DIS MOONTLIK BY GOD
Die Burger, 20 Mei 1978, bladsy 8
As ’n mens jouself beter leer ken, weet jy dat dit nie moontlik is om jouself te bekeer nie. Dit is nie net dat daar duisende dinge is wat jou gebonde hou nie, jy hou eintlik jouself gebonde, omdat daar op die bodem van ons hart ’n diepe onwil bestaan om werklik anders te word, om werklik die keuse vir God en teen onsself te maak, om werklik vry te word.
Ons hou aan allerlei dingetjies vas asof ons lewe daarvan afhang – dingetjies wat ons in elk geval tog die een of ander tyd ontneem sal word. Dit is eintlik uiters irrasioneel om teen God en vir jouself te kies. Dit staan gelyk aan ’n keuse vir die dood teen die lewe. En terwyl dit tog juis ons diepste drang is om onsself te red, sou ’n mens verwag dat ons bereid sou wees om daarvoor alles op die altaar te lê – juis ook onsself.
Maar dit werk nie so nie. Hoe irrasioneel dit ook mag wees, ons is nie by magte om onsself los te laat en onsself net op Gods genade te werp nie. Ons is emosioneel so sterk by onsself betrokke, dat ons die een ding wat werklik nodig is om vir eie behoud te doen, weens ons verdraaide selfliefde juis nie wil en kan doen nie.
Ons is soos ’n drenkeling wat vir lewe en dood vashou aan ’n sinkende wrakstuk en nie die moed het om die risiko te loop om dit te los en die reddingstou wat hom toegewerp word, aan te gryp nie. Ons vrees die dood en kies daarom juis in ons verblinding die dood en teen ons enigste moontlikheid om vry te word. Uiteindelik sal ons saam met die wrakstuk sink, omdat ons nie kans gesien het om die keuse tussen die oue en die nuwe te doen nie.
Dit is net God wat ’n mens werklik in staat kan stel om die oue te los en die nuwe te kies. Toe die ryk jong man bedroef van Christus weggegaan het, het Christus gesê dat dit vir ’n ryk man net so moeilik sal wees om in die koninkryk van God in te gaan, as wat dit vir ’n kameel is om deur die oog van ’n naald te gaan. Sy dissipels was nie ryk mense in die materiële sin van die woord nie. Maar hulle het verstaan dat die woord van Christus diepe implikasies het vir elke mens. Die “rykdom” waaraan ’n mens kan vasklou, kan baie gestaltes hê, en niemand moet dink dat materiële armoede vanselfsprekend ’n mens deel laat ontvang aan die koninkryk van die hemele nie.
Ons almal, of ons ryk of arm is, geleerd of ongeleerd, met aansien of onbenullig in die oë van die mense, het ’n ou lewe wat prysgegee en ’n nuwe lewe waarvoor ’n beslissende keuse gemaak sal moet word. Dis vir niemand van ons moontlik om dit te doen nie – net so min as wat dit vir ’n kameel moontlik is om deur die oog van ’n naald te gaan. Dit is ook geen keuse wat slegs een maal gedoen kan word nie. Dit herhaal homself daagliks, dikwels in ’n intensiewer vorm namate ons met God op weg is.
Watter troos dat Christus gesê het dat wat by die mense onmoontlik is, by God moontlik is! Dit is werklik vir God moontlik om ’n mens vry te maak, om hom nuut te maak, om hom anders te maak. – WDJ