Dit is noodsaaklik
Die Burger 8 Desember 1979
Noudat die vakansietyd aanbreek en daar vir baie van ons die geleentheid is om ‘n bietjie te ontspan, is dit noodsaaklik dat ons êrens ook ’n tydjie moet probeer inruim om aandag te gee aan ons verhouding tot onsself.
Uit die aard van die saak is ’n vakansie die ideale geleentheid om sorg te bestee aan ons verhouding tot ons huweliksmaat en ons gesin, ons familie en ons vriende. Maar dit sou verkeerd wees as ons sou vergeet om ook ‘n tydjie in te ruim vir die verhouding tot onsself.
In die gewone gang van sake gaan dit meesal so gejaag en volgens ’n vaste roetine, dat ’n mens weinig tyd het om met jouself te verkeer. Weliswaar is ’n mens altyd van jouself bewus, maar vir ’n gesonde verhouding tot onsself is meer as dit nodig. ’n Mens moet die geleentheid hê om tot jouself in te keer, om krities na jouself te kyk, om met jouself ’n paar gesprekke te voer en om jouself weer, om dit in Bybelse taal uit te druk, aan te gord vir die weg wat voorlê.
’n Mens se verhouding tot jouself is nooit sommer vanself reg nie. Die verkeerdheid van ons hart kom altyd ook tot uitdrukking in ’n verkeerde verhouding tot onsself. As ons nie telkens weer daarvan bevry word nie, verkeer ons met onsself in ’n eienaardige teenstrydige verhouding van liefde en haat.
Aan die een kant het ons onsself mateloos lief en reageer ons uiters emosioneel wanneer ons van buite bedreig word of selfs meen dat ons bedreig word. Aan die ander kant het ons ook weer ’n heimlike en soms openlike afkeer van onsself en weier ons om onsself te aanvaar soos ons is.
Die gevolg is dat ’n mens dikwels op die vlug is vir jouself. Ons vermy onsself soos ’n mens iemand vermy wat jy nie graag wil ontmoet nie, omdat daar iets tussen jou en hom verkeerd gegaan het.
Dit is waarom baie van ons se verhouding tot ons eie siel nog meer verwaarloos is as ons verhouding tot ons vrou of kinders. Daarin mag ook die rede geleë wees waarom baie mense hulleself half dood werk, waarom hulle nooit tot rus kan kom nie, waarom hulle selfs as hulle vakansie het, nie kan ontspan nie, maar voortjaag van een vorm van tydverdryf na die ander. Hulle kan dit blykbaar nie regkry om net eenvoudig stil te word, êrens langs die see of in die berge, met hulleself alleen nie.
Ons behoort dit in die vakansietyd aan mekaar te gun om stil te kan word met onsself. Dit is vir ’n mens net so noodsaaklik om tyd te hê om met homself te praat oor die lewe, as wat dit vir hom is om met andere te praat. Daar in die stilte waar ’n mens die moed het om met jouself onder vier oë te verkeer, ontdek jy dikwels dat jy nie alleen is nie. Dit is nie vreemd dat die stille gesprek van ’n mens met sy eie siel dikwels oorgaan in ’n gesprek met God nie. Want ons siel is onrustig in ons, totdat dit rus vind in God. W. D. J.