EK IS ’N KIND
Ek is ’n kind in hierdie wye kring
van U gedagtes, waar die wit
flitsbeeld van oneindigheid my hart
laat sidder en in vrees laat bid.
Om my en oor my vloei ’n stroom
van ewigheid, en my verstand
korrel vrugteloos aan elke tros
onpeilbare, oer-werklikhede in U hand.
Maar in ’n tyd- en grenselose uur
vind ek myself verlore in ’n land
waar ek, verbind aan klein en suiwer dinge,
deel word van see én lug én strand.
Die soele seebries is my asem
die seegeruis is ook my lied
en oor die rots se donker wande
word ook my trane uitgegiet.
Dan gly my vrese van my weg
en in myself van vreugde stom,
staan ek en wonder of u ons
gemaak het om tot hier te kom :
Waar ons U nie meer sien as groot en eindeloos
maar net soos ons, ’n kind,
wat in sy opgaan in iets kleins en moois
die grootste volheid van sy vreugde vind.
WILLIE JONKER
[’n Gedig van WD Jonker uit Trek, 1948 36(44), 19]