Hoe is die Lente?

Hoe is die Lente?

Ja, hoe is die lente? Die lente is ’n enkele moment, ’n ligte trilling wat nie aangeraak kan word nie. En tog is die lente wesenlik en ewig. Ewig is die lente, omdat dit wording is. Die lente is geen tyd nie. Die lente is geen gety nie. Die lente is slegs oorgang, maar wie het ooit die begin daarvan gesien, of die einde ? Die lente leef in elke polsklop, in elke asemteug, in elke roering van die senuwee.

Die lente is soos die klam-koel windjie van die dageraad, as die sterre dof word en die aarde onuitspreeklik begeer na die dag. In die lente word verenig dood en lewe, leemte en volheid, kwyning en groei. Die lente staan met haar voete op die vaal wintergras en reik met haar hande na die ryp vrugte van die sourer.

Die lente kan nie beskryf word nie. Hoe is die lente dan dat ek sal sê dis so of so? Die lente moet beleef word. dit moet ervaar word in ons wese, in ons glimlag. En tog is die lente ook in die traan, want ook die traan is enkel wording, slegs ’n moment, en tog ewig, omdat in die traan verlede en toekoms tesame vloei tot een blink kristal.

Die lente en die jeug is één. Albei is so breekbaar. Albei is onvernietigbaar en onuitspreeklik mooi.

Wil jy weet hoe die lente is ? Kyk net deur jou venster. Vergeet dat jy eintlik behoort te lewe binne die harde grense van jou rede. Vergeet dat dit as waansin beskou word om soms werklik te lewe. Ag, ons mense! Ons kan so min verstaan met ons verstand. Ons weet so min, maar dan verbeel ons dat wat ons weet die enigste is wat geweet kan word. Nee, kyk ’n oomblik rustig uit en merk aan elke ding die skoonheid van die lente. Is dit dan snaaks om soms iets moois te sien en soms te droom en te vergeet dat twee en twee net vier kan maak? Nee, dit is nie. Dis maar net een van die sentrale dinge waarvoor ons lewe. Ook ons aarde en ons hele sonnestelsel is ’n brokkie van ’n wye ruimte en ’n wyer tyd. Sou een wat oor die blink sfere van ons kosmos kyk, nie glimlag oor ons redelikheid nie, as hy ons wêreld ook maar sien as een moment, een enkele wording, een breekbaarheid wat slegs daar is tussen ewighede en wydtes, en net begeerte is om van die een te mag oorgaan tot die ander?

Só is die lente dan: dit is in elke mens, dit klop in hom. Geen mens is mens nie, of hy dra in hom die lente. Want lewe en lente is een begrip. Albei is één moment, een wording, een breekbaarheid wat slegs daar is om oor te gaan in wat weer anders is. Die lewe het geen begin nie, dit het geen einde nie, maar is geheel-en-al begeerte na die dood. Die lewe is die kort ontploffing wat veroorsaak word as waterstof en suurstof in ’n vlam ontmoet, maar waar begin dit, in die waterstof of suurstof of lank voor een van albei was? En die resultant – die water – is die dood. So is die lente ook. Wil u dan weet presies net wat die lente is, onthou dan dit: die lente is die stilte tussen die pluk van die snaar en die klank.

JONKER
[’n Artikel van WD Jonker in Die Perdeby VIII(22), 15 September1948, 4.]