Dit lyk so logies
Die Burger 26 November 1977
Daar is seker geen Christen wat nie by geleentheid die aanvegting ervaar dat die dinge wat hy glo en die soort lewensuitkyk wat hy voorstaan, vir die natuurlike hart van die mens na dwaasheid lyk nie. Die apostel Paulus skryf aan die Korinthiërs dat die evangelie van Christus vir die Grieke ’n dwaasheid is en elders sê hy dat die vleeslike mens die dinge van die Gees van God nie aanneem nie; ja, selfs dat hy dit nie kan verstaan nie.
Wat in die oë van God die hoogste wysheid is, is vir die onwedergebore mens die toppunt van onverstandigheid. God stel Homself aan ons voor as die God van barmhartigheid en liefde wat bereid is om die straf van die mens se sondes op sy eie liewe Seun, en daarmee dus ook op Homself, te laat neerkom. Hy vra van ons om op presies dieselfde wyse nie kwaad met kwaad te vergeld nie, maar liewer onreg te ly; die kwaad wat andere ons aandoen, met liefde terug te betaal; en om ’n lewenswyse te aanvaar wat iets afbeeld van die oneindige trou en goedertierenheid van die hemelse Vader.
Dit alles lyk egter vir die natuurlike mens na gevaarlike onsin. Dit lyk so logies om liewer uit te gaan van die stelreël van ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand. Dit is vir ons sondige logika so vanselfsprekend dat elke teken van barmhartigheid aan ons kant as swakheid geïnterpreteer sal word; dat dit niks anders as swakheid is nie. Die ondervinding in die sondige wêreld het ons ook geleer dat ’n mens met vriendelikheid en liefde net op één ding kan reken, en dit is om aan die kortste end te trek en uiteindelik aan ’n kruis te beland.
Soos wat dit vir ons natuurlike logika eintlik dwaas lyk om te aanvaar dat God bestaan, dat Hy regeer, dat Hy uiteindelik oor alles sal triomfeer, dat die dood van Jesus aan die kruis vir mense van alle tye betekenis kan hê, dat daar so iets as verhoring van gebed is ens. so is dit vir ons ook dwaasheid om te dink dat die liefde sterker kan wees as kragdadige onversetlikheid. Die dinge wat vir die Christen die mees vanselfsprekende dinge is, is vir die wêreldling juis weer die mees ondenkbare stommiteite.
In ons harte is daar ’n voortdurende geveg aan die gang tussen die logika van die Gees en die logika van die vlees. Daarom lyk die dinge wat God van ons vra, vir ons dikwels so vreemd en onaanvaarbaar, terwyl dit so logies is om te redeneer en te doen wat die selfsugtige vlees van ons vra.
Maar dan vergeet ons dat die liefde uiteindelik die sterkste mag is wat bestaan. Ons vergeet dat die oënskynlike dwaasheid van God wyser is as die sogenaamde wysheid van mense, dat die oënskynlike swakheid van God sterker is as die krag van mense. W.D.J.