Kosbare tyd

 KOSBARE TYD
Die Burger, 15 April 1978, bladsy 8

Daar is min dinge wat so frustrerend is as om in die middel van die nag wakker te word en net nie weer aan die slaap te kan raak nie. Gewoonlik word ’n mens wakker met die een of ander gedagte wat jou met sorge vervul. Inteendeel: die gedagte begin vermenigvuldig, en voordat ’n mens weet waar jy is, het jy die hele las van die dag se kwellinge saam met jou in die bed. In die nag lyk alles ook nog veel somberder as wat dit miskien is. Duistere moontlikhede wat miskien nooit werklikheid sal word nie, doem voor jou geestesoog op. Jy rol rond totdat jy dodelik vermoeid is, kwaad omdat jou kosbare rustyd jou ontneem word en jy maar nie in staat is om jou kwellinge af te skud nie.

Dit is maklik om in sulke omstandighede na ’n tablet te gryp. Daar is omstandighede van psigiese en fisieke afmatting waarin dit miskien ook soms goeie raad kan wees, mits ’n mens maar onthou dat dit in werklikheid niks oplos nie. Daar moet ’n uitnemender weg wees om te bewandel met die nagtelike sorge en die vermorsing van kosbare tyd wat daarmee gepaard gaan.

Die beste ding wat ’n mens kan doen as jy so in die nag wakker word, is om te probeer om nie ontsteld daaroor te word nie, maar positief daarteenoor te staan. Probeer om daardie tyd van frustrasie om te skep in ’n tyd van gebed. Probeer om daarvan bewus te word dat dit nie net jou sorge is wat in die nag by jou is nie, maar ook God.

Rig jou hart daarop om jouself met al jou sorge aan Hom oor te gee en om die tyd te gebruik om met Hom te praat. Miskien maak jy in jou dagprogram nie voldoende tyd vry om behoorlik te bid nie. Vertel Hom in jou gedagtes, maar met vrymoedigheid waarom jy so besorg is. Bely voor Hom jou frustrasie en vrese, en vra Hom om jou die regte perspektief op sake te gee.

In die gesprek met God word dinge altyd anders. ’n Mens kom feitlik altyd op die punt uit waar jy rus vind vir jou hart. Dikwels sien ’n mens ook die weg wat jy môre verder sal moet gaan, meteens helder voor jou oë. Maar selfs al gebeur dit nie, kom jy tog tot kalmte. Jy kom meestal ook op sodanige wyse uit jou eie sorge uit, dat jy in staat is om vir andere te begin bid. As ’n mens jou wakkerlê-tyd kan verander in voorbiddingstyd, het jy volkome oorwinning gekry oor jou sorge en ontstemde gemoed. Wie alles voor God gelê het en die troos van sy teenwoordigheid ervaar het, raak meestal aan die slaap met ’n hart vol vrede.

Dit is geen nuwe raad nie. Die nagtelike gebed is iets wat die Psalmdigters al geken het. Deur die eeue het mense in die nagtelike ure vrede gevind met God en daarin ook met hulself en die frustrerende wêreld.

Waarom sou u dit nie ook kan doen nie? – WDJ