons die moed hê tot selfkritiek as kerk.
Die egte geheim van kerk-wees is niks anders nie, as die bereidheid tot onvoorwaardelike navolging van Christus, tot ongekwalifiseerde dissipelskap. Wat ons vandag nodig het in die Ned Geref Kerk is ’n nuwe visie van wat dit beteken. Ons moet tog nie dink dat die eise vir dissipelskap vandag ligter is as dié wat die Here Jesus aan die ryk jongman en aan sy eie dissipels gestel het, toe Hy van selfverloëning en selfkruisiging, van die verlaat van alles ter wille van Hom, ja selfs van die “haat” van ons eie lewe gepraat het, as ons Hom waarlik wil volg nie.
As ons dit vergelyk met die burgerlike genadigheid van kerklidmaatskap in haas alle kerke oor die wêreld en ook by ons, voel ’n mens die geweldige kontras. Die uitdaging van egte Christen-dissipelskap het verdwyn. Die meeste kerklidmate is so ongebroke, so selfversekerd, so materialisties, so volledig gerig op hierdie aarde met wat ons daarop kan besit en geniet, so vol van hulle eie-belang, dat daar weinig ruimte oorbly vir ’n Christen waarin hy hom van wêreldlinge onderskei.
Ons sal ‘n kerk moet word wat aan sy lidmate ’n uitdaging bied om voluit vir Christus te lewe, met alles wat dit beteken, of ons sal die weg opgaan van alle volkskerke wat so aangepas is by die samelewing, dat Peter Berger van hulle kan sê dat hulle gedoem is tot irrelevansie en betekenisloosheid.
Maar oor die vraag hoe ons dit moet doen, daaroor kan ek vanaand geen uitsluitsel gee nie. Daarvoor het ons al die teologiese en praktiese deskundigheid nodig waaroor ons as kerk beskik, maar bowe-al nuwe salwing met die Heilige Gees, sodat daar ’n nuwe reformasie in ons midde kan plaasvind, tot eer van God en tot heil van die mense.