AANVAARDING
Nou nog kan ek soms onbevange droom
van klein, mooi dinge: ‘n yl-verwaaide
bosduifveer word tot ‘n ligblou tent
vir my gedagtes, en om ‘n bloekomboom
span ek my siel in kleurbelaaide,
wydgewiekte drome uit.
Daar lê ‘n effe sonvlak oor die blink,
rooi sooie van geploegde land en ver
wei beeste wat verwasem in ‘n hittevlam.
Met hierdie dinge sal die lewe boordvol skink
my trae hart, wat in versmagting oopgesper,
vir een tik tyds ‘n leë beker is.
O Skoonheid self, ek bid u aan:
neem nie die teerheid van my weg.
Ek wil nie weet dat daar ‘n dieper, harder wet
en werklikheid nog is: ek wil gaan staan
en sien hoe elke bos en boom en heg
voor my aanskouing tot verdroomdheid word.
W. JONKER.
[’n Gedig van WD Jonker uit Trek, 1949 37(45), 23]