DIE WONDER VAN DIE LEWE
Die Burger, 8 Julie 1978, bladsy 8
Daar is baie dinge wat ons ervaar en in die praktyk van ons bestaan goed ken, waarvan ons tog moet erken dat ons nie weet wat dit is nie. So weet ons byvoorbeeld nie wat lewe is nie. Niemand kan wetenskaplik presies sê wat dit is nie. Al wat ons kan doen, is om vas te stel dat daar op een plek lewe is en op ’n ander plek die dood. Tussen dié twee gaap daar ’n onoorbrugbare afgrond. Hulle is eenvoudig van totaal verskillende ordes.
Maar wat dit presies is wat maak dat iets lewe, wat dit is wat lewe tot lewe maak, kan geen mens vasstel nie. Lewe is op sigself ’n wonder – iets onbeskryfliks, iets onherleibaars. ’n Mens kan daaroor eerder in digterlike as in wetenskaplike taal praat omdat dit ’n geheimenis is wat homself aan ons rasionele kennis onttrek.
Die merkwaardige is nou dat dit in ons vermoë is om lewe te beëindig, maar nie om dit te skep nie. Dit behoort ons met groot eerbied teenoor die geheimenis van die lewe te vervul. Lewe is immers ’n gawe van God wat deur Hom alleen gegee kan word en nooit deur die mens gefabriseer of herstel kan word as dit eenmaal uitgedoof is nie. Daarom moet ons in die grootste verantwoordelikheid met die lewe omgaan waar ons dit ook al teëkom. Telkens wanneer ons lewe vernietig, behoort ons te besef dat ons iets vernietig wat deur geen aardse mag hoegenaamd weer reggemaak kan word nie.
Dit hoef ons nie tot sentimentaliteit of tot ’n afgodiese verering van die lewe te bring nie. Klaarblyklik kan alle lewe nie in die oneindige voortbestaan nie. Dit is selfs God se bedoeling dat nie alle lewe moet voortbestaan nie. Hy het self plante en diere aan die mens gegee as voedsel. Hy het ook die mens aangestel om te heers oor die skepping – en dit sluit ook die lewende deel van die skepping in. Dit is dus nie verkeerd dat die mens op baie terreine lewe wegneem nie, selfs al kan hy dit self nie weer teruggee nie. Maar dit is wel noodsaaklik dat die mens verantwoordelik sal omgaan met sy heerskappy oor die baie vorme van lewe wat God aan sy sorg toevertrou het.
Dit beteken nie alleen dat die mens nooit sy eie lewe of die van ’n medemens mag wegneem nie – tensy hy tot laasgenoemde uitdruklik van Godsweë gemagtig word, soos dit onder bepaalde voorwaardes wél die geval met die owerheid is. Dit beteken óók dat die mens nie onnodig die lewe van plante en diere mag vernietig nie. Dit is eenvoudig sonde as die mens roekeloos plante en diere uitroei. Dit getuig van ’n volkome minagting vir die werk van God se hande.
Dit het tyd geword dat ons met groter opmerksaamheid kyk na die vorme van lewe rondom ons as soveel getuienis van die wonder van die skepping. Elke klein insek met sy uiters ingewikkelde gestruktureerdheid en sy geheimenisvolle lewe wys heen na die Skepper wat ook daardie klein dingetjie gewil het. Ons moet leer om dit nie sommer onnodig dood te trap nie. En ons moet veral ons kinders leer om met respek te staan voor die wonder van die lewe, eerder as dat ons hulle leer om voëltjies uit te roei en agteloos die lewe van dier en plant te verwoes asof ons kan maak daarmee wat ons wil. – WDJ