DIE EGTE TOETS
Die Burger, 29 April 1978, bladsy 8
’n Mens kom dikwels mense teë wat groot aansprake maak oor hulle eie geestelike ervaringe. Dikwels insinueer hulle, maar dikwels sê hulle dit ook in soveel woorde, dat hulle ’n trappie verder gevorder het as ander Christene, dat hulle op ’n vlak van geestelike lewe gekom het waarvan die breë lae van die Christenheid geen besef het nie. En met ’n sekere meewarigheid, of soms ook met ’n sekere mate van genot, praat hulle oor die lae geestelike peil van die kerke en van ander Christene wat nie tot hulle spesifieke kerk of groep behoort nie.
Dit is nogal moeilik om die juiste oordeel oor sulke mense te vel. Hoeveel van wat hulle sê, sou werklik waar wees? Hoeveel van hul getuienis is eg, en hoeveel daarvan is napratery van wat andere getuig het?
’n Mens het immers dikwels die gevoel dat sulke mense se uitbundige getuienis ’n vreemde uitwerking op jou het. Aan die een kant is dit aangrypend en wek dit by jou die begeerte om ook so iets te mag belewe. Maar aan die ander kant is daar ook iets in hulle wat jou hinder. Êrens skakel ’n rooi liggie aan om jou te waarsku. ls die rooi liggie maar net die onwil van jou vlees om jou werklik ten volle oor te gee? Is die rooi liggie ’n poging van jou bose hart om aan die klem van hul getuienis te ontkom? Of is dit miskien die regmatige terughouding wat by elke nugter mens bestaan as hy die gevoel kry dat iets te goed is om waar te wees?
Dit is nie altyd maklik om hierop ’n antwoord te gee nie. Wie ken sy eie hart? Daar is tog ’n toets wat ’n mens kan aanlê en behoort aan te lê vir diegene wat getuig van hul besondere ervaringe. Dit is die toets van die vrugte. Christus het gesê dat ’n boom aan sy vrugte geken sal kan word. En so is dit ook waar dat dit nie is wat mense sê nie, maar wat hulle is en doen wat uiteindelik die antwoord moet gee op die vraag of hulle eg is of nie.
Die maatstaf waarmee die geldigheid van mense aansprake op besondere geestelike ervaringe gemeet moet word, is of dit in ooreenstemming gebring kan word met die werk van die Heilige Gees soos die Bybel dit teken en met die gees en gesindheid van onse Here Jesus Christus. As die resultate van die optrede van diegene wat op ’n besondere ervaring aanspraak maak, kennelik is dat verdeeldheid, eiegeregtigheid, selfverheffing en ander slegte vrugte na vore tree, dan is dit duidelik dat ons met iets te make het waaroor ’n groot vraagteken hang.
Maar as diegene wat van ’n besondere ervaring getuig, as gevolg daarvan ’n nuwe vreugde openbaar, ’n nuwe diepte van liefde en nederigheid, ’n groter bereidheid tot diens aan die medemens, ’n klaarblykliker verloëning van hulself en ’n onbetwisbare geloofskrag, dan kan ons nie anders oordeel as dat ons met ’n egte werk van die Heilige Gees te make het nie. Die Heilige Gees is nie die Gees van verdeeldheid nie, maar van vrede. – WDJ