BEDAGSAAMHEID
Die Burger, 11 Maart 1978, bladsy 8
Dit is nie altyd uit moedswilligheid of met voorbedagte rade dat ons dinge doen wat ander mense irriteer nie. Dit is dikwels net uit blote onbedagsaamheid. Ons leef so in ons eie wêreld, dat ons nie altyd daaraan dink om die ander mense rondom ons ook in gedagte te hou nie. En so gebeur dit dat ons, selfs sonder dat ons dit bedoel, aanstoot gee en mense onnodig krenk.
’n Eenvoudige voorbeeld hiervan is die manier waarop sommige van ons predikante in hulle dienste oor die radio en televisie vergeet dat ons in ’n veelvolkige land woon.
In hulle optrede, aanspreek van hulle hoorders (of kykers) en selfs in hulle gebede, wek hulle soms die indruk dat hulle ’n uitsluitend Afrikaanse gemeente voor hulle het, en dan nog spesifiek net die lede van een bepaalde bevolkingsgroep. Dit mag waar wees vir sover dit gaan om die gemeente wat voor hulle sit in die erediens wat uitgesaai word, maar dit is natuurlik absoluut nie waar van baie luisteraars en kykers oor die hele land wat met hulle in die erediens deel nie.
’n Mens wonder of baie van ons predikante ooit ’n besef het van hoeveel bruin en swart luisteraars en kykers gereeld inskakel op ons godsdienstige programme. Wanneer hulle nie in onbedagsaamheid daaraan sou verbygaan nie, kan dit ’n groot verskil maak aan die manier waarop hulle ook die node en behoeftes, die verstaanshorison en die leefwêreld van hierdie luisteraars en kykers in berekening bring in hulle verkondiging, gebede en instelling.
Die radio en beeldradio bied ’n wonderlike geleentheid aan ons om oor die skeidslyne in ons land heen rondom die Woord van God en in die gemeenskaplike gebed werklik een te wees. Met ’n bietjie meer bedagsaamheid kan hierdie geleentheid van onskatbare waarde blyk te wees. Ons moet eenvoudig leer om verder te kyk as ons eie kring. Ons moet die behoeftes en situasie van mede-Christene ’n plek gee in ons denke.
Hierdie één voorbeeld, wat vernaamlik met ons predikante te make het, kan vermenigvuldig word as ons sou dink aan die talle geleenthede waarby ’n bietjie meer bedagsaamheid by almal ’n groot rol kan speel in die bevordering van beter verhoudinge tussen alle mense in ons land. Dit is in die oënskynlike klein en onbenullige dinge van ons daaglikse lewe dat ons die wet van Christus moet vervul. En die wet van Christus is dat ons mekaar se laste moet dra (Galasiërs 6:2), dat elkeen nie net na sy eie belange moet omsien nie, maar ook na dié van die ander (Filippense 2:4) en dat ons alles wat ons wil hê dat die mense aan ons moet doen, ook aan hulle moet doen (Matteus 7:12). – WDJ