DIT IS ’n GAWE
Die Burger 20 Maart 1982
Net die blote feit dat ons mag lewe en boonop bewus mag wees daarvan, is ’n onuitspreeklik groot gawe. In die verwarring, drukte en frustrasie van ons daaglikse bestaan kan ons dit maklik vergeet. Ons bewussyn word dan gevul met sorge en spanning, en dikwels word die lewe self vir ons tot ’n las waarvan ons nie weet of dit die moeite werd is om dit verder te verdra nie.
En tog: as ons net daarin kan slaag om vir ’n oomblik onder die oppervlak deur te dring na die mees elementêre feit dat ons mag bestaan, bring dit weer vir ons die lewe self in perspektief.
Daar loop dwarsdeur die geskiedenis van die Westerse mens ’n streep van pessimisme wat daarop neerkom dat gesê word dat dit beter is om te sterwe as om gebore te word. Die idee daaragter is dat die lewe op aarde so ellendig is en dat die pyn daarvan so groot is dat dit beter is om liewer in die geheel nie daaraan deel te hê nie, of as jy daaraan deel het teen jou eie begeerte in, om so gou as moontlik daarvan verlos te word. Hierdie pessimisme is afkomstig van die Grieke en het ’n groter invloed op die Westerse mens gehad as wat ons dink.
Dit is egter lynreg in stryd met die Bybelse waardering vir die lewe as ’n gawe van God. ’n Mens kan nie sê dat die Bybel heeltemal niks van hierdie pessimisme weet nie, want in die boek Prediker word lank en breed kennis geneem van hierdie sombere kyk op die menslike bestaan.
Die Bybelse boodskap teenoor hierdie pessimisme is egter duidelik. Die lewe waaraan ons as mense deel het, is ’n gawe van God, dit is sy skepping, en sy skepping is goed. Dat daar iets is en nie niks nie, is op sigself ’n wonder van Gods guns. Dat ons as mense bowendien bewus mag wees daarvan dat ons is, en dat ons met God mee mag weet van die hoogtes en die dieptes van die skepping, is ’n oorsaak van vreugde. Daarom moet God daarvoor gedank word en moet dit as iets kosbaars beskerm word.
Dit beteken nie dat die pyn en ellende van ons aardse bestaan misgekyk word nie. Inteendeel, die Bybel teken dit in realistiese kleure, en in ons eie ervaring leer ons dit ken as onuitspreeklik smartlik. Maar die Bybel sien dit nie as iets wat tot die wese van die lewe self behoort nie. Dit is die verwording van die lewe waarvan dit verlos moet word. Die Bybel self is die verhaal van Gods oorwinning oor die ellende van ons lewe en wys ons heen na die opstanding van die dodes. Die pyn en ellende sal nie die laaste woord hê nie.
Bybels gesproke is dit dus veel beter om te geleef en die pyn van die bestaan in ’n sondige wêreld mee te gemaak het, as om nooit te geleef het nie. Die Bybelse waardering vir die lewe is so groot dat Pred. 9:4 kan sê: “’n Lewendige hond is beter as ’n dooie leeu.” – W.D.J.