DIE VERBORGENE
Die Burger, 17 Junie 1978, bladsy 12
Die Bybel is geen wetenskaplike boek nie en praat ook nie die taal van die wetenskap nie. Daarom is dit ook onmoontlik om uit die Bybel ’n wetenskaplike mens-beeld of selfs ’n wetenskaplike psigologie af te lees. Die Bybel praat oor die mens soos hy voor die aangesig van God staan. Dit gaan vir die Bybel om die verhouding van die mens tot God, tot sy medemense, tot die skepping en tot homself.
As die Bybel die mens ontleed, dan geskied dit nie met die bedoeling om aan ons informasie te verskaf oor die verskillende dele van die mens as sodanig nie, maar om die mens bloot te lê in sy geskapenheid deur God, maar ook in sy afvalligheid en skuld, sy verganklikheid en rebellie, sy traagheid en verkeerdheid.
Daarom sou dit verkeerd wees om wat die Bybel oor die verborge dieptes in die mens sê, sonder meer gelyk te stel met wat die sielkunde ons leer oor die onderbewuste en die onbewuste by die mens. En tog is dit merkwaardig dat die Bybel in sy ontleding van die diepte-dimensie in die mens se sonde ons na hierdie verborge ondergrond van ons bestaan verwys.
’n Mens kan hier maar dink aan Psalm 51:8 waar Dawid praat oor die waarheid wat God “in die binneste” eis, en oor die bekendmaking van Sy wysheid “in die verborgene”. Totius het dit pragtig berym:
“U eis is waarheid in die binnenst’, heer,·
en ek is tot my wesensgrond toe skuldig!
Daal af in my verborge diept’ en leer
my daar U wysheid, diep en menigvuldig.”
Klaarblyklik word daarmee aan ons gesê dat daar agter ons bewuste woorde en dade die verborge dieptes van die hart lê, waar die beslissings in ons lewe val. Wat dáár gebeur, beheers in werklikheid ons lewe.
Dit verklaar waarom ons so dikwels so ′n groot stuk teenstrydigheid in onsself moet ontdek. Met ons verstand weet ons baie goed hoe dinge hoort, maar dit wil nog nie sê dat ons daardie dinge werklik vanuit die verborge dieptes van ons hart wil doen nie. Daarom is verstandelike kennis alleen nie genoeg om ’n mens se lewe werklik te verander nie.
Baie mense bestudeer die sielkunde of die teologie in die hoop dat dit hulle sal help om hulle probleme te bowe te kom. Dikwels gebeur dit nie, omdat hulle· verstandelik wel heelwat weet, maar hulle verborge dieptes onaangeraak bly deur die waarheid wat werklik vrymaak.
Lewensoorgawe is nog weer iets totaal anders as verstandelike insig en ′n bewuste instemming met die waarheid. Lewensoorgawe is eintlik eers ’n werklikheid as ons verborge dieptes aan God oorgegee word sodat Hy deur sy Gees daar kan regeer.
Die inwoning van die Gees in ’n mens se lewe het alles te make met die suiwering van die verborge ondergrond van ons bewuste bestaan. Daar, diep-in, is die fontein wat soms die bitter water laat opborrel wat soveel smart vir onsself en andere veroorsaak. Vandaar Dawid se gebed. – WDJ