Christus is anders

CHRISTUS IS ANDERS
Die Burger, 24 Desember 1977, bladsy 8

Christus is so anders as ons. Hy is die groot vreemdeling in die wêreld van die mense. Hy wat die Seun van God is, wat deel in die hoogste·heerlikheid en majesteit van God, kom in die wêreld as die toonbeeld van nederigheid, eenvoud en swakheid.

Hy aan wie alle dinge behoort, omdat alle dinge deur Hom ontstaan het en deur Hom en tot Hom geskape is, word gebore in die grootste armoede, ontbeer ’n plek om sy hoof neer te lê en gaan deur die wêreld sonder ’n enkele aardse besitting, afgesien dan van die klere wat Hy gedra het. Hy is presies die teendeel van alles wat ons ons sou voorstel van menslike grootheid, laat staan nog van goddelike grootheid. In Christus vind ’n totale omkeer van waardes plaas.

Dit behoort vir ons as ’n waarskuwing te dien om nie te dink dat ons Christus by ons skemas kan inpas nie. Deur die eeue heen het mense probeer om Christus gelyk te skakel met hulle ideale en denkbeelde. Maar wanneer mense dink dat hulle Christus ingepas het by hul idee van hoe Hy behoort te wees, deurbreek sy Woord telkens weer die afgodsbeeld wat hulle van Hom gemaak het. Gewoonlik probeer ons om van Christus ’n voorstelling te maak wat inpas by ons ideale, omdat ons Hom wil opeis vir ons saak. Maar Christus laat Homself nie annekseer nie. Hy is anders as wat vrome en goddelose mense in hulle alte menslike dinkpatrone van Hom maak.

Vir Fariseërs en Skrifgeleerdes, vir Herodes en Pilatus was Jesus ’n raaisel, maar ook sy dissipels moes hulle telkens oor Hom verwonder. Selfs Sy moeder het Hom nie geken nie en moes by meer as een geleentheid ontdek dat Hy ook bokant háár moederlike begrip uitbeweeg. Sy Woord en daad was so anders as wat menslik verwag kon word, Hy het klaarblyklik so anders na die dinge gekyk, dit so anders beoordeel en so anders daarmee omgegaan as wat vir die mense om Hom vanselfsprekend was.

Waarom is Christus so anders? Omdat Hy die Seun van God is, God self wat tot ons gekom het in die vlees, die ewige Woord en die openbaring van God. Sy andersheid en vreemdheid is dus geen willekeurige anders-wil-wees ter wille daarvan om anders as die mense te wees nie. Dit is die andersheid van God wie se weë hoër is as·ons weë en wie·se gedagtes hoër is as ons gedagtes.

Wie Hom gesien het, het die Vader gesien. God staan vreemd in ons wêreld, omdat ons wêreld verword en sondig is. Die dinge wat vir ons die hoogste waarde het, tel dikwels heeltemal niks by God nie,·en omgekeerd. Ons het alles so ingewikkeld gemaak, en by God is alles so eenvoudig.

Eintlik is God so anders as wat ons dink. Ons weet nie wat ons sê as ons die woord “God” uitspreek nie. Christus het gekom om ons dit te leer. Daarom is Hy so anders. – WDJ