WAT IS ONS GESAG?
(SENDING)
DAAR is ’n probleem wat vandag weer in die brandpunt van die godsdienstige denke van die Afrikaner te staan gekom het. Ek gebruik met opset nie teologiese denke nie, omdat die teoloog vandag feitlik deurgaans so gekortwiek word deur sy kennis van wat groot teoloë sê en van die korrekte standpunt wat hy op grond van sy kerkverband en skoling moet inneem, dat hy nie veel ruimte vir dink oor probleme het nie. Die gewone kerkganger en Christen het egter soms die las van brein-verskeurende denke oor aktuele en wesenlike probleme. Een van hierdie probleme, sê ek dan, wat op die oomblik baie se aandag geniet, is die vraag: Watter gesag het ons om die Christendom as die absolute godsdiens, die enigste ware godsdiens, te preek en (veral) deur middel van die Sending te propageer by “heidene”, wat meestal beteken: gelowiges van ’n ander godsdiens?
Hierdie vraag word problematies omdat ons oral rondom ons ander godsdienste opmerk en tereg moet erken dat godsdiens ’n algemeen menslike verskynsel is. Deur alle eeue en geslagte was daar by die mens die gevoel dat hy teenoor sekere Magte staan wat hulle bo-oor die menslike lewe verhef en bestemmend daarop inwerk. Daarom wind ons oral waar die mens hom bevind een of ander vorm van godsdiens, hoe primitief die uitdrukkingsvorme daarvan ookal mag wees. Ook die moderne vrydenker wat die godsdiens alle plek wil ontsê, besit in sy binneste sekere selfuitgedinkte godsdienstige begrippe, of hy staan bewus of onbewus teenoor sekere waardes in ’n godsdienstige verhouding. Om aan ons eie situasie gebonde te bly: die naturel onderskei hom volgens volkekundiges as ’n “godsdienstige” mens, want al sy lewensvorme word gedra en gekleur deur sy paar godsdienstige begrippe. Daarteenoor word stelsels soos Kommunisme wat hulleself naïef ateïsties noem, tot ’n godsdiens vir hulle aanhangers.
Ook baie van die uiterlike verskyningsvorme van die godsdiens kan byna algemeen menslik genoem word. Verskynsels soos die offer, gebed, lofuitinge, en baie seremonies skyn ook in ander godsdienste ’n plek te hê netsoos in die godsdiens van die Bybel. Buitendien meen geleerdes groot ooreenkomste te kan aantoon selfs ten opsigte van die inhoud van die Christelike opvatting en die van ander godsdienste. Ander godsdienste het ook op een of ander manier ’n sonde-begrip, sê hulle, ’n begrip van straf of beloning, selfs van versoening en die eindoordeel. Hulle het tradisies wat verwantskap vertoon met ons skeppings- en sondvloed verhale, en dergelike meer. So het ook ons naturelle, bv. ’n Godsbegrip, ’n vae besef van die voortbestaan na die dood en ander seremonies wat sterk aan gebed en offers herinner. Baie het selfs die besnydenis. Met al hierdie gegewens werk die Vergelykende Godsdienswetenskap. Hulle resultate is alte dikwels gebaseer op die oppervlakkige gelykstelling van verskynsels wat in wese niks met mekaar te doen het nie. Die ooreenkomste wat hulle egter so meen aan te toon, bring menigeen in die war. Ook die persoonlike waarneming kan bedrieg wanneer daar dieper op so ’n saak ingegaan word nie. Dit het bv. daartoe gelei dat baie mense, veral sedert die tydperk van die sg.: “Verligting”, toe die verstand alleen-seggenskap verkry het, die Christelike godsdiens met alle andere op dieselfde vlak gestel het en gesê het dat dit maar net op ’n verdere ontwikkelingstadium as die ander godsdienste is. Maar as dit waar is, het ons geen gesag meer om die Christendom as die enigste ware godsdiens te verkondig nie. Dan moet ons maar net die wêreld in vrede laat voort-ontwikkel totdat almal so ver gevorder het as wat die Christen vandag is. So hoor ons ook in ons tyd dat baie mense sê dat ons maar die naturel aan homself moet oorlaat, in sy stamverband. Die Christendom, sê hulle, breek meer af as wat dit opbou by die naturel. Die sendeling se boodskap vernietig alles wat die naturel gehad het, en die naturel het nog nie geestelik ver genoeg ontwikkel om die Christendom vas aan te gryp nie. Gevolglik het hy niks nie. Watter antwoord kan ons aan hierdie mense bied?
Daar is in die loop van die tyd baie antwoorde op hierdie vraag gegee. Hier is geen ruimte om almal te noem en in besonderhede te verval nie. Ek noem slegs een en ander. Iemand sal kan sê: die Christelike godsdiens is ’n openbaringsgodsdiens en het daarom absolute gesag, want dis deur God aan ons gegee. Dan, antwoord die Mohammedaan en andere: my godsdiens ook; ek glo dit net so seker as julle glo dat julle juis die regte openbaring het.
Dan sê ons weer: Maar ons heilige Boek is van ouds af al daar. Ons s’n is ouer, sê die andere, en hou die Veda’s en ou Persiese boeke aan ons voor. En dis waar: alleen ons geloof kan ons verseker dat ons Bybel groter as hulle boeke is. As hulle dit nie wil glo nie, watter bewys het ons?
Dan sê ons weer : Die Christendom het so ’n hoe moraal. Dit predik ’n etiese stelsel wat ander in die skadu stel, of, soos Vinet gesê het, dit verskaf die etiese eise waarna die mens se hart smag.
Maar ons kan goed begryp dat dit geen standhoudende argument kan wees nie. Dit lewer eerder ’n kragtige pleidooi vir diegene wat die Christendom maar net ’n hoër vorm van godsdiens noem as die ander (ook goeie) pogings.
En die Etiek as sodanig kan nie die absoluutheid van die Christendom bewys, tensy ’n mens tevore reeds aan sy absoluutheid glo nie. Party predikante skyn dit ook nie te besef nie, want blykbaar is die hoogste boodskap wat hulle van die Christelikheid godsdiens kan bring altyd maar weer die groot sedelike “uitdaging” wat dit aan ons rig. Of hulle wys herhaaldelik slegs op Christus se lewe en sy voorbeeld. ’n Chinees kan dieselfde doen deur te wys op sy eie godsdienstige helde. Ghandi het Christus as sedelike held bewonder, en tog nie die absoluutheid van die Christendom erken nie. Christus kan nie maar ’n volmaakte voorbeeld wees nie. Ons moet nog ’n voller boodskap hê. Daarom sê sommige: Die Christendom se leerstellings is beter en deursigteliker en religieus van ’n hoër gehalte as die van ander godsdienste. Maar teenoor ons Versoening stel die opponente dan dat die ou Misterie-godsdienste al ’n bloed-teologie gehad het. By elke leerstuk vind hulle ’n oppervlakkige analogie in die heidense godsdienste. En as daar nie ’n voorbeeld van iets soortgelyks gevind kan word nie, verheug ook die opponente hulle daarin dat ons hier ’n nuwe “ontwikkeling” het of ’n “verdieping”.
So is ons dan weer op die stand-punt terug dat die Christendom maar die vrug is van eeue-lange ontwikkeling in die religieuse gemoed. As iemand nie glo nie, sal hierdie argument hom nie oortuig nie. En so sou ons, wanneer ons op hierdie vlak bly, telkens ook in ander godsdienste “wonders”, “heiliges”, “morele helde” terugvind. Daar moet dus ’n ander rede wees, ’n ander antwoord op ons vraag.
En hierdie antwoord vind ons daarin dat ons, ten spyte van alle uiterlike ooreenkomste, die andersheid van die Christendom positief stel en bely. Wanneer ons van enige ander godsdiens oorstap na die Christendom, beteken dit ’n metabasis eis to allo genos: ’n oorgang na die ander-geslagtelike, na ’n saak met gans ’n ander wese. Ons moet steeds hieraan vashou dat ’n mens die Christendom nie in dieselfde sin kan noem met enige ander godsdiens ter wêreld nie. Daarom is telkens hierbo gesê: “As hy nie glo nie …” omdat dit juis die sjibbolet van die Christendom is: jy moet glo. Jy moet glo dat jy oorgaan na iets gans anders. En die andersheid is daarin geleë dat Christus sy Gees aan sy Kerk gegee het. Confucius en Mohammed het dissipels nagelaat wat in hulle spore gevolg het; Christus het in sy dissipels kom woon en Homself op die mees reële-wyse aan hulle geskenk. Christus leef in sy Kerk. En daarom kan die Christendom wel dieselfde uiterlike verskyningsvorme vir sy uiting gebruik as ander godsdienste, want hy gee dit ’n nuwe inhoud wat vars is; ’n reuk van die lewe kleef daaraan. In laaste instansie is dit die grondslag waarop ons bou, is dit die gesag wat ons het.
Kyk ons nou hiervandaan terug, dan kan ons wel sien: ja, kyk, die Christendom is hoër as ander godsdienste. Ons Godsbegrip is anders, ons erns met die sonde staan skerp teenoor ’n vae besef van skuld by die meeste heidense godsdienste, en ook die ander dogmas toon ’n andersheid wat vloei uit Gods openbaring. Eintlik eers van hier uit het ons die reg om die ooreenkomste tussen die Christendom en ander godsdienste te beoordeel. En dan sê almal: ja, die Christendom moet tóg eintlik absoluut wees. Al hierdie ander dinge is menslike pogings, is verdraaiing en kan nooit dáár uitkom nie.
Dit kan verwag word dat ’n mens nie iemand wat verstandelik wil redeneer so sal kan oortuig nie. En dit is die kruis wat ons moet dra, dat ons belydenis nie verstaan word nie. Maar aan die krag daarvan doen dit geen greintjie af nie, want die sekerheid wat ons geloof en ons gemeenskap met die Lig ons gee, is vaster as enige wetenskaplike bewys. Die geloof dan, sê die apostel, is ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.
WD JONKER
[’n Artikel van WD Jonker in Deo Gloria 1950 11(11), 55 – 57]