Oordenking tydens gedenkdiens

Oordenking tydens gedenkdiens, Willem Daniël Jonker, 31 Augustus 2006
NG Stellenbosch-Welgelegen

Lees Romeine 6:2-5, 8, 11

(1) Willie Jonker het gelewe vanuit die doop.  Almal wat hom geken het, het dit geweet. Vir hom het dit beteken – soos vir Paulus – dat ons sáám met Christus ’n nuwe identiteit ontvang het.  Deur die doop is ons saam met Christus begrawe, sodat ons ook saam met Hom sal lewe.  Deur die doop verseker God ons van dié beloftes, van dié nuwe werklikheid wat van ons geld.  Geloof beteken eenvoudig dat ons lewe vanuit dié beloftes, dié versekering, dié werklikheid. Dis ons eintlike identiteit, dis wie ons waarlik ís, dis die evangelie – en wie oor Willie Jonker wil nadink, moet oor hierdie evangelie nadink, wat hom gemaak het wie hy was.

Deur die jare het hy hierdie beloftes self geglo, betuig en geleer. Die kerk het dié Woord as opdrag ontvang, as boodskap om te verkondig. Met dié wonderbare werklikheid, dié oneindige troos kan mense reken; ons kan daarop vertrou, in voorspoed en teenspoed, in lewe en dood, met liggaam en siel – ons behoort aan Jesus.

In sy laaste gepubliseerde reeks preke, gehou in die kerk in Malawi, praat hy oor Ons posisie in Christus en ons aardse werklikhede. Hy dink na oor hierdie woorde in Romeine 6, en praat herhaaldelik van ons posisie in Christus, ons status in Christus, ons identifikasie met Christus, hy noem dit die diepste geheim van Christen-wees, ons werklikheid in Christus. In die doop verseker die lewende God ons van hierdie status, hierdie posisie met sigbare bewyse, met tekens en seëls. Hy sê die evangelie roep ons op om anders oor onsself te dink as maar net vanuit ons ervaringe, vanuit ons eie geskiedenis, vanuit ons aardse realiteite, noem hy dit. Daarom is ons eie ervaringe en geskiedenis – of dit suksesvol en indrukwekkend is en of dit tragies en bitter is – nie die eintlike woord oor wie ons is nie. Ons is een met Jesus Christus en in Hom skuil ons eintlike lewe – méér werklik as enigiets wat mense van ons mag dink en sê, of wat die lotgevalle van die lewe aan ons kan doen of oor ons mag bring, ongeag of dit goed is of kwaad.

(2) Willie Jonker het gelewe vanuit die doop. Wie hom geken het, het dit geweet. Vir hom was dit – soos vir Paulus in hierdie verse – wonderbare goeie nuus, ’n heerlike magsdaad van die Vader noem Paulus dié wete, rede vir diepe vreugde, ongeag wát. Om hierdie boodskap te kon verkondig, was vir hom die ene blydskap. Om in sy werk oor hierdie evangelie te kon nadink, was vir hom ’n daaglikse voorreg. Om predikant en teoloog te kon wees, was vir hom wonderbaar. Van kleintyd af wou hy dit graag word, tot op sy oudag was dit sy vreugde.

As hy terugkyk op sy eie ontwikkeling vertel hy van die invloed van die Switserse denker Karl Barth op hom en sy geesgenote, en dan vertel hy hoe juis Barth se vreugde oor die evangelie hulle aangespreek het, geïnspireer het, hulle eie oë laat oopgaan het vir vreugde oor hierdie versekeringe van God. Enkele dae gelede was daar ’n konsultasie in die Fakulteit Teologie oor Jonker se denke, op versoek van oorsese teoloë. Hulle wou juis kom praat oor hierdie merkwaardige blydskap oor die evangelie in sy lewe en werk.

Dié blydskap berus op die sekerheid waarmee ons God se vaste beloftes kan aangryp en vertrou – dié beloftes aan ons verseker en beseël in die doop, nog voor ons enigiets kon verstaan of presteer. In sy Brief aan doopouers, oor jare heen deur sovele ouers gelees, praat hy van die vreugde dat ons kinders gedoop word, van die heerlike betekenis daarvan, as duidelike blyk van Gods ondeurgrondelike liefde – lank vóór enige begrip aan ons kant, enige moraliteit, enige verdienste, enige godsdienstigheid, enigiets om op te roem.

Hy was baie lief vir ’n aangrypende gedig waarin N P Van Wyk Louw, destyds lidmaat in Braamfontein, dié onbegryplike liefde van God verwoord het, dié besondere ontferming oor noodlydendes en sondaars, oor behoeftiges, oor gebrokenes. Hy kon diepsinnig skryf oor Uit vrye guns alleen – vol verwondering, vol blydskap, vol dankbaarheid, vol roem oor hierdie blye evangelie. Hoe baie van ons sou deur die jare sou nie ver ente ry as hy êrens sou preek nie – om híérdie blye boodskap van Gods vrye ontferming te kon hoor?

(3) Willie Jonker het gelewe vanuit die doop en wie hom geken het, het dit geweet. Vir hom het dit beteken – soos vir Paulus hier in Romeine 6 – dat ons ook opgewek word om ’n nuwe lewe te lei, nou en hier reeds, daagliks, voortdurend. Hy sê êrens dat Paulus se beskrywing van die doop hier “kulmineer in die magtige woorde” van vers 11 dat ons altyd moet onthou dat ons vir die sonde dood is maar vir God lewe, omdat ons een is met Christus Jesus.

In sy bekende kommentaar op Romeine sou hy duidelik maak hoe die genade mense vernuwe deur ons vrý te maak. Vryheid was vir hom van sleutelbelang, die vryheid wat die evangelie bring. In sy proefpreek het hy al oor vryheid gepraat, soos sovele kere daarna – oor die waarheid van die evangelie wat ons vry maak, vry van sonde, vry van selfliefde, vry van gierigheid, vry van bande wat ons bind, vry van die vrees vir mense, vry van die suigkrag van die samelewing, vry van die vanselfsprekendhede van omgewing, kultuur, openbare mening, ideologieë, die volk, politieke strominge, vrý. Wie gedoop is, ’n nuwe identiteit ontvang het, ’n nuwe status, ’n nuwe posisie, ’n nuwe werklikheid, is vry om aan Christus te behoort met ’n nuwe gehoorsaamheid.

In die onstuimige sewentigerjare sou hy by die SACLA-byeenkoms praat oor die onderskeidingsvermoë waartoe openbare leiers bevry word as hulle die gees van Christus soek en uitleef. Tydens ’n sendingweek hier op Stellenbosch sou hy met skares studente praat oor die liefde van Christus wat ons dring, en ons vry maak, om diensbaar te wees, beskikbaar, ook vir ons naastes in nood. Die manier waarop die gereformeerde belydenisskrifte die evangelie saamvat sou hy beskryf as Bevrydende waarheid. Dikwels sou hy nadink oor die Heilige Gees, die Gees van Christus, wat ons ook heilig, wat ons roep, verander, vernuwe, vry maak om te lééf soos mense wat gedoop is en één is met Christus.

(4) Willie Jonker het gelewe vanuit die doop. Almal wat van hom gehoor het, het dit geweet. Vir hom het dit ook beteken – soos vir Paulus, in Romeine 6 tot 8 – dat ons die sonde moet weerstaan, dat ons dood is vir die sonde, dat ons die sonde daagliks en voortdurend weer moet afsterwe. Die lewe van die geloof vra nie alleen die opstaan van die nuwe mens nie, maar ook die afsterwe van die ou mens. Hierdie afsterwe van die ou mens kom in baie gedaantes – en dis nooit speletjies nie.

’n Mens hoef net sy herinneringe in Selfs die kerk kan verander te lees om diep beïndruk te wees van die afsterwe in sy eie lewe, van die worsteling, die teleurstellings, die verwerping wat hy self geken het. Baie van ons vandag hier weet daarvan. Hy was diep bewus van die gebrokenheid in sy eie hart en lewe – en het nie gehuiwer om daaroor te praat, dit by geleentheid selfs in die openbaar te bely nie. Hy was diep bewus van die gebrokenheid in die kerk wat hy liefgehad het, van suigkrag wat die kerk meesleur, van ongeloofwaardigheid in die kerk se eie lewe, van vreemde lojaliteite waarvoor die kerk buig – en het sy lewe lank daarmee geworstel, dikwels krities soos ’n profeet, maar áltyd bewoë soos ’n priester.

Veral die gebrek aan eenheid in die kerk was vir hom pynlik. Deur die één doop word ons ook mekaar se susters en broers, word ons deel van die één liggaam van Christus. Dat ons dié eenheid verbreek het, was vir hom ’n saak van diepe droefheid, soos ook die klowe van bitterheid en die strukture van onreg wat oor jare deur dié gebrek aan eenheid al groter sou groei. Hy het ook gely en in homself gesterwe aan die kerk en aan ons land.

(5) Willie Jonker het gelewe vanuit die doop. Almal van ons wat bevoorreg was om hom te ken, het dit geweet. Vir hom het dit ten diepste beteken – soos vir Paulus, dwarsdeur hierdie hoofstukke, tot by die lof van Romeine 8 – dat ons veilig is in die hande van die Drie-enige God, dié Hand wat ons vashou. Die doop is die sigbare bewys – sou hy dikwels sê – van die verbond, teken en seël dat die troue God God self aan ons verbind het, as Vader ons aanneem tot kinders, as Seun ons was in sy bloed, as Gees ons deel gee aan die nuwe lewe. Omdat Gód getrou is, hoef óns niks te vrees nie.

Dié wete bied wonderbare troos. Dit beteken dat ons onsself op God mag verlaat, selfs in die krisisse van ons lewe, selfs in die aangesig van siekte, aftakeling en dood. God se troue sorg oor ons is veel, veel groter as ons begrip daarvan, as ons bewussyn daarvan.

Jare gelede skryf hy in Die Burger oor hierdie troos, juis na aanleiding van hierdie hoofstukke (Romeine 5). Ons verhouding met God hang nie af van ons bewussyn daarvan nie, gelukkig nie – en nêrens sien ons dit meer dramaties as by ons doop nie. As ons babas is – sê hy – weet ons ook niks van die groter verbande waarin ons lewe staan nie, die liefde waaruit ons ontvang is, die sorg en beskerming van ons ouers, ons is daarvan volkome onbewus. Tog is dit ’n werklikheid óm ons. Waarom sal dit dan anders word as ons weer terugkeer na die aarde waaruit ons geneem is en ons op ons weg daarheen langsamerhand óók weer alles vergeet wat ons eenmaal gehoor en geweet het?, vra hy. Dis belangriker – sê hy – dat God óns ken as dat ons God ken. Voordat ons was, het Hy ons reeds in liefde geken. Daarvan getuig die doop. En as ons nie meer van onsself of van God weet nie, sal Gods liefde ons steeds vashou. Tot in die dood, as ons bewussyn langsamerhand weg-eb en die stilte oor ons kom – so skryf hy, 25 jaar gelede al.

Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Aangesien ons saam met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding (Romeine 6:3, 5). Véél, véél belangriker as ons begrip en ons bewussyn hiervan, is die trou van God wat dit belowe en verseël.

Dis omdat Willie Jonker dít geglo het dat hy hierdie belydenis so aangrypend kon berym in Lied 290.

Dit is my troos dat gedoop is,
dat ek gedoop is in u Naam,
want deur die doop is ek verseker
dat U in guns U nooit nie skaam
as Vader, Seun en Heilige Gees
om ook mý God genoem te wees.

Dit is my troos dat U as Vader
Uself in trou aan my verbind
en dat U in u milde liefde
my neem as erfgenaam en kind;
dat U die kwaad van my wil weer
of anders tot my beswil keer.

Dit is my troos dat U, Heer Jesus,
as Seun my deur u bloed wil was;
dat U my inlyf in u sterwe
en vrymaak van die sondelas;
dat U my met U óp laat staan
en op ’n nuwe weg laat gaan.

Dit is my troos dat U vir ewig,
O Heil’ge Gees, in my wil woon.
U wil my heilig en steeds voller
die beeld van Christus laat vertoon.
So maak U tot my eiendom
als wat ek reeds besit in Hom.

Kom ons sing dié lied saam met dankbare harte.