WES-TRANSVAAL
Eers het my hart hier wild in my gespartel
om weg te kom van hierdie gryse kaaltes en die eensaamheid,
want soos ‘n kind die herfs nie kan verstaan nie
so kon ek nie verstaan jou weemoed en oneindigheid.
Maar nou dat smart vir nagte soos ’n moeder
haar lang wake by my maer gebeente wag,
nou sien ek dat my siel en hierdie land ’n tweeling is,
verwant in elke uur, in elk gety en dag.
Oor jou en my dor eensaamtes groei herfs en lente,
en soos die somer kom, kom ook die winter aan
as oor die afgeoesde stoppels in hul bar verlatenheid
die winterwind sy trae gange gaan.
In jou swart bloekoms, wind en wolke is die sange van my hart,
en jou vaal vlaktes en grys nagte is die tekens van my smart.
WILLIE JONKER
[’n Gedig van WD Jonker uit Trek, 1948 36(44), 19-20]