Apologie?

Apologie?
[’n Artikel van WD Jonker in die Castalia-rubriek van die Universiteit van Pretoria se jaarblad Trek, 1948 36(44), 30-33]

Daar is baie mense wat byna met misnoeë die kuns van die twintigste eeu bejeën. Hulle voel hulle ontuis in die nuwe rigting wat skielik ingeslaan is op alle gebiede, en omdat dit dikwels teenoor die fyn afgewerktheid van vorige periodes as grof en uitgesproke voorkom, neem hulle aanstoot daaraan. Dit hoef nie noodwendig so te wees nie. Sekerlik word van niemand verwag om te sê dat hy iets waardeer waarvoor hy geen waardering gevoel nie, maar ons moet ook oppas – veral die oueres onder ons – om nie eng te wees in ons beoordeling van die kuns nie. Ons moet versigtig wees om nie net dit waaraan ons altyd gewoond was, die mooi, afgeronde kuns van vorige periodes, as maatstaf vir alle Skepping te beskou nie. In die laaste instansie is die mense se gees tog maar die enigste maatstaf vir kuns, en as ons probeer om die mens van ons tyd reg te verstaan, moet ons ook sy kuns met betrekking tot sy geestestoestand sien en waardeer. ’n Paar los gedagtes mag die saak meer opklaar.

Alle kuns is uitsluitlik eie aan die gees van die mens. As sodanig wil kuns ’n openbaring wees, ’n openbaring van dit waaraan sy ontstaan te danke is: die gees van die mens, en in wyere sin, die lewe. Waar dit ’n openbaring van die lewe wil gee – die diepere sin, doel en uiteinde daarvan – kan dit ook nie wegkom van die gees van die mens nie, want die lewe, soos ons dit interpreteer, bestaan nie buite die menslike gees nie. Nou weet ons dat die mens sy eie gees nie ken nie en nie verstaan nie. Die grootste gedeelte van ons innerlike lewe is onderbewus. Intuïtief vermoed ons sekere waarhede, dit skemer tot ons deur, ons “voel dit aan,” maar dit is so vaag dat die mens gedurig nog soek na die ontdekking van wat in hom verskole lê. Hierdie soeke word op baie maniere openbaar gemaak, miskien die subtielste deur die kuns.

Die kuns probeer iets van die mens openbaar. Wat in die mens se gees verborge lê, moet deur die kunstenaar opgediep en aan die lig gebring word. Dikwels is ’n volk nie eers bewus van wat in sy diepste omgaan nie, en dit is die taak van die enkeles wat betas is met die gawe om diep te kan aanvoel en te kan gestalte gee, om dit uit te dra. Na die mate wat die kunstenaar daarin slaag om in sy skepping ’n onthulling te gee wat aanklank vind by ’n gemeenskap, volk, of selfs by die lede van die algemene mensheid, het sy kuns blywende waarde al dan nie. En kuns kan alleen aanklank vind by ’n geslag of groep wanneer hulle innerlike geestestoestand so is, dat hulle die geopenbaarde waarhede intuïtief kan aanvoel. In dié sin sal ’n volkskunstenaar altyd meer populêr wees by die breëre lae van die volk as die enkeling wat dieper grawe. By die meer ontwikkelde groep sal die enkeling miskien weer meer waardering vind.

In die laaste instansie is die algemeen-menslike gees dus die maatstaf van alle kuns. As die kunstenaar van ons tyd dan daarin slaag om die innerlike gees van die Westerse mens in hierdie eeu te weerspieël, is sy kuns geslaagd en beantwoord dit aan die gestelde eise. Elke kunstenaar wat daarin slaag om iets van die paniese vrees van die mens van ons tyd eg weer te gee, elke kunstenaar wat die uitgediendheid van die materialisme en rasionalisme kan uitruk uit die gewone en tot die algemene bring as erfenis van ons gees in die wye loop van die eeue – elke sodanige kunstenaar het iets bereik, het kuns gelewer. Maar dit is presies wat die groot kunstenaars van ons tyd besig is om te doen. In ons tyd waarin so baie dele van ons lewe verwronge is, waarin sekere lewensaspekte oordryf en ander verwaarloos word, waarin vreemde elemente oor die mens se gees en liggaam heers – is dit eienaardig dat juis in hierdie tyd ons kuns in so ’n rigting beweeg het? Die keuse van die temas, die afwesigheid van vorm-juistheid, die rouheid soms en miskien ’n neiging om te skok, dit alles openbaar dat die kunstenaar meeleef met die gees van sy tyd. In ’n sekere sin kan ons die afwesigheid van die fynere afwerking op baie gebiede ook psigologies verklaar. Miskien is die mens daarvan bewus dat die verdieping en rustigheid waarby die fyn afwerking tuishoort, in ons eeu nie meer bestaan nie. Hoe dit ook sy, die gang van die kuns is in die jongste tyd al meer in die rigting van die suggestie. Woord, kleur en klank het in ons tyd minder die funksie van beskrywing en uitbeelding as van aanknopingspunte te verskaf vir ons gevoel en gedagtes. Daarom verg die kuns van ons tyd nou meer van die leser, hoorder of aanskouer as vroeër. Die persoon wat die kuns wil waardeer moet na aanleiding van sekere suggestiewe aanduidings uit sy eie gees die res van die verhaal, beeld of situasie opdiep. Beskou in hierdie lig, moet ons erken dat die kuns wat sulke hoe eise stel, die van ander periodes oortref, in soverre as dit meer tot nut is van die ontwikkeling van die gees van die mens.

Hierdie ontwikkelingsgang skyn maar net die natuurlike te wees. As ons mag praat van evolusie op ander gebiede, dan kan ons die woord seker met reg ook op kunsgebied gebruik. In die musiek het ons die ontwikkelingsgang oor uiterste vorm-presiesheid in die klassieke tydperk, daarna die heerskappy van die gevoel in die romantiese en impressionistiese tydperke, na die modernisme en ultra-modernisme wat in die vreemdste kombinasies van klank beskrywend probeer wees. Op gebied van die skilderkuns het iets dergeliks plaasgevind. Vandag wend ons skilders nie meer die kleure met dieselfde doel aan as ’n paar eeue gelede nie. Min beroemde skilders bring vandag nog ’n blou lug of ’n groen boom op die doek. Wat beeldhoukuns betref lyk dit asof die Skandinawiese laude in die jongste tyd die voortou neem en presies die genoemde elemente na vore laat tree.

Wat die digkuns betref, hoef ons nie ver te gaan soek nie. Die Jongeres het al genoeg blyke gegee daarvan dat die Afrikaanse woord met net soveel sukses as suggestiewe aanduiding van die onpeilbare aandoenings en gewaarwordings van die gees gebruik kan word, as die van enige ander taal. Wat woordkeuse betref, het daar verruiming ingetree. Beskrywende woorde het verenkel tot ’n paar grondkleure.

Die kuns van die twintigste eeu hoef geen apologie aan te bied nie. Dit spruit uit die mens se gees. Dit is deel van ons. Dit dank sy herkoms aan geen ander vaders as ons nie. Daarom, in plaas van net te tugtig, moet ons leer verstaan en liefkry, in plaas van af te breek, moet ons help bou. Die gees van die mens ontwikkel en daarmee saam ook die kuns. As ons die laaste nie waardeer nie, beteken dit dat ons uit verband is met die eerste. En dit – is dit ten goede of ten kwade?

WILLIE JONKER
[’n Artikel van WD Jonker in die Castalia-rubriek van die Universiteit van Pretoria se jaarblad Trek, 1948 36(44), 30-33]