GESPREKKE IN DIE NAG
(Ongedateer)
WD Jonker
- Om oor God te dink in ’n a-religiose tyd
Die grootste wonder waarmee ons as denkende mense gekonfronteer word – dit het die wysgere reeds eeue gelede gesê – is dat daar iets is, en nie niks nie. Dat ons bestaan, dat ons deel is van die werklikheid en dat ons daarvan bewus mag wees — dit is die gegewene wat ons voor die raaisel van ons eie bestaan en van die werklikheid as sodanig stel en ons uitdaag om iets daarvan te probeer verstaan.
Dié raaisel word nie opgelos deur ons pogings om die materiële werklikheids-wetenskaplik te bestudeer en telkens van nuwe aspekte van die verbysterende aard daarvan bewus te word nie. Hoe meer ons daarvan ontdek, hoe meer word ons bewus van die wonder daarvan dȧt ons bestaan, en dat ons bestaan as deel van ’n werklikheid wat net eenvoudig ons verstand te bowe gaan.
Die werklikheid op sigself is één onbeskryflike wonder. Namate ons insig in die aard daarvan verdiep, word ons besef van die raaisel en die wonder daarvan dat daar iets steeds groter bestaan, en ons verwondering daaroor dat dit is soos dit is, steeds intenser. Dit dryf ons as vanself met steeds groter krag na die vraag wat die sin en die grond van alles is.
Binne die Joods-christelike tradisie leef die oortuiging dat God self die Grond van die bestaan is, die Oorsprong en Skepper van die heelal en die wêreld-werklikheid. Dié oortuiging is nie die vrug van verstandelike nadenke nie, maar berus op die oortuiging dat God dit self aan sy volk geopenbaar het. Die Bybel deel dit mee as deel van die openbaring van God. God het Homself aan mense geopenbaar deur sy Gees en Woord, en op grond daarvan glo hulle dat God die hemel en die aarde geskep het, die heelal in sy ondenkbare en onmeetlike grootheid, en die mens as die kroon van sy skepping op die aarde geplaas, om daarop te woon, dit te ken en te beheers. Die mens het klaarblyklik van huis uit ’n religiose besef gehad wat meegebring dat hy nie anders kon as om in sy lewe en in sy omgang met die skepping van die aanwesigheid van God bewus te word nie. Klaarblyklik het die mens ervaar dat hy in die lewe en sy kontak met die werklikheid deur die teenwoordigheid en mag van God gekonfronteer word. Calvyn was van mening dat God aan die mens ’n sensus divinitatis, ’n Godsbesef meegegee het, wat meebring dat die mens die aanvoeling het dat hy in die werklikheid met God te make het en voor die aangesig van God leef. Dit bring mee dat hy op God afgestem is en van nature ’n Godsbesef het wat in ervaring met die wêreld en die geskiedenis bevestig en versterk word. Augustinus het reeds in sy confessiones geskryf: “U het ons vir Uself gemaak, en ons hart is onrustig in ons, totdat dit rus vind in U.
Vroeër was wysgere en teoloë inderdaad van oortuiging dat die Godsbewussyn een van die sterkste aangebore bewussynsinhoude van die mensheid is. Gelowiges het deur die eeue daarvan uitgegaan dat God in en deur die skepping tot die mens spreek. Psalm 19 sê in ronde woorde dat die hemel van die mag van God getuig en die uitspansel die werk van sy hande bekend maak. “Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem. Tog gaan daarvan ’n boodskap uit oor die hele wêreld en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde. ”
Totius se pragtige beryming van Psalm 19 word die krag wat Gods spreke in die skepping só verwoord: “Geen volk só onbegaaf, geen oor so onbeskaaf, wat nie dié taal verstaan.” Die kerk het altyd aanvaar dat die Godsbewussyn by alle volke ’n bewys vir die bestaan van God is en het daarom in haar getuienis teenoor die heidene by hierdie natuurlike Godsbesef aangesluit om hulle tot die ware kennis van God in Christus te lei, dit is: tot die ware kennis van dié God waarvan hulle wel bewus is en wat hulle ook wil eer, sonder egter om Hom te ken (Handelinge 17:23).
Intussen leef ons vandag egter in ’n situasie waarin baie mense blykbaar geen behoefte aan kennis van God of omgang met Hom het nie. Dat baie moderne mense geen bewussyn van God het nie, moet as die vrug van ’n lang proses van verwêreldliking gesien word. Dit het veral sedert die agtiende eeu in die Weste sterk ingang gevind. Maar dit lyk of veral die proses van sekularisasie of verwêreldliking wat sedert die agtiende eeu in die Westerse wêreld op gang gekom het, Paulus se standpunt weerspreek. Sedert die aanbreek van die moderne tydperk het daar in die Westerse wêreld ’n groot geestelike verandering plaasgevind. Die moderne mens wil die werklikheid rasioneel deurgrond, verstaan en beheers. Dit staan teenoor die voor-moderne mentaliteit waarin mense bereid was om die geheimenis van ons bestaan religieus te benader vanuit ’n gelowige gerigtheid op God en sy openbaring soos dit in die Heilige Skrif neerslag gevind het. Dit skep ’n klimaat waarin die werklikheid soos ons dit ken, navors en beheers, op sigself beskou word, sonder om van die geloof in ’n Skepper en Onderhouer daarvan uit te gaan. Die moderne mentaliteit het gelei tot ’n indringender kennis van die werklikheid. Die kosmologie en die fisika het die onvoorstelbaar wonderlike en verbysterende aard en asemrowende grootheid van die skepping meer as ooit tevore tot ons laat deurdring. Daardeur is die mens in staat gestel om dit meer as ooit te vore te ken en te beheers. Dit het egter terselfdertyd ook daartoe gelei dat die oortuiging ontstaan het dat die werklikheid verstaan, verklaar en beheers kan word sonder dat geloof in God betrek is. Baie moderne mense het oortuig geraak dat ons die “hipotese” dat daar ’n God bestaan wat alles geskep het, moet laat vaar.
Steeds meer mense trek die skouers op by die vraag of God bestaan. Ons lewe steeds meer in ’n religielose situasie.
Die proses waarin dit gebeur, word sekularisasie genoem, dit is: verwêreldliking. Die Latynse woord saeculum waarvan dit afkomstig is, beteken eeu of wêreld, sodat die begrip sekularisasie ’n gees of mentaliteit van uitsluitlike gerigtheid op hierdie wêreld, die teenwoordige tyd en lewe aandui – sonder om met God, die toekoms of die ewigheid na die dood te reken. Ons tyd word ’n sekulêre tyd, dit is, ’n wêreldse tyd genoem, omdat steeds meer mense vandag klaarblyklik sonder enige Godsbesef lewe. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die mensheid leef ’n groeiende deel van die wêreldbevolking volkome a-religieus.
Dit stel ons as Christene voor die uitdaging om in ’n tyd waarin die geloof in God as ’n onnodige en onbruikbare hipotese beskou word, duidelik te probeer maak op watter gronde ons nog steeds daarvan oortuig is en dit as ’n basiese bestanddeel van ons geloofsoortuigings beskou – nie net dat daar ’n God is nie, maar dat ons God ook kan “ken” en met Hom kan verkeer. Wat dit betref, kan gesê word dat daar nog nooit ’n tyd en situasie was waarin die getuienis van gelowiges in so ’n moeilike situasie gelewer moes word as tans nie.
Die kerk het altyd daarvan uitgegaan dat die mens volgens die Bybel na die beeld van God geskep is en dat dit onder meer inhou dat daar by mense ’n aangebore religiose gerigtheid bestaan, wat dan in die verskillende godsdienste konkrete gestaltes aangeneem het. Daarom kon Paulus in sy bekende preek op die areopagus by die bestaande godsdienstigheid van die Ateners aansluit en aan hulle verkondig dat die boodskap van die evangelie hulle met die ware God bekend stel wat hulle aanbid sonder om Hom te ken (Handelinge 17:16–34). Daar kan egter vandag, wat die moderne mens betref, nie meer met die bestaan van ’n algemene godsdienstigheid gereken word nie. Dit geld ook van die eertydse Christelike Weste. Sedert die Verligting van die 18de eeu het ’n proses van verwêreldliking homself in die Westerse wêreld voltrek, wat daarop uitgeloop het dat ons tans steeds meer – soos Bonhoeffer dit reeds in sy tyd geformuleer het – in ’n “religielose” tydperk lewe.
Vanuit die standpunt van Christene gesien, is dit natuurlik totaal onaanvaarbaar. ’n Lewe sonder kennis van en omgang met God beteken vir hulle besef ’n lewe in geestelike verlorenheid, ’n lewe sonder ’n anker, ’n lewe in vervreemding en sonder enige besef van ’n dieper sin as maar net die verwesenliking van menslike ideale en moontlik die uitleef van sekere beskaafde en humanitêre oortuigings wat die lewe leefbaar en selfs aangenaam kan maak, maar wesenlik tog sonder ’n vaste grond is.
Daarom is dit so noodsaaklik om die moderne versekulariseerde mens te probeer beïnvloed om bewus te word van die reële teenwoordigheid van God as die diepste werklikheid van ons menslike bestaan. Hoe ons daarby te werk moet gaan en waar ons moet begin, is egter vrae wat nie maklik beantwoord kan word nie. ’n Ononderhandelbare saak is egter dat ons daarvan moet uitgaan dat niemand in staat is om van die werklikheid van God teenoor andere te getuig, as God nie in sy of haar lewe self ’n werklikheid geword het nie. Daarom is dit belangrik dat ons in ons gesprekke oor God moet begin by die vraag wie God vir ons self is, hoe ons self oor God moet dink en met Hom moet omgaan. Eers daarna kan ons vra hoe ons teenoor ander mense van God kan getuig.
Wat beteken dit om met God te verkeer? Dit is nie dieselfde as om te bid en bepaalde dinge van God te vra, of selfs om God te dank en te loof nie. Natuurlik verkeer ons ook met God as ons Hom in die gebed aanspreek en bepaalde dinge van Hom vra of Hom vir bepaalde dinge dank. Maar dit is ook moontlik om met God te verkeer deur net maar stil voor Hom te word en op Hom te wag – in ons gedagtes met Hom besig te wees en onsself oop en bloot voor Hom te stel. Anders gesê: ons kan met God verkeer deur net maar van sy teenwoordigheid bewus te word en ons daarin te verbly.
Natuurlik is dit noodsaaklik om daagliks tot God te bid, Hom vir alles te dank en al ons nood en behoeftes, sonde en pyn, teleurstellings en blydskap voor Hom uit te spreek. In die gebed wat Jesus ons geleer het (Matteus 6:9–13), word drie van die ses bedes aan ons persoonlike behoeftes gewy (daaglikse brood, vergiffenis van ons skuld, beskerming teen die Bose). Maar dit volg op die eerste drie bedes waarin dit om die heiliging van Gods Naam, die koms van sy koninkryk en die gehoorsaamheid aan sy wil gaan. Daaruit moet ons leer dat die hoofsaak in ons gebedsomgang met God nie ons eie behoeftes en nood is nie, maar ons erkenning van sy Naam, sy heerlikheid en eer en die vereenselwiging van onsself daarmee.
Daarom is dit ’n elementêre vereiste vir ons gebedsomgang met God dat ons moet begeer om van God en sy teenwoordigheid bewus te word. As ’n mens van kleins af groot geword het met die gebed as deel van jou daaglikse program, kan dit soms so byna werktuiglik word om soggens en saans voor die bed te kniel en te bid. Dit kan ’n onmisbare ritueel word om voor en na ons maaltye te bid. Ons kan daaraan gewoond word dat daar by alle belangrike geleenthede in ons huislike en kerklike lewe gebid word. Maar so word dit maklik tot iets wat tot ons lewenstyl behoort, die decorum, die versiering daarvan waarsonder ons nie sou wil klaarkom niet sonder dat ons altyd bewus is van die werklike betekenis daarvan. As gebed werklik weer vir ons betekenis moet hê, moet ons onsself van die veruitwendiging en die ritualisering daarvan bevry. Dit moet weer vir ons die betekenis kry van bewuste omgang met God in die geloof dat God by ons is en ons by Hom. Daar is niks met ’n ritueel verkeerd nie. Maar ’n ritueel moet gevul wees met die bewussyn van die werklikheid van die sáák waarom dit daarin gaan.
Om dié rede is dit so belangrik dat ons doelbewus daarna moet strewe om in ons gebed daarvan bewus te wees dat ons by God self is en met Hom self verkeer. Dit is nie goed genoeg om werktuiglik in die gebed allerlei formules uit te spreek wat ons uit die gebede van andere of selfs uit die Bybel oorgeneem het nie. Sulke formules kan wonderlik wees, dit kan diepsinnig wees en uitdrukking verleen aan die diepste ervarings van die geloof met God. Maar hulle is betekenisloos as hulle nie tot die taal van ons eie hart geword het nie. En hulle kan nie tot die taal van ons eie hart word, as hulle nie die uitdrukking is van wat ons self in die teenwoordigheid van God ervaar nie.
Ons gebede moet uit die sleur van die gewoonte loskom en die uitdrukking word van ons reaksie op die teenwoordigheid van God self hier by ons. Ons moet voor God stil word en Hom vra om ons bewus te maak van sy alles-omvattende werklikheid. Ons moet probeer om alles in die lig van sy teenwoordigheid te sien. Ons moet onsself oefen in die wete dat Hy in elk geval reeds alles van ons weet en ons hele wese deurskou, sodat ons in diepe ontsag met Hom kan verkeer en met Hom kan praat oor alles wat in ons hart opkom.
Van één ding mag ons daarby seker wees: God wil dat ons van Hom bewus moet wees en in gemeenskap met Hom moet lewe. En deur die eeue het mense die ervaring gehad dat hulle God ontmoet het. Hierdie ervaring moet deur ons gesoek word en ons moet ons harte daarvoor oopstel. As mense verskil ons en ons ervarings verskil. Maar daar sal ten minste sommige wees vir wie dit in die nag, as alles stil is en ’n mens die besef het van heeltemal alleen te wees, die maklikste is om jou hart op die teenwoordigheid van God in te stel en Hom te vra om jou daarvan bewus te maak dat jy nou by Hom is, dat Hy jou hele wese deurskou, en dat daar niks in jou of aan jou is wat vir Hom verberg is nie Psalm 17:15(b) sê: As ek wakker word, sal ek my verbly in u teenwoordigheid. In plaas daarvan dat ’n mens jou in die nag moet lê en bekommer oor al die baie dinge wat jou ontstel, moet jy jouself liewer daarin oefen om te onthou dat God by jou is en jy by Hom.
Die wete dat ’n mens so oop en bloot voor God is, behoort ons altyd by te bly, maar in die gewone gang van ons lewe is ons so besig met baie dinge wat ons lewe raak, dat die wete van sy nabyheid vir ons verdof en op die agtergrond tree. Juis daarom is dit nodig om onsself doelbewus daarop in te stel dat Hy, ja werklik Hy self, die Almagtige, Heilige, Lewende God uit Wie en deur Wie en tot Wie alle dinge is, nou hier by ons is en ons by Hom.
As dié besef werklik tot ons deurdring dat God by ons is en ons bestaan heeltemal omvat, kan daar ’n diepe gevoel van vreugde oor ons kom. Soms kan daar ook ’n diepe huiwering oor ons kom, selfs die ervaring dat ons deur God aangeraak word. Dit gebeur nie altyd nie en hoef ook nie altyd op dieselfde wyse te gebeur nie.
Ervarings is kosbaar, maar ’n mens moet nooit daarop bou of dit as die enigste teken daarvan sien dat God werklik by jou is nie. Dikwels is God juis by ons – dit het gelowiges deur die eeue ervaar – in ’n diepe besef van verlatenheid en eensaamheid. Die belangrike saak is dat ons deur die geloof aan God moet vashou, ons aan Hom en sy teenwoordigheid moet vasklem, selfs as ons in onsself volkome doods voel. Tog is dit so dat daar ook die kosbare momente is wanneer ons dit as ’n geskenk ontvang om te weet dat God hier en nou by ons is, soos Luther gesê het, nader aan ons as ons hemp of ons rok. Wanneer dit gebeur, word ons hart met ’n stille vreugde vervul.
Met die oog daarop is dit belangrik dat ons onsself oopstel vir en wag op die verborge omgang met God. Die Bybelse vromes getuig veral in die Psalmbundel telkens weer van die vreugde wat hulle in die verborge omgang met God gesmaak het. Toe ek ’n kind was, het ons nog die Nederlandse Psalmboek gebruik en dikwels Psalm 25 gesing. Die hele Psalm is één groot getuienis van die verborge omgang met God, maar in die beryming van vers 7 word dit op ’n pragtige wyse verwoord: “Gods verborgen’ omgang vinden zielen daar zijn vrees in woont. ‘t Heilgeheim wordt aan zijn vrinden naar zijn vreêverbond, getoond.” ’n Mens kan maklik geestelik so armoedig lewe, sonder die vreugde van die wete dat jy by God is en God by jou. Daarom is dit so belangrik om tyd te maak en onsself doelbewus oop te stel vir hierdie verborge omgang met God, vir die wag op God en die rus in God. Ons verhouding tot God is nie suiwer rasioneel nie. Dit gaan nie op in ons kennis van sy beloftes en die geloof daarin nie. Dit vind ook neerslag in die belewing van die rus en vrede wat ons by God vind. Dit het ook ’n eksistensiële kant. Dit is ook ’n saak van ervaring.
Dikwels is dit vir ons pynlik dat die ervaring en besef van Gods teenwoordigheid by ons so kortstondig is. Dit is of ons brein dit nie wil of kan vashou nie. Dit is of ons vlees dit nie kan uithou in die besef van Gods teenwoordigheid nie. Dit kom dikwels ook in die verskynsel van ons verstrooidheid na vore. Ons kan dit nie lank volhou om in die besef van Gods nabyheid te vertoef nie. Duisende gedagtes dring hulle aan ons op en verbrokkel ons konsentrasie. Selfs as ons met God praat, lei ons eie woorde tot gedagtes wat ons laat wegdwaal van die bewussyn dat ons by God is en Hy by ons. Dit is telkens weer nodig om doelbewus ons gedagtes terug te roep na die werklikheid van Gods teenwoordigheid en ons net daarin te verbly. Deur die eeue het Christene geweet dat die omgang met God ook ’n saak is van doelbewuste dissipline. Met die oog daarop is dit noodsaaklik om onsself daarin te oefen om die stilte met God op te soek en ons daarin te verlustig.
- God is onvoorstelbaar in sy grootheid
Hoe moet ons tog oor God dink? Hy is vir ons onvoorstelbaar. Ons kan op geen manier op ’n adekwate wyse oor God dink of van Hom ’n voorstelling vorm nie. Dit is net verstaanbaar dat God in sy wet sy volk verbied om van Hom ’n beeld te maak (Eks 20:4). Die
Heidelbergse Kategismus interpreteer die tweede gebod as dat God ons daarin verbied om Hom op enige manier af te beeld (HK vr 96). Dit beteken nie net dat ons verbied word om letterlik een of ander materiële beeld van Hom te maak nie. Dit beteken ook dat God ons verbied om een of ander mentale beeld of voorstelling van Hom te maak wat die Onvoorstelbare is, wie se werklikheid ons denke en voorstellings oortref. Presies omdat God Gód is, kan ons van Hom geen enkele mentale voorstelling maak nie.
Die heidene het in die bybelse tye allerlei beelde van hulle afgode gemaak, waardeur hulle probeer het om die wese van hulle gode op een of ander manier tot uitdrukking te bring. Hulle het ook geglo dat die gode hulleself dan met daardie beelde verbind, sodat die teenwoordigheid van die gode in die beelde aanbid en vereer mag word, Daarom kon hulle voor die beelde neerkniel en hulle aanbid. Maar God het Israel verbied om dit te doen, Die rede daarvoor is dat Hy, die lewende God, te groot, te anders, te onvoorstelbaar is om na sy wese in een of ander aardse beeld gedink te word. Natuurlik gebruik die Bybel baie beelde wat aan die aardse werklikheid ontleen is om oor God te praat. Maar al daardie beelde het ’n heenwysende karakter wat in diens staan van ons verhouding tot Hom, en is geensins bedoel om aan ons te vertel hoe Gods wese in sigself is nie.
God is die onvergelyklike, alomteenwoordige, onvoorstelbare Werklikheid Self wat op ’n – vir ons –onvatbare wyse die Skepper, Onderhouer en Regeerder is wat agter, bo, in en onder die geskape werklikheid is waarvan ons ’n deel vorm. Wat op geen enkele manier binne ons menslike greep kan kom nie – nie in die greep van ons voorstellings en denke nie, maar beslis ook nie in die greep van ons religieuse praktyke nie. Hy is die Lewende God self, uit wie en deur wie en tot wie alle dinge is – wat juis daarom ook alles oorstyg wat deur mense geken, gesien en gedink kan word.
Dit beteken natuurlik nie dat ons nie oor God mag dink en onsself moet afvra waar, wat en wie God is nie (vgl die titel van die werk van JL Springer: Waar, wat en wie is God? Wageningen, 1969). Maar dit beteken dat ons hierdie vrae slegs in die lig van die Bybel moet beantwoord. En as ons ons deur die Bybel laat lei, sal ons daarvan bewus bly dat ons geen manier het om enigsins adekwaat te dink oor hoe God in Homself is en van Hom ’n voorstelling te maak nie. God oorstyg ons denke. Selfs die Bybel is immers nie aan ons gegee om ons voor te lig oor hoe God in die grootheid en heerlikheid van sy wese gedink moet word nie, maar om ons te help om tot God in die regte verhouding te kom.
In die Bybel het ons die vrug van Gods openbaring aan en omgang met sy volk deur die eeue. Hy het baie keer en op baie maniere met mense gepraat deur sy Gees en daarby gebruik gemaak van die profete as sy instrumente. In die volheid van die tyd het Hy egter tot ons gepraat deur Christus, sy Seun wat die ewebeeld van die wese van God is, sodat ons oor God nie anders moet dink as wat Hy Homself in Christus geopenbaar het nie (Hebreërs 1:1–3). Maar wat beteken dit alles konkreet vir ons in ons omgang met God?
Dit beteken dat ons moet onthou dat die Bybel mensvormig oor God praat. Die Bybel praat oor God nie anders as in mensetaal nie, dit is: in beelde en metafore wat aan ons menslike werklikheid ontleen is. Beelde en metafore wat ons menslike werklikheid beskryf, word by wyse van vergelyking op God van toepassing gemaak. Eén ding is daarby deurgaans duidelik: daardie beelde is beelde, dit is: hulle is mensvormige heenwysings na hoe God in sy verhouding tot ons en tot sy skepping is. In dié sin druk hulle die werklikheid van God volkome adekwaat uit op ’n wyse wat vir ons verstaanbaar is, Maar hulle is nie bedoel as adekwate beskrywings van die wese van God in Homself nie, want God is in sy Wese en bestaan vir ons volkome onvoorstelbaar. Die Bybel praat met ons op hierdie wyse om dit vir ons moontlik te maak om in die regte verhouding tot God te kom en met Hom te wandel, nie om van Hom ’n konseptuele beeld of voorstelling te kan vorm nie.
Juis omdat dit vir die Bybel deurgaans om ons verhouding tot God gaan, praat dit met ons in menslike taal, sodat ons kan leer om in die regte verhouding tot God te kom. Dit leer ons dat God ons vir Honself genaak het en wat Hy van ons in ons verhouding tot Hom vra. Dit sê aan ons wat die wil van God vir ons is en vra van ons om ons hele lewe en werklikheid in die lig van God te sien en in ooreenstemning daarmee te lewe. Maar die Bybel bevat geen neutrale of objektiewe informasie oor God se wese en bestaan as sodanig nie. Die Bybel sê nie aan ons hoe ons God soos Hy in Homself is, moet dink of Hom vir ons moet voorstel nie.
As ons onsself deur die Bybel laat leer hoe ons oor God moet dink, word ons nie iets wyser oor die wyse van Gods bestaan in Homself nie, maar ons word opgeroep om in die werklikheid van God as die lewende Here te glo, uit wie en deur Wie en tot Wie alle dinge is en deur Wie ons leef, beweeg en bestaan (Handelinge 17:28). Die Bybel sê uitdruklik dat Hy nie ver van elkeen van ons af is nie. Martin Luther het gesê dat God nader aan ons is as ons hemp of rok.
God kan nie deur ons gesien of aangeraak word nie. God is Gees (Johannes 4:24). Ons weet nie wat dit beteken as ons dit sê en die Bybel daarin napraat nie. Ons kan selfs God nie eers as Wese dink nie. Hy is nie ’n voorwerp van ons kennis en nadenke soos die geskape dinge nie, omdat sy werklikheid totaal anders is as die werklikheid waarin ons lewe. Tog leer die Bybel dat sy werklikheid so reëel is, dat gesê kan word dat ons deur Hom leef, beweeg en bestaan, ja selfs dat ons van God afstam (Handelinge 17:28). Ons werklikheid is nie sonder sy werklikheid te dink nie. Dit is die grootste anomalie as ’n mens van God losgedink word. Daarom word daar in die nadenke oor God telkens weer gesoek na formulerings om iets tot uitdrukking te bring van die onlosmaaklikheid van ons bestaan van dié van God.
Die werklikheid van God is vir ons onverstaanbaar, ondenkbaar, omdat dit ons verstand en kennis te bowe gaan, maar ons word ook nie deur Gods Woord daartoe opgeroep om Gods wese – soos Hy in Homself is – te probeer ken en verstaan nie. Wat ons moet soek en wat ons ook van God moet vra, is dat ons tot Hom in die regte verhouding moet staan, voortdurend bewus moet wees van sy nabyheid, van sy lewende teenwoordigheid by ons en in ons, sodat ons onsself voortdurend in Hom geborge mag weet en die vreugde daarvan kan smaak.
- Ons leef en beweeg in God (Handelinge 17:28)
Die hele manier waarop die Bybel oor God praat, is daarop bereken om ons bewus te maak daarvan dat God, hoewel ons geen begrip kan hê van die Onvoorstelbare Werklikheid van sy Wese nie, tog op wyse ’n by ons bestaan betrokke is wat ons verstand te bowe gaan, maar tog enigsins vergelykbaar is met die manier waarop ons as mense by mekaar betrokke is. God die Almagtige, Alomteenwoordige, Lewende Here is nie net op ’n baie persoonlike en intieme wyse as die Ewige Liefde self baie, baie naby aan ons nie, maar Hy omvat ons hele bestaan. Paulus kon volgens Handelinge 17:28 selfs sê: Want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, en hom ook beroep op die woorde van die Griekse digter Aratus uit die jare 315 tot 240 voor Christus, wat gesê het dat ons van God afstam. God is so wesenlik by ons betrokke dat elke hartklop, elke asemhaling, elke gedagte wat ons koester, nie alleen aan Hom bekend is nie, maar alleen vanweë die krag wat Hy skenk, vir ons moontlik is. God kén ons nie alleen deur en deur nie; Hy omvat en dra ons hele bestaan van oomblik tot oomblik.
Waar kom dit helderder tot uitdrukking as in Psalm 139? Daar is nie ’n enkele woord in dié Psalm wat ’n mens nie saam met Dawid moet bid nie, selfs al kan ons die werklikheid van wat daarin bely word, nie ten volle begryp of nog nie vir onsself toeëien nie. Die elementêre waarheid van die Psalm is egter die wete van die digter dat God dwarsdeur hom sien en hom deur en deur ken in sy bestaan, sy wese, sy bewegings, selfs in al sy gedagtes, sy planne, sy toekoms — ja, dat God die bepalende Mag is wat sy totale lewe en al sy ervarings omvat.
Dit laat ’n mens dink aan die woorde van Luther, dat God nader aan ons is as ons hemp of ons rok. In elk geval gaan die aard van die verhouding waarin ons as sy skepsels tot God staan, ons verstand volkome te bowe. Daarom sê die digter van Psalm 139 nie net dat God dwarsdeur ons kyk en ons ken nie, maar ook dat Hy ons gedagtes ken nog voordat hulle by ons opkom; dat daar nog nie ’n woord op ons tong is nie, of God weet wat dit gaan wees; dat God ons van alle kante omsluit en alles van ons af weet, sodat ons nooit van God af kan wegvlug nie; dat niks ons voor Hom kan verberg nie, ja, dat ons hele bestaan oop en bloot voor Hom lê, sodat ons onsself maar net aan Hom kan oorgee en ons in sy nabyheid kan verlustig – omdat dit die nabyheid van die ewige Liefde is.
As ’n mens die woorde van Psalm 139 tot jou laat deurdring, kom jy diep onder die indruk daarvan dat die verhouding tussen God en ons die grense van ons begrip ver oorskry. Dit gaan daarin om iets wat nie vir ons menslike voorstellings vatbaar is nie. Aan die een kant word die nabyheid van God hartstogtelik bely en ook die oortuiging dat God op die aller intiemste wyse by ons ontstaan en bestaan betrokke is. Daar is nie eers ’n gedagte wat die digter kan dink, wat nie oop en bloot voor God is nie. Maar dit is nie al wat daaroor gesê moet word nie.
- Die geheimenis van die sonde
Ondanks die bybelse klem op die betrokkenheid van God by die totale menslike bestaan, word daar terselfdertyd in die Bybel ’n duidelike onderskeid tussen God en die digter gemaak. Die selfstandigheid van die mens word nie in die verhouding tot God opgehef nie. Hoe naby God ook aan ons is, hoe intiem Hy ook by ons betrokke is; hoe sterk die Bybel ook beklemtoon dat ons niks kan doen sonder die krag wat God aan ons gee nie; hoe onmoontlik dit ook vir ons is om ons vir ’n enkele oomblik aan sy teenwoordigheid te onttrek – dit beteken in geen enkele opsig dat ons onderskeidenheid van Hom opgehef word nie. Dit geld in alle opsigte, maar veral ook in die geestelike en morele aspekte van ons bestaan.
Ondanks sy volledige afhanklikheid van God bly die mens in sy andersheid en selfheid relatief selfstandig teenoor God. Hy bly ’n persoon met wie God ’n verhouding daarop nahou. Die mens is daarom ook verantwoordelik voor en teenoor God. God verwag van hom om op sy liefde met wederliefde te antwoord. Klaarblyklik beteken die feit dat God ons hele bestaan deurskou en in alles omvat nie dat ons outomaties doen wat God van ons vra nie. Ons kan ons van Hom losmaak in ons gedagtes en strewe, in ons dade en begeertes. Hoe absurd dit ook is in die lig van Gods nabyheid aan ons en ons totale aangewesenheid op Hom, die onmoontlike moontlikheid bestaan tog dat ons ons van Hom kan distansieer en teen sy wil kan ingaan; dat ons gedagtes en begeertes kan hê wat in stryd is met sy wil en liefde vir ons; dat ons die ware sin van ons bestaan kan verwerp en alles kan perverteer wat tot ons vreugde en vervulling as skepsels van God dien; dat ons die dood bo die lewe kan kies.
God wou nie oor die mense op dieselfde wyse regeer as oor die res van sy skepping nie. Hy wou dat die verhouding tussen Homself en hulle ’n sedelike karakter sou dra, ’n verhouding sou wees waarin hulle in vryheid vir Hom sou kies, Hom sou liefhê en met Hom één van hart en wil sou wees. Daarom het God hulle nie robotte gemaak nie, naar verantwoordelike wesens wat uit eie keuse sy liefde sou beantwoord. God is in sy wese liefde en Hy wil nie slegs in vryheid liefhê nie, maar ook in vryheid bemin word. Daarom het Hy die risiko geloop van die “onmoontlike moontlikheid” dat ons as mense (weliswaar nie buite sy toelating om nie) die rug op Hom kon draai in die fatale illusie dat daar ook buite God lewensvervulling en vreugde kan wees. Dit is totaal en al absurd en onvoorstelbaar. En tog is dit die realiteit dat ons as mense hierdie keuse gedoen het en dit nog steeds bly doen, omdat ons deur die sonde in die ban van die dwaasheid gekom het om onsself te soek en te dien, eerder as om God lief te hê en in sy liefde te bly.
Teenspraak
Dit is ’n verbysterende werklikheid. Dit is op geen manier moontlik om te verstaan hoe dit moontlik is dat ons, van wie dit letterlik waar is dat ons in God leef, beweeg en is; ja, dat ons ook van sy geslag is (Handelinge 17:26), sê van hom losgeskeur geraak het – dat ons volkome van Hom vervreemd is en met ons eie geskape wese in teenspraak geraak het nie. Die Switserse teoloog Emil Brunner het in die veertiger jare ’n aangrypende boek geskryf met die titel: Der Mensch im Widerspruch. Daarin gaan hy uitvoerig daarop in – die mens as wese wat in teenspraak met sy eie wese is.
Dit is vir my selfs moeilik om so seker soos Dawid te wees dat ek my van die goddeloses kan onderskei, soos dit in vers 19–22 van die psalm geskied. Ek is nie seker dat ek nie nog alles in my het wat hulle tot goddeloses maak nie, en bang dat ek diep-in niks beter as hulle is nie. Daarom lees ek dié verse sagter as die ander en bid ek hulle meer onpersoonlik, omdat ek nog te veel van die goddeloses in my het om my so sterk teenoor hulle op te stel en van hulle te onderskei. Ek het selfs die gevoel dat ek in die woorde van hierdie verse ook teen myself in bid. Daarom voel dit vir my asof ek nie so hard oor die goddeloses moet praat as oor die goddeloosheid nie, en dat ek God moet vra om dit ook in myself te vernietig, want ek haat dit nie net in die lewe van andere nie, maar ook in my eie lewe. Daarom is ek dankbaar dat die digter sy psalm afsluit deur God te versoek om hom te deurgrond en te kyk of hy nie op die verkeerde pad is nie. Gods nabyheid by ons en in ons sluit klaarblyklik nie uit dat ons onsself van Hom losmaak en ’n weg van smarte gaan nie.
Daarom is dit so noodsaaklik dat ons daarna moet strewe om die hele dag deur van God bewus te wees, om altyd te onthou dat Hy nie net naby ons is nie, maar dat Hy deur die Gees ook in ons woon. Ook ons is nie net baie naby aan Hom nie, maar ons vind ons bestaan in Hom. Ons is fisiek en psigies, nie net geestelik nie, voortdurend volkome van Hom afhanklik wat alle dinge dra deur die Woord van sy krag (Hebreërs 1:3). En as ons dan in die stilte van die nag ons hart tot Hom ophef, dan mag ons met huiwering weet dat God sélf, ja werklik God sélf, hier by ons is en ons by Hom. Dit is ook nie net dat Hy by ons is soos ’n mens by ons kan wees nie. Hy is by ons soos net God by ons kan wees: Hy deurskou ons hele wese, sodat daar niks is wat vir Hom verborge is nie. Ons lê in ons naaktheid voor God, ons lê binneste buite voor God, ons het niks waarmee ons onsself voor sy oog kan verberg nie.
In ’n sin is dit vreeslik om dit te weet, want ons is so vuil, so verkeerd, so oneerlik, so selfsugtig en vol selfliefde, so totaal ek-gerig. Maar dit is ook geweldig troostend, want God kyk na ons in ons ellende nie om ons te verdoem nie, maar om ons te reinig en te heilig. Die skaamte wat oor ons kom in die besef dat God alles van ons weet, kan dus plek maak vir diepe dankbaarheid, omdat God die Enigste is wat raad daarmee het.
Hy veroordeel en haat ons onreinheid, oneerlikheid en selfsug, maar Hy bedek ons as sy skepsels nogtans met sy liefde en laat die bloed van Jesus Christus oor ons geld. As ’n mens toelaat dat hierdie wete jou hart heeltemal vervul, dan kan daar ’n moment kom dat ’n mens maar net kan sê: Vergewe my dat ek so dwaas is, so vuil, so dom en onverskillig. Vergewe my dat ek die hele dag kon Lewe sonder om eers aan U te dink. Ek is so stompsinnig, so gedagteloos, dat ek voortdurend vergeet dat ek in U leef en dat U in my is, dat elke asemtog ’n geskenk van U is en elke klop van my hart deur U bewerk word. Omvat my tog, leer my om tot U in te keer en by U alleen rus te vind.
Verlange na God
As daar één ding is wat in ons lewe ’n werklikheid is, ook al is ons meestal onbewus daarvan, dan is dit die verlange na God. Ons besef dit nie altyd nie en is dikwels te stompsinnig om dit te weet. Maar is dit nie so dat daar in elkeen van ons ’n innerlike heimwee en verlange na iets is waarvan ons nie kan sê wat dit is nie? Dit kom dikwels daarin uit dat ons bedroef voel oor die kortstondigheid van die lewe, oor die feit dat alles wat skoon en aangenaam is, eenvoudig verbygaan. Dikwels is dit eenvoudig ’n naamlose en on-identifiseerbare verlange en droefheid waarvan ons die rede nie kan identifiseer nie. Digters en ander kunstenaars is mense wat dit kan aanvoel en op hulle eie wyse daaraan uitdrukking kan verleen. In hoeveel gedigte van NP van Wyk Louw, veral uit sy jonger jare, kom dit nie voor nie? Maar dit klink ook mee in die musiek van die meesters. Dit is klaarblyklik iets algemeen mensliks wat wel geïgnoreer, dood-gelewe en dood-geraas kan word, maar wat nie ontken kan word nie, en waarvan ’n mens ten diepste bewus word “als de ziele luistert”.
Toe ek nog ’n voorskoolse kind was, het my moeder my vertel, het ek reeds in hierdie verband hulle lagspiere geprikkel. Ek was die derde jongste uit ’n familie met agt kinders. Die ouer kinders was op skool, veertien myl van die plaas af. Hulle het naweke huis toe gekom, maar moes dan op Sondagmiddag weer teruggeneem word na hulle losiesplek op Biesiesvlei. Ek kan my goed herinner hoe die somberheid oor my toegesak het as hulle begin om klaar te maak vir die vertrek. Die naweek was dan verby en daarmee ook die saamwees. Dan het ek ’n gevoel van hartseer oor my voel kom en gesê: Dit is al klaar weer Maandag. Dit was net vir my vreeslik dat die tyd verbygaan. Dit het in my hele lewe so gebly. Daar is niks op aarde wat goed en heerlik is, wat nie kortstondig en verbygaande is nie. ’n Mens kan die gedagte verdring met aktiwiteit en allerlei ander dinge, maar ten diepste bly daar ’n verlange in ons dat wat goed en aangenaam is, nie verby moet gaan nie.
Met die loop van die jare het die gedagte by my posgevat dat die verlange na blywendheid wat met ons aardse bestaan in die tyd gegee is, eintlik ’n verlange na ewigheid is. In Prediker 3:11 staan daar dat God aan die mens ’n besef gegee het van die verloop van die tyd, maar sonder dat die mens die werk van God van begin tot einde kan begryp. Dit is ’n moeilik vertaalbare en geheimnisvolle uitspraak. In ou vertalings is dit weergegee deur te sê dat God die ewigheid in die hart van die mens gelê het, sonder dat die mens in staat is om dit te deurgrond. Ek kan nie oor die juistheid van die vertalings en verklarings oordeel nie, maar hoor in hierdie woorde ’n bevestiging daarvan dat die mens, wat soos alle geskape dinge tydgebonde is, ’n besef het van die verganklikheid van alles en nie in staat is om die tyd vanuit die perspektief van God te kan sien nie. Vandaar die heimwee, die pyn oor die verganklikheid van alles en die matelose verlange na die blywende, die ewige.
Maar as ’n mens dieper en gelowig daaroor deurdink, ontdek jy dat dit eintlik daarin gaan om ’n verlange na God, selfs al was jy aanvanklik nie daarvan bewus nie. Want net God is ewig. Net in God is al ons droefheid, ons heimwee, ons verlange volkome bevredig. Ek sou eers baie jare later die woorde van Augustinus leer ken: U het ons vir uself gemaak, en ons hart is onrustig in ons, totdat dit rus vind in U. Daaraan sou ek wil toevoeg dat dit is nie net is dat ons hart onrustig is nie, maar dat ons hart ook vol heimwee en verlange is, ’n naamlose hunkering na wat blywend en ewig is en nie verbygaan, verouder of betekenisloos word nie. Maar dit kan net van God geld.
Slegs deur ons verhouding met God deel ons in die ewigheid. As God nie daar is nie, sal daar in ons lewe ’n gat bly, die verlange in ons hart ’n stuk bedrog wees, ’n kwaal wat sinloos pynig, waarvoor daar geen genesing is nie. Ons het ’n onuitroeibare verlange na sin, betekenis, blywendheid, vastheid. As God nie daar is nie, is dit ’n wrede werklikheid waarin ons aan ’n kwaal ly waarvoor daar geen raad en geen genesing is nie. Dit is nie vir my vreemd dat daar mense is wat nihiliste word en dan een of ander tyd selfmoord pleeg nie. As jy oppervlakkig genoeg is om tevrede te wees met die kleiner vreugdes van die aarde waarvan jy goed weet dat hulle net tydelik is, kan jy natuurlik daarmee saam lewe. As jy jou lewe kan vul met die alledaagse laste en vreugdes en verbygaande dinge van die aardse bestaan, sonder om dieper oor die sin van die lewe na te dink, kan jy miskien die heimwee na God verdring. Maar as jy werklik erns maak met die diepste drang van jou hart, die drang na ewigheid, kan jy net rus vind in God.
Ek weet nie hoe ek oor God moet dink nie. Ek weet God kan nie Iemand êrens wees, binne of buite die heelal wat ons op ’n bepaalde manier leer ken en waarvan ons ’n bepaalde voorstelling het nie. Ons sal oor God anders moet dink. Hy is die Groot Teenwoordige, onvoorstelbaar in sy werklikheid, wat alles omvat, in en by alles is, en tog alles oneindig oorstyg (transendeer). Daarom is dit sinvol dat die wet van God ons verbied om van Hom ’n beeld of ’n gelykenis te maak. Ons kan selfs nie eers in ons gedagtes enige beeld of voorstelling van Hom maak nie. Hy wil klaarblyklik hê dat ons sal weet dat Hy die Groot Werklike is in wie ons lewe, beweeg en is (Handelinge 17:28).
Die Bybel praat oor God in talle mensvormige en ander beelde wat aan die skepping ontleen is. Hoe sou ons anders iets van God kon verstaan? Solank ons maar weet: God is totaliter aliter: volkome anders as die dinge waaraan die beelde wat van Hom gebruik word, ontleen is. Sy heerlikheid oorstyg ons taal, ons voorstellings, ons denke. En tog is Hy die mees Werklike, die Ewige, Onsienlike, Onbeskryflike en Heerlike God wat is en wat was en wat kom. In Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons (Handelinge 17:26). Op ’n onvoorstelbare manier “stam ons van Hom af” is daar ’n verwantskap tussen God en ons, is ons na die beeld en gelykenis van God geskep (Genesis 1:27). En tog is dit só dat God alles oorstyg wat ons kan dink of vir ons kan voorstel. Die verwantskap wat daar tussen God en ons bestaan is, soos Augustinus gesê het, dat God ons vir Homself gemaak het, en dat ons hart onrustig in ons is, totdat dit rus vind in Hom.
Maar tog, as ek soggens ontwaak en ek verhef my hart tot U in die stilte, is dit vir my ’n vreugde om te weet dat U my ken en dwarsdeur my sien, dat U alles van my weet en my gedagtes verstaan – goed of kwaad – sodat daar niks van my in my sondigheid en gebrokenheid, ja in my goddeloosheid én in my verlange na U is wat U nie weet nie; dat U my van alle kante omsluit en my in besit neem. Dankie daarvoor, Here, ewig dank daarvoor dat U die liefde is en dat ek in u liefde mag deel!
Ek weet nie altyd hoe ek moet onderskei tussen wat in my binneste gebeur nie. U weet self dat as ek in die nag wakker word en ek lê en dink oor my lewe, dit meestal die donker dinge daarvan is wat in my gedagtes opkom. Dit is my sondes, my verkeerdheid wat hulleself aan my opdring. Daar is geen stukkie van my lewe wat nie altyd weer bederf is deur my sondigheid nie. Dit maak nie saak watter deel van my lewe voor my geestesoog teruggeroep word nie – oral kom ek weer by my sonde uit en word ek met droefheid vervul.
Maar dit is ook nie net my sondes nie; dit is ook die baie dwaashede, agtelosigheid, domheid, blindheid vir wat vir andere belangrik was. As ek net ’n bietjie minder ek-gerig was, net ’n bietjie meer konsiderasie vir andere gehad het, net ’n bietjie meer sensitief was vir die dinge wat vir andere saak gemaak het, dan sou my lewe baie anders gewees het.
Ingeboë in onsself
Ek sê nie dat alles in my lewe net altyd verkeerd was nie. Ek het selfs meestal, dit kan ek tog eerlik voor U sê, in my lewe gestry vir dinge wat volgens my oortuiging reg en goed was. En selfs nou dink ek nog nie wesenlik verskillend oor die meeste van dié dinge nie. Maar as ek tog alles in oënskou neem, dan merk ek dat ook wanneer ek vir die regte dinge gestry het, ek dit meestal verkeerd gedoen het. Op die boom van my hart was daar altyd eersug en selfsug, en ondanks al my vroom praatjies en oortuiging was ek tog self diep-in altyd ek-sugtig. Daarom het dit so ’n diep indruk op my gemaak toe ek in ’n paar dae vakansie wat Bettie en ek kort voor die geboorte van Martina by Warmbad gaan deurbring het, die proefskrif van Jan Bakker saamgeneem en begin lees het. Die proefskrif heet: Coran Deo, wat beteken: “voor die aangesig van God” (Kampen, 1956). Daarin het ek gesien dat Luther die wese van die sonde beskryf het as die incurvitas in se, die egosentriese lewenshouding, die ingeboënheid van die mens in die self. Ek kon die boek nie weer neersit nie. Ek het dadelik besef dat dit waar was, waarskynlik van alle mense, maar van my in die besonder. Ek het besef, o God, dat ek ten diepste altyd net myself soek, selfs al sê ek (en dink ek ook self miskien) dat ek U eer soek.
In sy proefskrif toon Bakker aan dat Luther tot die ontdekking gekom het dat die diepste ellende van die mens geleë is in sy dodelike vereensaming wat uit sy selfgerigtheid voortvloei. Deur alles tot ’n middel te maak om homself te dien, bly die mens met homself alleen, en dus ten diepste eensaam. Daar is ook geen waarborg dat die godsdienstige mens daarvan vry is nie. Selfs God en sy hele skepping word in die godsdienstigheid van die mens in diens van die self gestel. Selfs godsdienstige ywer of verlange na die hemel, die vrees vir die helse straf, ja alles wat op die oppervlakte na geestelike handelinge lyk, word op hierdie manier in diens van die self gestel. Dit is geen wonder nie dat Luther ook doodsbenoud daarvoor is om die woorde dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself in die samevatting van die wet op te neem as ’n gebod tot selfliefde (Bakker: 30). Immers, die mens het homself reeds meer as genoeg lief. Dit is ondenkbaar dat God hom in sy wet sou gebied om homself lief te hê. Die soos jouself kan alleen beteken dat die wet van God van ons vra om die passie waarmee ons onsself van nature liefhet en dien, as die maatstaf te verstaan vir die manier waarop ons ons naaste moet liefhê. Ons skuld as mense bestaan daarin dat ons aggressiewe weerstand bied teen Gods wil om ons uit die onmag van ons ingeboënheid in onsself te bevry. Hier staan Gods wil vir ons en ons eie wil lynreg teenoor mekaar. Die mens wil en kan homself nie aan God prysgee nie, sodat ’n botsing onvermydelik is. In sy matelose selfliefde gryp die mens aan homself en alles rondom hom vas en druk dit aan sy hart. “Ecce vox carnis: mea, nea inquit” (Kyk, dis die stem van die vlees: Dis myne, myne!). Dit is die werklikheid wat sy voltooiing vind in die hel. Daarteenoor is die hemelse heerlikheid daarin geleë om niks anders te wil en te kies nie as die wil van God en sy verheerliking in alles, nou en tot in ewigheid.
Die ellende van die menslike lewe is dat ons so geperverteer is en ten diepste altyd net onsself en ons eie belang soek. Dit is waarom groot idealistiese stelsels wat ’n appèl op die mens se menslikheid en adel doen, nog nooit in die geskiedenis kon slaag nie. Die jongste voorbeeld daarvan wat in ons tyd voor ons oë plaasgevind het, was die ineenstorting van die sosialisme en die kommunisme. Uit die gesigspunt van die idealisme gesien, wil die sosialisme niks anders wees nie, as die bekamping van die menslike grypsug en hebsug soos dit in die kapitalisme tot uitdrukking kom. In die kapitalisme is die hebsug die groot bewegende krag wat die motor agter al die vooruitgang en die welvaart is. Marx wou daarvan wegkom en het daarom ’n stelsel voorgestaan waarin ’n mens niks self besit nie. Alles moet deur almal gesamentlik besit word. Sy idealistiese idee was dat almal dan saam vir die gemeenskaplike saak verantwoordelikheid sal aanvaar – en so sou die utopie bereik kon word. Maar Marx het nie genoegsaam met die realiteit van die menslike sondigheid rekening gehou nie. Dit het geblyk dat die kommunistiese stelsel geweld moes gebruik en haas alle vryheid op ’n totalitêre wyse moes onderdruk om die sisteem aan die gang te hou. Geen mens wil werklik iets doen as dit nie tot sy individuele voordeel strek nie. Die magstryd binne die kommunisme het altyd nog steeds te make gehad met die selfsug wat mense aangespoor het om in ’n posisie te kom waarin hulle andere kon gebied en self die grootste eer en voorregte kon geniet. Daarnaas het die gebrek aan eie voordeel daartoe gelei dat die gewone mense nooit uit hulle pad gegaan het om verantwoordelikheid vir die openbare belange te aanvaar nie.
Ek herinner my die aangrypende ervaring daarvan om in 1991 net na die val van die Berlynse muur, ’n besoek aan Oos-Duitsland te kon bring. Ek is aangegryp deur die treurige toestande wat in Oos-Berlyn geheers het. Terwyl daar in Wes-Berlyn weelde was en alles in die teken van welvaart, netheid en moderne geriewe gestaan het, was alles in Oos-Berlyn vervalle. Omdat selfs die huise waarin mense gewoon het, nie aan hulleself behoort het nie, maar kommunale besit was, het niemand uit eie beweging ’n hand daaraan gehou nie. Die vensterrame was verrot, die geboue self vervalIe, die hele omgewing die toonbeeld van verwaarlosing. Die kommunisme het hulle misreken met die sonde. Die mens se selfsug is die motor agter die kapitalisme, wat in wese op die sondigheid en hebsug van die mens ’n appèl doen. Die kapitalisme dank sy sukses aan die wyse waarop dit juis aan die mens se selfgeldingsdrang op ’n min of meer gelegitimeerde wyse, vrye spel bied. Die grondbeginsel van die kapitalisme is: elkeen vir homself. As dit wegval en daar ’n beroep op die mens se gemeenskapsin en die gemeenskaplike inset vir die saak van almal gedoen word, stort die ekonomie – en daarmee saam omtrent alle ander dinge in die openbare lewe – in duie. Blykbaar is selfs die appèl wat daarvan uitgaan dat mense één nasie is en mekaar moet help om almal saam welvaart te bekom, nie in sigself genoeg nie. Die sterkste drif in die menslike samelewing is klaarblyklik die ek-sug van al die individuele lede daarvan. Incurvitas in se — die mens is, soos Luther gesê het, volkome ingeboë in homself. Nie die liefde nie, nie die sorg vir mekaar nie, selfs nie eers die belang by die gemeenskaplike saak van aImal nie, maar die selfsug van elkeen afsonderlik, moet in ons sondige werklikheid op so ’n wyse ingespan word, dat dit die motor kan vorm vir die bevordering van sekere basiese waardes wat vir almal voordelig is.
Daarom is die eis van die evangelie so onmoontlik, want dit vra van die mens om homself te verloën, sy kruis op te neem en Jesus te volg. Dit is vanuit die mens se goeie voornemens nie moontlik nie. Daarvoor is wedergeboorte deur die Gees van God nodig. En selfs dan bly die ou sondige natuur nog in die mens so sterk, dat hy nie daartoe kan kom om die naaste lief te hê soos homself nie. Die vrug van die Gees (Galasiërs 5:22) is absoluut wesensvreemd aan die natuurlike mens. ’n Mens dink maklik dat jou motiewe suiwer is, dat dit vir jou om die waarheid en die saak gaan, selfs om die saak van Gods koninkryk. Maar jy kan dit so maklik miskyk dat, dwarsdeur al jou vermeende goeie bedoelings en jou Christelike oortuigings heen, jy subjektief en inherent in jou hart tog nog steeds jouself soek, jou eie eer en heerlikheid. Die diepte van die sondigheid in ons is onpeilbaar. Dis juis die probleem van die sonde as ingeboënheid in onsself, dat alles, ook die goeie wat ons doen of meen om te soek, in laaste instansie ter wille van onsself gedoen word. Daarom is dit so hinderlik dat mense soms met groot trots kan getuig van hoe hulle deur een of ander geestelike ervaring heeltemal van hulleself gestroop en met die volle geestelike seën van totale heiliging vervul is – maar dat die wyse waarop hulle dit doen, daarvan getuig hoe in hulle skik hulle met hulleself is. Dit is veral so haglik, omdat dit toon dat selfs as ons dink dat ons vir Gods eer en saak opstaan, daar in die “gryswit groewe van die senuwee” (Van Wyk Louw: Ballade van die Bose) by ons die drang tot selfverheerliking aanwesig is. En, dit weet ek seker: die feit dat ek dit insien, beteken nie dat ek self daarvan vry is nie!
Die Ballade van die Bose van NP van Wyk Louw is een van die beste gedigte wat ek ken, al is daar elemente van dié gedig wat ek nie goed verstaan nie. Wat my egter daarin aangryp, is die idee van die absolute vervlegting van die bose met die goeie in die menslike lewe en die onnaspeurbare wyse daarvan. Ek het dit altyd ervaar as ’n soort preek, as ’n ontdekkende en onthullende visie van hoe dit in ons magteloosheid teenoor die Bose met ons gesteld is. Hoe vervleg is die goeie en die kwade in my! En hoe verborge skuil die bose selfs in wat ek goed bedoel of dink dat ek goed bedoel! Ek het met die loop van die jare proefondervindelik geleer dat die bose ’n groot houvas op ’n mens het en op ’n wyse in jou aanwesig is wat meestal vir jouself bedek is. Ja, ek het baie boeke gelees oor die ervaring van die vervulling met die Heilige Gees en die getuienis van mense dat hulle volkome vrygemaak is van die innerlike verkeerdheid en self-soeke. Maar hoewel ek ook in my lewe ervaringe gehad het wat ek nie anders kon verstaan nie as die aanraking deur die Heilige Gees, moes ek tot my leed altyd weer ontdek dat die neiging tot die kwaad, die verkeerdheid van die spontane selfsoeke, in my nie uitgewis is nie.
My smart is net dat, selfs al weet ’n mens dat dit waar is, jy nie met ’n handomkeer daarvan genees is nie. Hoe ingewikkeld is ’n mens tog! En hoe maklik kan ’n mens jouself bedrieg deur te meen en selfs te getuig dat jy deur die Heilige Gees van jou selfsoeke en eersugtigheid vrygemaak is, sonder dat jy self merk hoe die onderrok van jou selfliefde nog steeds by jou heiligheidskleed uithang!
Baie van my onvergenoegdheid met die lewe het met my ingeboënheid in myself saamgehang. Dankie dat U my nie volkome daarin laat stik het nie. Dankie dat U my baiekeer smart laat ly het om my van myself los te kry en om my lewe na buite te rig. Verander my tog meer en meer, selfs in hierdie laat stadium van my lewe. Maak my vry om werklik met andere bly te wees as hulle bly is, en met andere te treur as hulle treur. Maak my vry van my selfsug en ingeboënheid in myself wat soveel gestaltes kan aanneem. En vervul my hart veral met liefde en vriendelikheid, medelye en begrip vir andere, sodat ek tog ten minste iets van die beeld van Jesus kan vertoon!