Dit is verkeerd

Die Burger, 25 April 1981, bladsy 8
DIT IS VERKEERD

Ek skryf hierdie stukkie op Goeie Vrydag. Buite lê die Bolandse herfsweer in sy onmeetlike rus en skoonheid. Dit is of ook die natuur ’n mens uitnooi om hierdie dag in stilte deur te bring, dankbaar om te mag weet dat God in Christus die wêreld met Hom versoen het deur die kruis. Dit is ’n dag vir gebed. Dit is ’n dag vir ingetoë vreugde. ’n Mens moet vandag tyd hê vir God en vir jouself.

Maar langs my lê die oggendkoerant. Daarin staan ’n prominente berig: Hoë Padtol Gevrees. Die berig lui dan letterlik: “Die Paasnaweek het gister op ’n donker noot begin. Verskeie motorongelukke is teen gisteraand in die Skiereiland aangemeld en die polisie en ambulansdienste het hulle hande vol gehad om aandag aan al die noodgevalle te gee. Verlede jaar in die Pase is landwyd een mens elke 42 minute in padongelukke dood en een elke vier minute beseer. Daar kan meer sterftes en beserings die naweek verwag word, volgens die Nasionale Verkeersveiligheidsraad”.

Paasnaweek het ons bloedigste naweek in die jaar geword. Dit kan net een oorsaak hê: dat ons van Paasnaweek ’n vakansie-naweek gemaak het. Daardeur het dit vir die meeste mense – en seker ook vir die meeste Christene – ’n naweek van ontspanning en vermaak geword. Duisende gaan op reis om êrens by ’n vakansie-oord ’n bietjie vars lug te skep. Die gevolg is dat die druk verkeer op die paaie ’n groot veiligheidsrisiko geword het – en dit juis in ’n naweek wat vir die Christelike kerk tot die hoogtepunte van die hele jaar hoort.

Met ontspanning en plesier is daar op sigself niks verkeerd nie. Maar daar is ’n tyd vir alles. Ons behoort ons tyd van inkeer te ken. Paasnaweek is so ’n tyd waarin ons op Goeie Vrydag, Stille Saterdag en Paassondag, ons met die basiese heilsfeite van die Christelike geloof moet kan besig hou. Ons moet tyd hê om te kan oordink wat dit beteken dat Jesus vir ons gesterf het, dat Hy vir ons in die graf gelê het (en so ons grafte “geheilig” het), en dat Hy triomfantlik uit die dood opgestaan het om ons van die mag van die dood te bevry. Maar as ons die naweek gebruik om êrens heen te reis en daar te gaan ontspan, bring ons baie maklik die eie aard van hierdie naweek in die gedrang en beroof onsself van wat telkens weer ’n geestelike ervaring behoort te wees.

Dit is eenvoudig verkeerd dat ons dit doen. Dit moet tog moontlik wees om dit anders te doen. Kan ons dan nie maar van ’n ander naweek ’n vakansie­naweek maak en hierdie een ’n tuisbly-naweek maak waarin ons tyd neem vir die dinge waarom dit werklik gaan nie? Selfs as dit moet beteken dat Paasmaandag (of soos dit tans heet: Gesinsdag) as vakansiedag verval, en (as dit dan nie anders kan nie) dat ook Goeie Vrydag nie ’n volle vakansiedag is nie, kan dit vir ons wins wees. Die kerke behoort hulle aandag aan hierdie saak te gee en met versoeke daaroor na die owerheid te gaan. Paasnaweek is dit werd. – WDJ