GODSBEGRIP EN PREDIKING
ALLES wat van die kansel af klink, moet iets openbaar van Wie God is. Alle prediking moet in laaste instansie tog daarop gemik wees om te sê dat God Gód is. Uit die verkondiging van sonde en genade, oordeel en versoening, verdoemenis en redding, dood en lewe moet steeds weer dit blyk: dat God Gód is. As ons soos Paulus verkondig: “Christus gekruisig!” – (1 Korintiërs 1:23) net die twee woorde as die totale inhoud van ons boodskap – dan sê ons daarmee Wie God is. Want dan sê ons dat God die sonde so haat dat Hy dit nie ongestraf wil laat bly nie. En dan sê ons ook dat Hy, omdat Hy die mens, wat met sy hele wese sonde is, so liefhet dat Hy in sy plek intree en sélf die straf dra. Dan sê ons dat God die Heilige en die Regverdige, die Liefde, Wysheid en Getroue is. En ons sal nie veel oor die waarheid hoef na te dink nie, of ons ontdek dat ook Gods Persoonlikheid, sy Eenheid en sy Drie-eenheid daarby integrerend betrokke is.
Wie soos Paulus niks anders as Jesus Christus wil weet nie (1 Korintiërs 2:2) en Hom as gekruisigde, hy wil nie alleen maar van die Persoon van Christus en van die Christologie weet nie, maar van God in al sy heerlike en onnaspeurlike volheid en heglikheid. Wie oor sonde preek, hy sal moet sê hoekom sonde sonde is, en as hy dit teologies en Christelik wil sê (nie wysgerig nie, d.w.s. gemotiveer uit enige geldende “morele” prinsipes nie), moet hy sê dat God Gód is, en dat daarom, en enkel daarom, sonde sonde is. Selfs hy wat die gemeente wil bemoedig en aanspoor om te volhard, kan dit nie doen sonder om iets aangaande God te sê nie. Kortom: die hele Christelike verkondiging het tot inhoud God, soos Hy Hom heerlik aan ons geopenbaar het.
Prediking wil dus kennis aangaande God meedeel, bewus of onbewus. As vanself word die prediking dan ook beheers deur die prediker se Godsbegrip of Godsbeeld. Hy sê tog immers vir die gemeente wat Gods Woord aangaande God sê. Hoe hy dus Gods Woord interpreteer, dit verskaf nie alleen aan die prediker sy eie Godsbegrip nie, maar ook die inhoud van sy prediking. En wat die prediker sê, moet daartoe lei dat die gemeente die ware kennis van God sal verkry, die kennis van God waarvan Jesus in Johannes 17:3 sê dat dit die ewige lewe is. Die waarheid omtrent God en Christus Jesus en die waarheid in Christus Jesus, dit moet die gemeente immers leer ken, sodat die waarheid die gemeente vry kan maak (Johannes 8:31, 32). Die prediker sal dus altyd dié toets vir sy prediking aan moet lê: wat sê my preke aangaande God? Hoe dink die mense oor God nadat hulle my preek gehoor en geabsorbeer het? (Ons spreek hier natuurlik nie absoluut, d.w.s. asof die ver ligtende werking van Gods Gees nie afgesien van ons spreek die ware kennis van God kan opwek nie.)
Ons wil die waarheid nader toelig deur net een of twee voorbeelde. Ons kan uitgaan van die verkondiging van Gods liefde, wat seker sentraal moet wees in die Christelike prediking. Nou is dit bekend dat ’n teoloog soos Schleiermacher aan Gods liefde reg wou laat geskied. God is liefde, het hy gesê, nie ewigheid of almag nie. Wie wil sê wat God is, moet sê dat God liefde is. En tog, hoe mooi dit ook kink, die liefde wat Schleiermacher aan God toegeskryf het, kan nie waarlik liefde wees nie. Volgens Schleiermacher is God immers onpersoonlik. God is die Ewige innerlik-opstuwende Beginsel wat die “Biedung,” die opheffing van die geskapene wil. Dat God liefde is, beteken dat die ewige stuwende krag in die geskapene steeds die goeie beteken en op die goeie uitloop, dat alle dinge dus ten goede meewerk. Met die verlossing in Jesus Christus staan Schleiermacher se opvatting van Gods liefde só in verband, dat Jesus Christus die regte Godsbewussyn het en die aan die mens bekendmaak. En die regte Godsbewussyn, en sluit in dat die mens bewus sal word van Gods Mag wat deur alles heen-werk as die wil van die goeie – dit is liefde. By die aanskouing daarvan alles, vergeet die mens sy vorige nietige lewenswandel en weet dat God hom tog eindelik dáár sal bring by morele perfeksie. Wie so oor God en oor sy liefde dink, verkondig iets wat absoluut niks met die Bybelse leer te doen het nie. Wie Gods liefde as ‘n algemene, natuur-noodwendige verskynsel buite Jesus Christus om verkondig, verkondig nie die God van die Bybel nie, en ook nie sy redding in sy Seun nie.
Ook Ritschl het die liefde as Gods wese verkondig. Die naam “God en Vader van onse Here Jesus Christus” vind hy die meer adekwate uitdrukking van Gods wese. Dit is die doel waarmee die Seun van God na die aarde gekom het: om God as liefde te openbaar. Vir Ritschl is die liefde van God egter dit dat God die beste vir die mens wil. En die beste wat God vir die mens kan wil, is om hom in sy Koninkryk in te sluit, wat die saligheid vir die mens beteken. Maar wie nog gedruk gaan onder ‘n skuldbesef kan nie vrolik en vry in Gods Koninkryk lewe nie. Daarom moet die wandenkbeeld dat God toornig is op die mens oor sy sonde, eers, by die mens verwyder word. Dit geskied deurdat Jesus kom en in sy prediking daarop wys dat God nie toorn oor die mens nie, maar liefde is, en dat dit ‘n psigologiese swakheid van die mens is as hy God as toornig sien. Is die wandenkbeeld eenmaal opgeklaar, dan weet die mens dat hy Gods kind is en vergewe is. Christus se strewe is dan nie nodig vir vergifnis nie. Dis hoogstens ‘n demonstrasie van hoe vas Hy in die ware Godsbeeld geglo het ten spyte daarvan dat die Jode dit nie wou aanvaar nie. Wie so oor Gods liefde spreek, kan nie die gemeente laat sien Wie God waarlik is nie.
By sowel Ritchl as Schleiermacher het ons maar net ‘n voorsetting van die wandenkbeeld van die verligting wat God in ’n algemene sin, buite Jesus Christus om, Vader en Liefde genoem het. Volgens die Bybel egter as dit onmoontlik om van Gods liefde en die kruis te praat sonder om Gods toorn te noem. Waar Ritschl en Schleiermacher albei die idee van die toorn van God verwerp, maak hulle die liefde van God vanselfsprekend, natuurnoodwendig en beroof dit so van sy diepte. Wie van die kruis praat, moet ook sê dat Jesus Christus dáár die toorn van God oor die sonde gedra het, soos trouens deur sy hele lewe wat één lyding was.
Maak die begrip van Gods toorn nou nie van God ‘n “wrede oosterse despoot” wat dreiging blaas oor wie nie Sy wil uitvoer nie? Nee, maar die verkondiging van toorn van God leer ons dat God heilig is. Heiligheid wil nie net sê morele volkomenheid nie, maar wil eintlik dit aandui wat God Gód maak. Heiligheid is die kloof wat daar tussen God en die mens is. Dit handhaaf die skeiding tussen God en die kreatuur. God is die Enige wat Hy is. Hy wil sy eer aan geen ander gee nie. Hy is die jaloerse God (Ex. 20:5) wat onverdraagsaam is daarteenoor dat sy God-wees deur die sonde aangerand sou wil word. Omdat God heilig is, toorn Hy oor alles wat nie erken dat Hy God is nie, dit is: oor die sonde.
Wie dus preek oor die liefde van God, mag dit nie doen sonder om te wys op die kruis nie. Maar wie op die kruis wys, moet ook spreek van die toorn van God oor die sonde wat daar geopenbaar word. En Wie oor Gods toorn spreek, moet ook sê, dat dit is omdat God heilig is. En wie se dat God heilig is, moet ook se wat dit beteken dat Gods heiligheid die sonde nie kan duld nie. Daarom moet die prediker óók kan sê wat sonde is. Sonde in sy diepste karakter van opstand teen God Gód moet blootgelê word. Sonde is vyandskap teen God. Sonde is rebellie. Sonde bestaan daarin dat die skepsel probeer om die grens tussen God en hom uit te wis en self God te wees. Wie dus oor die sonde preek, sal dit moot sien in sy diepe verbondenheid met die leer aangaande God. Sonde is meer as morele mislukking. Sonde is nog erger as dit. Sonde is nie ‘n “nog dikwels swak wees” nie. Sonde is nie ‘n bietjie toegee aan die kwade in ‘n swak oomblik nie. Sonde is die gevalle skepsel in die mens wat in sy wese van God so afgewend is dat hy die heerskappy begeer en dit nie aan God gun nie. Nie eers begeerlikheid is sonde nie. Die logge struktuur van die mens waaruit die begeerlikheid spruit, dit is sonde. (Vgl. Calvyn, Institusie III, 3, 11).
Ons sien dus dat die prediking altyd op een of ander wyse moet se Wie God is. Daarom moet die prediker versigtig wees om in sy praktiese toepassings en die aanduiding van allerlei sg. sondes – soms bloot dinge waar die prediker self nie van hou nie, maar wat seker heeltemal indifferent is en beslis deur die Christelike vryheid veroorloof sou kon word – nie aan Gods eer skade doen nie. Deur in morele of selfs sub-morele prediking tot verval, slaag die leraar miskien nie so goed daarin om God vir die gemeente nader te bring of Gods beeld in hulle gedagtes en gemoed te laat lewe nie.
WD JONKER
[’n Artikel van WD Jonker in Deo Gloria 1952 13(12), 22 – 25]