’N EIE KARAKTER
Die Burger, 1 Julie 1978, bladsy 6
Blykbaar bly dit maar moeilik vir mense om te besef dat die kerk ’n eie karakter het wat hom onderskei van ander samelewings-verbande. Die kerk is anders as die huwelik en gesin, as skool of vereniging, as ’n kulturele organisasie of ’n politieke party, as ’n volk of staat. Trouens, elkeen van hierdie samelewingsvorme het sy eie lewenswette wat nie geïgnoreer mag word nie, anders word hulle vermink. Vir elke samelewingsverband is dit dus van die grootste belang om vanuit sy eie wese en doel verstaan te word. Anders kan die eie karakter daarvan nie gehandhaaf word nie.
Al is dit dieselfde mense wat aan die verskillende samelewingsvorme behoort, staan hulle tog in elkeen van die samelewingsvorme binne verhoudinge wat op ’n eie manier gereël word, eie verpligtinge meebring en ’n eie manier van optrede van hulle verwag. Daar is dinge wat in die huwelik gesond en reg is, wat buite die huwelik om verbode mag wees. Daar is maniere van optrede wat in die gesin vanselfsprekend is, maar nie in ’n vereniging of op skool of in die politieke party nie. Ek tree anders teenoor my vriend op wanneer ons as vriende in sy sitkamer saam gesels, as wanneer ek die magistraat is en hy die beskuldigde, of wanneer ek die dosent is en hy die student. Oral word my optrede wel deur die liefde gereël, maar die liefde tot die naaste neem telkens ander vorme aan in die lig van die verhoudinge waarin ons teenoor mekaar staan en die verpligtinge wat ons dan teenoor mekaar het.
Daarom is dit vanselfsprekend dat ook die kerk sy eie lewenswette het wat van ons ’n bepaalde manier van optrede teenoor mekaar vra, wat buite die kerk miskien vreemd mag aandoen. In die kerk is ons mekaar se broers en susters en sê ons dit ook vir mekaar. Maar op straat spreek ons tog nie mekaar as broers en susters aan nie en staan ons weer in ander verhoudinge tot mekaar. In die kerk is selfs ’n man se vrou sy suster in die Here, want in die kerk is daar nie man en vrou, slaaf en heer, koning en onderdaan nie. Dáár is almal een in Christus, kinders van die Hemelse Vader, huisgenote van die geloof. Die gemeenskap waartoe hulle daar geroepe is, is die gemeenskap van die heiliges, wat nog weer iets anders is as die gemeenskap in die huisgesin of in die huwelik, in die skool of in die gesellige lewe. Dit hef nie die verskille op wat buite die kerk om tussen mense bestaan nie, maar daardie verskille is binne die kerk nie op dieselfde wyse ter sake nie. In die kerk is daar slegs een kriterium wat die gemeenskap konstitueer: die geloof.
Wie dit nie verstaan nie, is altyd weer geneig om kerk en staat, kerk en politiek, kerk en kulturele gemeenskap met mekaar te verwar en in die kerk beginsels in te dra wat elders mag geld, maar in die kerk vreemd is. Die kerk is nie maar net nog ’n uitingsvorm van ons kulturele of nasionale bestaan nie. Dit is die liggaam en bruid van Christus, die nuwe volk van God, teken en instrument van die koninkryk van God op aarde. Dit is in belang van die hele gemeenskap met al sy samelewingsvorme dat die kerk in sy eie karakter verstaan en gehandhaaf moet word. – WDJ