Doodgewoon Christelik

DOODGEWOON CHRISTELIK

Die Burger, 1 Mei 1994, bladsy 12

Baie mense vra hulself vandag af hoe Christene in hierdie land hulle op die toekoms moet instel. Hoe moet hulle die omwenteling verwerk wat die hele samelewing in al sy fasette sal raak? Selfs al is dit nog nie duidelik wat die volle impak daarvan op die lewe sal wees nie, is dit tog vanselfsprekend dat daar met groot veranderinge gereken moet word wat die geestelike klimaat en die karakter van die samelewing drasties gaan verander. Hoe moet hulle hulself in die nuwe situasie gedra?

Die antwoord daarop kan maar net wees dat Christene ook in die nuwe situasie net doodgewoon Christelik moet wees, getrou aan die altyd geldende instelling van ’n Christen. Die verskil in omstandighede kan hoogstens ’n verskil maak aan die manier waarop Christene in die nuwe situasie hulle geloof moet uitlewe, maar die saak self, die basiese instelling van Christene, bly altyd dieselfde.

Hulle weet immers dat hulle in alle omstandighede primêr met God te doen het, nie met mense nie. Dit is God wat oor die geskiedenis beskik en regeer. Jesus Christus is gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde (Hebreërs 13:8). Daarom moet hulle geloof in Christus deurgaans vir Christene die bepalende faktor in hulle lewenstyl, optrede en keuses wees. Die fundamentele dinge wat die Bybel van kinders van God verwag, bly altyd dieselfde, hoe die situasie ook mag verander.

Wie dus wil weet hoe om in die nuwe situasie te lewe, moet maar weer na die vermanende gedeeltes van die Nuwe Testament luister. Daarin word uitgespel hoe ’n Christen altyd behoort te wees en op te tree. Die kern daarvan is dat Christene soos Christus behoort te wees. In Paulus se brief aan die Filippense word hy self aan die Christene as voorbeeld voorgehou, en juis in wat die kern van die heilsboodskap van die Bybel vorm: Christus in sy selfvernedering, selfontlediging en kruis word die voorbeeld wat Christene moet navolg (Filippense 2:5).

Die Bybel vra van Christene om altyd en in alle omstandighede gelei te word deur ’n etiek van selfverloëning, nederigheid, deemoed en diens. Nie eiebelang nie, maar die belange van die andere moet voorop staan (Filippense 2:3–4). Nie selfhandhawing nie, maar diens aan die naaste is die gebod daarby ’n Christen lewe.

Paulus het maar alte goed geweet dat alle mense vanselfsprekend altyd aan hulself en hul eie belange dink. Hy het geweet dat ’n mens van nature oor jouself geboë is, besorg en bekommerd oor wat van jou word. Maar hy het ook geweet dat ’n mens deur Christus verlos kan word van jou selfsug en bekommernis oor jouself, en dat jy dan om Christus wil onselfsugtig kan lewe, opreg, onberispelik en inskiklik, soos ’n ligdraer in die wêreld (Filippense 2:12–15, 4:4–6).

Dit geld ook vir die politieke terrein. Dit is verkeerd om te dink dat ’n mens in jou persoonlike lewe wel deemoedig kan wees en met God kan wandel, maar dat jy in die politieke en ekonomiese lewe skielik jou selfbelang tot die grondslag van jou denke en optrede mag maak, sonder om te dink aan die beswil van die naaste.

Die grens van die Christen se inskiklikheid is waar die eer van God, die reg, of die lewe en waardigheid van die medemens aangetas word. Sy of haar stryd moet gaan oor die behoud van alles wat waar en edel, reg en rein, mooi en prysenswaardig is (Filippense 4:8). Wie dié stryd in die verlede gestry het, sal dit ook in die toekoms moet bly stry. – WDJ