Ons het mekaar nodig

“ONS HET MEKAAR NODIG”
GOEIE GESINDHEID EN DAADKRAG UIT IDEALISME

jonker_27Almal wat in 1952 Tukkies sal wees of word, word hiermee deur die studenteraad aan U.P. verwelkom. Ons vertrou dat die jaar wat in wyere kring vir die volk veel sal beteken, in ons kleiner kring veel sal meebring wat vir hede en toekoms invloed sal hê. Meer as in die verlede wil ons vanjaar daarvan bewus wees dat die lewe sin en betekenis het, en dat die idealisme van ons jeug tot daadkrag en slaankrag ryp kan word. Ons wil bewus wees van ‘n goeie gesindheid in ons, waardeur ons mekaar wil leer ken en waardeur ons ook teenoor die universiteite en studentegroepe in ons land respek en vriendskap sal betoon. Nogtans wil ons sterk wees, sodat ons sal kan behou wat vir ons toekoms verdedig en gered moet word.

Die lede van die Studenteraad wil u almal bedank daarvoor dat ons in die posisie gestel is om vir 1952 leiding te gee. Ons besef ons swakheid en die grootheid van die taak, en aanvaar dit dus nie oormoedig nie, maar omdat dit vir ons ‘n roeping is om diens aan u te lewer, en omdat ons weet dat ons op u kan steun soos al die Studenterade voor ons.

SAMEWERKING
Ons vertrou dat die verskillende Studentegroepe aan U.P. mekaar vanjaar sal vind, en vir mekaar tyd en simpatie sal hê. Dit is nodig om ’n gevoel van onderlinge verbondenheid aan te kweek – ons het mekaar nodig.

BLOEI EN SUKSES
Die Studenteraad spreek die wens uit dat die verenigings- en sportlewe aan U.P. vanjaar sal bloei. Daar sal waarskynlik heelwat nuwe ontwikkelings kom, maar ons weet dat die sterk ondergrond van Tukkies ook die veranderings sal kan dra en tot ’n sukses maak.

Soos in die verlede sal die eerstejaar-studente gou moet leer om in te skakel by die groot geheel. Ook in 1952 sal U.P. ‘n onuitwisbare stempel op die toekoms van indiwidue, gemeenskappe en ‘n jong volk afdruk

WILLIE JONKER
Voorsitter: SR
[’n Artikel van WD Jonker in Die Perdeby XII(1), 22 Februarie 1952, 1.]