Ons Kerk ’n Volkskerk?

Ons Kerk ’n Volkskerk?
Die Kerkbode, lxxvii(3), 18 Januarie 1956, 111-112.

Geagte Redakteur,

In u uitgawe van 30 November 1955, reageer u in ’n hoofartikel op die uitdrukking deur dr. A. C. Barnard, gebesig in sy artikel oor “Die Kerk van Christus en die Volkskerk,” naamlik: “Ons dierbare Kerk het ’n Volkskerk geword.”  Ek is dankbaar dat u in hierdie verband maan tot versigtigheid met die gebruik van dergelike skerpklinkende uitsprake.  ’n Mens kan die saak waarom dit gaan heeltemal goed raaksien, en in jou poging om dit suiwer te stel, dit te sterk stel.  Miskien kan dr. Barnard hom daaraan skuldig gemaak het.

Tog is ek daarvan oortuig dat u in u reaksie op dr. Barnard se uitspraak nie ten volle reg aan hom laat geskied nie.  U wek naamlik die indruk asof sy uitspraak sou berus op die foutiewe siening van die verhouding tussen ons Kerk en ons volk, en u gaan dan praat oor die historiese verband tussen ons volk en ons Kerk, oor die feit dat ons drie Kerke het vir die een Afrikaanse volk, oor die feit dat ons Kerk se lidmate al woon tot in Noord-Afrika, en (nota bene) oor die feit dat ons Kerk onder sy lidmate ook lidmate van ander rasse tel. Ek meen dat nie een enkele van hierdie dinge wat u noem, ter sake is in die kader van die artikel van dr. Barnard en die genoemde uitspraak daarin nie.  Volgens u kan ’n mens blykbaar slegs dáár van ’n Volkskerk praat, waar die verhouding één volk – één Kerk aanwesig is of, anders gesê: u gooi al u argumente oor die etniese boeg. Daarmee praat u egter aan dr. Barnard verby.  ’n Kerk kan ’n Volkskerk wees ten spyte van al die dinge wat u noem.  Die Nederlandse Hervormde Kerk wil doelbewus Volkskerk wees en is dit ook seker in die lig van ons Skriftuurlike belydenis van wat die Kerk na sy wese is.  Maar ook in Nederland bestaan daar náás die Hervormde Kerk verskillende ander Kerke, wat ook hul oog op die volk in sy geheel het, en daar sou met groot klem aangetoon kan word dat baie van die argumente wat u aanhaal om aan te toon dat ons Kerk geen Volkskerk is nie, ook van die Nederlandse Hervormde Kerk gesê kan word.  Wat die Hervormde Kerk Volkskerk maak, is nie net die historiese één Kerk – één volk-verhouding nie.  Daarom is die Hervormde Kerk in ons land ook wesenlik Volkskerk, al sou hy slegs te kwader ure kan beweer dat hy, histories gesien, die oudste en enigste Kerk van ons volk is.

Terwyl u die begrip Volkskerk slegs in ’n etniese kader plaas, spreek dr. Barnard daaroor in die gees van die jong Kuyper as ’n Kerk wat ten koste van eie heiligheid uitbreiding en grootheid soek, en gevolglik ’n Kerk is waaraan die massas behoort, “die in de kerk zijn opgenomen, en wier innerlijk leven zich op geen enkel punt met het leven der kerk heeft vermengd”; die “massakerk, die rijp en groen in zich opneemt, die de wereld doopt en die de zichtbare kerk met de wereld vereenzelvigt.”  Die etniese faktor is hier glad nie die vernaamste nie.  Die punt waarom dit gaan, is dat die predikant “gelowiges en hulle saad” eenvoudig toegeken word aan alles wat op die terrein van die sigbare Kerk gebore word, dat almal maar gedoop word wat voor die doopvont gebring word en dat iemand wat eenmaal op hierdie wyse gedoop is, nie maklik losgelaat word nie, maar as lid van die Kerk gehandhaaf word, soms oor ’n slordige katkisasie heen, ook al gee hy deur sy lewe blyk dat hy op geen enkele punt meer geweet het van wat die Kerk eintlik bedoel om te wees nie!  Dan ontstaan vanself die gedrog van ’n Kerk wat ’n opvoedingsinrigting wil wees en meen dat dit goed is om soveel moontlik mense maar in die Kerk in te sluit, om hulle nie “af te stoot nie,” maar te probeer nader trek wanneer hulle nog binne die grense van die Kerk bly.  Natuurlik moet die Kerk dan die tug verwaarloos, of altans sommige aspekte van die tug.  Dan gaan die Kerk met allerlei spesiale middele binne sy eie grense evangeliseer!  Of daar dan een Kerk is of baie, en of die Kerk se mense ver en wyd woon, en of daar dan ‘n ander etniese groep is wat ook – miskien op dieselfde wyse – ingetrek word in daardie Kerk se lidmaatskap, maak dit nie veel verskil nie: daardie Kerk is ’n Volkskerk en hy handel soos ’n Volkskerk.

Dit mag moontlik wees dat die Kerk, soos ons glo dat dit die geval in ons dierbare Kerk is, die Woord van God suiwer kan verkondig en die belydenis handhaaf, maar die tug sal altyd verskraal word tot enkele sg. “sondes”, en die eintlike tug bly agterweë.  U vra waar die verhouding tussen ons volk en ons Kerk belemmerend werk?  Wel, hy sal dáár belemmerend werk waar die Kerk te bang is om sy eie geledere te suiwer, waar die Kerk in eie midde begin opvoed en evangeliseer, omdat hy ’n massa lede wil aanhou wat van Christus niks meer weet nie, wat maar altyd nog die Doop vir hulle kindertjies begeer en die kerklike inseëning van hul huwelike, maar niks meer nie.  Dáár, waar die Kerk nie meer die vergadering van ware Christus-gelowiges is, juis ook in sy sigbare gedaante, nie, maar ’n evangelisasie-instituut, staande te midde van ’n gedoopte “verbondsvolk”, wat vir die grootste gedeelte bestaan uit mense waarvan hyself moet oordeel dat hulle slegs nog voorwerp van evangelisasie kan wees.  Die gevolg van so ’n situasie is dan dat die Kerk so bekommerd raak oor die onbekeerdheid van sy eie lidmate, dat hy graag gryp na die hulp van allerlei interkerklike en buitekerklike bewegings om sy eie mense terug te roep, en dit word so erg dat selfs sommige van sy predikante meer van die buitekerklike beweging hou as van die minder suksesvolle Kerk!

Wat dr. Barnard beoog, is sekerlik nie ’n deursny van die band tussen Kerk en volk nie.  Elke Kerk wat sy roeping verstaan, sal weier om op ’n sektariese wyse losgeslaan te word van die verbande van die volkslewe, en by sal weier om ’n ander ideaal te hê as die “inbring” van die ganse volk.  Maar wat dr. Barnard bepleit, is dat ons uit die suiwere Nuwe-Testamentiese idee van die Kerk sal gaan lewe en gaan herstel wat herstel moet word ten opsigte van ons Kerk, wat sit met ’n massa lidmate wat geen weet meer het van wat die Kerk is nie.  Daarin kan ons alleen met hom saamstem.  Miskien kan ons net versigtiger as hy spreek en sê dat ons Kerk in sekere aspekte van die praktyk die vertoning begin maak van ’n Volkskerk, hoewel ons Kerk se bedoeling nie is om Volkskerk te wees nie.  En wanneer ons daarin met mekaar saamstem, dan is dr. Barnard se uitspraak, hoe hard dit ook vir ons mag klink vir ons ’n waarskuwing wat ons moet wek tot die heilige erns wat pas by die besinning oor die toekoms van ons Kerk.

W.D. Jonker, V.D.M.
Johannesburg, Jan. 1956.
[Sien ons inleidingskolomme.—RED.]