OOR 300 JAAR
As die wêreld oor 300 jaar nog daar is, sal die mense van daardie eeu lag oor ons huidige moderniteit. Hulle sal van die hoofmomente van ons geskiedenis kennis neem; hulle sal dit geniet om te dink aan wat groot en sterk was uit ons tyd. Maar hulle sal daar nie eers meer weet van ons kleinlike gepeuter oor goed waarvan die kool die sous nie werd is nie. Hulle sal nie eers weet van die klein bereikings wat ons verkry het deur ons onderlinge afguns en vertrapping van mekaar nie. Trouens – selfs môre is dit alweer vergeet, omdat dit nog nooit iets werd was nie.
Mag die les van die geskiedenis die Tukkies leer om iets te doen, te dink, en te presteer wat oor 300 jaar nog die varsheid van bowetydelike sterkte sal hê.
WD JONKER
[’n Artikel van WD Jonker in Die Perdeby XII(15), 21 Maart 1952, 4]