Geloof en liefde
Die Burger 1987-03-21
Volgens die Nuwe Testament is geloof en liefde die mees tiperende kenmerke van die Christen en dus ook van die Christelike gemeente. Sonder geloof in Jesus Christus as Verlosser en Here, en sonder liefde as die vrug van die geloof waardeur ’n mens se lewe verander word, kan niemand in die ware sin van die woord ’n Christen wees, of ’n groep mense met reg die naam van ’n Christelike gemeente dra nie.
Die vraag is nie of hierdie geloof en liefde altyd is wat dit moet wees nie. Ons geloof en liefde is in elk geval altyd gebrekkig. Wat egter beslissend is, is dat geloof en liefde wel aanwesig moet wees en dat hulle hul voltooiing in die hoop moet vind, as daar van egte Christenskap sprake moet wees.
Daarby is dit duidelik dat geloof en liefde nooit van mekaar losgemaak mag word nie. ’n Mens kan bv. nie meen dat hy ’n Christen kan wees as hy wel glo, maar geen liefde het nie. Daaroor is I Kor: 13 meer as duidelik, en die Brief van Jakobus bevestig dit. Netso kan ’n mens nie meen dat hy ’n Christen kan wees deur liefde te beoefen, sonder dat hy deur die geloof aan Christus verbind is nie. Egte liefde is die vrug van ons geloofsverbintenis aan Christus (Gal. 5:6).
In die praktyk gebeur dit egter dikwels dat hierdie twee dinge teenoor mekaar gestel en selfs van mekaar geskei word. Daar is Christene en kerklike groeperinge wat alle aksent op die geloof laat val. Dit is vir hulle verskriklik belangrik om te verkondig dat ’n mens in Christus moet glo, dat jy die geloofsbeslissing moet doen, dat jy aan die ware leer van die saligheid moet vashou, en dat jy alle dwaalleringe moet verwerp en bestry.
Oor die liefde word by hulle egter min gesê. Natuurlik sal hulle nie ontken dat die liefdesgebod ’n deel van die verkondiging is en dat die evangelie beloof dat die Heilige Gees in die lewe van almal wat werklik glo, die vrug van die liefde wil werk nie. Maar hulle praat minder daaroor. Hulle vind reggelowigheid (ortodoksie) belangriker as ’n lewe vol liefde en blydskap. Onbedoeld halveer hulle die evangelie.
Daar is egter ander Christene en kerkgroepe wat weer alle klem op die liefde laat val. By hulle word die geloof en die stryd om die waarheid ongemerk minder belangrik as dade van liefde en barmhartigheid. Die “praxis” kry by hulle die voorrang bo die leer. Regdadigheid (ortopraksie) is vir hulle belangriker as reggelowigheid. Dit maak nie soveel saak wat ’n mens glo nie, as hy maar die regte dinge doen, as hy maar uit liefde tot die naaste handel.
Egte Bybelse vroomheid verbind egter hierdie twee dinge. Wie die geloof beklemtoon ten koste van die liefde, verstar so maklik in onverloste regsinnigheid. En wie die liefde van die geloof losmaak, word ’n prooi van ’n oppervlakkige humanisme. Wat God saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. – W.D.J