DIE CHRISTEN, KUNSTENAAR EN KUNS
Die tyd toe die 19de eeuse wetenskaplikes in ’n gloed van hooghartige eiegeregtigheid God as ’n ongewenste, wrede, onordelike Wese bestempel het en Hom eenvoudig geskrap het, is verby. Ook lê die tyd toe die Neo-Darwiniste met hul leë en ontmoedigende leer van natuurlike seleksie sonder God opgang gemaak het, agter die rug. Destyds kon wetenskaplikes in hul ootmoed nog sulke dinge waag; vandag het daar ’n kentering gekom. Waar die mens van die 19de eeu die woord God uit sy woordeboek wou skrap, onderstreep die denkers van ons tyd dit weer.
In die 20ste eeu twyfel ons nie meer daaraan dat godsdiens ’n onontbeerlike faktor in die lewe van die mens is nie. Elke filosoof en wetenskaplike wat in die mode wil wees, kom met een of ander wyse van erkenning van hierdie feit. Daarom kan Lecomte du Noüy in sy opspraakwekkende werk Human Destiny pleit vir die geloof in God. En hy sê: “Die agnostikus en ateïs is blykbaar glad nie verontrus oor die feit dat ons gehele georganiseerde, lewende universum onverstaanbaar word sonder die hipotese van God nie”. Hul geloof in die orde van sekere fisiese elemente waarvan hulle weinig of niks weet nie, sê hy, dra die Stempel van irrasionele geloof.
Maar hierdie genoemde toestand spel vir die Christendom niks goeds nie: inteendeel, sulke beskouings dryf nog ver by die ware godsdiens verby. Uit die aanhaling van Du Noüy hierbo blyk dat hy ’n hipotetiese God erken; dat hy, omdat dit nuttig is, bepaalde moeilike probleme opklaar, die mens ’n uitgangspunt vir ordinansie bied e.d.m., ’n hipotetiese begrip God aanvaar, wat net so suiwer ’n begrip is as die begrip “elektron”. Gaan so ’n standpunt ons verder bring as wat ons was met Hans Vaihinger se Philosophie des Alsob? Dit is maar weer wat die Mills destyds al besef het toe hulle gesê het: “There is no God; but that is a family secret”. Dit is nog nie veel verder as waar die pragmatistiese Amerikaner van die vorige eeu gestaan het toe hy godsdiens aanvaar het as goed, omdat dit goed was vir sy voorouers nie. En wanneer Bernard Shaw dan in sy trilogie Back to Methusalah ’n “metabiologiese pentaling” wil skep, dan begryp ons dat al hierdie onderstreping van die woord God in die woordeboeke van ons eeu eintlik baie gevaarlik vir ons is. Shaw beklemtoon die feit dat die godsdiens absoluut noodsaaklik is vir die lewe. Maar die godsdiens wat hy vir ons eeu wil ontwerp is die “Creative Evolution”. Al erken hy dan ook die noodsaaklikheid, is hy tog nog so iemand wat ’n slaappop wil koop en in die arms van ’n moeder lê wie se kindjie dood is. Die wetenskaplik-filosofies-godsdienstige denke van die twintigste eeu is dus nog maar heidens, hard en dom en ver van die Bybelse standpunt.
Maar watter verband hou hierdie dinge met kuns en die kunstenaar? Seker wel dit: dat die Christen-kunstenaar in ons eeu geweldige probleme het. In die eerste plek besef ons natuurlik sy groot voorreg: hy hoof nie te redeneer soos die wêreldling nie. Hy hoef nie deur noodsaak gedwonge ’n hipotetiese God daar te stel nie. God bestaan nie vir hom afhanklik van die mens se willekeur, of hy verkies om met of sonder die woord God in sy woordeboek te lewe nie. God is vir hom die eerste werklikheid. Hy moet ook leer om God te sê maar in sy woord sit daar oneindig meer. God het hom gegryp, het Homself met vrye genade aan hom geopenbaar, ja, hy bestaan alleen kragtens die wil van God dat hy sal bestaan. Dit keer die volgorde om, en dit verskaf hom sy voorreg. Wat die mens met die hipotese êrens anders moet gaan soek, is die lewe, die realiteit van die Christen. Hy is daar van vol; dit kleur sy beskouings onbewus. En as hy dan gaan skep, lê juis dit ten grondslag daaraan. Dan is sy kuns ’n uitstulping van sekere heerlike waarhede uit die effe vlak van sy sielelewe, diep ingewortel in die siel en gevoed uit die warm teelaarde onder.
En nou lê die probleem hierin: die hipotese-kunstenaar gebruik die begrip en woord God ewe kwistig, net soos hy wil en waar hy wil. Want dié is immers maar ’n begrip, iets wat hy self daargestel het. Hy beskik daaroor. Hy kan ook verkies om dit te vermoor as hy so voel. Gevolglik staan hy onverskillig wat hy eintlik met God bedoel, is iets anders iets vreemds en gemaak. Daarom kan hy God as Jy aanspreek, hy kan God beskuldig, verwens, vervloek. Hy kan aan God alles toeskrywe wat hy aards en duister vind. Of as hy die dag in ’n beter stemming is noem hy God mooi en verhewe. En die beoordelingsmaatstawwe vir ons kuns word grotendeels deur hierdie soort mense vasgestel. Miskien klink so ’n stelling gewaag, dis waar. Maar weet u dat ons nog steeds besig is om kuns te beoordeel volgens die sogenaamde. L’art pour l’art-beginsel, wat al die klem laat val op die skone, die vormlike en niks te make het met die inhoudelike nie? Ons klem vas aan heidense maatstawwe. Ons heul met mense wat godsdiens as ’n kultuurgoed bestempel in plaas van dit te sien as kultuurskeppend. Die twee soorte kunstenaars gebruik dieselfde woord met ’n wêreld van verskil in betekenis, maar albei word op dieselfde wyse beoordeel; nee, die hipotese-man kry nog die voorkeur, omdat hy, getrou aan sy wêreldbeeld, goeie vorm mag hê sonder danige inhoud. Sulke kuns dra die gedaante van godsaligheid maar die krag daarvan is verloën. Die egte Christelike beginsel moet wees: “l’art pour Deux” (die kuns terwille van God).
Die Christen-kunstenaar behoort hier tog bepaald leiding te kan neem. Waar die irreligieuse alleen lewensmoegheid, die geslagsdrang en trots tot sy temas het, beskik die diep-lewende Christen oor ’n onuitputlike voorraad van verskeie onderwerpe. Boonop is sy emosies suiwer en diep, en waar die irreligieuse kuns walglik is weens die trots en selfverloëning daarin, is sy kuns vol van die deemoed en weemoed, waardeur ware kuns altyd gedra moet word (vgl. Barth).
Maar hier bots die Christen teen ’n muur van vooroordeel. Die hipotese-man, en baie ander in navolging van hom, kan dit nie verdra dat woorde in hul oorspronklike betekenis gebruik word nie. Dit sou dan ’n verval wees in die primitiwiteit en die duisterheid van die Middeleeue. Desnoods word sulke kuns as prekerig en onwetenskaplik beskou. Dis iets wat nie meer waardeer kan word nie; dis ouderwets. En tog kan daar geen ware kuns sonder ware religie wees nie. Shaw sê dat kuns nog nooit groot was as dit nie die beelddraer was van ’n religie nie. Almal steun dus hierdie waarheid, maar nie almal stem saam waarmee ’n “ware religie” is nie. Ook die Christen – kunstenaar wat maar enigsins insig het, weet dat hy nie ’n verhaaltjie met die strekking “eerlikheid duur die langste” vir kuns gaan opskep nie. Maar dit is geen rede waarom hy moet verval in die kleurloosheid van die wêreldling nie. Hy doen dit, omdat hy feitlik daartoe gedwing word deur die heersende kunsopvatting, waaraan hy miskien self waarde heg (?!) en verder omdat hy self nie besef dat hy nie in een juk mag trek met die ongelowige nie.
Die Christen-kunstenaar het baie heerlike voorregte, maar die vraag is of hy dit besef, waardeer en daarvan gebruik maak. Hy het baie probleme, maar die vraag is of hy ook dit in die geloof oorwin, en afgesien van enige heidense maatstaf die suiwere ontroering van sy siel gee. Die Christen moenie net sulke goeie kuns lewer as die hipotese-man nie; hy moet hoër kuns lewer. En hy kan dit doen as sy kuns die suiwere uitvloeiing is van die ontroerde vroom gemoed.
WD JONKER
[’n Artikel in Deo Gloria 1949 10(10), 39 – 40]