GEMENESPEL
Die Burger, 24 Junie 1978, bladsy 8
In sportkringe in ons land heers daar bekommernis oor die manier waarop daar dikwels in wedstryde op ’n ongeoorloofde manier ’n bakleiery tussen spelers ontstaan. Hoe ’n mens ook al probeer om versagtende omstandighede vir hierdie verskynsel te bedink, dit bly ’n lelike klad op die sportmangees van almal wat daarby betrokke is. Maar wat meer is: dit laat vrae ontstaan oor ons vermoë om met ’n medemens werklik op ’n menslik manier om te gaan.
Agter die bakleiery sit daar op die een of ander manier altyd ’n stuk gemene spel waarin die opponent moedswillig beseer of benadeel word. En as ’n mens jouself goed ontleed, sal jy agterkom dat jy op daardie moment die opponent eintlik vuriglik haat. Dit mag net vir ’n moment wees, en dit mag net in die hitte van die spel wees. Netnou in die kleedkamer word weer laggend hande geskud en vanaand word saam gesellig verkeer. Maar op daardie moment midde-in die spel staan daar oerdrifte in ’n mens op en haat jy die teenstander sodanig dat jy hom nie meer wil beskerm nie, maar hom wil seermaak en uitskakel. Vir ’n oomblik word die spelsituasie vergeet en verruil vir ’n oorlogsituasie.
Ongetwyfeld sal die meeste spelers hulleself agterna daaroor skaam dat hulle kwaad geword het. Dit het die spel bederf, dit het hul goeie naam in die gedrang gebring en dikwels het dit nog aweregs gewerk ook, deurdat hul span gestraf is vir hul onbeheerstheid.
Vir ’n Christen is dit nie genoeg dat hy homself net om hierdie redes daaroor skaam nie. Hy sal hom daaroor moet verootmoedig en moet besef dat in sy gemene spel iets sigbaar geword het van die vleeslike gesindheid wat nog in hom skuil. Gemenespel kan nooit die vrug van die Gees van God wees nie. Alles wat nie uit die liefde is nie, stry teen die heerskappy van die Gees van God in ons lewe. En as dit moontlik is dat daar in ’n onbewaakte oomblik ’n vlam van haat in my hart kan opslaan, dan bewys dit net dat die vlees nog ’n groot stuk van my lewe beheers.
As ons dit eers insien, word dit duidelik dat gemene spel nie net iets van die sportveld is nie. ’n Mens kan ook in die gewone lewe ’n gemene spel speel met jou “opponente” op baie terreine. En daar kan dit soms groter en blywender leed berokken as op die sportveld. Wat is dit anders as gemene spel wanneer mens diegene wat ander standpunte as jy huldig, deur belediging en verdagmaking probeer seermaak en uitskakel? Dit is maar een voorbeeld van die soort ongeoorloofde spel wat ons dikwels met mekaar speel, selfs tot in die intiemste verhoudinge toe.
Daar sit ’n rampokker in ’n mens se hart. As jy te beskaafd of te vroom is – of te bang vir die gereg – om openlik rampokker te wees, vind jy maklik duisend subtiele maniere om jou rampokkerstreke op ’n geestelike vlak uit te leef.
Tensy jy deur die Gees van God regeer word. Net Hy kan ons die liefde skenk wat die naaste red in plaas van bedreig. – WDJ