Perspektief

PERSPEKTIEF

O dae wat nog voor my lê,
ek sal jul rustig breek
netsoos ‘n mens
bruin brood breek in die aand
om die te eet –
só sonder spanning, só sonder vrees
(dit is noodsaaklik dat ons moet eet).
Ek sal geen vreugdes soek
en ander nie hul jeug beny,
en sal so stil en middeljarig lyk
met vrou en kind, kantoor en bles
en, soos die talle wat ek ken,
verstandig, stug en afgetrokke wees,
en in die bus, ná werk, ‘n dagblad rustig lees.

WILLIE JONKER
[’n Gedig van WD Jonker uit Trek, 1951 39(47), 9]