Bepeinsing

BEPEINSING

Ek dink so dikwels hoe dit dán sal wees
as hierdie liggaam leeg en dor moet word,
en al sy hartstog, drifte, drang en vrees
tot één strak lyn van ewigheid tesame stort.

Sal dit ook wees soos nou, om te ontwaak
uit nare drome wat die lewe maak
tot skrikgedrogte wat ‘n harde stang
van vrees en sterwe in ons kake hang,

en dan te sien dat alles lig en helder is,
dat buite wit die warm sonskyn lê,
en om net vér, onwerklik soos deur mis en duisternis
’n vaagbeeld van die droom te hê?

W. JONKER.
[’n Gedig van WD Jonker uit Trek, 1949 37(45), 13]