Dit is tog moontlik

Dit is tog moontlik
Die Burger 27 Februarie 1982

In die jongste tyd is van verskillende kante gesê dat die allerbelangrikste verandering wat in Suid-Afrika nodig is, die vernuwing van die kerk is. Wie so iets sê, openbaar daarmee nie alleen ’n groot vertroue in die kerk as ’n geestelike krag in die samelewing nie, maar ook in die krag van die evangelie om versoening te bewerk, orde te skep en mense in harmonie saam te laat lewe.

Die groot vraag is nou egter: Hoe kom dit tot so ’n vernuwing in die kerk? ’n Kitsresep daarvoor bestaan sekerlik nie. Konferensies, kongresse, samesprekings en sinodes kan nie ’n vernuwing in die kerk bewerk nie. Sulke instansies en liggame kan wel waardevolle diskussies voer, besluite neem, oproepe doen of kritiek uitspreek, maar staan uiteindelik magteloos om die soort vernuwing wat nodig is, tot stand te bring.

Die soort vernuwing wat in die kerk nodig is, is ’n geestelike vernuwing, en dit is nie iets wat organisatories bewerk kan word nie. Dit is iets wat in die harte en lewens van mense tot stand moet kom as ’n gawe van God deur die Heilige Gees.

Trouens, geestelike vernuwing is nie mensewerk nie. Dit is die werk van die Heilige Gees. Wat mense kan doen, is om of die vernuwende werksaamheid van die Gees af te smeek, te verwelkom en te dien, of om dit teen te staan. Van nature doen ons graag die laaste. ’n Mens kan dit maar aan jouself toets. Selfs diegene wat skerp kritiek op die geestelike doodsheid en magteloosheid van die kerke het, is dikwels mense wat, as hulle eerlik is, by hulself dieselfde weerstand teen die werking van die Gees moet ontdek wat die oorsaak van die ongeestelike toestand in die Christenheid is.

As dit van ons mense moet afhang, kan dit eintlik nooit tot ’n egte vernuwing in die kerk kom nie. Ons traagheid, ons vleeslike belang by die status quo is te groot om deur ons self afgeskud te kan word.

As dit daartoe moet kom dat ons ’n geestelike vernuwing in die kerk vurig moet begeer, daarvoor moet begin bid en werk, moet daar eers ’n duisendvoudige wonder plaasvind in die harte van die talle lede van die kerk wat hulself tot beskikking van die Gees van God sal kan stel. Wie egter om dié rede meen dat ’n vernuwing daarom so goed as onmoontlik is, maak ’n groot fout.

Juis omdat ‘n wonder daarvoor nodig is, is dit moontlik. Wondere is nie in ons hand nie, maar in die hand van God. As ons moet hoop op iets wat mense in hul eie krag kan doen, wag ons op die onmoontlike. Maar in hierdie geval wag ons nie op wat mense kan doen nie, maar op wat God kan doen. By God is alle dinge moontlik, selfs die vernuwing van die kerk. Teenoor ons magteloosheid staan sy ewige krag en goddelikheid. W.D.J.